Oor Lisa Marie, Gerrie, en ander bewysstukke van gister

STRYD VAN INTERNE GODE

Oor Lisa Marie, Gerrie, en ander bewysstukke van gister

Geliefde openbare figure dien as ’n vaste verwysingspunt vir herinneringe van ’n sekere ouderdomsgroep, maar sterf vanuit die perspektief van hulle aanhangers uiteraard al hoe meer en vinniger uit soos die tyd aangaan, skryf LOUIS AWERBUCK.

Image: ANGELA TUCK

DIT is skaars 2023. Teësinnig worstel ek deur die oggend se nuusberigte, vasgeknel tussen twee interne gode wat gelyktydig gedien wil word. Die een beywer hom daarvoor om ingelig te bly en darem min of meer te weet wat in die wêreld aangaan, die ander woeker vir ’n mate van interne vrede en wil nie meer te doen hê met berigte oor swaarkry, ellende en verlies nie.

Op hierdie spesifieke oggend wen die God van Nuuskierigheid, maar ek berou dit vinnig met die verneem van Lisa Marie Presley se skielike dood aan ’n hartaanval. Ons is dan ewe oud! Opsluit onthou ek die Convair-straler in Memphis waardeur ek met ander sweterige toeriste gedrukgang het. Lisa Marie se pa het dié straler in 1975 gekoop en versier met haar naam in krul-letters, goue toilette, suède-stoele en 24-karaat-bespikkelde wasbakke. Die vliegtuig en Graceland het soos die 1970’s gevoel: dekadent lekker, maar iets is fout daarmee. Ek onthou die hartseer wat om Elvis se graf in Graceland gedrapeer was.

Gerrie Coetzee, tref die volgende berig. Ag nee, nie hy ook nie. Nie op ’n skamele 67 nie. Verlede jaar het onder andere Pelé, Sidney Poitier, Olivia Newton-John, Eric Nobbs en Barry Ronge ons huidige bewussyn verlaat. Hulle was, soos Gerrie, maar net altyd daar. As laerskoolkind in die laat '70’s en vroeë '80’s was hulle my konstante, gerusstellende gesigte wat tuis was op Huisgenoot se binneblaaie en Rapport se agterblaaie. Hulle het eers op swart-en-wit TV-skerms, en later kleur- en plasmaskerms, bestendigheid aan die volk se voorkamers en kollektiewe bewussyn verskaf.

Laas jaar het ook die onwerklike afsterwe van koningin Elizabeth meegebring. “Daar was iets bemoedigends aan haar,” sê vriend Gert. “Hulle kap in ons woud,” sê vriendin Frandi. Met elke bekende tak wat in ons gesamentlike woud uitsterf, vermeerder die potensiaal dat die ander privaat herinneringe wat saam met hierdie bekende name verweef is in spesifieke tydperk-taferele kan geheue-glans verloor. Soos ’n foto wat verdof as mens nie oppas nie.

Bekende figure anker mens aan die chronologie van jou persoonlike herinneringe en dien as “bewysstukke” dat jou onthou van verskillende fases in jou lewe deel van ’n groter, gedeelde ervaring vorm. “Onthou jy toe Fanus Rautenbach van die lug geskors is?” sal jy dalk vra, en ’n verbinding voel met die persoon wat saam met jou die tydperk oproep. Twee mense wat onthou hoe Esmé Euvrard se stem oor Springbok Radio geklink het, roep ’n swetterjoel van gedeelde nuanses en gesamentlike verstaan oor ’n spesifieke tydperk tussen mekaar op. Die ervaring bied ’n gerusstellende bevestiging dat daar “reg onthou” word, want iemand anders onthou dit ook só. Die foto van ’n sekere deel van jou lewe het dus nog nie verdof nie.

Bekende figure anker mens aan die chronologie van jou persoonlike herinneringe en dien as ‘bewysstukke’ dat jou onthou van verskillende fases in jou lewe deel van ’n groter, gedeelde ervaring vorm.

Geliefde openbare figure dien as ’n vaste verwysingspunt vir herinneringe van ’n sekere ouderdomsgroep, maar sterf vanuit die perspektief van hulle aanhangers uiteraard al hoe meer en vinniger uit soos die tyd aangaan. Ons wat kan onthou hoe dit was voor die bestaan van televisie in Suid-Afrika het saam met Olivia Newton-John en Gerrie Coetzee al hoe meer bejaard geword. Hulle, en soortgelyke kollektiewe ikone, was al jong volwassenes of ouer toe ons kinders was.

Blykbaar is Gerrie aan longkanker oorlede. Dit sal nie van rook wees nie, want Gerrie was ’n gentleman en ’n man van sober gewoontes. Hy het nooit hard gepraat of grootgepraat nie, was beleef en respekvol gedurende onderhoude en het dankbaar verwys na sy ma, sy meisie en sy hondjie. Daar word berig dat Kallie Knoetze in trane is oor die afsterwe van sy legendariese teenstander.

Die plakkaat van Kallie Knoetze was in 1979 met wondergom teen my muur vasgeplak. Gevolglik het die plakkaat al donker begin deurvlek op die hoeke soos die vetterige kolle deurgeslaan het. In daardie binêre tyd moes mens kies: Gerrie of Kallie, maar jy kon nie al twee ten volle ondersteun nie. Dit was óf Sonja Herholdt óf Glenys Lynne. Óf Gé Korsten óf Gert Potgieter. Óf Noord-Transvaal óf WP. Tog het ek daardie aand, 24 Junie 1979, wakker gebly om net ná middernag na die uitsending oor die radio te luister.

Daardie aand toe Gerrie Coetzee vir Leon Spinks onverwags laat harpuis ruik het binne enkele minute. Ek was 10 en die SAUK wou nie die geveg regstreeks oor die radio uitsaai nie omdat dit op ’n Sondag plaasgevind het. Middernag was laat, en die volgende dag was skool. Al wat ek onthou, is die kommentator se histeriese stem wat my half-moeë ore laat spits het, en toe was dit verby. Die grootsheid van die oomblik het egter bly vassteek. Gerrie het daardie aand hoop wakker gemaak wat hy vier jaar later volbring het toe hy die onbetwiste swaargewig-wêreldkampioen geword het.

In dieselfde uitgawe wat berig oor die afsterwe van Lisa Marie Presley en Gerrie Coetzee skryf vriend Dana ’n stuk waarin hy die heengaan van ’n geliefde kennis van hom betreur.

Hierdie lewe is maar net ’n hallo-sê lank, skryf hy.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 20 Januarie 2023 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.