Die verlore Boerseun van Mumbai se krotte

TUSSEN KAKKERLAKKE EN ROTTE

Die verlore Boerseun van Mumbai se krotte

Help my, ek is vasgekeer in Mumbai en het niks en niemand nie, was die noodkreet van die 28-jarige Victor van Niekerk aan JACQUES PAUW.



DIS vroegoggend in Mumbai, Indië se grootste metropool en die wêreld se twaalfde rykste stad. Dis ook een van die planeet se mees besoedelde plekke en die oranje-rooi son sukkel om sy kop deur die rooksluier te steek.
In die Sankash Nakar-krotbuurt, vasgeknyp tussen pasgeboude toringgeboue in die noordooste van dié stad van 22 miljoen siele, het die rotte vir die dag in hul gate gekruip en die muskiete het uitgewyk na hoër grond, waar 'n paar bokke 'n verlore stryd voer teen rommel en menslike uitskot wat teen die sinkgehuggies opdam.
Die strate ruik na riool. Afvalwater kabbel in kanaaltjies in die doolhof van stegies en straatjies af voor dit uiteindelik in een van Mumbai se septiese riviere stort.
Die dag begin grys. Die lug is grys. Die sinkplate en beton is grys. Die wolkekrabbers aan die kante van die krotbuurt vertoon grys. Die bome en plante is bedek met 'n laag grys stof. Sankash Nakar is soos 'n grys stedelike reënwoud van sink en beton met 'n grys koepel van rook en mis.
Die singels wat deur die buurt vleg word naderhand so smal dat jy jouself deur die sinkplaatmure moet druk om by die hokkies te kom waar families en immigrantewerkers vir suurstof en oorlewing kompeteer.
Higiëne is verskriklik. Maklik 250 mense deel 'n kraan of 'n toilet. By van die toilette kos dit 'n sent of twee om te nommer twee.
Mense hoes en spoeg. Diarree en malaria is alomteenwoordig en tuberkulose sweef in die klam en bedompige lug.
Teen seweuur blêr die verkeer, vrugte- en groentehandelaars het hul bloedrooi tamaties, spierwit uie en vet groenbone voor die ingang van Sankash Nakar uitgepak en 'n horde kinders in blou en wit uniforms skreeu en babbel hul pad skool toe.
Teen agtuur gee vroue, toegewikkel in kleurvolle sarsies, geboorte aan 'n menigte kiosks in Sankash Nakar se hoofstraat. 'n Reuk van speserye hang in die lug. Daar’s chai (Indiese speserytee), vada pav ('n gekruide aartappel-frikkadel in 'n witbroodrol met 'n verskeidenheid soorte blatjang) en bel phuri (gekruide pofrys en groente met 'n tamarynblatjang).
Min van die gehuggies het kombuise – miskien 'n paraffienstofie – en baie mense leef van straatkos. 'n Vullende versnapering kos 'n roepee of twee (een roepee is 20 Suid-Afrikaanse sent) en 'n maaltyd ʼn bietjie meer.
Dis rondom dié tyd dat 'n ongewone inwoner van Sankash Nakar sy kop by 'n hokkie uitsteek voordat hy uiteindelik in een van die stegies af drentel. Hy is rietskraal, met blonde hare en blou oë. Hy toring minstens 'n kop bo die ander krothonde uit. Kindertjies hardloop hom tegemoet, stop 'n meter weg en gaap hom grootoog aan.
Mense bejeën hom met 'n mengsel van belangstelling en agterdog. In baie dele van Indië, veral in die laer kaste, word ʼn wit man hoog geag as iemand met status en geld.
So wat soek dié nuwe intrekker met sy gekreukelde T-hemp en verslete slingersak in die buurt?
Hy groet vriendelik in Hindi, maar uit respek wil niemand hom vra waar hy vandaan kom en wat hy hier doen nie.
En hoekom bly hy in een van daai sinkhokkies op die straat waar die rotte aan jou tone knaag en die kakkerlakke by jou skoene inkruip?
