Ballet: die nuwe trend - kry jou by die barre

KOM ONS DANS

Ballet: die nuwe trend - kry jou by die barre

Fonda-dissipels het leg-warmers gedra, bootcampers, goeie tekkies en ’n sportbra. Skud uit jou tutu: Balletklasse vir volwassenes is ’n groeiende trend. MICHÈLE MEYER moes gaan dans.



NÁ ’n dag van konferensie-oproepe en skellende spertye het sommige siele bloot nie krag vir die kakofonie van ’n pound- of grid-klas grensend aan army-opleiding nie. Hierdie gewilde groepklasse wat onder luide doef-doef-musiek by groot ketting-gimnasiums aangebied word, is adrenaliengedrewe en taamlik rigied.
Daar is ’n hedendaagse soeke na kalmer, meer grasieuse oefening met steeds meetbare resultate. Meer grasieus as ballet kry jy beswaarlik – ’n uitdagende oefensessie met ’n skeut kuns daarby. Balletklasse is organies – dit loop saam met die energie wat tussen onderwyser, beweging, studente en musiek vloei.
Mense word geïnspireer deur veral werklikheidstelevisiereekse soos BBC se Strictly Come Dancing en M-Net se Dancing with the Stars. Flieks met dans as tema, soos Black Swan (Natalie Portman) en Shall we Dance (Jennifer Lopez en Richard Gere), roer ook die inner danser. Watter muurblom gaan nee sê as Gere sy hand galant uithou? Wie sal nie oor sy Grasshoppers struikel as J-Lo sê “Sal ons spin, Pappie?” nie?
Die behoeftes van volwassenes wat aanstreep na balletateljees is uiteenlopend. Beginners noem ’n strewe na grasie, goeie postuur, balans en koördinasie. Soepelheid en bou van spiermassa is ook hoog op die lys. Debbie Groenewald, balletonderwyser en eienaar van Les Danseuses Adult Ballet Studio in Waterkloof Glen, Pretoria, verduidelik dat ballet spierkrag en beendigtheid verbeter omdat dit gewigdraende oefening is. Maar dans raak ook bevrydend en is ’n heerlike stresontlaaier.
Daar is byna geen ouderdomsperk vir deelname nie, mense van enige fiksheidsvlak kan inval by ’n beginnerklas, selfs nul ondervinding tel nie teen jou nie. Dit kan ek self verifieer.
Eerste lesse is deur die bank ’n ware toets in nederigheid. Ek onthou my eerste jogaklas. Blote vrees vir die onbekende maak nerwe dun. Sou ek die onderwyser kon sien deur wolke wierook, sou hy Sanskrit inkanteer waarvan ek geen woord uitmaak nie? Die einste, eintlik doodgewone ou het my daardie dag in plein Engels oortuig ek wil nooit ophou joga beoefen nie. Sonder selfs ’n sweempie wierook.
Op pad na Les Danseuses se beginnerklas is my hande sweterig. My uitrusting laat veel te wense oor. Dis meer pilates as plié. Hoe vorder ’n jogi van pou-posisie na pirouette?  
“Ontspan, haal asem!” vermaan Debbi laggend. “In al my balletjare het ek nog nooit judgement teëgekom nie. Hier’s geen kompetisie nie.”
Jeanika Woolley, een van haar studente wat met onderbrekings 14 jaar reeds ballet doen, beaam dit: “Debbie skep ruimte vir talle van ons om ons dansdroom in ’n veilige ruimte uit te leef. Op 40 is ons meer genaakbaar teenoor ons lywe in ’n leotard as op 15.”
Debbie het van kleintyd tot matriek gedans, en op 33 weer haar balletskoene aangetrek. Sy het haar onderwyseres begin uithelp met klasgee, en op 40 het sy die Dance Association of South Africa (DASA) se onderwyserskursus aangepak. Sy het as topstudent geslaag en in 2012 haar eie ateljee geopen.
In 2016 het sy nog ’n droom bewaarheid deur haar eie opvoering, The Look of Love, met 24 dansers in die Breytenbach-teater in Pretoria op die planke te bring. Selfs haar man, Jaco, was verplig om ’n passie op die verhoog uit te voer. “Ek het ’n man gekort en hy moes net in die rondte loop!” vertel Debbie.
Sy het konstant sowat 30 volwasse studente, onder wie twee mans. Nuwelinge dans apart en ervare dansers word vir hul eksamens voorberei. Debbie beskryf haar deernis vir beginners. “Hulle begin bang, sonder vermoë of kennis. Ná ’n jaar dans hulle en blom.”
