Hoor jy die magtige dreuning? (Lied van die ouer vrou se ontwaking)

VAT DIT OF LOS DIT

Hoor jy die magtige dreuning? (Lied van die ouer vrou se ontwaking)

Sy deel omtrent nooit selfies nie, tot daardie Sondagoggend toe sy, sonder ’n greintjie grimering of filters of enige van die ander hulpmiddels waaragter sy gewoonlik op foto's wegkruip, een op Instagram plaas. Hierdie is die lied van die ouer vrou se ontwaking – en MARITA VAN DER VYVER is gatvol vir die leuens en die mites van die samelewing.

Image: NATHAN TRANTRAAL

EK wonder steeds wat my besiel het om vroeg op ’n Sondagoggend dáárdie selfie op Instagram te plaas. Maar die reaksie was so oorweldigend positief dat ek weet ek het gekrap waar dit jeuk.

Ja, ons ouer vroue jeuk ook, soms selfs op plekke waarvan die res van julle liewers nie wil weet nie,  en dis tyd om op te staan en gesíén te word. In al ons weerloosheid. Geknak deur die jare, maar nie gebreek nie. Sterker en dapperder as toe ons jonger was.

Dit was dalk die dapperste ding wat ek in jare gedoen het. Ek het myself nog nooit só op sosiale media blootgestel nie. Sonder ’n greintjie grimering, sonder filters, sonder ’n sonbril of ’n hoed of ’n wynglas of enige van die ander hulpmiddels waaragter ek gewoonlik op foto's wegkruip. Sonder om op my rug te lê en op te kyk na die kamera sodat die lastigste plooie wonderbaarlik deur swaartekrag weggetoor word.

Ja, ek ken al die truuks in die boek, ek sien dit gereeld op ouer vroue se selfies. Die sagte beligting, die wasigheid wat ons in die ou dae “Vaseline op die lens” genoem het, die “selfie enhancement” waarvoor selfs die jongste meisies swig. Met die druk van ’n knoppie kry jy groter oë, voller lippe, skraler bene – sonder ’n spoor van selluliet.

Eintlik deel ek omtrent nooit selfies nie, behalwe as iemand anders dit neem, want dan word dit ’n onsie eerder as ’n selfie. En as ek móét poseer vir hierdie hedendaagse fenomeen, pruil ek spottend of doen iets simpels met my gesig om my ongemaklikheid te ontlont. Ek is nou eenmaal nie deel van die onselfbewuste selfie-generasie nie; ek beskou myself nie as ’n Influencer nie; ek benut my Instagram-rekening met my Afrikaanse tong stewig in my on-Franse kies gedruk. Ek noem myself @fakingfrench en ek deel meestal foto’s van plekke waarheen ek reis, kos wat ek eet, boeke wat ek lees, oomblikke van vreugde wat die lewe opkikker.

Tot daardie Sondagoggend.

Dalk was ek net lus om ’n slag soos Amy Winehouse te protesteer: But I said no, no, no. Nee, vir al die valsheid rondom vroue se voorkoms waarmee ons daagliks op sosiale media, in flieks en TV-reekse en glanstydskrifte en advertensies gebombardeer word. Ek verdra dit al dekades lank, ek sien die skade wat aan vroue se selfbeeld aangerig word, en hoe ouer ons word, hoe erger word die druk om teen die natuur in te foeter. Om die plooie en die papperige dele van ons lywe te verbloem, om plomper lippe en fermer tieties te hê, om jonger as ons jare te lyk.

Fokkit, het ek gedink, nou sit ek ’n slag my voet neer. Môre lig ek seker weer hierdie lafhartige voet; môre smeer ek weer lipstiffie aan en plak my breedste glimlag op; môre skuil ek weer agter ’n funky sonbril. Maar nou wil ek sê: Só lyk ek op 65 as ek soggens wakker word. Take it or leave it.

Of dalk was daar tog ’n trigger. Ek kyk al ’n ruk lank so uit die verte na veral ouer vroulike Hollywood-sterre wat grimeringlose selfies op Instagram plaas. En hoewel dit altyd gaaf is om te sien dat selfs die beeldskoonstes ook sakke onder die oë of sonvlekke op die vel het (misery seeks company, nè), wantrou ek nogtans die meeste van daardie selfies. As jy al wie weet hoeveel estetiese operasies of vullers vir jou wange of inspuitings om jou gesigspiere te verlam op jou kerfstok het, verg dit immers nie sóveel moed om kaalgesig te poseer nie. Selfs sonder grimering gaan daardie gesig steeds jare jonger lyk as wat dit eintlik is. 

En toe duik Michelle Pheiffer (@michellepheifferofficial) se grimeringlose “Selfie at 65” op terwyl ek my koffie in die bed sit en drink, en ek vang per ongeluk my eie 65-jarige oggendgesig in die hangkas se spieël, en ek dink ag nou ja, die speelgrond is nooit gelyk nie, nè. Ek weet nie hoeveel restourasiewerk die mooie Michelle al aan haar gesig laat doen het nie, want enige moontlike nips and tucks was subtiel genoeg om haar nie in ’n Madonna-agtige voëlverskrikker te verander nie, maar selfs sonder grimering lyk sy onregverdig goed. As ’n jong vrou was sy reeds mooier as die meeste van haar tydgenote, en op 65 is sy dit steeds.

