SOU die Gupta-broers Atul, Rajesh en Ajay ooit by die beskuldigdebank inskuif, sal hulle plek vir Nommer Vier moet maak: Salim Aziz Essa. Hy’s die spinnekop in die middel van die staatskapingsweb vanwaar hy en sy medepligtiges die kluise van die staat se belangrikste geldenjins oopgebreek het: Eskom, Transnet, Denel en ander semistaatsinstellings.
Hierna het Essa, skaars 40 jaar oud, die buit in 'n menigte bankrekenings verbloem, niks anders nie as finansiële rioolpype wat die geld uiteindelik in die wastrog van internasionale finansiering, Dubai, uitgespoeg het.
Essa, wat onlangs deur 'n potensiële sakevennoot beskryf is as 'n “tiener met jeans en All-Stars”, was die Gupta-kader wat rakmaatskappye as platforms vir belastingontduiking en geldwassery moes skep en bankrekenings geopen het om onwettige inkomste te verberg.
Hy gee nie onderhoude nie, wys nie sy gesig in die openbaar nie en daar is min oor hom bekend, behalwe dat hy direksieskappe hou of gehou het in 43 Suid-Afrikaanse maatskappye (van hul voertuie vir staatskaping). Hy besit vermoedelik nog 'n horde maatskappye oor die wêreld heen.
Hoewel Essa uit eie reg 'n stinkryk sakeman is, is sy en die Guptas se sakeryke inmekaar gestrengel en verweef. Hulle het saam 'n president gekoop en 'n nasie se toekoms verkoop.
Essa is glo 17 jaar gelede aan die broers voorgestel en hulle het soos aarbeie en room gekliek. Essa het soos 'n jonger broer vir Atul, Rajesh en Ajay geword.
Essa, die seun van 'n welgestelde groothandelaar, het in Houghton in Johannesburg grootgeword. Hulle was een van die eerste Moslem-gesinne wat in dié spogbuurt gaan woon het. Hy het ná skool in sy pa se voetspore gevolg, maar sy sakebelange wyd uitgebrei.
Dis bitter moeilik om te bereken hoeveel biljoene die Guptas en Essa uit staatskaping gemaak het.
Die hoof van die Valke, lt.genl. Godfrey Lebeya, het in Augustus verlede jaar in die parlement gesê sy manne ondersoek R40 biljoen se Gupta-bedrog wat met staatskaping verband hou.
Die Guptas het ekonomiese sabotasie gepleeg en staatsbeheerde ondernemings (SO) geplunder. Wanneer 'n SO in finansiële verknorsing is (soos Eskom met sy skuld van R419 biljoen), moet die regering hulle red – met jou geld.
Suid-Afrikaners is in die afgelope halwe dekade staatskaping-gaar en syfervoos gedonner. Biljoene klink nou soos miljoene tien jaar gelede.
As mens die R40 biljoen wat die Guptas na bewering in hul sakke gedruk het in R200-note opmekaarstapel, sal dit 5,4 km die hemelruim instrek.
Ons kon hiermee sowat 260,000 subekonomiese huise gebou het, 160,000 bykomende onderwysers vir 'n jaar aangestel het of vir elkeen van ons 17 miljoen ontvangers van maatskaplike toelaes vir ’n jaar lank 'n ekstra R200 per maand betaal het.
Essa die sleutel tot Eskom-kaping
Hoewel die Guptas se persoonlike verhouding met Jacob Zuma goud werd was in die stroop van die semistaatsinstellings, was dit Salim Essa met sy persoonlike kontak met sleutelspelers in dié entiteite wat 'n sleutelrol gespeel het.
Zuma het met die samewerking van die Guptas gesorg dat die regte ministers van staatsbeheerde ondernemings aangestel word (Malusi Gigaba en Lynne Brown), wat op hul beurt gesorg het vir Gupta-vriendelike rade en uitvoerende hoofde.
