Die onstuitbare Kewpie van Distrik Ses

GENDER

Die onstuitbare Kewpie van Distrik Ses

Kewpie: Daughter of District Six, die uitstalling wat die lewe van dié flambojante fopdosser uit die 1960’s en 70’s in die kollig plaas, is nou in Johannesburg se Market Photo Workshop-galery te sien nadat dit eers in Kaapstad heelwat belangstelling ontlok het. Die digter en kunsskrywer JOHAN MYBURG skryf oor die verrassende oortuiging van identiteit wat uit hierdie versameling blyk.



ALLES is daar: Die stoele voor die spieëls en teen die mure foto’s van bouffants en beehives; die plastiek-haardroërs terug geëlmboog teen die muur, die trollies met die pienk en turkoois haarkrullers en pennetjies, die glasrakkie waarop haarsproeiblikke staan, en net onder dit 'n stapeltjie Fairlady’s uit 'n tyd toe Jackie O en Farah Diba die voorblaaie gehaal het. Met 'n klankbaan van salongeluide kry Salon Kewpie gestalte in die uitstalling Kewpie: Daughter of District Six. Al wat jy jou moet verbeel, is die swaar reuk van haarsproei en Dippity Do gemeng met sigaretrook wat draal in asbakkies.
Die haarkapper is Eugene Fritz, maar almal noem haar op haar bynaam, Kewpie. Persoonlike voornaamwoorde glip gemaklik tussen manlik en vroulik. Die oggend op pad na haar salon in Kensington, 'n noordelike voorstad van Kaapstad, het iemand 'n foto van haar op die sypaadjie geneem: modieus in ligbruin, met 'n pienk toeknoop-polo-hempie en 'n groot donkerbril soos dié waaragter Jackie O dikwels geskuil het; blonde hare gepluis en ge-coif met 'n krul op die voorkop.
In die 1950’s en '60’s was haarkapperkursusse gereserveer vir wit mense. In Distrik Ses, waar Kewpie grootgeword het, het sy by Salon Andre in Hanoverstraat haar vakleerlingskap gedoen. Ondanks die beperkings was haarkappers in Distrik Ses in aanvraag en het hulle dikwels skoonskip gemaak in kompetisies.
In 1955, toe Eugene 14 was, het hy voordat hy by Salon Andre begin werk het, kliënte tuis begin sien om hulle hare te doen. Heelwat gay mans in die Kaap het as haarkappers gewerk en haarkappers het 'n belangrike rol in die lewe van die mense van Distrik Ses gespeel. Soos Cynthia, een van Kewpie se “sisters”, dit gestel het: “ 'n Hairdresser sonder 'n moffie issie 'n hairdresser nie.”
Salonne was nie net sosiale vergaderplekke vir “skinner” nie, maar ook die towerkamers waar transformasie plaasgevind het. In die salon het die wêreld van die silwerdoek en dié van drag oormekaar geskuif en het Kewpie en haar vriendinne daar uitgestap met die personas wat hulle vir hulself gekies het. Aanvanklik was Kewpie Doris Day, maar omdat daar reeds 'n drag queen met dié naam was, het sy die naam Capucine gekies, dié van die Franse model en aktrise wat onder meer 'n rol vertolk het in The Pink Panther.
Die strate van Distrik Ses was hulle loopplanke en rolprentstelle, en uit die foto’s in die uitstalling blyk hul selfvertroue, oortuiging van hul identiteit en trots as queer mense.
Dit was 'n queen uit 'n vorige generasie op 'n ander vasteland wat opgemerk het: “I don’t think you can really be proud of being gay because it isn’t something you’ve done. You can only be proud of not being ashamed.” Moontlik was Kewpie en haar vriendinne onbewus van die ooreenkomste tussen hulle en die Brit Quentin Crisp. Wat hulle wel gedeel het, was die oortuiging om nie terug te deins vir wie hulle was én vir wie hulle geword het nie. Ondanks diskriminasie en ondanks die feit dat hulle soms teikens van gewelddadige optrede kon wees.
Op 'n institusionele vlak het iets soos die Wet op Afsonderlike Geriewe van 1953 heelwat van die plekke waar hulle buite Distrik Ses uitgehang het (soos Strandfonteinstrand en Kogelbaai), tegnies buite perke gestel. Nie dat dit Kewpie en haar vriendinne gekeer het nie. “If I felt like walking into a white place I just walked in. If they had to stop me they had to stop me ... Nobody ever stopped me,” het sy by geleentheid terugskouend gesê.
In die 1960’s het die regering probeer om wetgewing in te stel wat homoseksualiteit (ten opsigte van mans én vroue) tot oortreding verklaar, strafbaar met tronkstraf. Die uiteindelike wetgewing was dalk nie so drakonies nie, hoewel die Ontugwet nietemin gay seks gekriminaliseer het.
