Uitsoekwyne onder die hamer by Strauss & Co

GESONDHEID!

Uitsoekwyne onder die hamer by Strauss & Co

As dit nie vir Strauss & Co was nie, het jy dalk nooit geweet of daardie skildery bokant die kaggel iets werd was nie. Het die werk van Irma Stern dalk nooit sulke duiselingwekkende hoogtes bereik nie. Sou jy waarskynlik nie binnekort op Suid-Afrika se seldsaamste wyne kon bie nie. ANNELIZE VISSER gesels met die maatskappy se uitvoerende voorsitter, die kunsversamelaar en -filantroop Frank Kilbourn.



OMTRENT 30 jaar gelede het Frank Kilbourn 'n mede-regstudent vir die eerste keer vir ete genooi. Dit was 'n heuglike aand, en nie net omdat hy en Lizelle later sou trou nie. Die wyn wat hulle bestel het, was ook gedenkwaardig: Dit was die 1978 Uitkyk Carlonet, 'n ryk, elegante cabernet sauvignon met geure van peperige speserye, rooi vrugte en ment.  
Oor minder as twee weke word die kringloop voltooi wanneer vyf bottels Uitkyk Carlonet uit dieselfde oesjaar saam met van Suid-Afrika se seldsaamste en mees ikoniese wyne onder die hamer kom by Strauss & Co se heel eerste wynveiling.
Dit vind plaas 'n dekade nadat die maatskappy se eerste kunsveiling in 2009 'n omset van bykans R39 miljoen gehaal het, waarna Strauss & Co onder leiding van die gevierde kunskenner Stephan Welz tot die land se grootste en mees gesaghebbende afslaer van kuns en versamelware gegroei het.
Frank Kilbourn was dadelik een van Welz se mees geesdriftige klante, mettertyd ook een van die grootstes, en later 'n vriend.
Hy en Lizelle het reeds op universiteit kuns begin koop, en by hulle eerste veiling hulle vingers verbrand. Van die drie werke wat hulle by dié bankrotveiling aangeskaf het, was een onherroeplik beskadig en die ander een waarskynlik vervals. Maar die derde, deur Walter Batiss, was 'n “klein juweel” wat steeds deel uitmaak van die reuse-kunsversameling wat hulle oor die daaropvolgende drie dekades opgebou het.
Deesdae is Frank natuurlik slimmer.
Daar is hoofsaaklik twee faktore wat bepaal of hy 'n werk gaan koop of nie. Een gaan oor die inhoud van die werk self: die kunstenaar se vakmanskap en visie, en die vrae wat die kunswerk vra en beantwoord. Tweedens is daar die ekostelsel waarbinne die werk bestaan – die oorsprong, die belangstelling wat dit wek, of hoe dit byvoorbeeld in akademiese tekste beoordeel word. 
Maar buiten die estetiese en intellektuele en konseptuele meriete, gee iets heel subjektiefs die deurslag: “Ek koop net werke waaroor ek mal is,” sê Frank. “As ek nie op 'n klomp maniere daarop verlief raak nie, hoef ek dit net te sien, nie te koop nie.”
FRANK was al by minstens 1,300 geleenthede verlief. Dís die aantal kunswerke wat in sy en Lizelle se huidige versameling is. Omtrent 140 daarvan hang in sy kantoor in die Convention Tower in Kaapstad, nog ongeveer 60 in hulle huis in Tamboerskloof – dis nie soseer so 'n groot huis as wat dit 'n vol huis is nie, sê hy. Van die res word dié wat nie geberg word nie, aan museums geleen of in vriende en familie se huise uitgestal.
Maar die liefde werk nie altyd uit nie.
Ek en Frank deel 'n verlore liefde vir Stanley Pinker se skildery Night, wat in 2010 teen 'n rekordbedrag deur Strauss & Co verkoop is. Hy was een van die bieërs, maar moes kort voor die wenstreep uit die resies tree; ek het met die skildery in my ouerhuis grootgeword, en swaar daarvan afskeid geneem.
