Totsiens, vrye vriend

HULDEBLYKE

Totsiens, vrye vriend

'n Paar lede van die Vrye Weekblad-familie en bydraers sê dankie en groet 'n droom wat bewaarheid is – die plek wat bewys het om vir jouself te dink is moontlik en het 'n impak op Afrikaans.

  • 28 Maart 2025
  • Vrye Denker
  • 16 min om te lees
  • artikel 11 van 36

Aanlyn ontmoet, toe kom ‘tweede huwelik’

Redakteur: Vrye Tydskrif

VWB was vir my soos ’n tweede huwelik. Dis soos om iemand te ontmoet nadat jy gedink het jy sal nooit weer trou nie. Aanlyn nogal.

Ek het myself nog altyd as meer van 'n visuele as ’n woordmens beskou, maar toe Elna van der Merwe en Anneliese Burgess my nader om die Leefstyl-afdeling te kom oorvat, het ek dadelik geweet so 'n kans kom net een keer verby. So jy vat hom en jy klou enduit, want waar hy vandaan kom, is daar nie meer nie …

Dis die eerste plek waar ek werk waar uitgesprokenheid en vreesloosheid nie net eerste prys is nie, dis die enigste prys.

“Moenie slim mense kom aanhaal nie; as jy nie iets het om te sê nie, moenie skryf nie.”

Selfs my mengelmoes plattelandse Afrikaans, growwe plaas-uitdrukkings opgespice met Suid-Kaapse Queen's English, is nie net aanvaar nie, maar verwelkom.

En dis waaraan ons almal so verslaaf was.

Wat my altyd sal bybly, is die lojaliteit wat al ses die redaksielede teenoor die koerant, maar ook teenoor Max geopenbaar het, toe dit duidelik word dat die koerant nie kan oorleef nie. Niemand het die pad gevat nie. Hoe kon mens?

Dankie, Vrye Weekblad, vir die geleentheid. Nogmaals dankie, Max.


Die VWB-gees sal weer opbloei

Skrywer

Vrye Weekblad is nie verby nie. Die deure mag sluit, die daaglikse nuus-samevatting sal verdwyn, mense op straat sal jou voorkeer en vertel hoeveel hulle dit geniet het om die blad te lees. Maar …

Dit het al voorheen gebeur, in die dae toe Max du Preez en sy redaksie die waarheid voor PW Botha en sy kornuite se deure gelê het. Toe kom ’n Duitse wesie genaamd Lothar Neethling, tree Vrye Weekblad in die hof aan, lieg dat die spoeg so spat en skielik was alles verby.

Maar … die koerant se boodskap, sy houding, sy minagting, dit alles was ondergeskik aan sy magtigste wapen. Om in Afrikaans die waarheid tot die magshebber te spreek.

Nou, met die blad se tweede gedaante reeds slagoffer van die tyd en die derde ene so te sê ter siele, kan mens behoorlik hulde bring aan die koerant wat nooit aan enige rokspante vasgeklou het nie.

Toe Laureen Rossouw my in Mei 2022 vra om vir VWB oor musiek te skryf, het ek nie gehuiwer nie. Ek het teruggedink aan ’n noenmaal in November 2005, onder die druiweprieel van Decamaron. Max en Chris Otto, die Godfather van VWB nommer een, het met vroue en kinders bymekaargekom om ou herinneringe op te volg, en my en myne saamgenooi.

In die loop van die middag vra ek Max of hy VWB ooit weer sal laat herleef. Sy Angela het baba in die arms gesit en Max het gelag.

“Nie die regte tyd nie,” het hy gesê.

Die regte tyd het tog weer aangebreek. Verskeie kere. Mens moet verstaan watse soort mense jy hiermee te make het. Joernaliste wat tussen die 1970's en 1990's hul nukke verfyn het. Mense wat geweet het dat elke groot storie drie kante het: Eerstens, die storie soos woordvoerders vir die betrokkenes dit sal spin. Tweedens, die storie soos dit dikwels in Suid-Afrikaanse media aangebied word sodat almal dit kan lees. Verstaan en glo is nie deel van die stramien nie.

En derdens is daar VWB se siening van die storie. Die eintlike storie. Die ene wat jy kan skryf as jy al die feite het en al die verskillende weergawes genoeg verstaan om vrot van vrugtig te kan onderskei.