Met die meer as 100 foto’s en byskrifte wat Kewpie self verskaf het, en teks wat volop konteks gee, is Kewpie: Daughter of District Six 'n uitstalling waarby 'n mens instap en terstond aanklank vind. Moontlik omdat almal 'n sug na glamour het. Moontlik omdat herkenning so 'n groot rol speel vir mense wat 'n heugenis het van die 1970’s (al het jy nie in die Kaap grootgeword nie). En vir dié wat nie hierdie tyd onthou nie, het die 70’s deur middel van retro veel nader gekom as wat 'n mens sou vermoed. Hoe ook al, die menslikheid van die uitstalling kan nie onderskat word nie. En iets van die geesdrif van die mens se strewe, en die astrantheid om te glo in wat jy dink reg is.
En dit is in dié opsig dat die uitstalling oor meer gaan as net Kewpie die gay haarkapper wat van opdress en partytjies gehou het. Dié keur uit die sowat 700 foto’s wat Kewpie nagelaat het, is ook 'n verewiging van Distrik Ses kort voordat die stootskrapers inbeweeg het. Die foto’s het in 1999 via Jack Lewis, die rolprentmaker wat die fliek Kewpie: Daughter of District Six gemaak het, in die besit van die Gay and Lesbian Memory in Action (Gala) gekom.
Daar bestaan ander dokumentasie van die lewe in dié Kaapstadse buurt – soos dié van die argitek Jan Greshoff, 'n goeie vriend van die fotograaf Jansje Wissema, wat opdrag gekry het om Distrik Ses vir die Suid-Afrikaanse Instituut van Argitekte te dokumenteer. Benewens die feit dat hulle oogmerk in die eerste plek argitektonies van aard was, het Wissema sowel as Greshoff, hoewel hulle vertroud was met die omgewing, as buitestanders hulle foto’s geneem.
Sonder opdrag of voorbedagte rade het Kewpie deur haar versameling foto’s 'n argief saamgestel van Distrik Ses soos gesien deur die oë van 'n inwoner. Sommige is self geneem, ander deur anonieme kiekers en daar is ook foto’s deur professionele fotograwe soos Billy Biggs en Van Kalker van Woodstock. Dis nie soseer van geboue en bakens nie, maar van mense met lewens en van mense wat mekaar se “andersheid” aanvaar het, van 'n trotse queer kultuur wat deel was van 'n gemeenskap.
Toe sy vroeg in die 1960’s in 'n verhouding betrokke raak met Brian Armino, ’n man van Distrik Ses, het hy haar aan sy ouers voorgestel – mense wat Kewpie as vrou aanvaar het en haar in die gesin verwelkom het. Hulle verhouding het 13 jaar geduur. Brian het die verhouding beëindig omdat hy kinders wou hê en is later getroud.
Dit is dié gewaarwording van normaliteit te midde van omstandighede wat juis op die teendeel sou kon dui, wat een van die opvallendste kenmerke en waarskynlik die dieptepunt van die uitstalling is.
Oor haar eie gender-vloeibaarheid was Kewpie openlik: Sy het haar nie streng geïdentifiseer as man óf as vrou nie. Lede van dié queer gemeenskap het soms as gay en soms as vroue geïdentifiseer asof dit die normaalste ding is om te doen.
In dié opsig eggo hierdie versameling foto’s iets van Nan Goldin se dokumentasie van Amerika se gay en transseksuele gemeenskappe, veral van fopdossers, in die vroeg 1970’s. As een van die eerste fotograwe wat op die noodsaak vir gender-vloeibaarheid gewys het, het Goldin drag queens as 'n derde gender binne haar New York-familie beskou.
Anders as Goldin wat fotografie as politieke gereedskap gesien het, het Kewpie en haar tydgenote op die oog af gewoon hul eie lewe gedokumenteer – partytjies tuis, tema-aande, die private soort goed wat ʼn mens in 'n album sou bêre.
Maar in die openbare domein het Kewpie en haar vriendinne dikwels bikini’s gedra: by openbare swembaddens, op die strand en in die park. Om gender-stereotipes in die openbaar só te buig was binne die konteks subversief, en bowenal teen die wet.
Hoewel sy uitgestaan het, was Kewpie se gender-oriëntasie nie ongewoon nie. Rondom haar was daar meer mense wat gender-binêriteit gewoon doodgeleef het. En steeds deur die gemeenskap aanvaar is.
Die laaste tien jaar van haar lewe het Kewpie in 'n ouetehuis in Kensington deurgebring waar sy haar mede-inwoners se hare gedoen het.
In 2012 is sy op 71 dood. Ter nagedagtenis aan hul vriendin het haar tydgenote 'n drag-kompetisie aangebied en saam poseer by die foto van Kewpie wat iewers in die 1960’s by ’n Roaring Twenties-partytjie in die Ambassador-klub geneem is.
Kewpie: Daughter of District Six is tot 31 Julie te sien in die Market Theatre Workshop-galery in Lillian Ngoyi-straat 138 (oorkant Mary Fitzgerald-plein) in Newtown, Johannesburg. Galery-ure: Maandag tot Saterdag: 09:00-17:00 en Sondae: 10:00-16:00.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X