Jan wil nie braai nie, want om sommige vure sit hy nie

FÓQUOLLE STYL

Jan wil nie braai nie, want om sommige vure sit hy nie

Al is die braai die laaste vergaderplek van die volk, gaan daar mense wees wat maak dat jy die geleentheid misloop. JAN WOLMARANS kán nie om dieselfde vuur sit as Renostus, die verloopte predikant, en sy eksvrou, Florinda, nie.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

EK wil nie na die braai toe gaan nie, want Renostus gaan daar wees. Hy wat dink sy wye woorde is ewig sielewyn vir ander. Onse Renostus Botus. Hy wat skynbaar glo hy bly altoos ons testosteroonbewoorde volksbesit. Ons eksdominee met die losgepreekte libido. Soos hy aangaan, is hy die enigste een onder ons ander platgejagtes wat steeds met ’n horing geseën is.

Ek wil nie na daai braai toe gaan nie. Nee.

Renostus gaan glo daar wees, hy met die ewig innemende glimlag van die kerngesonde hoofseun. Hy met erekleure in alles, veral sjarme en skaak. Elke gedagte ’n Dux-medalje. Elke skouerklop ’n intieme verbroedering.

Ek wil nie na die vrekken braai toe gaan nie al is dit die laaste ware altaar van ons volksvergadering. Ja. Meer as enige algemene plek, skool, sportpawiljoen of kerk, dansbaan, straat, winkel of kerk, openbaar ons eie mense hul ware karakter nooit so duidelik as by ’n braai nie. Nêrens. Glo my.

Ten eerste verraai die kostuum en skoene die opregte woordeskat van die gesellige geleentheidspeler nog. Dit is nog voordat ’n mens die diepere wese van die individu kan peil na gelang van die gehalte van die vleis wat uitgepak word. Daarmee saam ook die bestanddele vir die slaai, die etiket van die wyn, die houers en getal van die yskoue bier. Die fabrikaat van die cooler-box, met ingeboude kragopwekker, is ook ’n statussimbool. Met die aankoms word hierdie verbondsark al groetende en laggende en met uitroepe gul onthul.

Dís nog kort voordat die niggie in die katoenrokkie met die lae hals vol skommelboesems die musiek wil verander en te laag buk om kuierklanke uit te haal, en almal met genuine juwele in hul glase laat stik. Trotse Afrikaanse liefliedjies met die dappere doemtjiek-walsies van gemoedelike templaatrekenaarklankies.

Slordige grappe

Nee, asseblief, ek wil nie na die braai toe gaan nie, want Renostus die eksdominee gaan beslis daar wees. Hy wat seremonieel afstand gedoen het van sy geloof en daarmee saam dus van sy toga, kansel en pastorie, alles behalwe die volle aandageisende showmanship. Steeds moet jy aan tafel, om die vure en veral rondom die wynglas, stilbly en luister hoe Renostus nié meer glo nie, hoe vonkelend hy “fok!" sê en o al te ondeund slordige grappe vertel. Sprankelende ogies.

Hemele help my. Nee.

Renostus is nou ons konsertnar. Ons moet bly kyk hoe hy die hof hou met ons as sy wynglasgemeente tot stilte geannekseer. Hy, steeds met die stemtoon wat met fyndraaivertellinge van aandoening vibreer, verwag steeds respek, eerbied.

Ek wil nie ’n vrek na daai braai toe gaan nie! Nee. Ek wil nie van Renostus se gemoedelike vleesgemeente moet afstig en elders moet gaan sit en luister hoe onse mense steeds bittergif bly spoeg oor al die naamsveranderinge nie. Die paaie, dorpe en stede. Alles! Dis só belaglik verkeerd en wát van ons geskiedenis en wié het dit gebou en hóé gaan ons kinders iets leer van hul voorvaders?

En rondom ouma Martie en haar dogter Charmaine, en ouma Hester en haar dogter Anneli, en rondom oupa Stefaan en sy seun Júàndré, speel daar al meer ’n Chúàndri en Charné, Tasha en Skye, Chloë en Chériserélè en Nazindré.

Maar o, ek sal ter wille van familievrede tog wel moet gaan, helaas, my beste vellies moet voorsit, heerlik verkeer, en maar vir eens my vetgesmeerde blinkbek hou en tjopstil eet. Dink aan niks. Murg lek uit die been.

Maar nee. Florinda gaan ook daar wees. Kan nie.

’n Huigelarestrise

Ek wil ook nie hemel toe gaan as Florinda daar gaan wees nie, maar ek twyfel darem, want sy is ’n huigelarestrise. Ja. Mens mag nie oordeel nie, ek weet, maar Florinda wil baie graag beoordeel word. Van skooldae af al.

Sy verwag prestasiebalkies op haar baadjie, erekleure in alles, goue sertifikate en trofees. Sy't gehuil as sy net silwer toekennings op die kunskompetisies kry.

Later jare is dit nou Les Interiéurs Florindaìses met alles wat hoogkoninklik, duurdeftig en goudbebarok is. Haar intieme milieu. Die tossels. Die fluweel. Die matte handgeweef van sy. Mens moet soos ’n ongekerstende jou skoene by die voordeur uittrek. En die voorgereg is rýk en die hoofgereg is rýk en die nagereg is jig. Operaseria luid met ete. Sy verwag seremonieel komplimente ná elke klink van glase. Handgekerfde kristal uit die skatkiste van die Famiglia de Medici.

Vaderland en moedertaal, nee, ek kán nie.

Ek wil nie na daai braai toe gaan en daai goue Mercedes aangeswaan sien kom nie, want Florinda is altyd laat vir ’n entrance extraordinaire. Haar parfuum wolk ’n kilometer vooruit. Die coiffure in ’n skulptuur vasgespuit.

Die groetlag gul gerepeteer en die geskenke alles formele omkoopkonkels. Politiek. Control. Sy neem besit van mense.

Ek kan nie. My vriendin Boerta sê onse Florinda het deftige dooshare, maar ek vra nie verder uit nie, want ek is bang sy vertel my en ek raak deesdae van enige afstories lighoofdig. Sekere dinge moet liefs geheim bly. Ek wil nie weet wat presies ’n merkin is nie.

Ek wil glad nie gaan braai nie.

Ek sal jig kry en paniekaambeie. Ratata-tourettes masjiengeweerstyl.

Ek sal my wors in my wyn doop en luid botteltamatiesous vra vir my filet. Fielei. Ek sal winde opbreek en in my lieste krap. In my neus.

Florinda het myns insiens fóquolle styl. Ja. Dit rank na jou uit soos ’n uitslag wat weke lank jeuk.

As Florinda haar pad tot in die hemel in koop met kontakte oral, sal sy daar oorvat en die koor afrig. Weerlig Wagner. Helse rumoer. Engele sal aan't suipe gaan en koorlede molesteer.

Ek wil nie braai toe gaan nie, want fócquen Florinda en haar eksman, Renostus, gaan daar wees. Maar ek wil darem sien watter bebaarde en intens fronsende jong beeldhouer sy nou weer rondsleep as lakei. Dis altyd interessant om te sien. Die lyfwag met die groot hande en diep stiltes.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 4 November 2022 in VWB gepubliseer.

    ♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.