OP 'n grou laatwintersmiddag 'n paar weke gelede stop 'n Bentley voor die gotiese Church of the Immaculate Conception in 'n stil straat in Mayfair, Londen se eksklusiefste en duurste buurt. 'n Chauffeur help 'n bejaarde man in 'n beige jas uit die motor. Hy het 'n sagte vilthoed op sy kop en kon 'n karakter in 'n John le Carré-boek wees.
Die man skuifel die kerk binne, waar 'n groot groep mense – van hulle met militêr-stywe rûe en baie met gepoleerde adellike aksente – 'n gedenkdiens bywoon vir iemand wat in 'n hospitaal in Harrismith in die Vrystaat dood is.
Nigel Morgan was 64 jaar oud toe hy in November verlede jaar oorlede is. Hy was een van die bedrywigste geheime agente, of kom ons noem hom wat hy was, 'n spioen, in die skaduwêreld van intelligensie in Suider-Afrika. Dalk in die ganse Afrika.
Morgan was 'n verkreukelde George Smiley eerder as 'n James Bond.
In die Van Reenen-omgewing in KwaZulu-Natal, waar hy die laaste 25 jaar op 'n plaas in die vallei gebly het, was hy bekend as 'n joviale en vrygewige figuur. Sy gesig was rooi, 'n kombinasie van die ongenadige Afrika-son op sy Ierse vel en die whisky wat gevloei het tydens die legendaries oordadige maaltye wat hy graag voorgesit het.
Hy was eksentriek, kon vloek soos 'n matroos en was “bebliksem”, vertel vriende, 'n karakter uit 'n storieboek wat meer as lewensgroot was. Tog het die tieners in die omgewing hom aanbid (van hulle het sy gedenkdiens in Londen bygewoon) en was hy 'n “lopende ensiklopedie” met 'n magdom kennis, en 'n bobaas-storieverteller.
Amptelik was Morgan 'n politieke konsultant, maar hy het vir lang rukke “vir sy werk” verdwyn.
En dan was daar die stroom internasionale en vername mense wat by dié Ierse Brit in die vallei aangedoen het: presidente (onder wie dié van Madagaskar), Mark Thatcher (seun van die voormalige Britse premier Margaret Thatcher) en die huursoldaat Simon Mann van Executive Outcomes-faam.
“Ons het almal geweet hy het 'n geheim. Ons het hom sommer van die begin af 'n spioen genoem,” vertel Rick Dillon, 'n jare lange vriend op wie se plaas Morgan gebly het.
“Hy het altyd gesê die lewe is 'n balanseertoertjie tussen goed en kwaad – op die punt van 'n mes.”
Sotlike planne
Dillon was by toe Morgan een aand vyftien jaar gelede om 'n braaivleisvuur op die plaas skielik opgestaan het. “Ek moet 'n staatsgreep gaan keer,” het hy aangekondig.
Morgan het so 500 meter van die vuur weggestap om 'n selfoonsein te gaan kry, onthou Dillon. “Ons het maar aanhou braai. Die volgende dag, toe ons die nuus sien, tóé het dit ons getref.”
Dié nuus was die katastrofiese staatsgreeppoging toe 'n groep huursoldate op 'n vliegtuig vanuit Suid-Afrika vort is om die moorddadige diktator-president van Ekwatoriaal-Guinee, Teodoro Obiang Nguema Mbasogo, te gaan omverwerp.
Afhangend van wie se weergawe jy glo, was Morgan óf 'n held wat 'n bloedbad gekeer het deur die staatsgreeppoging te fnuik, óf die man wat sy makkers verraai en gesorg het dat van hulle in die tronk in Zimbabwe en Ekwatoriaal-Guinee gestop en gemartel is.
Dit was van die begin af 'n sotlike plan.
Thatcher en Mann was onder die voorperde. Geld is voorgeskiet deur die Libanon-gebore Londense oliemagnaat Eli Calil, 'n invloedryke skurk wat regerings in Afrika probeer manipuleer het om kontrakte en konsessies te kry.
Hulle wou met 'n stuk of sewentig huursoldate, die oorgrote meerderheid van hulle Suid-Afrikaners, vir Obiang ontsetel. Die opposisieleier, Severo Moto, was 'n uitgewekene in Spanje. Hy sou deur 'n groep ander huursoldate ingevlieg word en die beheer van Ekwatoriaal-Guinee oorneem.
“Hierdie was 'n klomp neokolonialiste wat gehunker het na 'n verromantiseerde weergawe van Frederick Forsythe se The Dogs of War,” verduidelik Johann Smith, 'n voormalige lid van die gevreesde 32 Bataljon. Smith, 'n veiligheidsontleder, ken oorlog: hy dra steeds swaar aan die wonde wat hy in Angola opgedoen het. In 2004 was hy 'n raadgewer van Obiang. Hy en Morgan was naby aan mekaar en het dikwels saamgewerk.
Nie net was die plan dom nie, die samesweerders het dit van die begin af laat uitlek.
“Die ouens het na my huis toe gekom en my daarvan vertel. Ja, ek het die ding geblaas. Miskien was ek gedryf deur my eie ego: ek het gedink hulle kom piepie op my patch. Maar die Britte het ook hierdie meerderwaardigheid teenoor Suid-Afrikaners. Ons japies moes maar net altyd spring vir hulle.”
Smith en Morgan het intelligensieverslae oor die planne geskryf en dit maande voor die staatsgreep reeds aan intelligensiedienste, onder wie die Britte en Amerikaners, gegee.
