Die bastions van Kwak in Afrikaanse musiek

Geld en glans vs talent en armoede

Die bastions van Kwak in Afrikaanse musiek

Die Ghoemas en Afrikaans is Groot het die gekoesterde sweer in Afrikaanse musiek laat oopbars, skryf RIKU LäTTI, stigter en medevervaardiger van die musiekdokumentêre-reeks Die Wasgoedlyn.


DIT het nog nooit so goed - en so sleg - gegaan met Afrikaanse musiek as nou nie. Afrikaanse musiek beleef op die oomblik ’n bloeitydperk in al die sinne van die woord. Aan die een kant is daar ’n magtige musiekbedryf wat nog nooit meer geld gemaak het met Afrikaanse musiek as tans nie, en aan die anderkant ’n magdom kreatiewe skeppers wat oorspronklike werk lewer en soos Moses op die berg staan en die beloofde land van geld en heuning kan sien maar dit nie kan betree nie, want daar is ’n diep kloof wat die twee wêrelde van mekaar skei.
Aan die eenkant bloei dit van geld en glans en aan die anderkant bloei die talent en armoede. En die afgrond tussen die twee kante is so massief dat brugbou ’n onbegonne taak blyk te wees.
Onlangs met die Steve Hofmeyr/Afrikaans is Groot (AIG)-fiasko het die hoofborge (MTN, Coca-Cola, Media24 en Toyota) hulle aan die konsertreeks onttrek. Hulle het hulself in die openbaar van die konsert gedistansieer om sodoende ’n sterk standpunt teen rassisme in te neem. Dit het ook ’n openbare diskoers laat opvlam wat Deon Maas reeds in ’n onderhoud met Die Wasgoedlyn meer as twee jaar gelede beweer het, en dit is dat Afrikaanse musiek basies rassisties is.
ʼn Mens hoef net “Afrikaans is Groot” te google en op die “images” te kliek om oorval te word met ’n magdom pragtige plakkate van die sterre oor die jare, uitstekend uitgelê met die gesigte van wit mense - en Refentse. Refentse, wat volgens Churchil Naude deur AIG aangewend word as ’n kwotaspeler, het sy opgang gemaak deur Bok van Blerk se “De La Rey” te sing.
Of Bok van Blerk se musiek rassisties is, is oop vir debatvoering deur ander partye, maar dat sy musiek patriotiese nostalgie by wit nasionaliste aanwakker, is onbetwisbaar. Refentse word deur vegters vir wit Afrikaanse kultuur aanvaar en selfs bemin omdat hy met sy waarlik betowerende stem, die nuwe volksliedere van bogenoemde kultuur, debatteerbaar, beter sing as Bok self. Refentse se teenwoordigheid by AIG verbreed nie die kulturele aanbod buite die grense van dit wat die wit sangers reeds bied nie.
Die Coleskes, grootbase van AIG, neem dalk geen ander faktor behalwe winsbejag in ag wanneer hulle slegs wit mense en Refentse nooi om op te tree nie. Die demografie van die deelnemers wie se werk hulle op groot maat verkoop kan kry, is dalk slegs heel toevallig ’n wit verskynsel.
Die resultaat is egter ’n Afrikaner-heimat, ’n gekoesterde sweer van homogene kultuur en ’n enorme finansiële sukses. Dis nou totdat AIG weier om hulself van Steve Hofmeyr te distansieer, en Hofmeyr wat weier om homself van wit Afrikanernasionalisme te distansieer.
Bastions van KwakAIG is egter nie die enigste bastion van Kommersiële Wit Afrikaanse Kultuur (Kwak) nie, hulle is net die geur van die maand omdat hulle struwelinge onlangs ontbloot is. AIG is slegs ’n sweer van ’n groter siekte van apartheid in Afrikaanse musiek.
Volgens Deon Maas is “radiostasies ’n plek waar apartheid nog hoogty vier”. Hy voer aan dat omdat radiostasies nie aan enige instelling of iemand hoef te verduidelik hoekom hulle die musiek kies wat hul speel nie, kan hulle strenggesproke ’n smorgasbord van 100% wit “kunstenaars” opdis omdat dit slegs daai tipe musiek is wat hul “formaat” pas. Met die skryf van hierdie artikel was GrootFM se top-20 (toevallig?) ook wit sangers en Refentse.
DEURBRAAK ... Die gewilde kunstenaar Refentse het vanjaar 'n Ghoema vir beste kontemporêre album deur 'n manlike kunstenaar gekry.