Natuurlik het VWB uithoekies gehad waar anargiste weekliks jag gemaak het op middelmatigheid. Dis hoe ons was en is.

Moenie gerus wees nie. Die VWB-gees sal weer opbloei. Dalk nie met dieselfde naam en gesigte nie. Sommiges van ons loop met rame. Op my sterwensbed vermoed ek sal ek ’n laaste WhatsAppie aan Laureen of Ali of Deborah stuur: “Wat’s die deadline?” 


Dit was my tweeweeklikse uitlaatklep

Skrywer, Dinsdag met Ingrid

Vrye Weekblad was my tweeweeklikse uitlaatklep. Hulle het my laat skryf waaroor ek wou, van bobbejane tot orgasmes en my altyd flikkerende moermeter. 

In die dae ná my man se dood kon ek my nuut aangetrekte, brose rou-reis met die lesers deel en stadig maar seker deur die skrywes myself weer vind. 

Ek sê dankie aan 'n geslag van uitgesprokenes en soekers na die waarheid. Onverskrokke. Braaf. Ligvoet. Helderskynend. Priemend.

Dankie, span.


’n Enorme, verpletterende verlies

Boekeredakteur

Ek het eers kort duskant 60, ná jare van vryskut-gesukkel, weer voltyds begin werk.

Ek het by die agterdeur, as vryskutskrywer, by VWB ingesluip en dit was die werk van my lewe. Ek treur bietjies-bietjies, maande al. Trane oorval my op straat. Dis asof iemand my gunstelingspeelding afgevat het.

Ek was uitermate trots om deel van hierdie span te wees. Ek is uitgelos om te doen wat ek wou, ’n lewenslange droom. Niemand het my bestuur nie. Vergaderings was chaoties en vol wenke eerder as voorskrifte.

Die Boekeblad het organies gegroei en my hartklop geword. Dit was soos ’n baba of ’n tuintjie waarvan ’n mens nooit kan vergeet nie – wakend en slapend is dit deel van jou ritme. Nou staan ek ontredderd op die kaai met leë arms. Ek wonder of ek beter sal slaap sonder stories wat gedurig besig is om hulleself in my kop te skryf.

Ek huil nie net oor my blad, my speelplek nie. Ek huil oor al die daaglikse nuusbriewe, oor elke uitgawe. Hoe gaan ek weet wat in die wêreld aangaan sonder die sewe goed? In hierdie lewe het ek uiteindelik 'n ware held ontmoet, 'n rolmodel, 'n man sonder bedrog. Max du Preez. Ek gaan sy gesig op my skerm mis.

Dis ’n enorme, verpletterende verlies wat ek brok vir brok verwerk. Jy kan my nog hier lees


Een aand, op die nok van ’n dak

Joernalis

As ek my twee jaar by Vrye Weekblad deursoek vir ’n hoogtepunt wat sal dien as die “lament of eerbetoon” waarna Ali van Wyk in sy uitnodiging verwys het, gaan draai my gedagtes aanmekaar by ’n foto wat in Desember 2019 in St. James buite Kaapstad geneem is.

Vrye Weekblad 2.0 was toe nog nie ’n jaar oud nie.

Ons het die Sondag vleis gebraai in Laureen se tuin, en die aand toe almal huis toe is, het ek, Anneliese en Hanlie tot bo-op die huis se dak geklim, wat nogal gedoen wou wees met ’n glas wyn in die hand.

In Marita van der Vyver se nuwe boek (wat ek onlangs in Engels vertaal het) haal sy die skrywer Nikos Kazantzakis aan oor hoe moeilik dit is om bewus te wees van geluk terwyl ons dit ervaar. Maar dit is nie op dié aand van toepassing nie. Ook nie op die jaar vóór of ná die vleisbraai in St. James nie.

Dis die eerste keer sedert hoërskool dat ek in Afrikaans skryf. Eers versigtig, dan met al hoe meer lawaai. Oor blomtuine, braaibroodjies en blikkieskos, skaapkoppe, pandemiedrome, malvapoeding, die middeljarekrisis, oor ’n seekat, die soengroet, en nog alles onder die son. Op ’n golf van voortvarendheid tik ek my naam boaan stories en onderaan nuusbriewe; ek skryf nogal graag en gereeld oor myself.

