Mag daar weer só ’n publikasie wees

EK SKULD MAX 'N BOTTEL WYN

Mag daar weer só ’n publikasie wees

DOUW KRÜGER het nie 'n enkele uitgawe van Vrye Weekblad 1, 2 en 3 gemis nie en selfs bygedra tot die koerant se leesgenot. Maar daar is ook soms koppe gestamp.

DIE heel eerste Vrye Weekblad het toevallig onder my aandag gekom. Ek het die Vrydagmiddag van Sanlam se hoofkantoor op pad huis toe oudergewoonte by die CNA in Tygervallei aangegaan en die publikasies bekyk. En daar vang die eerste uitgawe van die VWB my oog. Die res is geskiedenis; ek dink nie ek het een uitgawe gemis nie.

Voor VWB verskyn het, het ek gereeld Die Suid-Afrikaan gekoop. Die trant was meer akademies as VWB s’n, maar die groot verskil tussen hulle en ander Afrikaanse publikasies was dat daar nie ’n Afrikaner-nasionalistiese vaandel gewaai het nie. En dit was nie omdat die redaksielede Sappe was nie, nie eers kommunisties nie – hoewel ek daardie een meer as een keer gehoor het.

VWB het ’n veel losser styl as Die Suid-Afrikaan gehad en die skote het lekker geklap – ’n mens moes soms koes. Op ’n manier het dit die reis wat vorm vir my gekry het in die regsfilosofieklas op Potchefstroom  voortgesit, maar met ’n lekker alledaagse geur daarby. Afrikanersondes (waaraan die Souties ook maar lekker gesmul het) is sonder skroom geteiken. Darem nie net Afrikanersondes nie. Veral in VWB 2 en 3 is die net reg rondom die boot gegooi. 

Ek dink ek het in 1994 met die papierweergawe se toemaak ’n byna volledige stel van die uitgawes in my kas gehad. Dit het mettertyd vergaan, maar ek het darem nog die laaste een in my boekrak. Daardie uitgawe het anders as die meeste van die voriges, vyf advertensies in gehad. Hy gaan eendag saam met my frail care toe.

Komplimente en konflik

As dit klink of ek idillies is oor VWB, dan moet ek dit eers regstel. Geen egte verrykende verhouding is ’n sprokie nie.

Ek het jare gelede, 1992 om presies te wees, bietjie geïrriteerd geraak oor die styl waarmee daar oor Marike de Klerk geskryf is. En daar gaan eet Max een aand saam met my en ’n kollega wat hom uit die UDF-kringe geken het, in die Southern Sun-hotel in Johannesburg. Ná ’n wyn of twee vat ek Max toe bietjie aan daaroor. Hy het mooi netjies gereageer en dit het daarby gebly. Later het ek besef hy was reg en ek verkeerd. Ek skuld hom ’n bottel wyn. Die ander “konflik” is meer onlangs en gaan ’n bietjie dieper. Twee gedigte wat geplaas is, het my teen die bors gestuit. Maar dit het nie weer gebeur nie en dis history.

Ek het self ’n klompie rubrieke vir VWB geskryf. Sommer oor alles en nog wat. ’n Bietjie politiek, sosiale kwessies en boekresensies. Dit was vir my verrykend, ook om dan uit verskeie oorde kommentaar daaroor te hoor en te besef dat die publikasie meer lesers het as wat ek gedink het. En soms mense van wie ek dit nie sou verwag nie.

Dit sal baie eienaardig wees het as die gereelde lesers van 'n publikasie elke week met alle sienings sou saamstem, veral as daar duidelike standpunte oor politieke en sosiale kwessies is en natuurlik ook as persoonlikhede en organisasies ter sprake kom. Ek sou dinge dalk soms anders genuanseer het, hier minder krities en daar weer meer krities. Maar ek wil dit beklemtoon dat die politieke, kulturele en sosiale kommentaar van Max, Piet en ander medewerkers hoofsaaklik op die saak gefokus het en baie selde die persoon bygekom het. Dis nou behalwe vir Trump, maar dis omdat die persoon en die saak in dieselfde skoene staan.

Ek hoop van harte dat 'n soortgelyke publikasie weer die lig sal sien. Suid-Afrika het dit nodig. En as VWB eendag ’n reünie gaan hou, hoop ek om dit te kan bywoon – moet net nie eers vir tien jaar wag nie!

♦ VWB ♦

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.