Soos Band-Aid op ’n beenbreuk

RUBRIEK

Soos Band-Aid op ’n beenbreuk

Hoekom nie konsekwent wees en sommer die hele kampus van die Universiteit Stellenbosch kanselleer of stootskraper nie, skryf RACHELLE GREEFF oor die Wilgenhof-aanbeveling.

Image: ANGELA TUCK

DIT siep-sop-en-braaiboud nou so rof in die ramhok op Stellenbosch, jy hoor net wilgelatte fluit. Toe die eerste foto’s van die mure binne die omstrede, geslote Wilgenhof-vertrekke met die verdagte “artikels’’ in die media verskyn, het ek gelag. Jammer. Ek kan nie ’n besemstok teken nie, maar die skeppers van daardie muurvertoon sal onwaarskynlik na kunsstalletjies van Kersmarkte genooi word, wat nog te sê Zeitz MOCAA.

Maar ongekwalifiseerd grappig is die sage ook nie. Dalk onder meer omdat die lyf en die verstand van die deursnee-manstudent meer seun is as man. Dié halfgebakte onskuld en intellek kan wel sjarmant en ontwapenend aantreklik wees. Hulle weet dit ook. So. Waar seuns speel, speel ’n onafte saam. Of dit nou bende-bende-bangmaak of grootman-grootgeheim is. Veral as hulle alleen op ’n hoop gegooi word, raak dinge maklik morsig. ’n Terugsinking in die longdrop van laerskool-toilethumor is nie verrassend nie.

In my paar jaar op Volvoville, à la Deon Meyer, het die oumanne van die manskoshuis Helderberg die eerstejaars Holle genoem. (Kan ’n Hol ons asseblief sê of dit steeds so is.) Nuwelinge in Simonsberg was Blougatte. Maar ons praat nie nou semantiek nie.

Ons praat van babas wat saam met badwater uitgegooi word.

Is dit sinvol dat ’n volledige koshuis gesluit word om te bewys die owerheid tree sigbaar pro-aktief op teen enkele skollies gemaskeer as studente? Hulle was nog altyd, soos die akkerbome, deel van die universiteitsdorp. ’n Bepaalde persentasie van alle samelewings oral is volbloed-boef. En ook nie omdat hulle een oggend wakker geword en besluit het van vandag knou ook ék af nie. Wat die vaders doen aan die seuns, doen die seuns meermale aan ander.

Boonop, as Wilgenhof nou moet sluit, laat ons konsekwent wees en Dagbreek op die allerminste stootskraper. Dit behoort die regstellende loon te wees van die lank reeds oorlede Dagbrekers se aanstigting en bydrae tot die Slag van Andringastraat een winternaweek (1940) vier-en-tagtig jaar gelede. Dit sal ook ’n gemeenskap se trauma, wat van geslag tot geslag aangegee word, in ’n sprokie-ommesientjie genees terwyl die tandmuis rock van die een melktand na die volgende.

En terwyl die stootskrapers nou aan die gang is, wat van die hele kampus? Of, volgens die geit van die tyd, brand alles af tot op die grond. Immers het die US munt geslaan uit onder meer die groepsgebiede-uitsettings van die dorp se bruin gemeenskap vroeër jare. So is Hoërskool Lückhoff in Merrimanlaan deur die universiteit se maatskaplike dienste oorgeneem. Gevat, nie onder- of verhandel nie. Dis steeds ’n stewige, ruim gebou met ’n trotse geskiedenis van 1935. Jy kan gaan rondstap in die gange. Jy sal jou dalk verstom. Dis jonger, maar nie baie anders nie, as Paul Roos en Bloemhof aan die teenoorgestelde kant van die dorp. Dit het óók beduidende Suid-Afrikaners gelewer. Koor, sport, alles. Ongelukkig was die potloodtoets een te kwaai. As jy nie weet van Hilton Biscombe se boek In ons bloed (Sun Press, 2006) nie, ontmoet die ander Stellenbosse boys van die ander Vlakte op www.litnet.co.za. Terwyl jy hier is, luister na die oud- Engelse koerantman David Willers: “Cancelling an entire koshuis must surely rank as a world first.”