Net wanneer die blad se voortbestaan vir die eerste keer in die gedrang kom, skryf ek ’n storie wat onverwags vir my ’n nuwe deur oopmaak, en ná twee jaar by Vrye Weekblad word ek saggies uitgespoel op ’n veilige strand. Dis lekker hier, maar nie ’n week gaan verby dat ek nie na Vrye Weekblad verlang nie – na ’n plek wat gestalte gegee het aan ons is nie almal so nie, en my eie kortstondig-trots-Afrikaanse ego-trip.

Ek betreur niks.


’n Nuwe soort joernalistiek is geskep

Emeritus professor in joernalistiek

VWB 3.0 het die public intellectual versinnebeeld in elke stuk wat geskryf is. Die sluiting van VWB 3.0 is 'n tragedie in elke opsig wat vrye denke en “dink vir jouself” betref.

Ek dink daar is so baie intekenare – ja, tog, nog altyd te min – wat in hierdie laaste dae van 'n grensverskuiwende publikasie, van sy begin af, in hart en gedagtes by julle as span is. Maar veral dink ek ook aan jou, Max, wat so alles op die spel geplaas het vir 'n noodsaaklike nuwe soort joernalistiek en nóg noodsaakliker nuwe stem in die geliefde maar so geknelde land.

Dankie vir al die VWB-jare, al die braak grond wat gebreek is, in elke opsig, en veral ook vir die nuwe soort joernalistiek wat jy geskep het.


Tuiste vir skewe Afrikaners soos ek

Inhoudsredakteur

Toe Vrye Weekblad 2.0 in September 2022 toegemaak het, was ek baie hartseer. Ek was net ’n leser, en hier is ’n uittreksel van wat ek op Facebook gepost het:

“Ek probeer uitpluis hoekom die tweede dood van Vrye Weekblad vir my amper erger is as die eerste keer. Toe Max en Anneliese destyds mense genader het om die ikoniese (en ek gebruik nie die cliché maklik nie) handelsmerk te laat herleef, moet ek erken dat ek een van die skeptiese siele was. Ek het gereken hulle moet eerder iets met ’n ander naam doen en Vrye Weekblad moet rus sodat die mooi herinnering aan die ou papierpublikasie behoue kon bly.

“Ek was verkeerd. Binne maande was dit vir my duidelik dat daar nie alleen ’n gemeenskap van lesers is wat dit nodig gehad het nie, maar ook ’n gemeenskap van skrywers. Veral ’n gemeenskap van skrywers en joernaliste wat uitstekende werk doen, maar wat net nie meer mooi inpas (of nooit ingepas het), by die beperkende en krimpende omgewing van die kommersiële Afrikaanse Netwerk24 -publikasies nie.

“Ek het ’n kleintjie dood aan die sêding ‘ons is nie almal so nie’, want ons is vanselfsprekend nie verdomp almal so nie, en die dag wat ek moet toertjies doen en argumente voer om aan mense te bewys dat ek nie ’n Afrikaner van die klipkop-variëteit is nie, is ook die dag wat ek vir my ander mense moet kry om mee te stry oor minder vanselfsprekende goed. Maar Vrye Weekblad was tog die sigbare bewys van ’n gemeenskap waarvan ek myself deel voel, en dit is tienduisend keer beter as daai gemeenskap meer sigbaar is deur ’n publikasie soos Vrye Weekblad as wat dit nie is nie, want as dit nie sigbaar is nie begin mens soms wonder of daar ander mense is wat soos jy dink en soos jy leef, want ons is maar dun gesaai oor die geknelde land.

“Mens wil nou nie melodramaties oor die ding raak nie, maar dis ’n soort geestelike tuiste vir skewe Afrikaners soos ek.”


Mag dit ander denkskepe te water laat

Vryskutjoernalis en -taalversorger

Ek was op hoërskool in Kaapstad toe ek vaagweg bewus geword het van ’n nuwe koerant wat by die hoekkafee te koop was. Maar ek het dit nie gelees nie totdat my ma opgemerk het dat Vrye Weekblad mos die AWB se koerant is. “Nee, dis juis die omgekeerde,” het my pa lakoniek geantwoord.