Die vroue wat elke dag 'n koppie chai en 'n vada pav aan hom verkoop sê hy praat Hindi vlot en gee selfs fooitjies.
Sommige reken hy’s 'n belangrike man wat besig is met groot navorsing.
Ander bespiegel dat hy 'n mensehandelaar is en dat die kinders teen hom gewaarsku moet word.
Dan vertel iemand dat hy elke dag in die park ronddrentel en niks het om te doen nie.
Hy stap stadig met sy vada pav in die een hand by die hoofstraat van die slum af en kom tot stilstand op die sypaadjie buite waar 'n kakofonie van klanke en reuke hom begroet.
Dis die begin van nog 'n dag in Mumbai vir Victor van Niekerk.
Noodkreet uit Mumbai
Vrye Weekblad in sy nuwe gedaante was nog 'n fetus toe ek 'n noodkreet uit Mumbai kry.
Help my, asseblief. Ek is vasgekeer en kan nêrens heen gaan nie. Ek het niks geld nie. Ek het niemand nie. Ek kan doodgaan en niemand sal dit weet nie.
Dit het gekom van Victor van Niekerk, wat gesê het:
Ek is 'n gewese soldaat in die weermag wat in Musina grootgeword het. Ek is 28 jaar oud.
My pa is steeds in die weermag. Hy is 'n kolonel in die infanterie.
Op 4 April 2017 is ek in Mumbai in hegtenis geneem omdat ek epidrien na Suid-Afrika probeer smokkel het.
Hulle het my in 'n verskriklike tronk gegooi waar hulle van my vergeet het. Niks menseregte nie. Ná 14 maande agter tralies het ek borg gekry.
Dit kan baie jare vat om my saak af te handel, en dan kan ek tien jaar tronkstraf kry.
Die regter praat nie met my nie en ek weet nie wat aangaan nie. Ek kom elke twee of drie maande voor en dan word die saak uitgestel.
Die owerhede het my paspoort gehou. Ek het geen identiteits-dokument nie. Dit beteken ek kan nie 'n werk kry nie. In Indië kan jy niks doen sonder 'n ID nie. Ek kan nie eens 'n treinkaartjie koop nie.
Ek is sedert Junie verlede jaar op straat in Mumbai en het nêrens om heen te gaan nie. Ek het eers in die mark gebly.
Nou bly ek in 'n krotbuurt saam met ses Nepalese immigrante. Dis amper so erg soos die tronk. Daar’s nie water of 'n toilet nie. My lyf is vol sere.
Die Suid-Afrikaanse konsulaat in Mumbai sê hulle kan my nie help nie. Hulle het nog niks vir my gedoen nie.
My ma en pa het my ook gedrop en wil niks van my weet nie.
Word ek vir dood hier gelaat?
Kan jy iets vir my doen?
Groete
Victor van Niekerk
Kokaïen, bier, partytjies
Op Sondagoggend 27 November 2016 het Ethiopian Airlines se vlug ET859 van Addis Ababa op O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg aangekom.
Aan boord was Victor van Niekerk, wat die vorige dag met 'n tas vol kokaïen van São Paolo, Brasilië, af gevlieg het.
Dit was Victor se tweede besoek aan dié Suid-Amerikaanse land. Hy onthou die eerste besoek as een van die beste tye van sy lewe. Nadat hy twee dae in 'n hotel gebly het, het die handelaar in Suid-Afrika, Blessing, vir hom laat weet dat ene Frank hom gaan kom haal.
Frank het hom met 'n “Howdee, brudda?” verwelkom en na 'n huis geneem waar hy vir twee weke vir die besending dwelms moes wag. Daar aangekom, wou Frank weet: “Wat kan ek vir jou kry? Bier, 'n paar lyne, meisies?”
“Al drie, seblief.”
“Vandag,” het Frank gesê, “hou ons partytjie.”
Frank het 'n hopie kokaïen – “the real stuff, uncut” – op die tafel uitgegooi en 'n geldnoot in 'n pypie gerol. Toe kom die bier, en kort daarna, 12 meisies.
