Assange: vrot met sy kat, vuil en nie 'n gawe knaap

Kriminele kuberkraker of joernalis?

Assange: vrot met sy kat, vuil en nie 'n gawe knaap

Maar al hou jy nie van hom nie , beteken dit nie ons moet fluitjieblasers voos kou en dan uitspoeg nie, skryf HERMAN WASSERMAN.


HY het blykbaar nie behoorlik vir sy kat gesorg nie, nie sy badkamer skoongemaak nie, swak persoonlike higiëne gehandhaaf, en met sy skaatsplank deur die klein kamers van die Ecuadoriaanse ambassade gekletter. Maar moet die feit dat Julian Assange (47) soos 'n bedorwe tiener opgetree het tydens sy verblyf, 'n mens minder laat omgee oor die feit dat die stigter van Wikileaks verlede week ná sewe jaar by sy skuilplek in Londen in hegtenis geneem is?
Te oordeel aan hierdie gerugte is Assange klaarblyklik nie 'n gawe kêrel nie. Laat ons veral nie vergeet dat hy in die eerste plek skuiling gesoek het in die ambassade om te ontsnap van 'n internasionale lasbrief uitgereik deur Swede op aanklagte van seksuele aanranding en verkragting nie.
Hy is reeds kort na sy inhegtenisname skuldig bevind aan die verbreking van sy borgvoorwaardes in verband met hierdie aanklagte (wat intussen laat vaar is). Hy is egter ook in die laaste week deur die Amerikaanse owerhede aangekla van sameswering met Chelsea Manning om die rekenaars van die Amerikaanse Departement van Verdediging te kraak ten einde die honderdduisende dokumente met inligting oor dié land se oorloë in Irak en Afghanistan uit te lek.
Waarom is hy in hegtenis geneem, en hoekom nou? Verskeie argumente word aangevoer. Die eerste invalshoek is 'n geopolitieke een. Volgens Wikileaks se redakteur Kristinn Hrafnsonn, moet Assange se inhegtenisname gesien word in die lig van die nuwe, pro-Trump regime in Ecuador. Assange het sy asiel ontvang van die voormalige president van Ecuador, Rafael Correa. Sy opvolger, Lenin Moreno, is bereid om Assange aan die Amerikaanse owerhede te oorhandig ten einde guns te wen by die Trump-administrasie, moontlik in ruil vir skuldverligting.
‘Karaktermoord’ lei aandag af van gevare soos Bell Pottinger-sage
Dan is daar diegene wat, soos die filosoof Slavoj Žižek, meen dat Assange se inhegtenisname eintlik ons aandag aflei van 'n groter vyand in ons midde – private korporasies wat saamsweer met sekuriteitsapparatus, soos in die berugte geval van die maatskappy Cambridge Analytica wat Facebook-data gebruik het om kiesers in die Amerikaanse verkiesing te beïnvloed.
Žižek waarsku dat die data wat maatskappye soos Google en Facebook van gebruikers insamel, in die toekoms al meer in die hande van staatsagentskappe kan val. Hy meen Assange se ‘karaktermoord’ was juis daarop gemik om sy geloofwaardigheid in gedrang te bring eerder as om ons bewus te maak van die gevare van data-spioenasie deur maatskappye.
Žižek se waarskuwing het ook betrekking op Suid-Afrikaanse gebruikers van digitale platforms en sosiale netwerke. Die Bell Pottinger-sage is nog vars in die geheue, toe 'n fopnuusveldtog deur die Guptas op sosiale media gebruik is om die narratief van ‘wit-monopolie-kapitaal’  in te span om aandag af te lei van staatskaping. Analiste het reeds weer gewaarsku teen die moontlikheid dat Twitter weer gebruik kan word in die aanloop tot volgende maand se verkiesing om  in te meng in politieke veldtogte.
