Hoop op ’n huis, ’n missepaalhuis

VIR EENDAG WANNEER JY DOODGAAN

Hoop op ’n huis, ’n missepaalhuis

In die tou by die verkiesing het ANASTASIA DE VRIES ’n vrou onder haar sambreel in die reën laat staan wat al van 1994 af hoop. Hoop op ’n huis met glasvensters en ’n dak wat nie lek nie. Want dis wat die politici mense belowe met die hoop dat die mense vir hulle sal stem. ‘Misieker omdou hulle ons dié slag. Misieker word dit dié slag beterder.’

OM jou lewe lank op ’n huis te hoop met glasvensters en ’n dak wat nie lek nie en ’n regte voordeur met ’n regte drumpel. Voor jy doodgaan. Vir eendag wanneer jy doodgaan. En jy met respekte oor daai drumpel die ewigheid ingedra kan word. Soos ’n mens, ’n regte mens.

Ek weet nie wat dit is nie, om só op hoop te lewe nie. Ek weet ook nie hoe om mense in die oë te kyk wat só bly hoop nie. Maar toe moes ek. Dit het net gestoffies toe ek by die huis uit is en daar reën dit, klipsteenhard, terwyl ons in die oopte staan en wag vir die deure om oop te gaan sodat ons ons kruisies kan trek. En ek wat sukkel om die hoop, of was dit geloof, in die vrou se stem uit te doof, hoop dat dit dié keer waar sal word, die belofte van ’n huis met regte vensters en ’n dak wat nie lek nie en ’n regte deur met ’n regte drumpel. Vir eendag wanneer sy dood is.

Ek het geskrik vir die manshand op my skouer. Kan sy vrou seblief onder my sambreel kom staan, het hy gevra. Ek het omgedraai, die sambreel effe hoër gelig vir ’n langerige vrou. Toe móés ek. Haar in die oë kyk, en haar man met die stil gesig. Sy soek nie ’n groot huis nie, herhaal sy asof vir my onthalwe, net ’n regte huis met ’n voorhuis sodat ’n mens se kis darem eendag huis toe kan kom. “Ons wag al van ’94 af vir ’n missepaalhuis. Julle kry huise, het hulle gesê. Stem net vir ons, het hulle gesê. Ons wag nou nog en ons raak nie jonger nie. Ons het alles gehad. Eie huis. Goeie werke. Karre. Alles verloor. Tot ons seun. Van die ’70s van die een plek na die ander. Soos vlugtelinge in jou eie land. Maar die mense is goed vir ons.”..

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.