“Hulle klere was af nog voor hulle behoorlik deur die deur was,” onthou Victor. “Ek’t gedink ek is in die hemel. Ek het drie dae gepaartie en toe vir drie dae geslaap. Toe begin ons van voor af.”
Blessing en die sindikaat het korrupte doeaneamptenare en polisiemanne by O.R. Tambo gehad wat vir hulle gewerk het.
Nadat Victor die smokkeltas in São Paulo ingeboek het, het hy nooit weer daaraan geraak nie. Hy moes terug in Suid-Afrika uit die vliegtuig stap, deur immigrasie gaan en met net sy handbagasie uit die lughawegebou loop.
'n Doeanebeampte het sy tas afgehaal en aan 'n polisieman oorhandig wat dit by die sindikaat in Kempton Park afgelewer het.
Blessing het Victor R30 000 betaal en nadat hy dit óók uitgesnuif en uitgejol het, is hy vroeg in November 2016 terug na São Paolo vir nóg 'n besending dwelms. Hy sê dié keer het hy by 'n ander sindikaat gebly wat glad nie so vrygewig soos Frank was nie.
Op 27 November 2016 het hy, soos die vorige keer, sonder sy tas by die lughawegebou uitgestap. ʼn Dag of twee later het Blessing hom kom sê die dwelms is weg.
“Een van my mense is geskiet toe hulle dit wou kom aflewer,” het Blessing gesê. “As enige iemand jou daaroor vra, ontken net alles.”
Korrupte polisiemanne
Kort nadat twee uniform-polisiemanne by O.R. Tambo uitgery het met Victor se tas in die vangwa, is hulle naby die Emperors Palace-casino deur adjudant-offisier Colbern Mashego van die Valke se dwelmeenheid voorgekeer.
Mashego het glo geruime tyd vermoed dié polisiemanne was kop in een mus met 'n Nigeriese dwelmsindikaat.
Die versterkings wat Mashego ontbied het nadat hy hulle voorgekeer het, was nog nie daar nie. Hy het na die polisiemanne gestap en hul beveel om die vangwa oop te maak.
Niemand weet wat volgende gebeur het nie. Mashego en die een uniform-polisieman is dood agter by die vangwa gekry. Hy het drie koeëlwonde in sy kop en gesig gehad. Sy pistool was nog in sy hand.
Die bestuurder van die vangwa het glo uitgespring en weggehardloop toe hy skote hoor en is later in hegtenis geneem. Hy hou tot vandag toe vol dat hy niks gesien het nie.
Victor se tas was oop en die dwelms was weg.
Die Valke se weergawe van die insident is dat die uniform-polisieman vir Mashego geskiet het en toe homself.
Die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie het in ongeloof geluister hoe die skieter homself twee keer sou geskiet het – een keer onder die ken en een keer teen die kant van sy kop.
Albei skote sou 'n onmiddellike doodskoot wees. Hoe pleeg jy twee keer selfmoord?
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het die ondersoek oorgeneem en meen 'n derde party – moontlik ander polisielede – het die skietwerk gedoen en die dwelms gesteel.
Christo de Jager, 'n Opod-ondersoekbeampte, het ná die tyd vergeefs na Victor gesoek as 'n “persoon van belang”. Hy het Victor se pa in Musina besoek en hom gevra om sy seun te oorreed om met Opod saam te werk. Victor het afsprake gemaak om De Jager te ontmoet, maar dit nooit nagekom nie.
Die ironie is dat die dag toe die Indiese polisie by die Mumbaise lughawe sakke wit poeier in Victor se bagasie kry, hy heel eerste vir De Jager gebel het.
“Help my, seblief” het hy geprewel. “Ek is in groot moeilikheid.”
Hy sê dis tóé dat sy lewe voor hom teruggeflits het.
Boerklong word dwelmmuil
Victor is 'n Boerklong van Musina en seun van 'n weermag-kolonel. Hy sê hy was 'n probleemkind wat niks van skoolwerk wou weet nie, maar in sport uitgeblink het. Hy het eerstespanrugby gespeel; slot, nogal.