Die Ghoemas: op Kwak gebou
Die Ghoema-toekennings het jare lank slegs wit kunstenaars benoem. Die lys van mense wat Ghoemas gewen het, soos dit (ten skrywe hiervan) op Wikipedia gepubliseer is, is 100% wit. Om die persepsie van Ghoemas as ’n wit geleentheid teen te werk, het hulle in laaste jare daadwerklike pogings aangewend om bruin kunstenaars te betrek deur ’n hiphop-kategorie bekend te stel.
Intussen het Refentse opgedaag, so dit behoort ook te help, maar hul Wikipedia-blad is nie onlangs bygewerk nie; dus verskyn sy naam nog nie. Die organiseerder het erken dis vir haar ʼn probleem dat ander rasse nie vir die Ghoemas inskryf nie, en nogtans vereer hulle elke jaar vir Steve Hofmeyr.
Die persepsie van rassisme in die Ghoemas is dus nog nie soveel van ʼn probleem dat hulle vanuit eie bodem genoodsaak gevoel het om hulself van wit Afrikaner-heerssugtiges soos Hofmeyr te distansieer nie. Die druk op die Ghoemas om hulself nou van Steve te distansieer, het van bo af gekom.
Joe Heshu, hoof van korporatiewe sake by MultiChoice, het die ultimatum aan die Ghoemas gestel: Onttrek Steve of MultiChoice onttrek van die Ghoemas. Dit sou die toekenningsaand sonder uitsender gelaat het.
Vir die Ghoemas is dit ʼn penarie, want histories is hul fondamente op Kwak gebou. Die meeste van die kategorieë is stellig sub-Kwak-kategorieë.
Niekommersiële Afrikaanse genres is histories deur die Ghoemas geïgnoreer, wat beteken het dat die meeste van die alternatiewe Afrikaanse musikante ook die Ghoemas geïgnoreer het. Die wegbly van alternatiewe musikante was nie soseer ʼn boikot nie; dis meer ʼn onderliggende gevoel dat die Ghoemas aan Kwak-kunstenaars behoort en hulle nooit werklik na alternatiewe kunstenaars uitgereik het om hulle onder die sambreel te verwelkom en die versekering te gee dat hul werk ook ernstig opgeneem sou word nie.
In ʼn gesprek met Heidi Edeling, organiseerder van die Ghoemas, het sy erken die enigste alternatiewe kunstenaar wat gereeld vir die Ghoemas inskryf, is Karen Zoid. Dis nodig om te noem dat Zoid haarself opgebou het as progressiewe kommersiële kunstenaar met aanhang binne sowel as buite Kwak. Sy sing vir Engelse sowel as multikulturele Afrikaanse gehore.
BOIKOT ... Kunstenaars wat die Ghoemas geboikot het ter ondersteuning van Steve Hofmeyr.
Steve se geliefde volgelingeMaar nou dat die Ghoemas onder dwang van Steve moes afstand doen, weens sy verdelende uitsprake en gedrag, sit hulle met die dilemma dat Steve, as prominentste vervaardiger van hedendaagse Kwak, die meeste van die geliefde volgelinge saam met hom sleep – onder wie Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Dewald Wasserfall, Corlea Botha, Jay du Plessis (van Eden-faam), Bok Radio, ensovoorts – om die Ghoemas te boikot. Dit kan die einde beteken van die Ghoemas, wat steeds blyk om op Kwak toegespits te wees. Of dit kan die begin wees van iets beters.
In 2017 het David Kramer ’n gesogte prys vir sy lewenslange bydrae tot musiek van die hand gewys nadat hy gehoor het dat Steve Hofmeyr by die geleentheid by Rust en Vrede sou optree. David Kramer se man-alleen-protes het nie ongesiens verbygegaan nie. Ondanks David se standpunt het meer en meer sangers hulle agter Steve geskaar.
Steve Hofmeyr is nie die enigste kunstenaar wat veg vir wit Afrikanernasionalisme nie; sy postuur verdwerg eenvoudig al die ander. Die probleem van rassisme in Afrikaanse musiek kan nie alleenlik op die skouers van Steve en AIG gepak word nie. Die grond is lank voor hul bestaan reeds vrugbaar gemaak vir hul sukses.