Binnekort is daar vir ons albei 'n reünie met dié skildery, wanneer Frank soos gebruiklik vir die duur van Augustus 'n uitstalling by Welgemeend teen die hange van Tafelberg hou. Skilderye deur Pinker en Bernard Podlashuk sal onder meer tentoongestel word, en Night word by dié geleentheid by die nuwe eienaar geleen.
(Omdat Frank voor ons afspraak van my voorliefde vir Pinker te wete gekom het, het hy kort voor my aankoms een van die skilderye in sy kantoor vir een deur Pinker verruil. Dis 'n gebaar wat meer as die mooiste woorde oor sy liefde vir kuns sê.)
Die jaarlikse uitstalling is 'n uitvloeisel van Frank se steun aan Welgemeend, die historiese plaashuis op die terrein van die Hoërskool Jan van Riebeeck wat die Boerneef-kunsversameling huisves.
Hy en Stephan Welz het die Augustus-kunsmaand in 2014 begin met die doel om geld in te samel vir die instandhouding en restourasie van Welgemeend, en om gewone mense toegang te gee tot belangrike private kunsversamelings wat hulle nie andersins te sien sou kry nie. Die afslaer-kliënt-verhouding het in 'n hegte vriendskap ontwikkel.
In 2016 word die uitstalling opgedra aan Welz, wat in Desember die vorige jaar gesterf het, en word kliënt afslaer met Frank se aanstelling as uitvoerende voorsitter van Strauss & Co. Kort daarna woon hy 'n internasionale wynveiling by waar die idee gestalte aanneem om na wynveilings uit te brei.
FRANK hou van wyn. Nogal baie. Trouens, hy hou net soveel van wyn as van kuns. En hy stem nie noodwendig saam dat besigheid en plesier nie mag meng nie. Inteendeel. 
Toe Kanonkop Paul Sauer 2015 verlede jaar volpunte kry van die gesaghebbende Britse wynkritikus Tim Aiken, terwyl dit plaaslik teen minder as R600 verhandel, is sy vermoede bevestig dat Suid-Afrikaanse wyne ondergewaardeer word en dat 'n volhoubare sekondêre mark vir uitsoekwyne in Suid-Afrika bestaan.
Maar al word daar wyn gemaak op sy plaas in die Banhoekvallei, het Frank geweet hy het kenners nodig om die projek te laat slaag. Gevolglik is Roland Peens, besturende direkteur van die aanlyn handelaar Wine Cellar, asook die sommelier Higgo Jacobs, medestigter en uitvoerende lid van die Suid-Afrikaanse sommeliervereniging, deel van die span agter Strauss & Co se eerste wynveiling wat op 8 Junie in Johannesburg plaasvind.
Buiten die einste Kanonkop word twee ander wyne wat met volpunte deur internasionale kritici spog, by dié geleentheid opgeveil: die Chateau Libertas 1957 uit die Winshaw-kelder wat die Amerikaanse dokter en avonturier Bill Winshaw in die vroeë 20ste eeu begin en wat later tot die stigting van Stellenbosch-boerewynmakery gelei het. Die ander toppresteerder is die legendariese GS 1966 Cabernet, wat as een van die seldsaamste wyne in Suid-Afrika gereken word.
Die spogkatalogus bevat ook 'n geskiedenisles. Die senior burger is die Jaubert Muscat d'Alexandrie 1800 wat deur sewe geslagte Jouberts in 'n vat vertroetel en met tussenposes met die heel beste muscat uit Barrydale aangevul word, en as uitblinker onder die nuutstes, Eben Sadie se Columella, 'n aanspraakmaker op die titel beste rooiwyn in Suid-Afrika.
AS jy in kunsveilings belangstel, sal jy waarskynlik verskeie kere per jaar 'n uitnodiging raaklees om in die aanloop tot 'n veiling jou familieskatte vir waardasie aan die Strauss & Co-span voor te lê. Dis wanneer jy daardie skildery wat jy by jou ouma geërf het 'n takserende kyk gee en wonder of dít dalk is waar die kinders se klasgeld of jou volgende oorsese reis vandaan gaan kom.