Sy jong lewe was een van dros, kattekwaad en pa se pak slae met 'n stuk tuinslang. Hy onthou sy pa as 'n ysere dissiplineerder, maar uiteindelik het dié se weermagpraatjies só 'n indruk op Victor gemaak dat hy self ook ná skool weermag toe is.
Victor het in Januarie 2009 by 1 Infanteriebataljon in Bloemfontein aangemeld vir basiese opleiding. Hy het gekwalifiseer as 'n artilleris in 'n Ratel-gevegsvoertuig – maar toe awol hy.
'n Korporaal het hom sy eerste “lyn” gegee. Hy’t sy tweede lyn self gekoop en eers weer opgehou toe hy die dag in Mumbai in hegtenis geneem is.
Hy het voor daardie dag deur Suid-Afrika geswerf en hier en daar in 'n kroeg gewerk om geld te kry om te snuif en te fuif. Hy was in 'n motorfietsongeluk, het sy vinger verloor en was drie maande in die hospitaal.
Hy het geld by vriende en uit sy pa se bankrekening gesteel. Hy het sy pa gaan sien en met trane in sy oë erken hy’s verslaaf aan kokaïen, khat en crack. Hy’t beloof om op te hou en 'n tweede kans gevra.
Hy het vir 'n paar maande in Dubai gaan werk, maar is weg omdat dit daar te moeilik was om dwelms in die hande te kry. Hy was ʼn kroegman op Rovos Rail, maar is afgedank omdat hy aan diens gedrink het.
Toe ontmoet hy vir Blessing, en kort voor lank was Victor op pad na São Paolo.
Van tronk-hel na straat
 Mumbai se Sentrale Gevangenis – alombekend as Arthur Road-tronk – is een van die 10 bes bewaakte tronke ter wêreld. Die koloniale Britse owerheid het dié tronk in 1926 gebou en niemand het nog ooit daaruit ontsnap nie.
Voordat Victor deur die geel en blou staaldeur van die gevangenis ingery is, is hy vir 'n paar dae deur die polisie se lughawe-intelligensie-eenheid ondervra. Twee dae van slaap-ontneming en 'n paar klappe later het Victor soos 'n kanarie gesing.
Hy het die sindikaat opgegee en etlike handelaars en dwelmmuile is in Delhi in hegtenis geneem. Onder hulle was 'n Suid-Afrikaanse muil, die 73-jarige Jan Harm Herbst. Dié het glo al minstens ses keer vantevore dwelms vanuit Indië na Suid-Afrika vervoer.
Victor het die voorblaaie gehaal van Indiese koerante wat berig het dat hy met 12 kg metakwaloon (Mandrax) met ’n straatwaarde van R8 miljoen in sy tas gekry is.
Hy is formeel aangekla voordat hy met twee broeke, twee hemde, 'n koekie seep en 'n tandeborsel in ʼn oorvol en smerige kommunale sel vir verhoorafwagtendes gesmyt is.

Nuwe aankomelinge slaap in die middel van die sel en moet hulself “opwerk” na die kant van die sel. Om ’n kombers te kry, moet die verhoorafwagtendes wag vir iemand om vrygelaat te word of na die veroordeelde seksie oorgeplaas te word. Dit het Victor ses maande geneem om 'n kombers te kry.
Victor was die enigste wit persoon daar, en nuuskierige oë het hom tot in die middel van die sel gevolg waar die ander vir hom 'n spasie gemaak het.
'n Jong man het hom 'n sigaret aangebied. Hy is daarvan aangekla dat hy sy twee sussies verkrag het. Victor moes styf langs hom om op die barre sementvloer slaap.
Die verhoorafwagtendes word soos sardyne ingepak en lê so naby aan mekaar dat jy jou asem in die persoon langs jou se nek uitblaas. Boonop is Victor 'n hele paar duim oor ses voet (hy is 1,96 m lank) terwyl die gemiddelde lengte van Indiese mans 1,65 m (vyf voet vyf) is.