Persvryheid: die Suid-Afrikaanse konteksMaar miskien die mees komplekse vrae wat geopper word oor Assange se inhegtenisname het te make met vryheid van spraak en die veranderde rol van joernalistiek. Hierdie vrae is eweneens van groot belang vir Suid-Afrika, gesien ons eie geskiedenis van onderdrukking van persvryheid onder die Nasionale Party asook meer onlangse gevaarligte wat flikker rondom geheimhouding.
Verskeie kommentators sien in Assange se inhegtenisname die bevestiging van 'n Amerikaanse aanslag op die joernalistiek. Trump se vyandige uitsprake oor die media is welbekend, asook sy gebruik van die term ‘fopnuus’ om kritiese stemme te probeer stilmaak. Assange se inhegtenisname dui vir hierdie waarnemers daarop dat Amerika 'n al meer vyandige omgewing vir joernaliste geword het. Hulle is bekommerd dat die kriminalisering van Assange ander fluitjieblasers en joernaliste sal afskrik om in die toekoms sensitiewe inligting openbaar te maak. Of 'n mens nou van Assange as persoon hou of nie, waarsku organisasies soos die Committee to Protect Journalists, sy vervolging gaan dit moeilik maak vir ondersoekende joernaliste om in die toekoms inligting te bekom by bronne wat sal vrees vir hul eie veiligheid.
In die Suid-Afrikaanse konteks kan ons dink aan die omstredenheid rondom die Wetsontwerp op die Beskerming van Openbare Inligting wat groot kommer tot gevolg gehad het juis vanweë die moontlikheid van sulke wetgewing om fluitjieblasers in gevaar te stel.
Kriminele kuberkrakter of joernalis?
Maar daar is ook diegene wat sterk wal gooi teen pogings om Assange dieselfde beskerming as joernaliste te bied. Volgens dié kritici was Assange 'n kriminele kuberkraker of 'n bevooroordeelde aktivis eerder as 'n joernalis. Veral Wikileaks se bande met die Russiese president Vladimir Putin, en dié se pogings om Hilary Clinton se verkiesingsveldtog te kelder, is vir dié kritici genoeg rede om hom aan sy lot oor te laat. As Assange nie 'n joernalis is nie, protesteer hulle, is hy ook nie geregtig op die grondwetlike beskerming wat aan joernaliste gebied word nie. Desnieteenstaande het die meeste hoofstroommedia detyds baat gevind by Assange se werk by Wikileaks, en het hy die wêreld se oë help oopmaak om die wanpraktyke van Amerika se onwettige oorloë in Irak en Afghanistan raak te sien.
Die sentrale vraag in hierdie debat is dus een wat in die afgelope dekade of wat al effens snuifgetrap is deur joernaliste, kommentators en navorsers: wie of wat is 'n joernalis?
Daardie vraag kan nie beantwoord word sonder om te erken dat die praktyk van inligtingstorting (‘data dumps’) 'n groot omwenteling in joernalistiek teweeggebring het nie. Die gebruik van ‘groot data’ in ondersoekende joernalistiek het reeds wêreldwyd grondverskuiwende stories tot gevolg gehad. Wikileaks het die weg gebaan vir soortgelyke onthullings soos dié deur Edward Snowden oor spioenasie deur die Amerikaanse sekerheidsdiens, asook die openbaarmaking van die sogenaamde Panama Papers. Hierdie stories sou nie moontlik gewees het sonder die lek van groot hoeveelhede geheime data deur bronne nie. Waar sou die geveg teen staaskaping gewees het indien dit nie was vir die dapper lek van die e-posse wat uiteindelik gelei het tot die reeks opsienbarende Guptaleaks-stories nie?