Eskom was jare lank op die Guptas se lys van geteikende semistaatsinstellings, maar hulle het gesukkel om die elektrisiteitsverskaffer te oorreed om steenkool by hulle te koop.
Dit is tot in Desember 2014, toe Lynne Brown agt nuwe raadslede aangestel het. Essa het 'n direkte sake- of persoonlike verhouding met vyf van die 13 direkteure gehad.
So byvoorbeeld was een van die raadslede, Mark Pamensky, en Essa saam direkteure van Yellow Star Trading 1099. Pamensky was terloops ook op die raad van die Guptas se Oakbay Resources and Energy.
Maar daar was 'n probleem met die Guptas se kaping van Eskom, want die voorsitter, Zola Tsotsi, is as 'n struikelblok beskou. Hy moes gaan.
Die mate waarin die Guptas en Essa die Eskom-raad gekaap het, het tydens die Gupta-leaks na vore gekom. Essa en Nazeem Howa, toe die uitvoerende hoof van Oakbay, het die Eskom-raad se aankondiging dat Tsotsi van sy pligte onthef word, vir hulle geskryf.
Daarna het hulle ook die aankondiging geskryf dat Tsotsi vervang word deur Ben Ngubane. Die Guptas en Essa het nie net insae in Ngubane se aanstelling gehad nie, hy was waarskynlik die kandidaat van hul keuse. Essa was 'n sakevennoot van Ngubane – hulle was saam direkteure in Gade Oil and Gas.
Kort hierna het Brown aangekondig dat Brian Molefe van Transnet na Eskom geskuif word. Hy sou vergesel word deur Transnet se finansiële hoof, Anoj Singh.
Die Gupta-kliek en Molefe en Singh se paaie het vroeër reeds gekruis toe die familie biljoene rande gemaak het uit Transnet se aankope van nuwe lokomotiewe.
Kort ná Molefe se aanstelling het hy 58 oproepe na Ajay Gupta gemaak. Intussen het die waarnemende Eskom-baas Matshela Koko raads- en vertroulike dokumente na Essa gestuur.
Die tafel was gedek vir die totale kaping van Eskom.
Steenkoolmyn-belange
Teen die tyd wat Molefe, Ngubane en Singh hul opwagting by Eskom gemaak het, het die Guptas reeds 'n steenkool-mynmaatskappy besit, naamlik Tegeta, met onder meer Essa en Duduzane Zuma as direkteure.
Verskeie laboratoriums het Tegeta se steenkool verwerp omdat dit te veel swael bevat het. In September 2014 is byvoorbeeld 40% van sy steenkool verwerp, maar Eskom het aanhou betaal en produksie is verhoog van 100,000 tot 200,000 ton per maand. Tegeta het 'n kontrak van R3,8 biljoen gekry vir die lewering van steenkool vir tien jaar.
Met soveel Eskom-besluitnemers in hul sak was die Guptas en Essa se volgende stap om hul steenkoolmynbelange uit te brei. Hulle het hul oog gehad op die Switserse maatskappy Glencore se Optimum-myn.
Eers het Eskom Glencore gedreig met buitensporige boetes omdat hy glo onderpresteer het. Die myn was in finansiële moeilikheid en kon dit allesbehalwe bekostig.
Daarna het die minister van minerale bronne, Mosebenzi Zwane, saam met Essa op die Guptas se private straler na Switserland gevlieg om Glencore se mense te ontmoet en hulle te oortuig om die myn aan Tegeta te verkoop. Zwane het Essa tydens die vergadering met Glencore as sy raadgewer voorgestel. Zwane se adjunk-direkteur-generaal moes buite wag.
Die Guptas het 'n direkte hand gehad in die aanstelling van Zwane, wat as onbekende lid van die Vrystaatse wetgewer skielik aangestel is in een van die belangrikste kabinetsposte. Hy was die mees gekaapte van al Zuma se ministers.
Twee van Essa se sleutelkontake was Kuren Moodley, spesiale raadgewer van Zwane, en Malcolm Mabaso, Zwane se persoonlike raadgewer.
