Dis (soms darem ook) hemel op die platteland

PLATTELAND

Dis (soms darem ook) hemel op die platteland

Inkommers op klein Karoo-dorpies kry nie noodwendig warm skons van die bure wanneer hulle intrek nie, skryf MADELEINE BARNARD. As jy net saligheid verwag, gaan jy skrik. Want daar is ook spinnekoppe, komiteetannies en poeplorries.


MENS kyk verlangend na die reisprogramme op televisie wat die Suid-Afrikaanse platteland in sagte fokus wys. Mens lees die tydskrifte – van al die kreatiewe tipes wat gaan kuns maak op die wye vlaktes en soggens vars, swetende brood uit die oond haal en hul eie vyekonfyt daarop smeer. En mens droom.
Tydens my eerste paar maande op Windpomp (iewers in die Karoo) werk ek in die toerismekantoor. Een dag blaai ek deur ’n Suid-Kaapse toerismepublikasie. Daar pryk ’n foto van ons dorpie se mark op ’n Saterdag.
Ek kyk. Ek kyk weer. Ek klap myself liggies teen die kant van die kop. Want ek herken glad nie die spasie nie. Ek bel ons vorige toerismepersoon. Sy vertel my die foto is geneem tydens die verfilming van ’n kosmaakreeks vir televisie wat Windpomp as sy stel gebruik het. ’n Liggie gaan skielik vir my op. Hulle het Windpomp opgetert vir die “shoot” …
Ons het vyf jaar gelede verhuis na die platteland, ná jare van goed gestileerde tydskrifte lees, reisreekse en kosreekse kyk en op kort besoeke kwyl oor vars brood, plaas-eiertjies en vyekonfyt (wat baie algemeen beskikbaar is in die stad maar net nie in dieselfde nostalgie gebaai kan word nie).
Spinnekoppe en muskiete
Ná jare van luister na die boodskap wat oor en oor herhaal word: “Dis hemel op die platteland.” Maar die werklikheid is, soos die lewe dit maar wil hê, effens anders as die welbeligte belofte.
Ek was vas oortuig dat die bure op ons eerste dag in Windpomp vir ons warm skons sou oorbring. Onder ’n geruite lappie. Ek het tevergeefs gewag; die buurvrou en haar man is self semigrante van die stad.
In my werk by toerisme was die mense wat ek verteenwoordig het diegene wat huisvesting vir vakansiebesoekers besit. Meesal ook semigrante; verskeie van Europa. ’n Persentasie van hulle praat glad nie Afrikaans nie.
Die einste markie wat omskep is in iets onherkenbaars vir die kookspulletjie, is een van twee naweekmarkte op die dorp – ’n groepie Afrikaners het 15 jaar terug ’n vloermoer gegooi en hul eie markie gaan uitskrop 500 m verder in die pad af. Hulle maak trouens steeds die lekkerste pannekoek op die dorp. Dus, ’n kwarteeu ná 1994 sit elke brommer nog steeds op sy eie drol hier in die Karoo.
My ware ontmoeting met die platteland – en sy ander gediertes – begin met ’n onverwagte kennismaking met ’n reënspinnekop. Terwyl ek een aand by die stoof staan, abseil ’n harige knewel vanuit die dak en land in ’n leë pot op die stoof.
Ná ’n skrikwekkende gekrys – ek had geen idee dat ek sulke klanke kon voortbring nie – klap ek die deksel op, hol buitentoe met die pot, haal die deksel af en hardloop vir my lewe. Daardie nag stop ek ’n handdoek in die gaping tussen die vloer en die deur.En dan, die muskiete. Hulle is glad nie alledaagse muskiete nie. Hulle is minimonsters wat snags met die verbetenheid van kamikaze-vegvlieëniers op jou neerdaal om fees te vier op jou vlees. Ek tel een oggend 42 byte op my een arm. Geen insekgif in ’n spuitbottel hou hulle weg nie.Die ervare inwoners deel die volgende raad: Smeer jouself goed in met insekweerder en rig ’n waaier wat volspoed tol op jou persoon. Die stank van die chemikaliëe op gesig en arms en jou uitgedroogde oogballe soggens is steeds beter as die vampierpartytjie wat snags op jou ontblote vel plaasvind. Ek vind ook uit dat dun digbundels ’n snotskoot kan slaan as jy die klein bliksems wil platwiks teen die muur.