Kort daarna het ek studeer by die plek wat vir 'n onverklaarde (maak dit op soos jy aangaan) idee gestaan het - dáár is dit weekliks deur vrydenkendes en beswaardes gelees en bespreek en nooit verbrand nie. Die Matie (waar ek en van die huidige VWB-kamerade gewerk het) is wel verbrand en gereeld daarvan beskuldig dat “julle spul nes die Vrye Weekblad probeer wees”. 'n Opperste kompliment, wat ons betref. En boonop hoe die studentekoerante by die ander Afrikaanse kampusse ook destyds beskryf is. Om in 1994 – toe ek die joernalistiekkursus gedoen het met die hoop om by VWB aan te sluit – van daardie opsie beroof te word, was ’n bliksemse slag vir ’n klomp van ons.

Maar toe kom VWB 2.0 en 3.0, en skryf en redigeer en algemene WhatsApp-spitsvondighede word wel dekades later bewaarheid. Toe die oorspronklike VWB na tydskrif-formaat oorgeskakel het, het ek in ’n brief iets soos volg geskryf: “Drie viva’s vir die nuwe VWB wat als en meer is as wat belowe is.”

Wel, daar was nou drie viva’s van VWB (tensy dit soos 'n kat nog ses lewens gaan hê?) en niemand kan spyt wees daaroor nie. Nóg die leser, nóg die skrywer, nóg al die andere wat bloed, ink en hiperskakels vir hierdie unieke woordboot gebloei het. Mag dit ’n paar ander denkskepe te water laat ... noudat dit vaarwel is.


Wanneer kom die aankondiging dan?

Voormalige produksieredakteur

Ek het nog nie regtig kans gehad om dit te verwerk nie. As ek eerlik met myself moet wees, vermy ek dit dalk nog so bietjie. Dan vra Willem of jy iets wil bydra en skielik staar jy na jou selfoonskerm soos die besittings van 'n oorlede geliefde.

Elke oggend werk ek deur die Daaglikse briewe vir leidrade. Ek kan myself nie help nie, ek hoop vir 'n “Is jy gereed vir Vrye Weekblad 4.0?"-aankondiging, net soos teen die einde van die Arena-dae.

Ek het nog nooit in my werkende lewe so baie kreatiewe vryheid geniet nie. Ek kon elke deel van my dwarsneukende self (dankie, Willem) by Vrye Weekblad uitleef. Ten volle. Elke hoekie van my persoonlikheid het 'n plek gevind in hierdie publikasie. As lid van die span en as leser. Dis sonder twyfel te danke aan my kollegas wat nog nooit 'n “boksie" teëgekom het wat hulle nie platgetrap, verbrand of uitmekaar geskeur het nie.

Ek is meer oortuig van VWB se vierde opstanding as die moontlikheid dat ek ooit weer soveel van my eerlike self by “die werk" sal kan wees. Ek is nog meer oortuig – en bekommerd – dat Afrikaans nie weer so iets sal beleef nie.

Ek is daarom onbeskryflik dankbaar dat ek daarin kon deel. Dit en vir die ewe dwarsgeneukte fokkers saam wie ek dit gepleeg het.


Uitsonderlik uitgestaan bo die res

Vryskuttaalversorger

In watter ander Afrikaanse publikasie vandag sal jy kan lees hoe om jou innerlike vetkoek te bevry? (Dankie, Errieda du Toit). Of te wete kan kom van byname soos Hokleeu, Rondomlelik en Broodpoot? (Dankie, Ali van Wyk.) Of ’n kykie kan kry in die siel van die jong man wat Donald Trump deur die oor geskiet het? (Dankie, Piet Croucamp.) Of woorde kan ervaar soos “... en hoor ek die heelal kreun en kraak soos die romp van ’n stukkende skip”? (Dankie, Deborah Steinmair.) Of kan lees van die groeiende epidemie van eensaamheid? (Dankie, Herman Lategan.) Of Breyten Breytenbach se roudiens in Parys só deur woorde kan beleef dat jy voel jy is self daar? (Dankie, Marita van der Vyver.) 

Vir my was Vrye Weekblad ’n stem wat uitsonderlik uitgestaan het bo die res; ’n stem wat altyd onthou sal word.