En van hierdie wrewelrige bewondering vir ’n Hollywood-ster spring my gedagtes toe na die Poolse Paulina Porizkova, wat ek onwrewelrig bewonder omdat sy in haar 50’s ’n welsprekende aktivis vir positiewe veroudering geword het. Weliswaar weer iemand wat onregverdig beeldskoon was sedert sy op die ouderdom van 15 as supermodel ontpop het – maar juis daarom selfs meer merkwaardig dat sy weier om te swig voor die druk om haar grys hare te kleur of haar gesig kunsmatig te verjong.

Toe ’n plastiese chirurg haar verlede jaar op sosiale media vertel wat sy kan doen om haar gesig te “herstel”, het haar verontwaardigde reaksie vroue wêreldwyd laat knik en juig: This is what an older woman in the public eye gets to deal with. I’m told my face needs “fixing”. It has somehow gone “wrong” by aging. Is it any wonder that most of us who have the means will resort to some forms of fixing what we’re told is broken? Lees hier wat Paulina verder skryf oor die voortdurende “shaming” van ouer vroue en hoe ons mekaar kan ondersteun.

Maar in werklikheid is die lieflike Paulina nog ’n lammetjie. Sy het nog nie die sielkundige en simboliese mylpaal van 60 verbygesteek nie. Sestig is wanneer die lammers van die ou ooie geskei word, wanneer die samelewing jou amptelik as “bejaard” beskou, wanneer jy geregtig is op goedkoper treinkaartjies en soms as jy gelukkig is minder kan betaal om te fliek of ’n museum te besoek. (Vra maar vir my, ek benut elke enkele voordeel wat ek uit my ouderdom kan put. Daar is heeltemal genoeg nadele waaraan ek niks kan doen nie.)

En van ooie gepraat, die 71-jarige Isabella Rossellini (@isabellarossellini) is een van die min beroemde Mooi Mense wat ek amptelik op Instagram volg, moontlik omdat haar selfies en video’s dikwels die skape op haar plaas insluit. Sy het nie hutsmerke soos #nomakeup nodig nie, sy neem haarself meestal grimeringloos af, spontaan en onselfbewus naby die lens, en tog altyd onweerstaanbaar sjarmant. Die skoonheidshuis Lancôme het haar op die ouderdom van 45 ontslaan omdat sy “te oud” geword het om The Face of Lancôme te wees, maar teen 2016 het hulle die winde van verandering voel waai (of dalk kon hulle net nie langer die koopkrag van ouer vroue ignoreer nie) en Isabella is op amper 64 gevra om weer een van hulle modelle te word.

Sewe jaar later is Isabella steeds ’n trotse model – en rolmodel vir miljoene – wat soms keurig gegrimeer op rooi tapyte pronk of saam met ander supermodelle poseer, maar sy voel klaarblyklik sterker as ooit oor positiewe veroudering. Op 19 Augustus skryf sy op Instagram, na aanleiding van Vogue se jongste uitgawe wat aan die supermodelle van ’n paar dekades gelede gewy is, dat sy steeds op soek is na “ ’n visuele model” vir mense van haar ouderdom. Not a “still beautiful” example. Not looking back but forward... something to thrive for, to desire. What comes to mind are images of Georgia O’Keeffe as an old lady.

By hierdie woorde plaas sy ’n foto van die ikoniese O’Keeffe met plooie wat diep in haar karaktervolle gesig gegroef is. Sy soek steeds na voorbeelde in die modebedryf, skryf Isabella Rossellini, nie van hoe om teen ouderdom te baklei en jonger te lyk as wat sy is nie, maar hoe om haar toekoms as ouer vrou te omhels.

So ’n mond moet mos meer as botter en rooi lipstiek kry, het baie van ons gedink toe ons dit lees. Die plasing het blitsig byna 60 000 likes gekry en meer as duisend opmerkings ontlok. Hoor jy die magtige dreuning, wil ek sing, oor die internet kom dit wyd gesweef. Dis die lied van die ouer vrou se ontwaking – en sy is gatvol vir die leuens en die mites van die samelewing. Amper skryf ek “die patriargale samelewing”, maar ek wil nie my moerige strydkreet vervlak met ’n aanhaling wat klink asof dit uit Stereotype Barbie se mond kom nie.

Verstaan my mooi, ek is bly oor die Barbie-fliek en dis nogal iets om die woord patriarchy herhaaldelik in die grootste lokettreffer van die jaar te hoor, maar dis lankal nie meer nodig om dit vir ons moerige ouer vroue uit te spel nie. Ons voel daai vieslikste van alle p-woorde al dekades lank aan ons lyf. Dit lewe in ons kop en dit besmet selfs ons drome. 