Essa en Moodley is persoonlike vriende en sy vrou, Viroshini Naidoo, was ook op Eskom se raad. Mabaso en Essa was saam direkteure in Premiun Security and Cleaning Services.
Glencore het ingegee en verkoop. Eskom het gehelp om vir die myn te betaal deur vir Tegeta R659 miljoen “vooruit” te betaal vir steenkool. Anoj Singh het vir dié ongewone betaling geteken – dit het die onderwerp van verskeie ondersoeke geword en is as onreëlmatig en onwettig bevind.
Die Guptas en Tegeta (met Essa as 'n direkteur) het steenkoolkontrakte ter waarde van bykans R12 biljoen by Eskom gekry. Dit sluit nie die kontrakte in wat Tegeta by Optimum geërf het nie.
Essa se Trillian Capital Partners het boonop R595 miljoen vir “bestuurs- en adviserende dienste” van Eskom ontvang.
Die voorsitter van Eskom, Phakamani Hadebe, het onlangs gesê dat van sy senior werknemers se verhouding met Trillian die stempel van korrupsie dra deurdat hulle vertroulike maatskappydokumente na Essa smokkel, geheime vergaderings hou en vakansies in Dubai present kry.
Eskom se R659 miljoen is waarskynlik deur Essa in Dubai uitgespoeg en in Februarie 2018 het alle mynaktiwiteite by Optimum tot stilstand geknars. Die werkers is maande lank nie betaal nie en die myn is onder reddingsbestuur.
Essa soos poltergees oor Zondo-kommissie
Essa se vingerafdruk is geëts op een van die Guptas se belangrikste staatskapingtransaksies: Transnet se aankoop van R54 biljoen se lokomotiewe.
Dié week én verlede week het Essa soos 'n poltergees oor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gehang. Getuie op getuie het vertel het hoe hy finansiële “voertuie” by Transnet geskep het wat biljoene rande by dié semistaatsinstelling uitgepers het.
Die getuienis oor Transnet kom teen die agtergrond van 20 forensiese ondersoeke wat die laaste paar jaar by dié semistaatsinstelling gedoen is. Dié ondersoeke beslaan 26,000 bladsye se getuienis.
Die belangrikste Transnet-sondaars is by die kommissie uitgewys as die uitvoerende hoofde Brian Molefe en Siyabonga Gama, en die finansiële hoof, Anoj Singh. Hulle is almal deur Malusi Gigaba aangestel.
Nog 'n sleutelspeler by Transnet was raadslid Iqbal Sharma. Hy was die hoof van die raad se tenderkomitee en het 'n sleutelrol gespeel oor wie die lokomotiewe sou verskaf. Belangriker nog: Sharma was 'n sakevennoot van Salim Essa. Nog twee van Transnet se direkteure het sakebande met Essa gehad.
Die aankoop van die lokomotiewe, bykans so groot soos die wapentransaksie, lê aan die hart van Transnet se verval en die Guptas en Essa se finansiële en morele verkragting van dié entiteit.
Die patroon was dieselfde as by die ander semistaatsinstellings. Die Guptas en Essa het eers hul pionne in topbestuur en op die raad in posisie geskuif. Daarna het dié kliek saamgesweer om groot kontrakte aan die entiteit van hul keuse toe te ken.
Die koste van dié kontrakte sou hierna die hoogte inskiet weens afwykings, inflasie, vertragings of verlengings. Die Guptas se makkers op die raad en in die topbestuur sou toesien dat die semistaatsinstelling dié afwykings en kostevermeerdering gedweë goedkeur. Raadslede of uitvoerende bestuurslede wat hulle teëgegaan het, is uitgeskop.
Die lokomotieftender het uit twee dele bestaan: elektriese en diesel-lokomotiewe. Transnet sou aanvanklik een suksesvolle maatskappy vir elke soort lokomotief aanwys.