Maar beteken dit dat jy nou ook daardie bottel rooiwyn wat jy in 1975 vir Kersfees gekry het deur Strauss & Co van die hand kan sit?
Waarskynlik nie, sê Frank.
Soos met kuns is die toestand van die item deurslaggewend, maar anders as kuns, waar mens ten minste die werk van nader kan beskou, kan jy ongelukkig nie 'n slukkie proe om vas te stel of die wyn in jou sideboard by ander uit dieselfde oesjaar kan kers vashou nie.
Die toestand waarin jy die bottel gebêre het, is uiters belangrik. As hy byvoorbeeld in die kattebak rondgerol het of aan son of ander nadelige klimaatstoestande blootgestel is, moes jy hom maar eerder daardie of die volgende Kersfees gedrink het.
Maar as van jou erfstukke wel onder die hamer gaan, of as jy 'n voornemende koper is of net nuuskierig, verskaf 'n veiling 'n ervaring met al die spanning en opwinding van 'n sportwedstryd. Daar is meer as genoeg wedywering onder kopers; soms baklei vyf of ses honde om dieselfde been, of word verwagtinge oorskry en rekordbedrae behaal.
'n Instagram-hashtag is net om die draai; verwag intussen heelwat applous.
Aanlyn veilings, waarmee Strauss & Co plaaslik die voortou geneem het, verskaf nie heeltemal soveel vermaak nie en behaal gewoonlik nie dieselfde prestasies nie. Tog is die prysgaping tussen lewende en aanlyn veilings aan die krimp, veral namate 'n jonger generasie kunsversamelaars tot die stryd toetree. As die internet in die laat 1980's bestaan het, het Frank en Lizelle heel moontlik hulle eerste kunswerk aanlyn gekoop.
DIE eerste veiling wat Frank bygewoon het, was waarskynlik 'n beesvendusie. Hy het op 'n plaas tussen Ottosdal en Lichtenburg grootgeword, en is buiten sy sakebelange as medestigter van die Bright Resources Group, steeds 'n mielie- en beesboer.
Hy deel sy pa se belangstelling in wyn en vintage-motors, maar dis by sy ma wat hy van kuns geleer het.
Soos hyself dekades later, het sy 'n kunswerk met haar heel eerste salaris gekoop. Nadat sy toe Frank 12 jaar oud was haar sig verloor het, was dit sy taak om namens haar te oordeel wanneer 'n rondreisende kunshandelaar die plaas aandoen.
Dis hoe hy geleer het dat 'n boom nie altyd net 'n boom is nie, of 'n berg 'n berg nie; hy moes leer hoe om alles oor 'n kunswerk te verwoord. Soms het hy haar hand gevat om die vorm van 'n objek na te trek, maar hoofsaaklik het hy geleer hoe om na kuns te kyk en hoe om daaroor te praat.
Dis 'n allerbelangrike truuk vir 'n kunsliefhebber wat sy plesier wil deel: Deur op 'n toeganklike manier oor 'n kunswerk te praat kan hy soos destyds op die plaas ander mense help om te sien wat hy sien.
Agterna is niks natuurlik dieselfde nie.
Frank het 'n paar jaar gelede, toe die middeljare-verleentheid van 'n raakrugby-besering hom 'n tyd lank buite aksie gehou het, met Lizelle se aanmoediging self 'n verfkwas in die hand geneem en dit net so gou weer neergesit. Dit was 'n grens wat hy nie wou oorsteek nie.
“Ek verf met prentjies wanneer ek hulle hang,” verduidelik hy. “Ek is nie 'n kurator nie, maar ek skep temas. Elke werk het sy eie energie en party haat mekaar.
“My kreatiwiteit lê in wat ek koop en in hoe ek dit uitstal.”

Die eerste Strauss & Co-wynveiling vind om 15:00 op 8 Junie by die Strauss & Co-kantore in Houghton, Johannesburg, plaas. Dit word voorafgegaan deur werksessies by dieselfde lokaal op 5 en 6 Junie. Die katalogus is reeds by straussart.co.za beskikbaar. Kapenaars kan uitsien na die tweede veiling op 14 September.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X