Dit kan ’n rekenaarspeletjie vir alumni word: kyk wie kan in die kortste tyd die meeste universiteitsruimtes “kanselleer”. Geboue, kamers en kantore. In ’n hieropvolgende fase van die speletjie elimineer ons mense. So sal ek ongelukkig die nooitvolprese Jannie (Rocky) Gagiano moet uitneem. Hoor hom op www.litnet.co.za/author/jannie-gagiano. As goeie vriend van die dramadepartement se toneelspel-lektor Johann van Heerden in die goeie ou dae het hy met die opvoering van Congreve se The Way of the World ons senior dramameisies in die kleedkamer afgeneem in verskillende stadiums van aan- en/of uittrek. A! Maar dan moet Johann, broer van die akteur Marcel van Heerden, ook uitgevee word, want in my eerstejaar gebruik hy die woord “naai”. In ’n klas. Die eerste keer dat ek dié woord hardop hoor – en dit deur die lippe van ’n wit mens. Dit was nie snaaks nie. Nie toe nie. In so ’n mate dat ek steeds presies onthou waar hy gestaan het in sy volle aanvallige glorie in die toneelklas met blokke son deur die Crozierstraat-vensters. Sy nonchalante verwysing na manstudente se “poes-en-brandewyn-stadium” het weer eens my maagdelike hart verontrus. Af met sy kop. Toemaar, sy kop op die wegrylorrie van die alumni-speletjie sal nie alleen in die bak lê en rondrol nie.

Maar terug na die eerste fase van die spel. Stukke van Simonsberg moet ook asseblief gesluit word. Nie die hele koshuis nie. Net die oopplanstorte. Regs iewers op die grondvloer? Dit en die koshuiskamer van die senior manstudent wat buite op die gras voor die koshuis geskreeu het op die kamma-peloton eerstejaars daardie sonnige middag in Februarie in die laat sewentigerjare. Ek en my swart derdehandse terugtrap-dikwielfiets in Merrimanlaan, minding our own business, was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.

Dié windgatmeneer se kamer was in die regtervleuel. In Merrimanlaan het motors gery en studente gestap of gefiets. Weer die blakende noorderson deur die ruite, die kroegkoelkassie soos jy by die deur inkom links en, onder die venster, sy bed. So is dit agter geslote deure geverf in die harlaboerla van my herinnering.

Ek sou hiersonder kon.

Soms sien ek sy gesig in ’n droom, of verbeel my hy is op dieselfde vliegtuig as ek. Hy was ’n stewige slot (van sleutels gepraat) van ’n (kn)aap met ’n groot gesig en bypassende stem. Terwyl hy seker nie veel ouer as ek was nie.

Hoekom het ek hom nie aangegee nie?

Want die meeste mense sou dit tóé, in die sewentigerjare, aflag as studentepret. Boys will be boys.

Ek het ook stilgebly omdat dit vernederend was. Ek was skaam. My patriargale interne advokaat het soos ’n kisduiweltjie, ’n jack-in-the-box, uitgeskiet. As jy ’n onderrok by die halfdeurskynende rokkie gedra het, met ’n vollyf- vleeskleurige broekie en bra, was jy minder kaal ná die ongevraagde koue stort. In daardie stadium het ek nog nooit ’n “effie” in aksie gesien nie, maar terugbeskoudend sou mens kon sê die blommetjiesrok gemaak op ’n Burda-patroon op my ma se Bernina het gekleef soos ’n kondoom.

Twee paar vlesige wit manstudentboude ’n ent van my onder die storte het uitgelag.  

Die grootmeneer wat die Blougatte minute gelede opkommandeer het om my van die fiets te ruk was in sy skik. Droog, en tevrede.

Ek was sopnat. My mond kurkdroog. Tog het ek op ’n handdoek en droë klere aangedring. Meneer het sy verskrikte melkbaarde aangesê om my na sy kamer te bring. Hier het hy hulle verdaag, die deur toegemaak en gesluit. Lus vir ’n koue bier? Hy het homself gemaklik gemaak op sy enkelbed in sy enkelkamer. Sy oë onder die reguit kuif het my bespeel.

Binne-in my, dit het ek tot toe nie geweet nie, sit toe heeltyd ’n bitch met ’n bloedlyn wat skrik vir niks. Sy’t ná die petalje gaan lê, maar bly rondhang. Bitterbang het ek daardie dag geleer om nóóit die ander wang te draai nie. Dis net ’n oomblik, maar lank genoeg vir ’n ghwar om jou onder te kry. Ek het probeer om in sy man-size glibberige sweetpakbroek en -top nié te huil nie. Die gang was lank, die trap ondertoe eindeloos. Ek weet nie of die tien – of honderd-en-tien – seunsoë buite my uitgelag of gelus het nie. Waar is my fiets?

Die moontlikheid van kwets en traumatiseer sit in die onderbou van selfs sogenaamde onskuldige ontgroeningspraktyke. Jy ken hierdie eerstejaartjie hoegenaamd nie. Jy kan sy ontwikkelende psige nie soos ’n movie sien en analiseer nie. Jy’s self ’n kind. Dis hoekom ek alle vorme en variasies hiervan afkeur, al word dit met skriflesing en gebed ingelei. Verál as dit met skriflesing en gebed ingelei word.

Maar om Wilgenhof nou te wil toemaak is lagwekkend. So goed jy plak Band-Aid op ’n beenbreuk, kyk noord en fielafooi voort.

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 21 Junie 2024 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.