Hel van hitte en komiteetannies
Geeneen van die mediamense en kunstenaars wat die Karoo konstant in sagte lig baai, sal jou ooit vertel hoe dit teen drieuur in die middag op ’n Februarie-somersdag voel nie. Die dorstige veld is vaal gebak. Diere lê en hyg in die paar beskikbare skadukolle.
As jy jou hand teen die muur sit, is dit louwarm. Ek lê een middag in die hoek van die stort en huil – om ’n vrou van 50-plus te wees is warm genoeg, dankie. Om 50-plus te wees in 40-plus grade draai net duskant die hel.
Ná vyf jaar op die dorp kan ek ook met sekerheid sê dat daar een ding is wat ek meer vrees as al die slange, spinnekoppe, hitte en muskiete. Dis die Karoo-komiteetannie. Ek probeer nie meer lid wees van komitees nie. Want daar het ek weggesukkel met verskeie oop wonde.
Soos al hoe meer stedelinge probeer wegkom van misdaad en verkeersknope, kom al hoe meer mense met groot ambisie en min begrip vir die werklikheid op plattelandse dorpe aan. Hulle het gewoonlik ’n plan in posisie: toerisme, fênsie kos, kuns, joga. En natuurlik koffie. En kaggelkakkies.Behalwe vir die werklikhede van droogte, moorddadige insekte en ’n somer wat soms ses maande lank op mens neerbak, is daar die ander minder idilliese werklikhede in plattelandse Suid-Afrika. Nuwe aankomelinge soek ’n dorpsmasjien wat klopdisselboom loop. Hulle soek gemakkies soos swembaddens en lugversorging om die lewe draagliker te maak.
Oorwerkte poeplorrie 
Maar die meeste klein dorpies in die Karoo het ’n verouderende infrastruktuur wat hul munisipaliteite nie kan bekostig om te vervang nie.
As daar ’n groot toeristegebeurtenis op Windpomp plaasvind, werk die arme manne wat die dorp se poeplorrie bestuur soms oor naweke ook. Groot gedeeltes van die dorp het nog die ou rioolputstelsel, en as die plek volloop van besoekers, is die riooltenkvoertuie soms letterlik ’n paar honderd kakke agter.
As daar ’n spul oorverhitte toeriste op die dorp is oor die feesseisoen en almal stort, trek toilette en lê rond in swembaddens en plaspoeletjies, raak die reservoirs soms so laag dat die water in die krane opdroog. Ons moes al water uit die leivoor gaan steel om ons toilette te spoel.
’n Plaaslike hotel het sommer uit hul swembad gaan skep om ontslae te raak van die vorige aand se verteerde skaaptjops. Met die droogte in die Karoo, wat nou al selfs deur die ou garde beskryf word as die ergste in menseheugenis, is al die ekstra druk op watervoorraad – en die voetstampery oor waterregte – kommerwekkend.
Die elektrisiteitsnetwerk is oud. As ’n weerligstraal ’n hoogspanningsdraad op die N1 of ’n substasie op die dorp raakklits en die krag skop uit, begin die plaaslike WhatsApp-groepe dadelik gons van irritasie en gryp almal na die kerse, lampe en petrol vir kragopwekkers. Ná een donderstorm buite die dorp was ons amper twee dae lank sonder elektrisiteit.
Kudos aan Windpomp se munisipaliteit: Hulle maak die heel beste van ’n soms uitdagende saak. Ná ’n onlangse verslag deur Good Governance Africa tel hulle onder Suid-Afrika se 20 beste raakvat-munisipaliteite.
Ander kant van die dorp
Die hartseerste werklikheid van die Karoo is hoe die afstammelinge van sy oorspronklike mense leef. Windpomp se township het enorme probleme. Terwyl die welgesteldes van die dorp flouval as iemand ’n stoel van hul stoep af steel in die gegoede deel van die dorp, lees die SAPD se aanklagkantoor-witbord vir die “ander deel” van die dorp soos misdaadfiksie.
