Vra vir Pappie oor TZ se bloed aan sy hande, Duduzane

ZUMA-MITOLOGIE

Vra vir Pappie oor TZ se bloed aan sy hande, Duduzane

In 2020 het Jacob Zuma en sy seun Duduzane in 'n reeks uitsendings op YouTube genaamd Zooming with Zumas vertel van die voormalige president se dae in ballingskap en op Robbeneiland. Maar die een hoofstuk in sy lewe wat die twee nié bespreek het nie, is Jacob Zuma se rol in die dood van Thami Zulu, 'n Umkhonto we Sizwe-bevelvoerder, in Lusaka in 1989. MAX DU PREEZ het dié skandaal al 25 jaar gelede nagevors en op 5 Junie verlede jaar weer daaroor geskryf.

ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

THAMI ZULU was die nom de guerre van Muziwakhe Ngwenya – seun van 'n prominente Soweto-familie, albei sy ouers was skoolhoofde – wat in 1954 gebore is. Hy was in 'n elite-skool in Swaziland (Eswatini) en was 'n universiteitstudent voor hy in Desember 1975 by Umkhonto we Sizwe (MK) aangesluit en die naam Thami Zulu aangeneem het.

Ngwenya was 'n welsprekende, besonder intelligente, aantreklike jong man en ewe tuis in Engels as in Zoeloe wat hom tussen die MK-rekrute laat uitstaan het.

Die MK-bevelvoerders Joe Slovo en Chris Hani het sy potensiaal raakgesien en hom in 1979 na 'n vergadering van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty se sentrale komitee in Oos-Berlyn genooi, waar hy die jongste afgevaardigde was.

Hy is toe in die Sowjetunie opgelei en is daarna as stafhoof van die MK-basis in Novo Catengue in Angola aangestel.

In 1983 is hy in die strategiese pos van bevelvoerder van MK se “Natal machinery” aangestel, gebaseer in Swaziland.

Sy aanstelling is heftig deur twee senior MK-leiers – Moses Mabhida en Jacob Zuma, albei Zoeloe-tradisionaliste – teengestaan. Hulle wou iemand uit die provinsie self aanstel eerder as 'n jong “clever black” uit Soweto.

Ngwenya se statuur het egter gegroei en MK-leiers soos Hani en Ronnie Kasrils het selfs van hom as 'n toekomstige MK-stafhoof gepraat. Hy was een van die komiteevoorsitters by die ANC se Kabwe-konferensie in 1985.

Maar Ngwenya het gou die slagoffer van die intense magstryd tussen die gevreesde NAT (die ANC se nasionale departement vir intelligensie en sekuriteit) en die militêre leierskap geword. NAT het die blaam vir die opstande in MK-kampe in Angola in 1984 gekry en nuwe leiers is in 1987 aangestel, met Joe Nhlanhla as hoof van sekuriteit en Zuma as hoof van intelligensie.

Ngwenya se nuwe aanstelling was 'n moeilike pos. Ná Suid-Afrika se Verdrag van Nkomati met Mosambiek in 1984 was Swaziland nou MK se afspringplek na Natal en die Witwatersrand. Die veiligheidspolisie het dié aanslag kwaai geteiken en boonop was die Swazi-polisie onder druk om met die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte saam te werk.

Ngwenya se voorganger is deur die veiligheidspolisie tereggestel nadat hy deur 'n spioen verraai is. Dit het gou duidelik geword dat Ngwenya se eenheid nóg polisiespioene gehad het en verskeie insurgente is gou in hegtenis geneem.

NAT het sy adjudant, Ralph “Fear” Mgcina, aangehou en na Lusaka geneem. Volgens Stephen Ellis se boek External Mission: The ANC in Exile, het hy erken dat hy vir die polisie gewerk het. Hy is in Mei 1988 ná ernstige aanranding deur NAT-agente in aanhouding dood.


Opgesluit en toegang geweier

Toe nege MK-soldate in Junie 1988 in 'n lokval net duskant die Swazilandse grens doodgeskiet is, is Ngwenya deur Zuma en Nhlanhla na Lusaka ontbied en summier opgesluit.

Die MK-leiers Hani en Joe Modise het dadelik vermoed dat dit 'n NAT-magskuif was, maar Zuma en Nhlanhla het hulle toegang tot die aangehoudene geweier en wou nie sê op watter inligting hulle gereageer het nie.

Ngwenya se pa, Philemon, het in Desember 1988 Lusaka toe gevlieg om oor sy seun se aanhouding navraag te doen. Zuma en Nhlanhla het hom toegelaat om sy seun te sien, wat toe nog fiks en gesond was. Hulle het gesê hy gaan gou vrygelaat word omdat geen getuienis teen hom gevind kon word nie.

Maar hy is nie vrygelaat nie. Eerw. Frank Chikane, toe van die SA Raad van Kerke, het die aanhouding ondersoek en regstreeks by Oliver Tambo, leier van die ANC, aangedring dat hy vrygelaat word. (Chikane se broer, Abbey, was 'n senior NAT-offisier, maar ek kon nooit vasstel of dit enige verband met die drama gehad het nie.)