Afrikaanse musiek voor apartheidAfrikaanse musiek het in die jare voor apartheid heelwat anders uitgesien. Daar was ’n genieting en medewerking in die musiek van die tyd oor die kleurgrens heen. Die Maleiers, wat vroeg in die ontwikkeling van Afrikaans as slawe in die Kaap aangekom het, was bevoeg met instrumente soos die kitaar, die banjo en konsertinas.
Hulle was goeie musici, en ná ’n dag se werk en met die afwesigheid van DStv in daardie jare was die jolige klanke van musiek ’n welkome lafenis vir enige oor. Hulle was die leermeesters wat ook hul musiektradisie aan wit musiekmakers oorgedra het.Een van Afrikaans se grootste musikale pioniers, David de Lange, wat in die 1930’s en 1940’s honderde duisende plate verkoop het met sy weergawes van treffers wat ons vandag nog ken, soos “Suikerbos” (in die Kaap gekomponeer deur Fred Mitchel) en “Sarie Marais”, het musiek gemaak met ’n hoogs begaafde bruin musikant uit Distrik Ses, George Abrahams(e), wat homself as Jood voorgedoen het om die konserwatiewe gehore te fnuik.
George kon musiek lees en skryf en het die kennis aan David de Lange en Willie Welgens oorgedra. Hulle het opgetree by danse en hul musiek het op die radio gedraai en was uiters gewild onder mense van alle kleure. Mense van verskillende rasse het voete geskoffel op die maat van hul musiek.
Europese musiek ‘hogere kuns’Helaas, die gees van wit Afrikanernasionalisme was in die lug en ’n veldtog is geloods om seker te maak dat wit mense nie met mense van kleur dans nie, want so meen die kerk en die gereg toe dat dans kan lei tot voortplanting oor die kleurgrens heen en ’n belangrike komponent van die doelwitte van die Nasionalis was die behoud van die “reinheid” van die wit ras.
In 1939 is die musikant, komponis en dirigent Anton Hartman by die SAUK aangestel. Hy was hoogs geskoold in Europese musiektradisie en van hoë aansien en het selfs orkeste in Europa gedirigeer. Apartheid het hom soos ’n handskoen gepas.
Onder Hartman is die Europese musiek as hogere kuns geag, meerderwaardig bo die aanbiedinge van die plaaslike dansorkeste. Dit was onder sy leiding dat musikante soos David de Lange van die SAUK se radiosenders verbied is.
Hy was hoofsaaklik verantwoordelik vir die invoer van Europese liedjies wat dan in Afrikaans vertaal en op radio as Afrikaanse musiek uitgesaai is. Dis dan waar die eerste streep getrek is wat Afrikaanse musiek in twee geskeur het.
Die invoer van Europese liedjies het sterre gemaak van mense soos Gé Korsten, Bles Bridges, Min Shaw, latere jare Nicholis Louw en vele vele meer. Aan die ander kant het David de Lange, ondanks die feit dat hy meer as ’n miljoen plate verkoop het, ’n arm man gesterf, want as jou musiek nie oor die radio gespeel word nie, weet niemand van jou nie, en word jou orkes nie geboek nie.
Die kunstefeesteTerwyl Anton Hartman die eerste skeidslyn getrek het en met die invoer van Europese musiek die inheemse Afrikaanse kultuur uitgedolwe het tot ’n donga, het ’n verdere faktor die donga help verdiep tot die kloof wat vandag Afrikaanse musiek deurklief. Eerstens die volgehoue inkoop en vertaling van Europese musiek tot vandag toe nog, en tweedens, ironies genoeg, die ontstaan van kunstefeeste in Suid-Afrika.
’n Blomtydperk het die Afrikaanse musiek getref met die einde van apartheid en bevryding van Suid-Afrika. Afrikaans as taal van die onderdrukker is ook bevry.
Dit aan die een kant. Maar weer eens is daar ’n ander kant. Afrikaans het ook ’n vrees vir sy eie verganklikheid ontwikkel, want nou verdien Afrikaans nie meer sy onregverdige staatsbeskerming nie.
Vrees vir die dood laat mense vinniger voortplant. Afrikaans se vrees vir sy eie dood het ’n bloeitydperk, nie net in Afrikaanse musiek nie, maar ook in literatuur teweeg gebring.
Die ontstaan van die internet en tegnologiese vooruitgang het dit moontlik gemaak vir almal en sy skoonsuster om ook te publiseer, hetsy musiek of geskrifte. Die gevolg is ’n ontploffing in skaal op die aanbod van musiek, drama, poësie en die kunste as ʼn geheel. Waar geskep word, moet gevoer word.