Onder al die moontlike en onmoontlike Barbies in die fliek, van vet Barbie tot weird Barbie tot rystoel-Barbie, het ek nie ’n enkele Barbie vol plooie gesien nie. Barbie is op 9 Maart 1959 gebore, wat haar min of meer my tydgenoot maak, maar niemand in Barbieland lyk naastenby soos ’n vrou van 64 of 65 nie. Daar is darem die toneeltjie waar Barbie vir ’n bejaarde vrou “in die ware lewe” sê: “You are beautiful,” en die beplooide tantetjie antwoord: “I know.” Ek het iewers gelees die regisseur Greta Gerwig moes met die vervaardigers baklei om daardie paar sekondes te behou.

Mens moet seker nie alles glo wat jy lees nie, maar dit lyk tog asof Bejaarde Barbie die ultimate taboe is. Die heel laaste een wat sal wegval, want g’n meisiekind word grootgemaak om te wíl oud word nie. Barbie wys jou jy kan ’n ruimtereisiger of ’n breinchirurg word – solank jy ewig jonk lyk. Jy kan selfs oud word, as jy nou rêrig nie anders kan nie, maar as jy oud lýk, is dit verby met jou. Daar is nie plek vir plooie of drillerige arms in Barbieland nie.

Dis seker maar hierdie warboel van weerbarstige gedagtes wat tot daardie selfie gelei het. Ek het nie derduisende likes gekry nie, want ek is nie Isabella Rossellini nie. Ek het iets oor die 2 000 “volgelinge” en die meeste van my plasings kry skaars 100 likes. Maar dié een het binne enkele ure meer reaksie ontlok as enigiets wat ek nog op Instagram geplaas het.

Daar is ’n rede vir grimering, het iemand met ’n knipoog-emoji opgemerk. Daarom wil ek byvoeg dat ek geensins teen grimering gekant is nie. Ek verlaat selde my huis sonder om my lippe te verf. En elke keer as ek in die openbaar moet optree, is ek dankbaar vir ’n lagie grimering wat my wankelende selfvertroue ’n hupstoot kan gee. Maar ek het hard gelewe, hard gewerk en nog harder gespeel om elke plooi op my lyf te verdien. Baie gelag om die plooie rondom my oë te vermeerder en diep gedink om die frons tussen my wenkbroue te regverdig. Dis ekke daai – en ek wil nie langer daaroor skaam gemaak word nie.

Ek wil ook nie my susters wat aan hulle gesigte laat werk het, uitkryt nie. Ons ouer vroue moet mekaar ondersteun, nie kritiseer nie. Daar is oorgenoeg mense daarbuite wat ons gedurig kritiseer. Wie weet, as ek ryk genoeg was, het ek dalk ook voor die versoeking geswig. Ek verkies om die geld wat aan die einde van die maand oorbly, indien daar enigiets oorbly, op reise en ervarings te bestee eerder as op vergeefse pogings om die horlosie terug te draai. In een van my heel eerste media-onderhoude 30 jaar gelede het ek gesê reis doen meer vir my siel as wat die duurste vogroom ooit vir my gesig kan doen – en ek glo dit steeds.

Wat ek vir my susters (oud én jonk) wil sê, is doen wat jy wil met jou lyf, dis joune. Maar kom ons dink bietjie anders oor plooie en ander tekens van ouderdom. Dit grief my dat aantreklike mans bo 40 se plooie dikwels as sexy beskou word, maar vroue bo 40 moet hulle plooie begin verbloem. Op selfies, op sosiale media, in glanstydskrifte en advertensies, net waar jy kyk word daardie lyne waarvoor ons so hard gelewe het, “versag”, wasig gemaak, soms heeltemal uitgewis sodat ’n 70-jarige aktrise op ’n glanstydskrif se voorblad soms minder plooie as ’n 30-jarige in die regte lewe het.

So lank ons hierdie fallacy oor vroue se plooie glo, grawe ons 'n gat vir onsself. En amper skryf ek phallusy, wat beteken om iets te misgis vir 'n penis wanneer dit in werklikheid iets heeltemal anders is.

Ek het 'n droom, soos Martin Luther King en ander dromers, oor 'n meer regverdige toekoms vir almal. My droom sluit ouer vroue met plooie in, dat daardie plooie eendag na waarde geskat sal word, as lieflik gesien sal word eerder as iets wat weggesteek moet word. Soos die 78-jarige Helen Mirren, wat onlangs almal se asem weggeslaan het op die voorblad van die tydskrif DuJour, met diep plooie en 'n kick-ass attitude. This is not a portrayal of old age we are used to, skryf Farrah Storr, redakteur van Elle UK. This is an elegant older woman who might flash you a bit of beautifully collapsed side boob if you're lucky. Kyk hier na die opspraakwekkende foto’s van positiewe veroudering.

My wildste toekomsdroom sluit selfs 'n toneel in waar my toekomstige kleinkind (meisiekind óf seunskind) eendag met 'n Bejaarde Barbie sal speel. Sy sal 'n supercool, sterk en selfversekerde rolmodel wees, beeldskoon en beplooid, soos Helen Mirren.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 1 September 2023 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.