Die haatsmouse van populisme

MENING

Die haatsmouse van populisme

'n Mens se temperatuur skiet maklik die hoogte in as jy na opswepers soos Andile Mngxitama, Julius Malema, en die Zuma-bende luister. MARTIN T. LAUBSCHER verduidelik dit is nie noodwendig konstruktief om daaroor kwaad te raak nie en hoe ʼn mens jou denke en emosies rondom populisme kan verpak.


ONLANGS het Julius Malema aan ’n groep van sy ondersteuners gesê dat wit mense se honde beter as menige swart mens leef. Hierdie soort goedkoop retoriek van hom is niks nuuts nie, en ’n mens wil nie eintlik meer aandag daaraan skenk as wat dit reeds ontvang nie. Dis ook nie noodwendig konstruktief om daaroor kwaad te word of om die argumente volgens hulle meriete aan te pak nie.
’n Mens se temperatuur skiet maklik die hoogte in as jy na opswepers soos Black First Land First (BLF) se Andile Mngxitama, Malema, en die Zuma-bende luister. Jy behoort jouself eerder af te vra waarom giftige, populistiese retoriek enigsins by mense posvat en hoe jy as individu daarop behoort te reageer; hoe ʼn mens jou denke en emosies daarrondom kan verpak.
Hoekom sal gevaarlike taalgebruik resoneer by mense wat van beter behoort te weet?
Dieselfde verskynsel manifesteer natuurlik ook aan die ander kant van die spektrum. Ek het al met verskeie redelike mense gesels wat byvoorbeeld sal aanvoer dat iemand soos pres. Donald Trump van die VSA ’n kans gegun moet word. En dat dit nie die einde van die wêreld is dat hy opsigtelik immoreel is nie.
Dit hoor ek soms van “goeie” mense, wat hul waardes in Christendom grond. Die feit dat sy gedrag geensins strook met enige klassieke vorm van Christendom – of net ordentlike Afrikaanse beginsels – nie, kan blykbaar oorgesien word.
As jy dieselfde mense vier of vyf jaar gelede moes vra of hulle iemand soos Trump ooit as president wou sien, sou hulle jou gewis uitgelag het. AfriForum, wat op ’n tyd soos ’n gematig-regse groep oorgekom het, flankeer deesdae met donker subteks wat apartheidsrevisionisme suggereer. In die dokumentêr Disrupted Land laat klink hulle apartheid soos ’n verwronge, maar goedbedoelde idee, met slegte gevolge. In plaas daarvan om te erken dat dit eintlik deur Afrikanernasionalisme gebaar is.
Dit is natuurlik nie die eerste keer dat hulle hierdie taalspeletjie speel nie.
In Brasilië het die verregse en openlik homofobiese Jair Bolsonaro homself al die pad tot in die presidentstoel in geskree. Hy is ’n sekurokraat en het reeds voordat hy verkies is openlik diktatoriale stellings kwytgeraak.
Verder steek verregse populisme oral in Europa kop uit. Kyk na lande soos Portugal, Italië, Griekeland, Frankryk, Hongarye en Brittanje (in ’n mindere mate in die vorm van Brexit). Selfs Australië se Fraser Anning, wat deur die berugte “eierseun” agter op die kop geklits is, maak homself aan hierdie gedrag skuldig en geniet ondersteuning.
Hierdie verskynsels van radikale teenpole wat internasionaal hoogty vier, sou interessant gewees het as dit nie so ontstellend was nie.
Europa gaan die afgelope vier jaar gebuk onder ’n vlugteling- of immigrantekrisis wat in baie gevalle ’n kulturele onrustigheid tot gevolg het. Daaronder tel botsings tussen veral Islamitiese immigrante en plaaslike inwoners. Angela Merkel het vir groot omstredenheid gesorg toe sy Duitsland se grense sonder voorbehoud oopmaak en miljoene mense die land instroom.
’n Deuntjie wat ʼn mens dikwels in verdediging van Europese nasionalisme hoor, is dat die “liberale media” verskonend teenoor ekstremistiese Islamitiese immigrante se gedrag optree, of dit bloot toesmeer; ook dat hulle regerende partye ’n blinde oog daarvoor draai.
’n Algemene wantroue in die bestaande orde het begin opklink, en daarom ’n terughunkering na ’n meer geslote benadering. Ironies genoeg is dit ook strydig met ’n klassiek-liberale ideologie, wat ’n oper samelewing verbeel (wat deur sommige op die verlinkse flanke as ’n regse ideologie beskryf word). Dis nie bloot dat mense Marxistiese ideologieë afkeer nie. Dis ’n verwerping van die liberale ordes waarin hulle grootgeword het.