Kunstefeeste het tot stand gekom, want die behoefte om nuwe werke ten toon te stel is brandend. Maar iemand moes vir die partytjie betaal en danksy Naspers van daai dae was die feeste trommeldik befonds.
Musiektente het opgespring soos wilde sampioene, elkeen met ’n naam soos Huisgenoottent, Rapporttent, Beeld- (of Burger-)tent, ensovoorts. Elk van die tente was die grootste trekpleisters op die feesterrein, en het verreweg meer mense gehuisves as wat die teaterproduksies kon doen.Teater en literatuur het daarby baat gevind met die magdom geld wat fees toe stroom om in musiektente te kan sit wat nou help om teater te subsidieer. Met die gevolg, en jammer oor die wiskunde, sê nou maar 6 tot 10 oop verhoë, vir 7 tot 10 dae se fees, maal dit met om en by 12 uur per dag, en dis ’n hele klompie ure om vermaak voor te verskaf. Gehalte gaan daal, maar dis oukei, dis ten minste Afrikaans.
Die vraag na nuwe liedjies het die hoogte ingeskiet en Europa het weereens tot hulp gesnel en ’n magdom Europese liedjies word Afrikaanse popperade. Dis nie inheems nie, dis nie ons eie musiek nie, kom nie van hier nie; tog is dit die musiek wat deur die meeste mense hier geluister word.
Gyselaar van die bewonderaarsMense soos Steve en die Coleskes het die volgende briljante stap geneem danksy die besef dat die ware geld lê in die behoud van musiekregte. Hoekom geld betaal aan Europa as jy die liedjies self kan skryf en alle regte op inkomste kan behou?Dis die droomtoestand van liedjieskrywers wat die Europese skryftradisie verstaan en met kreatiwiteit kan aanwend. Jy val lekker in die stroom, leef jouself uit, sing vir jou mense, die radio speel jou musiek, want hulle speel jou tipe musiek al jare lank; jy's goed met mense, laat hulle lekker voel, hulle raak lief vir jou, baie lief, jy word hul held en voor jy sien is jy hulle gyselaar.
Iewers is daar ’n mens wat so ver regs gebrandmerk is dat hy nie homself uit daardie posisie uit kan verskoon nie. Nooit sal hy sy rug op sy verregse aanhang kan draai nie, want sal hulle hom ooit daarvoor kan vergewe? Hulle is die lojaalste verbruikers van sy musiek; hulle koop sy karre vir hom.
Steve is charismaties en bemind, maar slegs deur sy volgelinge. Sy dissipels saai haat, nyd en verdeeldheid en die hele land ly as gevolg van die verhoogde toestand van haat. Sy mense wil hom net vir hulself hê, hy mag geen ander volk bemin nie en daar sit hy nou met die dilemma. En wie se skuld is dit? Soos Koos Kombuis sal sê: “Blameer dit op apartheid.” As apartheid nooit was nie, was die hele land dalk nou nog lief vir Steve.
Dinge is besig om reg te komHoe kan ons dit regmaak? Wel, dinge is al klaar besig om reg te kom. Ons begin om mekaar raak te sien. Mense oor alle grense het lank reeds begin ontwaak vir die waarde en waardigheid, talent en liefde in mense anderskleurig, nogtans baie dieselfde as hulself.
Daar is eintlik reeds meer reg met Afrikaanse musiek as wat die bedryf weerspieël. Die skille begin al hoe meer van ons oë afval. Die bruin gemeenskappe het nooit in al die dekades opgehou om musiek te maak en liedjies in Afrikaans te skryf nie ... Hulle was maar net onder ’n kulturele sensuur geplaas omdat daar geen befondsing was om mee plate te maak nie. Radiostasies het hul musiek grotendeels geïgnoreer.Die kleurvolle Afrikaans van onder meer die Kaapse Vlakte, Concordia, Eldoradopark en die Oos-Kaap is as ondergeskik gesien aan die suiwere Afrikaans van wit mense. Ironies genoeg is Afrikaans heel eerste deur bruin mense gepraat en gesing.Soos David Kramer vertel: “Liedjies soos ‘Bobbejaan klim die berg’ is nie deur wit mense geskryf nie … ‘Bobbejaan klim die berg om die “boere” te vererg’. Anderse Afrikaanse musiek begin reeds tussen mense versprei. Dis nog net die wit bedryf wat moet wakker skrik en oplet, die mooiste en oorspronklikste Afrikaanse liedjies vandag word deur bruin mense geskryf.Hoekom is Pieter van der Westhuizen nie ’n huishoudelike naam nie? Niemand speel sy musiek vir wit mense nie. Maar as ’n wit gesig ’n bruin mens se liedjie sing, kan dit die hoogste behaal. Kyk hoe goed het “Ska-Rumba” vir Juanita du Plessis gedoen, of “Loslappie” vir Kurt Darren en Theuns Jordaan.