WINTERLIG filter fyn deur die ateljee waar drie ander “beginners” solank strek. Hulle lyk vir my allesbehalwe nuut hier rond, maar is opreg vriendelik.
“Jy gaan dit geniet!” sê Chenee de Jager (39), ’n hip-hop-danser wat besluit het om ballet by te werk soos sy ouer word. Sy lyk soos iets wat Degas sou wou skilder. Ghail Binneman (57) het as jong meisie ballet geneem. Haar Nuwejaarsvoorneme vir 2019 was om weer te begin ballet doen. Ghail is baie in haar skik met haarself: “Binne vyf maande het ek sentimeters verloor en my beweeglikheid verbeter.”
Ek verwag ’n juffrou agter ’n valserige regop klavier wat ons gaan begelei, maar dis Debbie se musieklys wat via Bluetooth oor ’n draagbare luidspreker weerklink. Links teen die muur strek die barre, regs die spieëls (my doodslag).
Op my man se goeie swart sokkies sluip ek soos die klas-droogmaker na heel agter. Die ander het elegante pienk balletskoentjies aan. Bedagsaam kyk hulle nooit na my voete nie. Musiek vul die ateljee en ek is verlig toe ons begin met iets bekends – roll-downs en funksionele strekke. Deeglike voetstrekke laat weer my senuwees knoop; dit lyk na voorbereiding vir en pointe relevé, daardie indrukwekkende balanseer op die groottone.
My vrees word nie besweer toe Debbie glimlaggend verduidelik ons moet dink aan karkasse aan hake nie. “Dink aan hoe die karkas verleng aan die haak. Só moet julle langer strek.” Ek strek so wat ek kan en probeer om nie aan ’n dooie bees te dink nie. Regs van my reik Odette Bukowski (30), fier en lank. Ons plié. Dis nie so erg nie. Eers klein kniebuigings, dan dieper. As ’n squat skelpienk is, is ’n plié spookasem-pienk.
Debbie verduidelik deurentyd terme en skep beelde om bewegings beter te kan interpreteer. Dit stem ’n mens rustig en die strelende musiek laat daal my kortisolvlakke. Sy herinner ons dat elke lyf verskillende vermoëns en beperkings het. Geen twee ballerinas se voet-uitdraai is presies eenders nie. “Dis juis die uitgedraaide voete wat ballet definieer. Die turn-out is ’n onnatuurlike posisie, die femur word uitwaarts gedwing in die heupholte.” Dis toe nie net ek nie!
Buitengewone posisies is ’n ballet-ding. Tyd vir port-de-bras – armposisies. Om my sweef swane, my arms trek op voëlverskrikker. Spronge begin en eindig altyd in ’n plié, leer ons. My dansmaats bons veerkragtig, ritmies, onhoorbaar. “Mooi, Odette! Jy het goeie ballon.” moedig Debbie aan. Niks met partytjies te doen nie, sê sy, dis die vermoë om moeiteloos hoogte te kry wanneer die sprong uitgevoer word. Met ballon is ek voorwaar nie toebedeel nie. My landings is dofsware plowwe. Ek begin lag. Onbedaarlik.
Debbie roep halt sodat ek kan bedaar. Ek kan nie glo sy lag nie saam nie. Sy vertel dat sy nog net een keer in haar loopbaan vir ’n student gelag het. Die toneeltjie het ’n gevorderde student, ’n handdoek op die gladde vloer en ’n sprong bo-oor die handdoek behels. ’n Knieskaats van etlike meter, yslike gate in delikate kouse en briekgooi om kop-teen-kop met die reuse-spieël te vermy het gevolg. Nou skater almal.
“Voor my sien ek klei wat ek kan help vorm, ek respekteer elke poging. There is great achievement in trying.”
’n Afkoel-streksessie word afgesluit met die sjarmante curtsy. In dié oomblik kliek ek iets van wat mense hierheen trek. Debbie het daarna verwys tydens die klas: “Dans laat jou só konsentreer op wat jy doen dat jy nie kans kry om buite die oefening te dink nie. Jou brein werk so hard soos jou bene.” Ek onthou ook Jeanika se woorde: “Ek konsentreer só dat ek die ‘side-shows’ in my lewe ontsnap.”
Ontspanne maar gefokus voel ek ’n paar sentimeter langer. Ek dink ek skip môre joga. Ek moet aan my ballon werk.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.