Van bussiedrywer tot gespreksleier by VWB

VOORREG

Van bussiedrywer tot gespreksleier by VWB

PIET CROUCAMP wou al van Vrye Weekblad se eerste dae vir die publikasie werk, en het in 2019 uiteindelik sy kans gekry. Hy het gou 'n politieke pilaar geword en sê dankie vir al die lesers met wie hy sulke leersame gesprekke in die kommentare gevoer het.

DIE eerste uitgawe van Vrye Weekblad is in 1988 vanuit die Gas Works-gebou in Johannesburg gepubliseer, maar ek het met die koerant te doene begin kry toe dit in die ou Standard Bank-gebou in Newtown gesetel was. Hierdie gebou – met 'n voordeur wat 'n bom nie kon wegblaas nie – was loopafstand van die Markteater en Kippies.

Dié jazz-klub is vernoem na die legendariese saksofoonspeler Kippie Moeketsi en het die atmosfeer en dekor van 'n township-sjebien gehad. Tydens blues- en jazz-aande in dié klub het die wit en sagte-middelklas, by die sterfbed van apartheid, lang joints gerook en uitgehang met The Jazz Epistles, Hugh Masekela en Abdullah Ibrahim.

The Yard of Ale reg oorkant die Markteater was 'n ontmoetingsplek vir kunstenaars, akteurs, musikante en aktiviste, mense van diverse agtergronde. Lourens Ackermann, wat soms uit Japan vir Vrye Weekblad geskryf het, het my daar by die Yard aan die moeder van my kinders voorgestel. Terloops, die pad na 'n vrou se hart loop deur haar honde, anders as wat julle jong laaities dink. Maar daar in die Yard of Ale het ek ook die lang trane en uitbundige vreugde van joernaliste gesien wanneer die koerant in moeilike sake in die howe met gemengde welslae geveg het.

Daar was name betrokke by die koerant vir wie ek groot ontsag gehad het. Koos Prinsloo, Andrea Vinassa, Ryk Hattingh, Elsabé Wessels, Jacques Pauw, Pearlie Joubert, Anton Steenkamp, Audrey Brown, Laetitia Pople, Karien Norval, Tinus Horn, Hans Pienaar, Hennie Serfontein en Max du Preez. Later was Martie Retief Meiring ook deel van die proses.

Die stigterslede van die eerste Vrye Weekblad. Dit het op 4 November 1988 verskyn. Die redaksie vir die eerste uitgawe het bestaan uit Karien Norval, Max du Preez (red.), Elsabe Wessels, Chris du Plessis, Jacques Pauw, Victor Munnik en Koos Coetzee.
Die stigterslede van die eerste Vrye Weekblad. Dit het op 4 November 1988 verskyn. Die redaksie vir die eerste uitgawe het bestaan uit Karien Norval, Max du Preez (red.), Elsabe Wessels, Chris du Plessis, Jacques Pauw, Victor Munnik en Koos Coetzee.

Iewers in die 1990’s bied die Vrye Weekblad 'n kultuur- en musiekfees, Breaking the Barriers, aan. Die onverskrokke studente-aktivis Leslee Durr  was saam met my op Stellenbosch en ek kon nooit my oë van haar af hou nie. Sy het iets met die administrasie van die fees te doen gehad en stel my aan as drywer van die bussie wat die gaste op die lughawe moes optel en hulle bedags tussen Vrye Weekblad en die Markteater vervoer. Teen R400 per week. Dit was my beste job ooit, 'n verstommende ervaring!

Die Nederlandse kabaretkunstenaar Freek de Jonge was “next level shit”. Jy ontmoet selde iemand wat so besit van jou deernis neem terwyl hy kritiese vrae vra wat jou in die hoeke van jou eie teenstrydighede inverf. Freek het dit as 'n akademiese uitdaging beskou om uit te pluis hoekom Afrikaners dink soos hulle dink, en hy het by my begin.

David Kramer se teatrale natuur op die verhoog was in kontras met sy diepe bepeinsing van Suid-Afrika se moeilike vrae. Ek kan nie meer die inhoud van ons gesprekke onthou nie, maar sy teenwoordigheid en manier van dink het 'n sediment op my lewens- en wêreldbeskouing gelaat. David is 'n mensch.

Ek het reeds met Johan Degenaar te doen gehad by die Universiteit van Stellenbosch. Sy beheptheid met postmodernisme was oninteressant, “a philosophy for the confused”, maar hy was die mees priemende gespreksgenoot. Ek was verstom toe hy sê hy het geen probleem met 'n godsbesef nie, maar dat die idee van 'n hemel en hel mensgemaakte eskatologie is. Ek het laat in my lewe, onder die streng blik van sy frontale lob, besef dat goeie vrae 'n teken van begrip is - soveel so, of dalk selfs meer so, as goeie antwoorde.

Laat jou wil geskied in Yeoville

In dié tyd het ek James Phillips (Bernoldus Niemand) en Johannes Kerkorrel in die bars van Yeoville van naderby leer ken. Yeoville was so dekadent soos San Francisco se Haight-Ashbury. Met apartheid in sy sterwensuur was die hoop, verwagtinge en opgewondenheid byna by breekpunt. Niemand het die revolusie onder wit studente beter vergestalt as Phillips en Kerkorrel nie.

Op 'n dag, ná afloop van die Breaking the Barriers-fees, skraap ek genoeg moed bymekaar en vra Max of hy nie nog 'n joernalis soek nie. As ek geweet het hoe naby die koerant aan die nerwe van bankrotskap was, sou ek nie die moeite gedoen het nie. Max het net nee gesê en voortgetik op sy rekenaar. Ek wou so graag vir hulle skryf, maar dalk was dit 'n goeie ding dat nie toe gebeur het nie; daar moes nog baie water in die see loop voor ek met 'n pen vertrou kon word.

Toe, in April 2019, laat weet Anneliese Burgess dat Max haar gevra het om met my te gesels om vir Vrye Weekblad te skryf. Ek vertel dit opgewonde vir een of twee joernaliste wat haar ken, en in 'n koor merk hulle op “jirre, ou Piet, jy moet maar jou drinkskoentjies aantrek”. Toe 'n joernalis die Ierse rugby afrigter Jerry Flannery vra hoe hy voel oor Rassie Erasmus se uitnodiging om die Bokke te help afrig, was sy antwoord “I will swim to South Africa”. Dit was presies hoe ek gevoel het ná 'n gesprek oor koffie met Anneliese.

Dit is steeds 'n voorreg om te mag skryf. Dit is 'n selfs groter voorreg dat lesers jou met genoeg erns opneem om sinvol daarop te reageer, in so 'n mate dat jy weer leer uit hulle reaksie. Om vir Vrye Weekblad te kon skryf, was iets wat ek vir dekades wou doen. En in die winter van my bestaan was ek gelukkig genoeg om weekliks met die ongelooflikste lesers te kon praat, dankie.

En nou kom dit alles tot 'n einde. Wel, nie heeltemal nie. In April sit ek die gesprek voort saam met Anneliese Burgess, Ali van Wyk en Laureen Rossouw, by Binne+Land, ons nuwe nuusbriefplatform.  Jy kan hier gratis registreer.

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.