Pruilmond met Kitchenboy se Brandy & Coke-teriyaki

BRAAM KRUGER

Pruilmond met Kitchenboy se Brandy & Coke-teriyaki

Tydens 'n naweek vir een in Barrydale klim HENK SERFONTEIN saam met Kitchenboy in die bed. Lees hoe dié one-night stand ontvou.



IN wat 'n gewone Donderdag moes wees, spring ek in die kar in Kaapstad en vat die pad Warmwaterberg toe. Skaars drie uur later drink ek by Diesel & Crème in Barrydale die Cruella de Ville-melkskommel met Belgiese sjokolade en aarbei-compote.
Sterk onder die invloed van 'n suikerklimaks ry ek omtrent 20 km buitekant die dorp by Ronnie's Sex Shop en Pompstasie verby. Daar staan 'n ry sexy Harley Davidsons met binne bes  moontlik 'n hele paar swart leerbaadjies met brandewyn-en-Coke in die hand. Ek gee die manne 'n mis en omtrent 100 meter verder draai ek links by die Warmwaterberg-afrit, waarna my sedanmotor binne sekondes op die sinkplaatpad in 'n hip-hop-disko met stofwolke omskep word.
Op my CD-speler verander die Russiese sopraan Anna Netrebko in 'n kletsrymer. Sy rap André P. Brink se gunsteling-aria uit Madama Butterfly tot by die vurk in die pad, waar ek links swenk tot by ontvangs. Wanneer ek uiteindelik by die kantoor instap om my sleutel te kry, is ek vuisvoos, maar gelukkig, en voel dit omtrent of ek by Valhalla arriveer met die gelamineerde artikel teen die muur wat belowe hier’s “water wat genees”.
'n Ordentlike vrou lei my na my kamer in die hoofhuis. 'n Helder duvet met Piet Mondrian-blokke in primêre kleure begroet my tesame met 'n tweeplaatstofie, 'n vibrerende yskas en 'n kajuitbed in die kombuis. Dis duidelik nie die Mount Nelson dié nie, maar ek is in elk geval nie hier vir wit Egiptiese linne nie. My doel is om vir 'n paar dae gewigloos met toe oë in 'n warm bergpoel te dryf. Dalk kan ek in die aand gaan swem en met my oë na Mercurius of ’n blou maan soek in die hemelruim.
Dit doen ek dan ook: Vir ure het ek soos 'n naakmodel in 'n Clare Menck-skildery gedryf in die water wat genees. Ek het uitgespring en my afgedroog en “O sole mio" alleen in my bed geklim en as eerlike alleenloper sal ek erken, met vier Provitas en 'n paar dik snye ryp cheddar. Dis immers 'n naweek vir een.
Dis toe dat Kitchenboy se kookboek, Provocative cuisine, vir my knipoog. As leunstoelkok kan ek bevestig dat ek al met menige sjefs in die bed geklim het en op verskeie kulinêre ekspedisies gegaan het sonder om 'n wok te beweeg. Om 'n kookboek te lees is eintlik baie soos 'n road trip en wanneer 'n voorblad soos dié een nog kom met 'n ouderdomsperk van 16, weet jy 'n fabelagtige reis is op pad.
Die verhaal van hoe Braam Kruger se kookboek in my hande beland het, begin by die Milnertonse vlooimark. Die boek het in die voorkant van 'n avokadogroen Volla reg onder die windskerm gelê. Dit het lê en bak in die son saam met twee ongemaklike bure: 'n boek oor Hendrik Frensch Verwoerd en 'n Playboy. Aan Verwoerd het ek nie geraak nie; hy het gesorg vir genoeg probleme, maar skuins bo-op die toevallige stillewe het 'n vetterige Playboy se blaaie wulps gewaai in die suidooster. Ek het vir Kitchenboy onder die blaaie van die Playboy uitgehaal, aan die Volksie-eienaar oorhandig en gesê: “I'll take it for twenty."
Provocative cuisine is 'n flambojante boek wat met 'n verliefde Kitchenboy begin wat aan Jungle Fever ly. Wanneer jy alleen in jou bed in Barrydale lê, moet jy omtrent jou kussings pof om regop te sit, want dit lees soos 'n hygroman. As voorspel stel hy 'n hele rits hedonistiese wellusprikkelaars bekend. Een daarvan is papierdun sashimi met branderige wasabi op die tongpunt gevolg deur gepiekelde gemmer wat jy op fyndraai afsluk met 'n droë martini.
Dit het my herinner aan die skelm sakeman Kenny Kunene se 40ste verjaarsdag in die Taboo-nagklub waar hy die Japannese term “nyotaimori" aan sy gaste gedemonstreer het. Dis die twyfelagtige kuns om sushi van ’n vrou se kaal lyf af te eet.
Braam, die skilder en legendariese sjef wat in Fordsburg gewoon het, hou verder nes Kenny nie terug nie en volg die rou vis op met lewende oesters wat jou lendelappie prikkel, tintelende kaviaar en amoreuse aspersies met beskrywings wat die moreel koekige resepte in Kook en geniet sal laat bloos.
Daar is verskeie afbeeldings in die boek van Braam se eie bekende ikonoklastiese skilderye op die houtpanele waarvan die grein van die hout in hoë glans sigbaar is. Dikwels is daar verwerkings van ou meesters se skilderye, soos in sy “Venus with Metal Dog" met 'n odalisk-agtige Venus geleen by Titiaan se erotiese “Venus van Urbino”, haar skaamhare vir die kyker verberg deur die twee lope van die metaalhond wat gelyktydig dien as afloerder en bedreiging.
