Potjiekos van stemklanke laat US-koor die wêreld oorwin

STELLENBOSCH SE UNIEKE KLEURPALET

Potjiekos van stemklanke laat US-koor die wêreld oorwin

Koorsang gaan nie net oor mooi musiek nie, sê die universiteitskoor se bekroonde dirigent, André van der Merwe, dit is ook ongedwonge nasiebou. Maar, vertel hy aan MARGUERITE VAN WYK, hierdie is geen kumbaya-groepie nie.



EEN vir een stap hulle op die verhoog, elegant in swart uitrustings met 'n gekleurde etniese nekstuk.
Elke kaartjie in die Endler-saal op Stellenbosch is uitverkoop.
Die ryk, warm klanke van Nkosi Sikelel’ iAfrika spoel oor die gehoor wanneer die bekroonde Stellenbosch-universiteitskoor - die oudste koor in die land - wegtrek met 'n verwerking deur hul dirigent, André van der Merwe.
Hulle is verlede jaar as topkoor by die Llangollen- Internasionale Musiek-eisteddfod in Wallis aangewys en is die sesde agtereenvolgende jaar nommer een op Interkultur se ranglys van 1,000 internasionale kore.
Dit is asof hul sang hom beskerm teen die chaos in die wêreld, sê die koorvoorsitter, Alex Lehlohonolo Menu.
'n Mens hóór dit.
“My gunsteling-lied, ‘Let My Love Be Heard', op verlede jaar se program gaan oor liefde wat oorwin. Dit is asof die hele koor in 'n donker gat afsak, weerloos raak, maar dan neem vertroue oor en jy besef die liefde oorwin," vertel Alex ná afloop van die koor se tweede vertoning van die dag. Dit is halftien op ’n koue Sondagaand.
Alex, 'n mediese student in sy vierde jaar en 'n tweede bas, is die eerste swart voorsitter.
Sy ouma Mary Menu het hom alleen grootgemaak in Pretoria. Dit was nie maklik nie. “My ma is dood, my pa ...
“My lewe is 'n wonderwerk, eerlikwaar. Om koor te sing is 'n voorreg."
Die klank van die koor kan soos potjiekos beskryf word, vertel Alex – bietjie wortels, bietjie aartappels, bietjie vleis.
“As jy al die verskillende stemklanke saamgooi – 'n wit bas en 'n swart bas klink net verskillend – dan werk dit."
André laat die “potjiekos” werk omdat hy balans skep tussen die verskillende stemme. Nie dat dit só baie verskil nie, maar hy glo wel swart stemme het gewoonlik meer resonansie-potensiaal op 'n vroeë ouderdom, terwyl wit en bruin stemme helderder is.
“As dié uiteenlopende toonkleure in simpatie vibreer, kry Suid-Afrikaanse kore 'n unieke kleurpalet. Dít is waarskynlik wat ons so suksesvol op internasionale podiums maak.”
Hy kry jaarliks sowat 500 aansoeke. “As jy goed kan luister, kan jy in 'n koor sing. Om intonasie te kan beheer, is kardinaal. Maar 'n goeie humorsin tel ook. Ek vertrou my instink. Iemand se oë verklap so baie."
Dertig jaar gelede
Dit is dooptyd in Stellenbosch, 1984.
Ek is nie lus om Akkerjolle te verkoop vir die jool nie en systap 'n kontingent seniors. Ek stoom soos 'n broodpoeding in 30 °C of meer op pad na die ou opvoedkundegebou vir 'n universiteitskoor-oudisie. My ma het destyds gesing onder prof. Philip McLachlan, wat die “vader van koormusiek in Suid-Afrika” genoem word, en ek is vol hoop dat ek die tradisie kan voortsit.