Ngwenya sr. het weer Lusaka toe gevlieg, maar dié keer wou NAT hom nie toelaat om sy seun te sien nie en hy is onverrigtersake terug Johannesburg toe.

Rondom dié tyd het Ngwenya 'n dokument van vyf bladsye opgestel waarin hy enige bande met die veiligheidspolisie ontken het, maar erken het dat hy sekere foute as leier gemaak het. Hy is intussen na NAT se gebou, White House, in Lusaka oorgeplaas.

Volgens Ngwenya sr. en sy vrou se getuienis voor die Waarheid-en-versoeningskommissie in 1996 het Ngwenya se vrou hulle in dié tyd gebel en gesê hy is in eensame aanhouding in 'n sel, word gemartel en is baie siek. Hy het 'n boodskap na Modise en Hani uitgesmokkel gekry waarin hy gesê het hy “vrees vir sy lewe”.

Laat in 1989 het Ngwenya sr. weer na Lusaka gevlieg. “Hoekom is ek vir 18 dae nie deur mnr. Zuma toegelaat om my seun te sien nie?” het hy aan die WVK gevra. “Selfs onder die wreedste regime, die apartheid-regime, kon gevangenes besoekers ontvang.”

Zuma het geweier om hom te woord te staan. Ngwenya sr. sê 'n wag by die selle, Sindiso Mfenyana, het vir hom gesê hy kan net sy seun sien as Zuma self toestemming gee.


Vrygelaat net om te sterf

Ngwenya is op 11 November 1989 ná 14 maande in aanhouding in opdrag van Tambo se kantoor vrygelaat. Kort daarna het Chikane sy pa in Soweto gebel en gesê hy moet Lusaka toe gaan, want sy seun is vrygelaat, maar is baie siek en het hom nodig.

Ngwenya sr. het aan die WVK gesê die ANC het sy seun, teen dié tyd “’n bag of bones”, vrygelaat en, pleks daarvan om hom na 'n hospitaal te neem, op straat gelos waar hy na homself sonder enige steun moes omsien. Ngwenya het vyf dae later gesterf.

In die eerste van verskeie ondersoeke ná sy dood het die ANC bevind dat hy MIV-positief was en aan tuberkulose gely het, maar weens vergiftiging oorlede is. Hy het glo 'n gif met die naam Diazinon saam met 'n bottel bier ingekry.

Ngwenya se ma het voor die WVK getuig die ANC het nooit met hulle oor hul seun se dood gepraat nie. Sy het gesê haar seun het vir hulle vertel dat daar “bad blood” tussen hom en Zuma was. (Luister hier na Ngwenya se ouers se getuienis voor die WVK.)

Die militêre vleuel van MK het haar seun deurgaans ondersteun en nooit sy lojaliteit in twyfel getrek nie, het sy gesê. Die mense wat hom vervolg het, was 'n “klein kliek” binne die sekuriteitsdepartement.

Ralph Mgijima, 'n ANC-lid in Lusaka in wie se huis Ngwenya ná sy vrylating gaan bly het, het later gesê Ngwenya wou nie hospitaal toe gaan nie, “want hy het vir my gesê die ouens by intelligensie sou hom daar doodmaak”.

Ngwenya sr. het net ná sy getuienis voor die WVK aan my gesê: “Ek blameer Jacob Zuma en Joe Nhlanhla vir my seun se dood.”

Ngwenya is in November 1989 in Swaziland begrawe. 'n Boodskap van Modise en Hani wat voorgelees is, het gelui: “The glorious army of our people salute you. We remember your efficiency and competence. We recall with sheer pride and emotion this giant and gallant fighter.”

In Mei 1990 het die ANC se nasionale uitvoerende komitee Ngwenya se lewe geloof en gesê daar was nooit enige sprake daarvan dat hy vir die vyand gewerk het nie. Voor die WVK het die ANC ontken dat Ngwenya gemartel of swak behandel is. Hulle het selfs voorgegee dat hy nooit in 'n tronk was nie, slegs dat hy bloot “afsonderlik van die res van die bevolking gehuisves is”.

Maar Paul Trewhela, ook 'n joernalis en veteraan van die ANC se ondergrondse strukture asook die skrywer van Inside Quatro: Uncovering the Exile History of the ANC and SWAPO, sê Ngewenya is as 'n “groot, goed geboude, effens oorgewig persoon” aangehou en het “maer, verswak en amper onherkenbaar” uit die selle gestap.

Adjunkpres. Thabo Mbeki het destyds aan die WVK gesê ANC-intelligensie het geglo Ngwenya is deur agente van Pretoria vergiftig nadat hy vrygelaat is. (Ek onthou nog die verontwaardiging van my ANC-vriende oor dié belaglike uitspraak – in sy toestand was Ngwenya geen gevaar vir Pretoria nie.)

Daar was egter geen ondersoek deur ANC-intelligensie hierna nie. Volgens Ngwenya sr. het net 'n paar mense toegang tot hom gehad in die vyf dae tussen sy vrylating en dood. Nie een van die mense is ondervra nie.