China South Rail (CSR) was aanvanklik nie onder die bieërs nie. Essa het met dié maatskappy in gesprek getree en hulle oortuig dat hy hulle kan help om 'n deel van die tender te kry.
Hy het 'n “sakeontwikkelings- en dienste-ooreenkoms” met CSR gesluit waarvolgens hy 21% van die waarde van 'n kontrak met Transnet sou kry. Hy moes nou toesien dat die waarde van die tender verhoog word ten einde plek te maak vir CSR (en later China North Rail).
Brian Molefe het in 2014 aangekondig dat vier pleks van twee maatskappye die lokomotiewe sou voorsien. Hy het verduidelik dat dit sal beteken dat die lokomotiewe binne drie jaar pleks van ses jaar afgelewer sal word. Dit sou geld spaar ten opsigte van inflasie en wisselende valutapryse. Forensiese ondersoeke het later gewys Molefe het snert gepraat omdat ’n aspek soos inflasie reeds by kontrakte ingebou is.
Die koste van die lokomotiewe was aanvanklik R38 biljoen, maar het vermeerder tot R54 biljoen. Die Gupta-vriendelike raad het dit goedgekeur.
Forensiese ondersoeke het ná die tyd die lokomotiewe se koste-inflasie as “onverklaarbaar, onredelik en buitensporig” bestempel en die transaksie self as “korrup, erg opgeblaas en onvanpas vir Transnet se behoeftes”.
Sharma het deurentyd die raad se besprekings en besluite aan 'n onbekende e-pos-adres gestuur vanwaar dit na Tony Gupta aangestuur is.
CSR het 'n kontrak gekry vir die lewering van 359 lokomotiewe, ten spyte daarvan dat hul onderhoudskoste hoër as hul mededingers was en Transnet uiteindelik meer sou kos.
CSR het ingestem om Essa 'n “adviseursfooi” van VSA $321 miljoen te betaal vir sy rol om hulle “in te kry”. Die geld is deur middel van honderde individuele betalings gemaak aan 'n Hongkongse maatskappy van Essa en aan Regiment Asia.
Essa en die Guptas het later nog twee kontrakte met CSR geteken wat beteken het dat hulle R5,267 biljoen aan kommissie verdien het.
Maar dit hou nie hier op nie. Raai wat het Molefe voor die raad se neus geswaai om die toename in koste te motiveer? 'n Aanbeveling en studie van die finansiëledienstemaatskappy Regiments Capital.
'n Forensiese ondersoek deur Werksmans het die gehalte van Regiments se werk as “absurd, verkeerd en erg misleidend” bestempel.
Transnet het Regiments 'n konsultasiefooi van R285 miljoen betaal. Nog 'n Essa-konsultasiemaatskappy, Trillian, het R46 miljoen ontvang. Dié maatskappy, wat soos 'n ontsteekte puisie kop uitsteek waar die Guptas en Essa ook al gaan, was 'n Gupta-front. Vanaf 2012 tot 2015 was Regiments die Trojaanse perd waarmee die Guptas en Essa die geldkluise van die semistaatsinstellings ingegalop het.
In dié paar jaar het Regiments honderde miljoene rande uit konsultasiekontrakte met Transnet, SAA en Denel verdien.
“Toe ek laas gekyk het, het Essa 'n netjiese R3 biljoen ingesamel vir sy moeite,” het die voorsitter van Transnet, Popo Molefe, verlede week aan die Zondo-kommissie gesê.
Nie sleg nie vir iemand wat bloot 'n (korrupte) saketransaksie gefasiliteer het nie.
Troebel wêreld van wapenhandel
'n Gewese uitvoerende hoof van Denel, Riaz Saloojee, het in Maart aan die Zondo-kommissie vertel dat die destydse minister van staatsbeheerde ondernemings, Malusi Gigaba, hom opdrag gegee het om na die Guptas “om te sien”.