In my koekerige rompie, wilde pers-en-blou 80’s-grimering en my Teletien-haarstyl (praat van 'n vermenging van style), sing ek “Die Eenvoudige Liedjie" uit die FAK vir Johan de Villiers, prof in wiskunde en dirigent van die koor (1977 tot 1984). Ek beland sowaar – as tweede alt – in dié geliefde dirigent se koor.
Só begin een van my lekkerste avonture op Stellenbosch en sing ek 'n jaar onder Johan. Soms gaan dit maar sweet-sweet, want soveel Latynse woorde het ek nog nooit gesien nie, om nie van die Frans en Duits te praat nie. Dit was my As It Is in Heaven, maar op Stellenbosch, en in my maagdelike wit rok, met die toga, ligte sykouse en vieslike “mediese” hofskoene.
Ons repertoire het wye draaie deur baie lande gegooi – Ave Verum Corpus deur William Byrd, Bruckner-motette, die Boerneef-vers Kaapse Kanarie wat so geelkeel sing en uittreksels uit sy Krokos, wat deur onderskeidelik Marthie Driessen en Hubert du Plessis getoonset is, Gershwin se Summertime en Cent Mille Chansons, wat Heidi Edeling van perfect pitch-faam so lekker smeulend gesing het – te veel om op te noem. Teen die tyd dat ons by Alexander Gretchaninoff se Nunc Dimittis gekom het, was ek gereed vir 'n glas wyn.
Ek het nog die plaat van Johan se afskeidskonsert op 1 Desember 1984. Kan dit wáár wees dat dit selfs voor CD’s was?
Dit was 'n vreemde tyd om jonk te wees. Die land het gebrand. P.J. Powers het anti-apartheidsliedjies gesing: You’re so good to me, Feel so strong, Home to Africa. Dit was voor die vingerswaaiende outokraat P.W. Botha se teleurstellende Rubicon-toespraak in 1986. En net ná die instelling van die vreemde Driekamerparlement waarvoor wit Suid-Afrikaners in 1983 gestem het.
Toe die heersende Nasionale Party beperkte stemreg aan bruin mense en Indiërs gegee het – maar niks aan swart mense nie. Alles nog baie “cloud cuckoo land”.
Stellenbosch was so te sê leliewit. Tot my skande het ek eers in my tweede jaar van Nelson Mandela gehoor, en dit deur 'n koorgenoot.
Mark Behr was een van ons basse. 'n Ongelooflike bas. Eendag in 1985 op 'n koorkamp, onder Acáma Fick as dirigent, leer Mark 'n paar van ons: “Nelson Mandela, Nelson Mandela, one day he will save us, one day he will save us, from Apart-hate’’. Ons sing die kanon-deuntjie oor en oor tydens 'n koffiepouse.
Toe dit lank ná ons universiteitdae onthul word dat hy 'n dubbele spioen was, vir die regering en vir die ANC, was ek verstom.
Ek het net Mark se mooi stem, liewe oë en vlymskerp humorsin geken en sal hom só onthou.
Destyds, as bevoorregte, wit, Afrikaanse student, dring “aparthate" nog net bolangs tot my deur. Ek leef in 'n salige kokon. Wanneer 'n mens in bruin gemeentes koor sing, is dit dapper, dink ek. Ek glo “almal moet gelyke kanse kry”. Die “slegs blankes-" bordjies by die see of toilette hét my gepla. Maar dit was meer soos “white noise”.
Jy is bewus daarvan, maar jy glo dit gaan regkom. Een of ander tyd. Soos baie Afrikaanse studente was ek polities nogal clueless. Ek het wel geweet dinge is nie reg nie. En teen die tyd dat die Voëlvry-beweging in die laat 80's op die toneel gekom het, het ek geweet dinge is baie verkeerd.
Toe, in 'n baanbrekende ontwikkeling in die koorwêreld, stig prof. Johan en sy vrou, Louwina, in 1989 die eerste multikulturele koor in Suid-Afrika, vyf jaar voor die eerste demokratiese verkiesing en minder as 'n jaar voor die ANC en ander vryheidsorganisasies ontban word. Juis omdat hulle onthuts was deur apartheid se vergrype. Enigeen was welkom om in die Libertas-koor te kom sing, ongeag kleur of kultuur.