Hy kon homself nooit uitstrek nie omdat hy dan die ander aangehoudenes, die sogenaamde “voëls”, geskop het. Hy moes 'n manier vind om sy knieë op te trek sonder om die vermeende verkragter in sy rug te knie. Hy het snags met verskriklike krampe wakker geword.
Bewaarders het met knuppels rondgehardloop en dikwels die voëls katswink geslaan. Die toilette was smerig en niks meer nie as 'n paar gate in die grond. In die reëntyd en veral tydens die moeson was alles geblok en menslike oorskot het in die selle rondgedryf.
Elke maal het bestaan uit brood of rys en waterige dhal (gesplete peulgroente soos lensies of kekerertjies met speserye). Victor het 'n geroeste stuk metaal in sy eerste maaltyd gekry.
Ná twee weke het Victor 'n ry opgeskuif – en vir Teddy en Mubarak ontmoet. Eersgenoemde is 'n Nigeriër wat dwelmpille “gesluk” en in sy maag probeer vervoer het, terwyl Mubarak goud uit Indië wou smokkel. Hulle het groot vriende geraak en hom beskerm.
Albei van hulle was etlike jare verhoorafwagtend in Arthur Road. Dis nie vreemd vir 'n saak om vir ses of agt jaar uitgestel te word voordat dit verhoor word nie.
Victor het vir die 14 maande wat hy in Arthur Road was nie 'n woord van sy ouers gehoor nie. Dit het die Suid-Afrikaanse konsulaat in Mumbai ses maande geneem om vir die eerste keer by hom uit te kom. Diplomate het gesê hulle sal hom ondersteun waar hulle kan, maar hy was op sy eie.
Van die tronkvoëls het vir Victor vertel van 'n prokureur wat 'n reputasie het dat hy dwelmbeskuldigdes afkry of regters oorreed om opgeskorte vonnisse op te lê.
Victor het hom by die hof gesien, hom beloof dat sy pa sy rekening sal betaal en dat ’n klomp geld op pad Indië toe was. Ek sal jou saak vat, het die prokureur gesê, maar wees gewaarsku: As jy nie betaal nie, sal jou saak nooit voorkom nie.
Intussen het die staat die poeier in Victor se tas weer getoets. Dit was glo nie metakwaloon nie, maar epidrien, 'n beheerde middel wat gebruik word in die vervaardiging van “speed” en om kokaïen mee te “sny”. Sy moontlike vonnis het verminder van 20 tot tien jaar.
Die regter het hom vrygelaat op die ekwivalent van R10 000 borgtog en 14 maande nadat hy in Arthur Road ingekerker is, was hy terug op Mumbai se strate – sonder om die prokureur te betaal, wat hom waarskynlik nou nog soek.
Dit was in die moeson. Die reën het in emmers oor die stad geval, alles was onder water en vullis het in die strate afgedryf.
Al wat Victor by hom gehad het, was 'n treinkaartjie vir die dag wat die tronkowerhede vir hom gegee het.
Hoe gaan ek hier oorleef? Waar gaan ek slaap? Wat gaan ek eet?
Hy het stasie toe gestap en die trein in die rigting van Crawford-mark geneem, ʼn befaamde vrugte- en groentemark in Mumbai.
Dit sou sy huis word vir die volgende paar maande.
Krotrot in sinkhok
Hy’t eers gedog dis rotte wat die een nag so aan sy tone knaag. Maar toe probeer iemand sy een skoen van sy voet afruk. Hy’t geskop en geslaan en aan sy rugsakkie vasgeklou wat hy by hom gehad het toe hy in hegtenis geneem is. Sy gesig was bebloed, maar ten minste het hy nog skoene gehad.
Hy het vir hom 'n slaapplek bo-op 'n skeepshouer gekry waar hy elke nag ingekruip het. Hy het die mark met 'n horde straatkinders en haweloses gedeel.