“Hoekom wil die ANC nie uitvind wie TZ vergiftig het nie?” Die ANC-veteraan Pallo Jordan, wat self ses weke lank in Lusaka deur NAT aangehou is, het in 1991 in 'n brief aan Nhlanhla geskryf dat daar nooit ’n geloofwaardige verklaring vir Ngwenya se dood was nie. (In 'n nota by die brief vra hy dat 'n afskrif daarvan aan Nelson Mandela gestuur word.)

Nhlanhla was later adjunkminister van intelligensiedienste in Mandela se kabinet en minister van staatsekuriteit in Mbeki s’n. Ek het in 1996 vir hom pertinent gevra om Ngwenya se aanhouding te verduidelik, waarop hy my kil in die oë gekyk en gesê het: “Dit is 'n interne ANC-saak; dis nie jou besigheid nie.”


‘Slagoffer van paranoia en histerie’

Chris Hani was een senior MK-lid wat aan Ngwenya se onskuld geglo het en hy het destyds herhaaldelik teen sy aanhouding beswaar gemaak. In Mei 1992 het hy aan Vrye Weekblad gesê Ngwenya was die slagoffer “van paranoia en histerie oor die regime se vermoë om agente in te stuur”.

Hy het later in 'n onderhoud met Philip van Niekerk, 'n oudredakteur van The Mail & Guardian, gesê: “TZ se aanhouding is nooit met ons bespreek nie. Ons reaksie was een van bitterheid en dit het tot 'n gespanne verhouding tussen die leër en sekuriteit gelei. Sekuriteit was baie magtig – dit het die mag van lewe en dood gehad. TZ se dood is 'n oordeel oor die metodes wat ons teen verdagtes gebruik het; die rekord van mense en die sienings van dié naaste aan hulle is geïgnoreer.”

Gavin Evans, 'n oudjoernalis wat destyds in die ANC se ondergrondse strukture gewerk het, sê hy was kort ná Ngwenya se dood in Lusaka en niemand wat saam met Ngwenya gewerk het, het vir 'n oomblik geglo dat hy 'n apartheidsagent was nie.

Trewhela reken dit is moontlik dat die Lusaka-besoek in Januarie 1990 van Walter Sisulu, Govan Mbeki en ander Robbeneiland-gevangenes wat op 15 Oktober 1989 vrygelaat is, 'n motief vir die moord op Ngwenya kon gewees het. Hy moes uit die weg geruim word voordat hy oor sy aanhouding en behandeling met hulle kon praat, sê hy. “Die vuil wasgoed moes weggesteek word.”

Ek het geen bewyse dat Zuma enigiets met Ngwenya se vergiftiging te make gehad het nie. Daar is wel oorgenoeg geloofwaardige getuienis dat hy Ngwenya as 'n bedreiging gesien het; dat hy 'n primêre rol in sy aanhouding gespeel het; dat hy, volgens die wag Mfenyana, in beheer van die aanhouding was; dat hy as die hoof van intelligensie sonder twyfel deeglik bewus was daarvan dat dit binne 'n maand of wat ná sy aanhouding duidelik was dat daar nie 'n greintjie getuienis teen Ngwenya was nie; en dat hy te alle tye van Ngwenya se fisieke agteruitgang geweet het – sy kantoor was nie ver van waar Ngwenya aangehou is nie.

Dit is ook oorgenoeg feitelike getuienis dat een van Ngwenya se vertrouelinge, Thabo Twala, 'n paar weke ná Ngwenya se dood deur mense onder Zuma se bevel in die ANC se selle in Lusaka doodgeslaan is.

Zuma het konsekwent die laaste 30 jaar geweier om enigiets, maar enigiets, oor die geval Ngwenya (oftewel Thami Zulu) te sê – nie eens om te verduidelik hoekom hy as hoof van intelligensie geen ondersoek gelas het na wie dan vir Ngwenya vergiftig het as dit kwansuis die werk van apartheidsagente was nie.

Zuma, meer as enige ander ANC-leier van die tyd, moet verantwoordelikheid neem vir die dood van – die moord op? – 'n jong man wat 'n groot toekoms in die ANC en dalk in demokratiese Suid-Afrika gehad het.

Gaan vra pappie 'n bietjie uit oor Thami Zulu, Duduzane, as jy regtig wil weet wie en wat jou pa was en is.


Naskrif

In Episode 7 van Zooming with Zumas sê Zuma regters het besluit hy is skuldig voor hy verhoor word. “Reg en geregtigheid in Suid-Afrika vandag is 'n probleem. Ek het 'n gevoel, en ek dink dit is korrek, dat daar sekere howe is waar my saak voorkom, hulle houding is amper dieselfde as wat ek deurgegaan het as 'n vryheidsvegter tydens apartheid, en nou as 'n vry man in die demokratiese tyd. Dit is amper 'n gegewe dat, as jy na sekere howe toe gaan, kan Jacob Zuma nie 'n saak wen nie. Sommiges op die regbank het verklaar dat Zuma nooit in saak in my hof sal wen nie,” verklaar hy.

Luister hier daarna – die verwysing na die regbank begin by 28:00

  • Hierdie artikel is die eerste keer op 14 Julie 2021 in VWB gepubliseer.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.