Moord. Verkragting. Gesinsgeweld. En werkloosheid is ’n al groterwordende probleem. Die strate is vol kinders sonder toekoms.As dit “Allpay” is – die algemene term wat gebruik word vir die paar dae waartydens maatskaplike toelae uitbetaal word – is dit chaos. Die tou by die outobank begin al voor 12 die vorige nag vorm.Die drankwinkels verkoop ’n pisgeel brousel in ’n plastiekbottel met ’n rooi skroefprop, ook bekend as “Rooikappie”. Rooikappie word in groot maat in kruiwaens, tuisgemaakte trollies en selfs in rolstoele na Windpomp se township gestoot oor Allpay. Maar dit is ’n storie op sy eie.Toeriste en gentrifikasieDis ironies dat baie van die “mooi” Karoodorpe wat redelik goed oorleef, hul bestaan maak uit die toerisme-rand. Die meeste van die toerisme-rand val immers in individue se sakke. Die alternatief is egter erger: Mens sien hoe minder aantreklike Karoodorpe stadig en pynlik ontvolk en verval.Dus kners Windpomp se inwoners op hul tande as daar nog ’n vakansie op die horison is, met ’n intog van honderde besoekers. “Dis goed vir die dorp,” sê almal stoïsyns.Maar dis soms ook nie goed vir die dorp nie. Daar was onlangs ’n groot troue hier – die plek het oorgeloop van welgeklede vroue en manne met kenwolle wat glim van duur baardolie. Die “locals” wat Saterdae by die markie kuier, het verward rondgestaan met hul koppies koffie terwyl die besoekers die spasie beset het vir ’n sjampanje-ontbyt. Selfs ’n plaaslike nie-winsgerigte gemeenskapsprojek het hul stalletjie verloor ten gunste van die bruidskoek.Een van Windpomp se mees geliefde en gerespekteerde inwoners – ’n man wat jare lank ’n bestaan kon maak ten spyte daarvan dat hy erg gestrem is – het ’n paar jaar terug die spasie verloor waar hy jare lank sy kafee bedryf het. Daar is nou ’n winkel wat duur huisware verkoop.Dit lyk asof gentrifikasie die enigste kans op oorlewing is vir plekke soos Windpomp. Ten koste van baie ander dinge. Maar dan is verandering mos maar die enigste konstante.
Nie 'n temaparkLewe op die platteland is nie die oplossing vir jou stadsprobleme nie. Dis nie die platteland se jop om jou die lewe te gee wat jy voel jy verdien ná jare van bloedsweet in die stad nie.Die platteland het sy eie probleme. En die enigste manier wat dorpies soos Windpomp op lang termyn sal kan oorleef, is as semigrante soos ek vra wat óns kan doen om dit as ’n volhoubare leef-opsie te behou. In plaas van heeltyd vra wat die dorp vir óns kan doen. Vir ál sy mense; veral vir diegene wat die swaarste trek.En dat ons besef die platteland is nie ’n temapark of ’n filmstel nie. Mense woon hier. Natuurlike hulpbronne is skaars. Infrastruktuur kan net soveel druk vat. En ons moet dit kan respekteer.Maar daar is tye wat ek terugsit op die stoep met ’n glasie in die hand; tye wanneer ek ’n bietjie dorpskinder uitruil op ’n hoek, wanneer die dorp se kraleprojek vir werklose jongmense ’n nuwe kliënt kry – tye wat ek afry in ’n straat sonder verkeersknope of sit in ’n koffiewinkel waar ek almal ken – wat die kleindorpse lewe vir my lekker is. Dis sulke tye wat ek hoop het vir dorpe soos Windpomp.Ná vyf jaar van warm kry, baklei, wroeg, swets en bloed skenk aan muskiete kan ek wel sê: Dis oukei op die platteland. En soms – veral as die son sak – is dit selfs vir ’n oomblik hemel …

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.