Mumbai het 'n geskatte 150 000 haweloses en straatkinders, terwyl 9 miljoen van sy inwoners (sowat 42%) in honderde krotbuurtes of slums dwarsoor die stad woon. Die grootste slum, Dharavi, het 'n miljoen inwoners.
Victor het in die dag deur die stad gestap en – tot die erge verbasing van die inwoners – gebedel. Watter wit man bedel dan nou? Wanneer hy nie genoeg geld vir straatkos gekry het nie, het hy op die mark se vullishoop vir ’weggegooide vrugte en groente geaas.
Hy het werkies gesoek, maar almal wou eers sy paspoort sien. Jy kan nie 'n langafstand-treinkaartjie koop sonder 'n identifikasiedokument nie. Of 'n gatjie in 'n krotbuurt huur nie. Of hospitaal toe gaan as jy siek is nie.
Ná die voorval met sy skoene het hy by Mumbai se befaamde Central Station gaan slaap, totdat hy een nag met 'n mes teen sy keel van sy rugsakkie en besittings beroof is.
Hy is na die Suid-Afrikaanse konsulaat, waar hy sy pa gebel het. Ek kan nie meer nie, het hy gesê. My lyf is vol sere en ek is uitgeteer. Ek wil nie môre sien nie. Ek wil nie wakker word nie. Dis verby. Ek is klaar.
Sy pa: Wat wil jy hê?
Victor: Ek het niks.
Sy pa: Ek sal geld stuur.
Sy ma, pa en broer het elk R1 000 gestuur. Hy kon vir homself beter klere koop, het 'n werkie in 'n kroeg en 'n slaapplek in 'n krotbuurt saam met ses Nepalese immigrante gekry. Hy het vir hom 'n kussing en kombers gekoop.
In Februarie het hy nagwerk by 'n wafelwinkel gekry. Die geld is min, maar dis minstens iets.
Twee weke gelede is hy uit die eerste krotbuurt (waar hy saam met die Nepalese gebly het) geskop omdat hy nie 'n ID het nie.
Hy het toe vir hom die sinkhokkie in Sankash Nakar gekry.
Hy het vandeesweek vir my 'n foto van sy nuwe blyplek gestuur.
“Kan jy dink ek moet vir nog jare hier bly?” het hy gevra.
Brandmaer, siek en stoksielalleen
Ek het vier dae saam met Victor in Mumbai deurgebring. Ek en hy het vir baie, baie ure gepraat en in die stad rondgestap.
Hy is 'n innemende en intelligente jong man wat die pad byster geraak het en nou bitterlik swaar vir sy foute betaal. Daar was geen teken van dwelms nou by hom nie en ek glo hy is gerehabiliteer en wil iets van sy lewe ’maak.
Met my terugkeer na Suid-Afrika het ek vir sy pa, kol. Victor van Niekerk, en sy ma, Elna van Niekerk, briewe geskryf waarin ek gesê het dat Victor 'n nuwe begin gemaak het.
Julle seun het julle hulp meer as ooit nodig, het ek gesê. Hy kry bitter swaar en as iemand hom nie help nie, is daar 'n kans dat hy kan doodgaan. Hy is brandmaer, sy lyf is vol sere en ek is baie besorg oor sy gesondheid.
Kol. van Niekerk het nooit geantwoord nie, maar vir Victor 'n boodskap gestuur dat hy hoop Vryeweekblad.com betaal hom goed vir sy “sappige storie” (ons betaal hom nie) en dat hy moet ophou om sy ouers die varke in die verhaal te maak.
Ek gaan nie alles herhaal wat sy ma vir my gesê het nie, maar haar reaksie het begin met: “Ek is nou so kwaad dat ek 'n pofadder oopmond kan soen.”
Sy het gesê: “Ja, hy is ons vlees en bloed, maar hy het die besluit gemaak om self op die ashoop te gaan klim. Nie ek of sy pa het hom daar gegooi nie.”
Victor van Niekerk is alleen in Mumbai.
Stoksielalleen.
HOOFFOTO: Victor van Niekerk in die Sankash Nakar-krotbuurt in Mumbai waar hy woon. JACQUES PAUW

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.