Julle het die wêreld verteerbaar gemaak

Skrywer

My pad met Vrye Weekblad het eintlik al op hoërskool begin, toe ek in graad 8 geskors is by Affies vir Jannike Bergh (nou by LitNet) se punk zine (thanks) oor satanisme. Die nasionale koekblik kon toe nog nie onderskei tussen anargie en satanisme nie. I was asked to leave omdat ek formeel daarvan aangekla is dat ek die leier van 'n okkultiese beweging was (Jannike moes eintlik die krediet gekry het). Dis daar waar ek besef het ek het leierseienskappe.

My tante, Lamé Ebersohn, het 'n filosofiekafee besit in die middel van Kerkplein – die oudste koffiekroeg in Pretoria. Dis daar waar ek Max du Preez die eerste keer ontmoet het met sy bekendstelling van Oranje blanje blues, en hy my boek geteken het. Ek was nog nat agter die ore, skaars 16. I found my people.

Toe Deborah Steinmair my by ’n Kersparty konfronteer met die boek Sex Tips for Creative Lovers en my vra om ’n resensie daaroor te skryf, was ek by daai einste partytjie juis besig om 'n meltdown te hê oor die doos wat reg daar voor almal met my opgebreek het. None the less, I delivered, en het van daai dag af boekresensies begin skryf vir Vrye Weekblad onder Deborah se wakende oog. Sy was my eerste mentor. Ek het oneindige respek vir haar, en was lank ’n fan voordat ek formeel aan haar voorgestel is.

Vrye Weekblad het my pad oopgekerf sodat ek onafhanklik deur my egskeiding op my eie bene kon staan.

Daar gaan nooit weer ’n stem soos Vrye Weekblad wees nie. Dit weet jy. Die ingredients was te spesifiek. Elke persoon op hierdie redaksie was ’n rock star uit eie reg, maar soos die meeste mense het ons ook 'n huishouding om te onderhou. Ek het elke knersende oomblik hier geniet. Ek gaan vir ewig oor hierdie stem rou, en oor julle, die lesers, met wie ons konstant dialoog uitgeruil het.

Dankie dat ek deel kon wees van hierdie droom en die enjin wat nooit ophou draai het nie. Julle het ’n wonderlike manier gehad om die wêreld verteerbaar te maak. Ali van Wyk, ek gaan jou uitsonder, dankie dat jy met my kak gedeal het.


Sê wat jy wil, maar hierdie was befok!

Redakteur: Daagliks

Die gebruik by 'n sekere groot Suid-Afrikaanse mediakorporasie waar ek al gewerk het (net tussen ons, dit was Media24), was dat die sluiting van 'n publikasie lank oorweeg word, maar uiteindelik met dodelike spoed volbring word. Soms was daar nie eens nog 'n uitgawe nadat die eindtyding met die redaksie gedeel is nie, want dan bly daar net die downside oor – 'n geleentheid vir bitter mense om die produk te saboteer of een of ander bean counter te beswadder sonder dat hulle daarvan kan uitvind voordat dit te laat is.

Maar by Vrye Weekblad was daar nie só 'n risiko nie. Die merkwaardige eindresultaat hiervan is ons laaste twee huldeblyk-uitgawes, waarvoor ek wil smeek en pleit: Asseblief, is daar 'n uitgewer wat 'n manier kan vind om dit in keurige boekvorm byeen te bring? In volkleur, in hardeband en op glanspapier gedruk, wat spoggerig in regte boekwinkels verkoop kan word?

Aan die ander kant, dalk sal só 'n boek beter in die mark vaar as wat Vrye Weekblad self ooit gedoen het, wat my oortuiging sal bevestig dat hierdie projek kón gewerk het, as, as, as ...

Aan al my kollegas hier die afgelope ses jaar: Dit was 'n voorreg en (meestal!) 'n plesier om saam met so 'n groep talentvolle, toegewyde, passievolle en opregte mense soos julle te werk. En aan ons baie spesiale lesers: Julle was befok, in die beste sin van die woord. Geen, maar geen ander media in Suid-Afrika het 'n beter soort leser as Vrye Weekblad gelok nie. As iemand ooit weer iets soos dié gaan probeer, hoop ek dit sal mense soos julle in groter getalle deel van die plan maak.

Saluut!

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.