Saloojee was perfek vir die pos. Hy was 'n lid van die ANC se militêre vleuel en was op 34 'n kolonel. Hy was daarna die grootbaas van SAAB Grintek Technologies, wat hy met groot sukses bestuur het. Saloojee, wat in 2011 aangestel is, is in 2015 van sy pos onthef, ten spyte daarvan dat hy aansienlike sukses gehad het om dié beleërde SO om te keer en van bankrotskap te red.
Hy was drie keer by die Guptas nadat Essa hom gebel het en gesê hy het steun van “heel bo af” (hy het verstaan dat dit Zuma moet wees) en dat dit in Denel se belang sal wees dat hy by Saxonwold aandoen. Gigaba was by die eerste ontmoeting en het vir Saloojee gesê dit sal goed wees as Denel iets “saam” met die Guptas kan doen.
By die tweede ontmoeting was Duduzane Zuma en Ace Magashule se seun, Tshepiso, ook teenwoordig.
Essa het Saloojee verseker dat hulle sy aanstelling gesteun het en het prontuit gesê dat Zuma hulle steun. Essa het gesê dat hy en die broers in militêre besigheid belangstel en dat Saloojee hulle moet help om 'n vastrapplek in Asië te kry.
Hy het vir 'n ruk Essa se oproepe geïgnoreer omdat hy besig was om Denel van ondergang te red, maar uiteindelik het hy hom kom haal vir 'n derde ontmoeting in Saxonwold.
Tony Gupta en Essa was in dié ontmoeting en hulle het vir Saloojee met “hoër gesag” gedreig sou hy hulle nie help om militêre sake te doen nie. Hulle wou by hom weet of hy geld wil hê. Saloojee het gesê hy vat nie hul geld nie.
Dit was die einde van sy loopbaan by Denel en hy is van sy pligte onthef.
Die troebel wêreld van internasionale wapenhandel het die Guptas soos 'n handskoen gepas. Hulle het hul oog gehad op die winsgewende Indiese wapenmark. Dié land is die grootste wapeninvoerder ter wêreld.
Essa het ‘n meesterplan gesmee. Dit het in 2013 begin toe hy 'n aandeel gekoop het in VR Laser, ’n Gautengse staalmaatskappy. Een van dié maatskappy se filiale was VR Laser Asia in Hongkong. Dit was 'n leë dop en Essa was die enigste aandeelhouer.
Nadat die raad van Saloojee ontslae geraak het, is Daniel Mantsha as die voorsitter van Denel aangestel. Die Guptas het hom verskeie keer gul in Dubai onthaal en sy uitstaande munisipale rekening van R14,000 betaal. Hulle en Essa het Mantsha oortuig dat hulle VSA $8 biljoen se wapensake in Indië kan doen. Denel en die Guptas het in vennootskap gegaan en Denel Asia gestig, wat deur VR Laser Asia en Denel besit sou word.
In sy aansoek om goedkeuring sê Denel dit is bitter moeilik om in die Indiese wapenmark te kom en dat hulle VR Laser Asia se invloed en kundigheid nodig gehad het. Behalwe: VR Laser Asia was 'n leë dop sonder enige kundigheid!
Hierna het die nuwe sakevennote Denel India gestig, met Krygkor, Denel Asia, die Indiese Andani-groep en 'n Gupta- familielid, Anil Gupta, as die aandeelhouers.
Die Guptas was nog altyd baie naby aan die hoofde van die Andani-groep (hulle was selfs in Suid-Afrika vir die Sun City-troue). Een van hulle word tans in Indië aangekla van belastingontduiking van 750 miljoen Amerikaanse dollar.
Denel se werklike aandeel in Denel India was 'n skamele 25%. Essa het 24% van die aandele besit, Anil Gupta 18% en Adani Enterprises 3%. Uitvoerende hoofde van Denel en raadslede het geweet dat Denel 'n minderheidsaandeel in die maatskappy het, maar dit nietemin goedgekeur.