Professionale joernalis vs Julius Alleman
Terselfdertyd ondervind die joernalistiek wêreldwyd tans 'n vertrouenskrisis sowel as 'n voorbestaanskrisis. Verskeie meningspeilings in veral die VSA toon 'n afname in die publiek se vertroue in die joernalistiek weens fenomene soos fopnuus en joernalistieke vooroordele. Wêreldwyd veg gevestigde joernalistieke ondernemings om oorlewing soos gehore en adverteerders tradisionele media verlaat en na digitale platforms migreer. Dit is duidelik dat die digitale rewolusie dit moontlik gemaak het vir almal met toegang tot ‘n rekenaar en die internet om inligting te produseer en te versprei. Te midde van hierdie aanslae veg joernaliste dikwels terug deur sterker aanspraak te maak op hul eie professionele identiteit en kwalifikasie. Die ironiese situasie ontstaan dus soms dat hoewel joernaliste toenemend afhanklik is van gebruiker-genereerde inhoud, die lek van ‘groot data’ en die deelname van hul gebruikers op sosiale media platforms, hulle terselfdertyd ook grensdrade wil span tussen hulself as ‘professionele’ joernaliste en Julian Alleman.
Die vraag ‘wie is 'n joernalis?’ is egter die verkeerde een. Die vraag is eerder: ‘wat is joernalistiek?’ Assange mag dalk nie 'n ‘professionele’ joernalis gewees het nie, maar sy werk het onteenseglik deel uitgemaak van 'n tipe joernalistiek wat ons al meer in die toekoms sal sien. Al was hy nie 'n joernalis nie, het hy bygedra tot die joernalistiek. Die grense tussen gebruikers en produsente van joernalistiek vervaag in elk geval al meer in die digitale era van groot data, gebruiker-gegenereerde inhoud en sosiale media. In Suid-Afrika verkry die vraag oor wie voldoen aan die titel ‘joernalis’ 'n verdere dimensie. In 'n hoogs ongelyke samelewing soos ons s’n, is dit nie in die openbare belang dat slegs 'n elite, professionele klas mense hulself die reg toeëien om joernalistiek te bedryf nie. Natuurlik – hopelik – sal goeie opleiding, die onderskryf van etiese standaarde en die hulpbronne van gevestigde joernalistieke ondernemings bydra tot joernalistiek van hoër gehalte. Maar 'n aandrang op eksklusiwiteit kan bydra tot v elitistiese joernalistiek wat nie alleen uit voeling is met die meerderheid van die bevolking nie, maar ook belangrike insigte oor die leef- en verstaanswêreld van gewone burgers misloop. Samewerking is al meer noodsaaklik, vanuit 'n tegniese sowel as ‘n sosiale perspektief.
Fluitjieblasers kan nie gekou en uitgespoeg word nie
Dit beteken nog wel nie dat die blote storting van data gelykstaande is aan joernalistiek nie. Daar kan legitieme besware gelug word teen die ongefiltreerde blootlegging van vertroulike rekords. Sodanige blootlegging kan in 'n oorlogsituasie mense se lewens in gevaarstel (hoewel dit nie duidelik is dat dit wel in Assange se geval gebeur het nie), dit kan geheime agente se identiteite bekendmaak, die privaatheid van onskuldige individue onnodig skend, of 'n wanvoorstelling van gebeure bied indien die nodige konteks nie verskaf word nie. Assange word dikwels daarvan beskuldig – waarskynlik tereg – dat hy nie genoeg sorg aan die dag gelê het om data te filtreer voordat hy dit in die openbare domein losgelaat het nie. Daarom is dit belangrik om steeds 'n onderskeid te maak tussen die lek van data en die noukeurige konstruksie van 'n goeie joernalistieke storie.
Data word eers joernalistiek wanneer daar sekere vaardighede toegepas word: die vaardigheid om konteks te verleen, om verbande te trek, om 'n boeiende storie te vertel en – veral – om op 'n etiese verantwoordbare manier te besluit hoe om watter inligting in die openbare belang aan te bied. Dit beteken egter nie dat fluitjieblasers gekou en uitgespoeg kan word wanneer hulle hul doel gedien het nie. Dit beteken ook nie dat alle praktyke van fluitjieblasers noodwendig goedgepraat kan word nie. Maar daar is tog heelwat redes waarom ondersteuners van die vrye vloei van inligting bekommerd moet wees wanneer fluitjieblasers vervolg word. Sommige fluitjieblasers ruik dalk nie baie lekker nie. Maar sonder hulle sal ons dalk glad nie weet van die veel groter stank van politieke en korporatiewe verrotting nie.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.