Vandag is daar musiekskrywers soos Brian Cloete wat in Namakwaland sy kitaar sit en tokkel wat by AIG behoort te speel. Frazer Barry en Tribal Echo het ’n magdom nuwe liedjies aan die Afrikaanse musiekskatkis gegee. Ek glo vas sy liedjie “Dans in die reën” is een van die mooiste liedjies wat nóg in Afrikaans geskryf is.  Dis eenvoudig Koos Doep-mooi.
Churchil Naudé se rap-poësie is al deur Rian Malan verkondig as in dieselfde klas as Breyten Breytenbach. Les Javan skryf liedere wat al in die volksmond lê. Jolyn Phillips se stem en woord gaan mense verstom.
Hulle almal en nog heelwat meer talente hier om ons, wat ook verdien om in die voorste ry te sit by die Afrikaanse musiekpartytjie. Waar is hulle in die wit Afrikanerpsige? Nêrens. Wit Afrikanernasionaliste wil mos net na hulself en hul eie tipe kyk.
Afrikaanse musiek blom in variëteitDie ware apartheid in Afrikaanse musiek vandag is egter nie op net ras gegrond nie; die kloof lê tussen Kommersiële Wit Afrikaanse Kultuur (Kwak) en al die ander genres Afrikaanse musiek. Aan die Kwak-kant het jy ’n homogene groep wat honger-honger maklik-maklik al die beskikbare lugtyd vir Afrikaanse musiek in die media sal opslurp. En daar is baie daarvan; daar is TV-kanale en verskeie radiostasies wat uitsluitlik Kwak speel.Kwak verkoop die Huisgenoot. Daar vorm ’n tipe kringloop, maar ’n aggresiewe, besige ene, meer soos ’n vortex of tornado: Kwak verhoog die sirkulasiesyfers van publikasies, want mense was by Kwak-geleenthede en wil lees oor Kwak en Kwak geniet die lugtyd en koerantspasie om hul mense konstant te laat weet van Kwak-byeenkomste. Kwak werk, Kwak is sukses.Aan die ander kant het jy ’n heeltemal heterogene groep van omtrent almal anders, van vastrap, ruk-en-rol, ghoema, rap-poësie, pank, volksmusiek, stoepgesang, elkepella, koorgesang en alles en nog hoeveel meer nuwe oorspronklike style.
Afrikaanse musiek blom in variëteit op die oomblik. Daar is net ʼn ongelooflike aantal Afrikaanse digters en skrywers wat deesdae hul werk met musiek in die openbaar opvoer. Hulle opvoerings is gewoonlik guerrilla-styl, of in kleiner venues, en selfs volwaardige feeste, glad nie meer so klein nie, en word nie noodwendig in koerante of oor die radio geadverteer nie, maar direk tussen mense self met genoegsame finansiële sukses dat die hardwerkende kunstenaars ’n goeie bestaan kan voer.
Piet Botha het vertel hy doen 200 gigs ’n jaar, kry mense by sy vertonings sonder die hulp van enige gevestigde media. Om egter sukses te bereik het ’n kultuur van samewerking onder hierdie groepe musikante begin plaasvind. Musikante help mekaar om shows te kry, sal mekaar bystaan in hul orkeste wanneer en waar dit benodig word, span saam om hul eie dagprogramme en feeste aan die gang te kry en dit alles begin te werk en die wiel wil-wil begin draai.
Daar is al hoe meer onafhanklike kunstenaars wat die finansiële kantelpunt bereik, wat beteken al hoe meer anderse werk in die publieke terrein en, alhoewel kommersiële radiostasies dit weens formaatprobleme ongelukkig nie kan speel nie, kom daar tog al hoe meer van die “onspeelbare”, “anderse” musiek by normale mense uit wat dit, ten spyte van al die tekortkominge, verskriklik geniet. In die geheel gesien is daar ’n magdom mense vandag wat nie-Kwak ondersteun, aanvra en bevorder. Die gevolg, ’n onafhanklike groeiende Afrikaanse musiekbeweging, buite die sisteem.