In 1990 trek die Libertas-koor 'n streep in die sand toe hy in Pretoria se Staatsteater as toegif ná 'n vol program Nkosi Sikelel’ iAfrika sing – 'n gesang wat net as uitdagende volkslied van die voorheen verbode vryheidsorganisasies bekend was. Die gehoor juig hulle staande toe.
In 2005, 'n jaar ná ek Kaap toe trek van Johannesburg, word ek tien jaar lank deel van dié koor.
En nou het dié koor onlangs sy 30ste verjaarsdag gevier.
Nasiebou sonder kumbaya
Toe die universiteitskoor nou die aand in die Endler sy program open met Nkosi Sikelel’ iAfrika was dit lankal nie meer ’n “gewaagde” item nie.
Maar dan is dit 'n heel ander koor as die een waarvan ek lid was.
Soos André verduidelik: “Ons omvat die diversiteit en kompleksiteit van die land. Ek respekteer die frustrasies en woede, maar ook die drome en hoop van die jeug. Dit is terselfdertyd vreesaanjaend en geweldig opwindend, want ek kan so baie leer.”
Hy gee nie voor hulle is 'n “kumbaya-groepie” nie. Konflik, spanning en verskille is deel van enige groep, maar hy wil dit uitpraat, ongemaklike vrae stel as dit moet, en luister.
Koorsang gaan tog nie net oor mooi musiek maak nie – hy glo dis nasiebou op 'n ongedwonge manier. “Veral binne Suid-Afrika se sosiaal-politiese klimaat daag ek koorlede uit om getrou aan hulself te wees, maar om mekaar te respekteer. Ons kan onmoontlik almal van mekaar hou, maar ons verduur geen vorm van diskriminasie of disrespek nie. Ons luister na mekaar.
“Hulle moet my eendag onthou as iemand wat hulle geleer het om sonder maskers te leef."
Eie talente
André help sy sangers ook om deur hul opwindende repertoire hul eie talente uit te leef. Van hulle help met die choreografie, ander vertel agtergrond-stories oor liedere. “Dit is nie iets wat hulle met hul studierigtings kan ontwikkel nie," glo hy.
Toe Alex, die koorversitter, in sy eerste jaar op Stellenbosch land, was hy nie lief vir koormusiek nie. “In 2015 het ek house music geluister. Koormusiek was so stádig. Nah man. Ek kon in elk geval nie bladlees nie. Toe nooi 'n vriend my in 2016 om na die US-koor te luister en een van die Noorweegse wiegeliedjies het my in 'n state gesit."
Hy het by die dirigent Leon Starker se Kaapstadse jeugkoor aangesluit, toonlere en bladsang geleer. Iets heeltemal vreemds vir hom. “Die einde van 2016 het ek Stille Nag vir my US-oudisie gesing."
Alex is dankbaar oor sy leierskapsontwikkeling.
“Ek plaas baie druk op myself as eerste swart voorsitter. Dit is nie 'n skoolkoor nie. Dit is tog die topkoor in die wêreld. Maar as jou hart reg is, dan werk dit. Ons wil 'n verskil maak en hoop saai.
“Of iemand in die slums van Alexandra of in ryksmansbuurte is – hulle moet ná 'n uitvoering weet, jy kan enigiets doen as jy regtig wil. As ons twee persent van die gehoor hoop gee, het ons iets reg gedoen."
Dissipline
Om dít te kan doen, verg talent, maar meer nog, dissipline. Sowat vyf uur per week se oefening én selfstudie. André maak klankopnames van die verskillende stemgroepe se partye en hulle moet dit vakansies instudeer.