In 'n normale wêreld sou dit kranksinnig voorgekom het, maar dit wys die genialiteit van Essa. Hy het so amper-amper 75% van 'n Denel-maatskappy bekom sonder om 'n sent daarvoor te betaal.
Die Gupta-leaks wys dat dié plan gesmee is rondom die afdanking van die gewese minister van finansies Nhlanhla Nene en die aanstelling van Des van Rooyen in 2015. Laasgenoemde sou 'n sleutelrol speel in die goedkeuring van dié plan. Lynne Brown het haar goedkeuring vir dié transaksie gegee en drie dae voor Nene se afdanking is dit na die minister van finansies gestuur. Van Rooyen het nooit daarby uitgekom nie.
Hierna het die ingryping van die gewese hoof van die tesourie Lungisa Fuzile gekeer dat Denel 75% van sy aandeel in 'n filiaal weggee en niks in ruil daarvoor kry nie. Die tesourie het gesê die transaksie is onwettig en moet gestop word.
Die Estina-projek in die Vrystaat
Daar is ’n horde ander “skemertransaksies” waarby Essa betrokke was, maar dis waarskynlik gepas om af te sluit met sy rol in die Estina-plaasprojek in Vrede in die Vrystaat.
In Gupta-terme was dit “kleingeld” wat by Estina betrokke was – “net” R220 miljoen.
Die Vrystaatse regering het in 2013 aangekondig dat hulle R220 miljoen gaan bestee om ’n melkplaas van 4,440 hektaar in die Vrede-distrik tot stand te bring wat broodnodige werk aan die verarmde plaaslike bevolking sou voorsien.
Dié projek was onder die leierskap van hul vriend en tóé landbouminister in die Vrystaat, Mosebenzi Zwane, en was deel van die Zero Hunger-program.
Tussen April 2013 en Mei 2016 is R220 miljoen in sewe besendings in die Estina-rekening inbetaal. Die Guptas het net een persent van die geld – R2 miljoen – aan die boerdery bestee. Teen 2016 was Estina bankrot en die melkkoeie was besig om van honger te vrek.
Die geld wat vir Estina inbetaal is, is binne ure onttrek en na ander rekenings oorgeplaas. Dis híér waar Essa se hand duidelik gesien kan word.
Atul Gupa het R10 miljoen gekry.
VRLS Investments, waarvan Essa 'n direkteur was, het R15 miljoen gekry.
Westdawn Investments, waarvan Duduzane Zuma en Tony Gupta direkteure was, het R6 miljoen gekry.
Oakbay Investments het R24,5 miljoen gekry.
Die res van die geld is in agt ander Gupta-maatskappye inbetaal.
Estina het betaal vir die obsene Gupta-troue by Sun City, wat bykans R30 miljoen gekos het.
Die Estina-miljoene is vir altyd weg. Die Guptas het opgepak, besighede gesluit en padgegee na Doebai.
So ook Essa, wat sy huis in Houghton en sy Bentley verkoop het en uitgewyk het na die Verenigde Arabiese Emirate.
Dis een ding om van Eskom of Transnet te steel, 'n ander om geld wat vir die armstes van die armes bedoel is in jou sak te druk.
Essa en die Guptas was nie net gierig en vraatsugtig nie, hulle is moreel en eties bankrot.
As Essa 'n genie is, is dit 'n bose een.
NUUT: Jy kan nou kommentaar lewer op hierdie storie. Gaan na heel onder op hierdie bladsy om jou sê te sê. Ons hoor graag van jou!
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net
vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.
ISSA SCAM
Die staatskaper-genie in die skadu’s
Salim Aziz Essa is die spinnekop in die middel van die staatskapingsweb vanwaar hy en sy medepligtiges die staat se volste kluise oopgebreek het, skryf JACQUES PAUW.
Deel

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.
Deel
-
Deel
Jacques Pauw
JoernalisJacques Pauw is 'n bekroonde joernalis en skrywer. Sy nuutste boek is Our Poisoned Land.