ONTMOET Homo luzonenzis. ’n Susterspesie van die moderne mens wat so onlangs as 50,000 jaar lede op die Luzon-eiland in die noorde van die Filippyne geleef het.
Hulle baie klein tande en ander bene is ’n mosaïek van kenmerke tussen moderne mense en die bekende hominiede (Australopitchecus) van Suid-Afrika en elders op die vasteland, wat tussen twee en drie miljoen jaar gelede hier voorgekom het. Dié nuwe spesie is ’n mengsel tussen die moderne en primitiewe.
Dié aankondiging is Woensdagaand (10 April 2019) in die vakjoernaal Nature gedoen nadat ’n internasionale span kundiges sedert 2007 in die Callao-grot op die eiland werksaam is. Destyds het hulle ’n voetbeentjie in die grot gekry.
Intussen het hulle nog 12 fossiele van drie individue gevind, en dit was genoeg om te bepaal dat dié hominied ’n nuwe hominiedspesie is.
Dr. Florent Détroit, die hoofnavorser van die werk en verbonde aan die Nasionale Natuurhistoriese Museum in Frankryk, het per e-pos gesê geen ander hominied van die genus Homo, waaraan die mens ook behoort, se eienskappe vergelyk het die nuweling nie. Die tande, hand- en voetbeentjies en ’n femur wat gevind is, is anatomies uniek, en dié kombinasie van kenmerke maak van hulle ’n eie spesie.
Die hand- en voetbeentjies wys ’n kurwe, volgens die studie, en dit dui daarop dat hulle ’n deel van hulle tyd geklim het. Dit is beduidend, met inagneming van die minimum ouderdom van 50,000 jaar.
Dit is moontlik dat hulle kleiner gebou was, sowat 1.1 meter lank. Dit is die tweede oerdwergspesie wat op ’n eiland in Suidoos-Asië ontdek is. In 2004 is die fossiele van die hominied met die bynaam die Hobbit (Homo floresiensis) op die Indonesiese eiland Flores opgegrawe. Hulle het ook tot sowat 50,000 jaar gelede geleef en was ook klein.
Dit is heel waarskynlik dat die nuwe spesie van Homo erectus afgestam het omdat hulle oral in die ooste en suidooste van Asië voorgekom het, nadat hulle meer as ’n miljoen jaar gelede uit Afrika gemigreer het. Óf hulle is die nasate van hominiede wat 700,000 jaar gelede op die eiland was wat ons nog nie ontdek het nie, het Détroit gesê.
Dit is omdat die kenners op ’n nabye terrein klipgereedskap en die fossiele van renosters gevind het wat geslag is. Dit kon tot 700,000 jaar gelede dateer word.
Hoe het hulle op die eiland gekom? “Dit is baie moontlik dat groepies daarin geslaag het om die see oor te steek. Nadat hulle van die aanvanklike bevolking geïsoleer was, het hulle genetiese variasie verloor. Dit veroorsaak gewoonlik vinnige veranderinge in kenmerke wat aansienlik verskil van dié wat op die vasteland agterbly.“Ons het nou baie meer bewyse dat Homo erectus wel intelligent genoeg was om doelbewus te reis, en die reise was nie per toeval nie. Nog ’n belangrike ding om te onthou is dat dit nie op lang termyn volhoubaar is dat klein groepies mense hulle op ’n eiland kan vestig nie. Verskeie groepies moet gereeld oor ’n baie lang tydperk arriveer. Dit is om ’n vestiging te stig met genoeg (genetiese) stigters,” verduidelik Détroit.
Prof. Lee Berger, ʼn paleontoloog van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het by navraag gesê: “Dít is baie belangrik, want hulle is nie net nóg ’n nuwe spesie die laaste klompie jare nie; hulle het baie lank gelede beduidende seereise onderneem.
“Dit is nogal iets om jou kop daarom te kry dat ’n ander spesie as ons sulke reise kon onderneem. Hulle tree op soos moderne mense, maar is nie ons nie. En tog was hulle saam met ons hier, ander komplekse wesens.”