Ek blaai terug na die vorige bladsy se lipleklekker Crêpes Suzette met die bygaande skildery met die titel “Dark Secret” waarin hy in die teks verwysings na androgene modelle maak en waarin hy 'n “dear queen" aanhaal: “Ag you manne are all half women, unless you don't have a mother." Met die lees daarvan onthou ek dat Kitchenboy een van die eerste mans was wat ek in die openbaar in ski pants gesien het. Sy uitrustings is verbeeldingryk afgerond met gotiese swart cutex op die vingernaels.
Reg onder die skildery is daar 'n kiekie op die bladsy van 'n anonieme kunstenares wat haar borste vir die kyker flash wat my in die era van die #metoo-beweging laat verlang na my kopie van Chimamanda Ngozi Adichie se We Should All Be Feminists op my bedkassie in die stad. Hierin probeer gee sy antwoorde vir feminisme in 'n kontemporêre samelewing.
Sy Crêpes Suzette is 'n intieme gereg vir twee met die retro bekoring van 'n dis wat maklik in die Carlton-hotel voorgesit kon word. Die kombinasie van lemoenskil en konjak wat aan die brand gesteek word, maak hierdie resep die wittebrood van die boek. 
Driekwart deur die boek blaai ek verby die Half-cured Roasted Duck Breast. Die kabeljou en snoek en laat my oë vir 'n oomblik vertoef by die grande finale in die vorm van 'n Grand Marnier Soufflé. Dis veerlig met 12 eierwitte.
Terwyl ek oopkop deur die guitige boek blaai, probeer ek dit kontekstualiseer in die tydvak waarin dit gepubliseer is. Ek google Eet kreef en gaan soek die voorblad van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se eerste album. Wikipedia lys die snitte op die album as: “Sit dit af", “Tronk", “Liefde", “Ossewa", “Hillbrow", “Donker, donker Land", “Energie", “BMW" en “Ou, ou lied van Afrika". Op die CD se voorkant is 'n foto van vyf kreefeters geneem deur Edwin Wes. Dit verbeeld in teenstelling met die sombere “Aartappeleters" van Van Gogh 'n uitbundig gulsige ete wat lyk soos iets wat Braam in Troyeville kon voorberei. Die name van die kreefeters word van links na regs gelys as Megan Krusnal, Gideon de Wet, Robin Orlin, Braam Kruger en Lourens Cilliers.
Die album met die ete op die voorblad is 'n merker in die geskiedenis van die Afrikaner. Die rockmusiek in gewone taal het die outoritêre en patriargale ideologie van die Nasionale Party bevraagteken. Dat 'n bebaarde Kitchenboy pryk op die voorblad van die album is vir my 'n leidraad van hoe ons sy kulinêre bydrae moet lees. Sy kookkuns is een van seksuele en politieke bevryding ver verwyder van die Calvinistiese ordentlikheid van 'n Kook en geniet en 'n Emsie Schoeman. Dit is dapper en dit daag uit en dit reik, net soos sy skilderye, uit na populêre kultuur.
Dis miskien waarom ek Braam se Brandy & Coke-marinade benoem as die teriyaki van Troyeville. Daar is vir my iets onweerstaanbaars aan daardie resepte wat slegs kan ontstaan in die demokratiese voorstede van Suid-Afrika. Die resep word vergesel van 'n wafferse selfportret waarin Braam soos 'n Boksburgse Titiaan met ’n bankrowerbrilraam vir jou kyk. In sy opstuur van Titiaan se “Man with a blue sleeve" herinterpreteer hy die skildery in wat vir my lyk na 'n selfie van een van ons eerste foodies met 'n Coke-bottel in die hand.
Hy paradeer in 'n kamp pienk nylonparka wat stilisties knipoog vir Tretchikoff se skildery van die groen vrou. Daar is in die agtergrond 'n raffinadery wat rook soos Yskor in die lug spoeg. 'n Ambulans wat luier onder 'n rits palmbome.
Braam skep hier sy eie postmodernistiese wêreld, een met eiesoortige verwysings na lokaliteit, identiteit, popkuns en verbruikerskultuur. Hy vervaag genadiglik, nes in sy kookkuns, die grense tussen kitsch en goeie smaak.
Ek leun oor na die flou koppie kamilletee langs my bed. Dis 'n sonde dat 'n one-night stand met Kitchenboy so ordentlik moet eindig. 
Ek wonder of die kroeg nog oop is.
Brandy & Coke-marinade
3 koppies Coca-Cola1 koppie goeie ligte sojasoussap van twee lemmetjies¼ koppie brandewyn1 middelslag-ui, geskil1 nartjieskil, in dun repies gesny6 toontjies knoffel3 of meer vars rissies, gekap1 kaneelstokkie1 steranysolie
Meng al die vloeistowwe saam (behalwe die olie).
Braai die soliede bestanddele in 'n pan in die olie tot die uie deurskynend is. Dreineer.
Voeg die gebraaide bestanddele by die vloeistof en laat staan vir 'n dag sodat die geure kan ontwikkel.
Laat marineer die vleis vir 'n dag of twee en braai dan op die rooster.
Reduseer die oorblywende marinade in 'n pan tot 'n verruklike teriyakisous.
Sit voor met 'n Girlfriend- of Boyfriend-slaai.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.