Dis moeilik om populisme aan slegs een faktor toe te skryf. Die VSA het byvoorbeeld nie dieselfde ekonomiese kwale, en korrupsie, ervaar wat Brasilië se verkiesing voorafgegaan het nie, of die drastiese toename in immigrante wat Europa binnegeval het nie.
Die romanskrywer Martin Amis voer aan dat voor Barack Obama die Withuis ingeneem het, sou enige wit Amerikaner, hoe arm ook al, die volgende vir homself sê: “Ek mag dalk sleg wees, maar ek is steeds beter as enige swart man.” Volgens hom is Trump nie bloot verkies weens rou rassisme nie, maar ook die troos wat in daardie rassisme gevind is. Obama se intrede was die omverwerping van ’n kulturele konsensus. En Trump se verkiesing ’n reaksie daarop. Dit gaan meer oor identiteit as materiële omstandighede.
Suid-Afrika het sy eie onstuimigheid. Ons ekonomie het groot houe gevat sedert langvinger-Zuma die vaandel opgeneem het. Daarmee saam sit jy met grootskaalse ongelykheid en ’n bloederige, donker geskiedenis. In hierdie klimaat het arm mense selfs swaarder begin kry.
Plaas jouself in die skoene van iemand wat in armoede grootword, elke dag sien hoe mense wat anders lyk (wit of Indiër of bruin) beter vaar, en daarbenewens nog sukkel om werk ook te kry. Dit verg nie veel verbeelding om in te sien hoe so iemand in ’n soort dringende desperaatheid kan verval nie; hoe hy of sy na kitsoplossings sal soek nie.
Benewens ekonomiese faktore, geweld, en algemene misdadigheid, is daar ook ander elemente ter sprake.
Sosiale media het beslis globalisering versnel. Skielik word waardes en aannames oor die waarheid, identiteit, gender, kuns, kultuur, geskiedenis en manlikheid drasties uitgedaag. Dit wat mens voorheen as vanselfsprekend en alledaags beskou het, word in verdenking gedompel.
Salman Rushdie, die skrywer op wie se kop Islamitiese ekstremiste in die laat 80’s en vroeë 90’s ’n fatwa (losprys) geplaas het, sê dat hy die wêreld nog nooit in sy lewe so verdeeld gesien het nie.
Om bloot een antwoord te probeer vind is waarskynlik vrugteloos. Maar wat duidelik is, is dat populisme in troebel waters gedy. Vrees, onsekerheid en onstabiliteit is vrugbare grond vir opswepery; vir haatsmouse om jou ’n rat voor die oog te draai. Wat jy koop, is gewis ’n leuenspul, soos EFF-ondersteuners gou sal uitvind as meer kiesers die beloftes insluk en die ondenkbare eendag gebeur.
Maar hoe moet jy as individu daarop reageer? Want in sulke omstandighede soek ’n mens skuiling by dit wat vir jou die bekendste is. Dit dwing jou tot verdagtheid jeens mense wat anders as jy lyk, klink en glo. Jy voel ’n drang om humanitêre waardes te verwerp en terug te hunker na vervloë dae (wat jy nie eintlik ken nie, en nie eintlik bestaan nie). Skielik klink nasionalisme nie meer na ’n slegte idee nie. En klink Trump en ander se hondfluitjiepolitiek nie meer te verregaande nie.
Dit is juis hierdie gevoelens wat ons moet wantrou, hoe moeilik dit ook al is. Gooi die koue water van redelikheid oor jou emosies en tree ’n paar treë terug. Jy sal sien dat die emosies wat jou dryf soortgelyk aan die van jou opponente is. Jy val vir dieselfde toertjie. Die nar is net anders geklee.
Soos die Romeinse dramaturg Terence eenmaal gesê het: “Niks wat menslik is, is vir my vreemd nie”.
Dit mag ook wees dat baie mense rondom jou hulle by een of ander van hierdie denkskole skaar en jy alleen in jou oortuigings is. ʼn Mens voel geïsoleer in jou gedagtegang en daarom wonder jy of jy nie dalk verkeerd is nie. Maar hierop het die wyle Christopher Hitchens goeie raad gehad: “Moet nooit toevlug in die valse sekuriteit van konsensus soek nie.”
Dit herinner my ook aan wat David Frum in sy debat teen Steve Bannon oor populisme gesê het: “Die tekortkominge van ’n goeie sisteem is nie ’n rede om na ’n bose een toe te draai nie.”

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.