Prof. John Hawks, ʼn antropoloog aan die Universiteit van Wisconsin-Madison, het ook by navraag gesê: “Dit is nog te gou om te bepaal presies waar hulle op ons familiestamboom sit. Die ontdekking van die klipgereedskap en die renosters wat geslag is 700,000 jaar gelede, wys die potensiaal dat ’n baie vroeë hominiedbevolking Luzon en ander dele van die Filippyne bereik het. Of dit dieselfde bevolking van die nuwe spesie van die grot is, weet ons nog nie. Daar kom talle verspreidings van menslike voorsate oor baie van die eilande heen gewees het, en ’n mens kan niks weglaat nie.”
Dit is al jare lank bekend dat die moderne mens tussen 80,000 en 60,000 jaar gelede uit Afrika na Eurasië gemigreer het. Voor hulle het Homo erectus Afrika sowat 1.5 miljoen tot 2 miljoen jaar gelede verlaat. Nadat die genoom van die Neanderdalmense gekarteer en verfyn is, is gesien ons en hulle het wel met mekaar gekruisteel. Alle mense wat vandag leef wat van Europese afkoms is, het tussen 1% en 6% Neanderdalgene.
Kort nadat dit in 2010 bevestig is, het die prentjie meer kompleks geraak. Nóg ’n argaïese spesie op die mens se stamboom is ontdek: die Denisova hominins (of Denisovane) van die Altai-berge in Siberië naby die hedendaagse Russiese grens met Kazakstan, China en Mongolië. Hulle het sowat 200 000 jaar lank daar geleef.
Die Denisovane, wat ook aan die genus Homo behoort, was die eerste hominiedspesie in die geskiedenis wat nie volgens die tradisionele taksonomie beskryf is nie, maar met net met DNS-analise.
Daar is intussen bevind dat ons met hulle gekruisteel het. Hulle het met die Neanderdalmense gekruis, en ons met die Neanderdalmense. Dit was ’n hele mengsel van gene na drie kante toe. Die spore van hibriede loop sterk tussen menslike spesies.
Dit blyk mense van hedendaagse Asië het tussen 3% en 5% van hulle gene van die Denisovane ontvang, asook tot 5% van Neanderdalvoorsate.
Berger, wat self tussen 2008 en 2013 twee nuwe hominiedspesies in Suid-Afrika gevind en beskryf het – die ouer Australopithecus sediba en die jonger Homo naledi – het gesê: “Sowat tien jaar gelede het ons niks van al die ander spesies geweet nie. Ons het gedink dit was net ons en die Neanderdalmense wat saam in een stadium op die planeet was. Nou moet ons bepaal wie was aan wie verwant, en wie het al die klipgereedskap gemaak, want ons kan nie meer aanvaar dit was ons nie.”
In die Wieg van die Mensdom in Gauteng is duisende fossiele van Homo naledi in twee afsonderlike grotkamers van die Rising Star-grotstelsel gevind. Dié fossiele, waarvan minstens 18 individue tussen 335 000 en 236 000 jaar oud is, is jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë moderne mense in Suid-Afrika op die grasvlaktes kon gewandel het.
Hulle het die donker, afgeleë plekke gebruik om hulle dooies te plaas. Daar is geen bewyse van trauma, siekte, roofdiere of enige uitwissingsgebeurtenis nie, en geen ander ingang nie.
“Homo naledi se brein is klein, maar ons kan nie meer aanvaar ’n klein brein beteken nie baie nie. Die brein is klein, maar sy gedrag was in baie opsigte soos dié van ’n moderne mens,” sê Berger.
Volgens Hawks is daar “nog baie meer antieke groepe mense en menslike familielede om te vind. Wat ons die afgelope 15 jaar ontdek het, is dat ons familie ook veel meer aanpasbaar was as wat ons gedink het. Elkeen het hulle eie manier gehad om in die wêreld te oorleef. Die prentjie van hoe die wêreld 50 000 jaar en langer gelede daar uitgesien het, is kompleks en interessant.”
“Dit is ’n baie opwindende tyd. Met al die ander spesies wat gevind word, is dit tyd dat ons ons eie uniekheid bevraagteken,” sê Berger.
Bronne: Nature (30 Januarie 2019); A Parietal Fragment from Denisova Cave. (American Association of Physical Anthropologists annual meeting, Cleveland, 28 Maart 2019); Nature (22 Februarie 2018); Nature (10 April 2019)
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.