“Ek verkoop dissipline as 'n aantreklike vaardigheid vir koorlede,” sê André. “Daarsonder bestaan vryheid in musiek nie. Ek leer koorlede ook om bewustelik en onbewustelik kwesbaar te wees. Nét dan kan musiek jou binnedring.”
Die koor-ondervoorsitter, Dipulelo Komane, ook 'n mediese student in sy vierde jaar, kom van Bosbokrand, 'n klein plekkie in Mpumalanga. Op 'n dag luister hy op YouTube na die US-koor se optrede by die wêreldspele in Riga, Letland, en sê vir homself: “Ek wil daarin sing.”
En hier is hy nou: “Ons ry twee keer per week van die Tygerbergse kampus na Stellenbosch vir repetisies, maar jy leer werk onder druk. Dit werk vir my."
Zama Dlamini sê sy kan haar veeleisende studieprogram net hanteer as sy die koor se klankopnames vakansies aanleer. Ook  Zama is 'n mediese student in haar vierde jaar. “Dit is baie harde werk, maar as jy besluit jy wil dit doen, maak jy planne om dit reg te kry."
Ngamela Matiwane, 'n tweedejaar in rekeningkunde, sê die twee aande per week wat hulle koor oefen (twee en 'n half uur op 'n aand), is “ontsagwekkend”. “Dan vergeet jy van so baie dinge. Die opstande en onrus in die land is kommerwekkend, maar daardie oefeninge, daardie oefeninge ... jy voel goed."
Interessant genoeg is daar net vyf musiekstudente in die koor. Daar is 20 mediese studente, terwyl die res uit die fakulteite ingenieurswese, regte, rekeningkunde en ook geesteswetenskappe kom. Net 30 persent van die koorlede kan bladmusiek lees.
Geen pseudo-prediker
André glo nie koorsang staan geïsoleerd van die sosiaal-politieke konteks nie, maar hy wil tog net nie 'n pseudo-prediker of -politikus wees nie. Maar hy vind dit leersaam om te ontdek hoeveel lande met gemeenskaplike kwessies worstel rakende rassisme, kolonialisme, verlies, versugtinge.
“Dan ontdek jy dat jou eie probleme ook 'n groter konteks het."
Hy kies musiek met 'n kombinasie van teks en musiek wat ontroer. Dit hoef nie ingewikkeld te wees nie. “Niks is so mooi soos suiwer eenvoud nie."
Aanstaande Julie gaan die universiteitskoor aan die Wêreld-koorspele in België deelneem. Hy beoog weer 'n groot verskeidenheid musiek, ook dié wat 'n Suid-Afrikaanse idioom bevat. “Dit is wonderlik om te sien hoe oorsese gehore op Suid-Afrikaanse musiek reageer."
Maar dit bly uitdagend in 'n land met 11 amptelike kultuur-erfenisse. Hy kan nie alles vir almal wees nie, maar glo ongeag die taal waarin hulle sing, sal hulle Suid-Afrika se harte en siele in klank aan die wêreld ontbloot.
“Ons het al baie gehore verras en hul idees oor Suid-Afrika positief beïnvloed."
Om met US-koorlede te gesels ná die onlangse galakonsert het my laat hunker na die wonderlike tye toe ek deel van die koor was. En na daardie bittersoet liedjie Çome Again, waarmee ons altyd koorfunksies of -kampe afgesluit het.
Come again sweet days of wild delight
Ye were too sweet to last
Ye were too brief and bright
In thought I feel once more
Your maddening joy
Oh come and stay
For ye can never cloy
Maar nou sing hulle in 'n núwe Suid-Afrika, met 'n núwe klank. En hoe beter ons almal mekaar leer ken, hoe beter word die klank, want hoe meer vertrou ons mekaar, sê Zama.

Die US-koor se tiende CD, Heaven’s Flock, is by die Woordfees-kantoor te koop teen R150 elk. Stuur ’n e-pos aan woordfees@sun.ac.za. Daar is ook baie opnames van die koor op iTunes beskikbaar.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.