Plek vir niks anders in Kwak as KwakMaar hoekom hierdie apartheid in Afrikaanse musiek? Hoekom kan ons dan nie net almal saamkom en saamspeel nie? Want dis hoe apartheid werk: Daar is plek vir niks anders in Kwak as Kwak self nie. Kwak-kapitaal bepaal watter Kwak-produkte gemaak word. Daar is geen rede vir die Kwak-baas om buite Kwak te kyk nie, want niks werk so kwaai soos Kwak nie.
Hoekom kan die anderses nie net eenvoudig saam Kwak nie? Want hulle kan eenvoudig nie Kwak verduur nie. Geen rasionele mens bly in ’n plek wat vir hom sleg is nie. Kwak vir ’n normale mens klink alles na dieselfde ou liedjie wat homself oor en oor herhaal net met effens meer gesofistikeerde en oorrompelende house-beat soos die jare verloop. Dis die probleem met homogeen. Heterogenes kan gewoonlik vreemde musieke van ander groepe verwelkom. Hulle beskou die hele omvang van Kwak as bloot net nog een van die krane waarvan mens kan kies om te drink.
Die hedendaagse inwoner van ’n homogene groep beskik ook oor die jare se sosiale kennis om homogeniteit in sy kringe te bewerkstellig. Hulle sal byvoorbeeld iets soos ’n tipe sosiaal herkenbare uniform dra sodat hulle mekaar op straat kan uitken, iets onoogliks sodat andere volke dit nie ook sommer sal wil dra of daardeur aangetrek word nie.
Hulle sal hulle musiek van so ʼn aard maak dat daar geen “uitheemse” klanke daarin voorkom wat dalk anderes sal lok nie. Hulle sal praat en preek oor “ons eie”, “ons mense”, “ons kultuur” asof dit vir elke volk reg is dat hy net na sy eie moet omsien. Kombineer daardie twee in musiek en jy het ’n musiekstyl, spesiaal onsmaaklik vir die ander gemaak, deurspek met “ons mense”-retoriek wat dubbel seker maak dat jou groep homogeen gaan bly oral waar jy dit speel.
Elke mens mag musiek maak wat hy wil, dit is ’n reg wat niemand ontsê mag word nie. Elke mens behoort mekaar die vryheid van beweging te gun wat mens self van almal verlang. En kapitaal bepaal, so almal is vry om hul eie kapitaal aan te wend om hul kultuur te bevorder.
Die probleem is wanneer een groep oor so te sê al die kapitaal beskik, koop of vlei dit die verskaffers vir lugtyd en mediaspasie om basies net een groep se kultuur ten toon te stel. Mededinging vir die magdom kapitaallose kunstenaars is so te sê onmoontlik. En die platsak kunstenaar weet dit en probeer later nie eens meer nie, en só word die wengroep selfs nog meer homogeen.
Die antwoord is eenvoudig dog so kompleks: meer spasie op nasionale kanale vir die diverse groepe van oorgesiende kulture – eenvoudig. Maar baie uitstekende kunstenaars is sosio-ekonomies in geen posisie om hul werk gereed en verpak te kry nie. Meer befondsing behoort beskikbaar gestel te word om die beste werke van die beste kunstenaars van alle soorte oor die land heen op te spoor, op te vang en op die kanale te laai – kompleks.
Kwotastelsel vir musiek
Radiostasies en mediakanale is nie onderhewig aan dieselfde tipe regstellende aksie wat in sport, staat, besigheid en ander velde wetlik verlang word nie. Miskien is dit tyd dat ons kyk na ’n kwotastelsel vir musiek op alle senders en mediaplatforms, sodat ons seker maak dat goeie mense nie vir verkeerde redes uit die bruilof gehou word nie.
Dis jammer dat die media en die musiekbedryf dit nie reeds op sy eie doen nie, maar media is histories in Suid-Afrika aangewend om mense oningelig te hou, en mens raak gewoond daaraan, en hou aan om dit te doen, selfs al is die rede daarvoor lank nie meer ter sprake nie.
Dis die rol van die kunstenaar om sy olielamp vol te hou en sy hand op te steek. Dit is in die belang van almal, die media inkluis, om die bestes verhoog toe te sleep.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.