“As dit voortgegaan het, sou daar 'n bloedbad gewees het. Die Nigeriërs, die Zimbabwiërs, die Angolese en die Suid-Afrikaanse regerings sou dit doodeenvoudig nie toegelaat het nie.”
Ironies genoeg was dit juis Smith wat jare vantevore dalk die saad vir die komplot geplant het.
Die spioen op die plaas
Morgan was die jongste seun van Ronan “Bowlegs” Morgan, 'n uitgewer. Hy het vroeg al van sy privaatskool in Surrey begin wegloop, maar is elke keer deur sy pa teruggevat.
Hy het reëls eenvoudig verontagsaam, het Dai Prichard, 'n voormalige kaptein in die Welsh Guard en die SAS, 'n elite-eenheid in die Britse weermag, op Morgan se gedenkdiens gesê.
Hulle was saam aan die militêre akademie Sandhurst, waar Morgan amok gemaak het – soos wat hy ook later in die Irish Guard gedoen het.
Morgan was 'n aanhanger van Thatcherisme en deel van 'n Thatcher-dinkskrum. Hy het selfs in 'n stadium Margaret Thatcher se toesprake geskryf. Toe hy op 33 begin studeer het om 'n Jesuïetepriester te word, het hy laatnag “ontsnap” ná 'n helse bakleiery oor die linkse bevrydingsteorieë van lede van die orde.
Verskeie eksotiese en rampspoedige sakepogings later het hy in Afrika aangekom en op Van Reenen beland.
“Nigel het met almal in die intelligensiedienste gepraat. Hulle het gedink hulle speel hom, maar hy het altyd meer inligting uit hulle gekry as wat hy verklap het,” vertel 'n Suid-Afrikaanse oud-intelligensieman.
Morgan en Smith se vriendskap het al hoe hegter geword.
“Nigel het vir almal gewerk – die Kanadese, Portugese, Spanjaarde én die Amerikaners,” sê Smith.
Morgan, vertel Smith, het hom in 1996 al aan Mark Thatcher voorgestel.
“Ons het een dag saam met Mark en Dianne (Thatcher se vrou) geëet toe Simon Mann daar opdaag. Ek het so ewe gepraat oor die ongelooflike rykdom in Ekwatoriaal-Guinee en hoe dit net 'n klein groepie mense sou vat om Obiang omver te werp.”
Thatcher was 'n spesmagte-groupie wat daarvan gehou het om sy ma se naam rond te gooi, beweer Smith.
“Hy het altyd verwys na ‘Mummy’s little black book’.”
Thatcher, wat bure was met Mann in Kaapstad, het glo die Ystervrou aan die huursoldaat voorgestel toe sy in Desember 2003 in die Kaap kom kuier het.
Teen daardie was die staatsgreep-konkelary al op volle vaart.
Ryk seuns en staatsgrepe
Brittanje se berugste huursoldaat bestel 'n croissant met konfyt en 'n cappuccino in die Churchill-hotel neffens Oxford-straat in Londen. Dit is die speelplek van skatryk Arabiere en Russiese oligarge.
Simon Mann is tuis hier. Hy 'n produk van die elite-skool Eton. Sy pa, George, was kaptein van die Engelse krieketspan in die laat 1940's en erfgenaam van die Watney’s-brouery.
Op 'n vraag oor sy reaksie toe hy hoor van Morgan se dood, antwoord hy kortliks: “Ek het gedink ag, arme ou Nigel.”
Hy het goed geweet Nigel het vir die Suid-Afrikaanse intelligensiediens gewerk. “En dit was juis die punt. Hy was my skakeloffisier met Nasionale Intelligensie (NI), want ek het geweet alles wat ek met Nigel bespreek, gaan terug na NI.
“Ek meen hy het my jare vantevore aan NI voorgestel.”
(Morgan het nie vir NI gewerk nie, maar vir die Suid-Afrikaanse Geheime Diens, wat op die buiteland gefokus het.)
Mann hou voet by stuk dat die Suid-Afrikaanse en Spaanse owerhede – moontlik ook die Britte – stilswyend goedkeuring gegee het vir die staatsgreep.
Die samesweerders het geweet Smith en Morgan se intelligensieverslae het rondgesweef. Dit was die swaksbewaarde geheim in Pretoria én in Londen – en die dwaasste besluit in die geskiedenis van staatsgrepe om voort te gaan met die plan.
Mann stem nie saam nie.
“Ek het in die Sandton Sun en Towers gebly. As iemand van NI in die voorportaal van die Sandton Towers na my toe gekom en gesê het die plan is af, sou ek natuurlik die hele ding gekanselleer het. Jy kon nie voorgee dit gaan nie gebeur nie: daar is tagtig mense by betrokke.”
Mann het vroeg die geharde Suid-Afrikaanse spesmagte-offisier Niek du Toit gewerf om die sending aan te voer. Maar toe die vliegtuig in Harare land, waar hulle wapens sou optel, is die mans summier gearresteer. Du Toit en sy groep, wat reeds in Ekwatoriaal-Guinee was, is ook aangekeer.
In daardie stadium het Mann nog geglo hulle sou binnekort vrygelaat word.
Thatcher was nie in daardie stadium in Suid-Afrika nie. “Mark het vir Nigel gevra of dit veilig is om [na Suid-Afrika] terug te keer om sy goed te kom haal. Nigel het ja gesê. Hy het dalk nie die gevolge besef nie.”
En dít, beweer Mann, is waar Morgan hom verraai het. Thatcher is gearresteer en het in 'n pleitooreenkoms skuld beken op 'n mindere aanklag.
“Die feit dat Mark in Suid-Afrika skuld beken het, het dit baie moeilik gemaak vir die Zimbabwiërs om ons vry te laat.”
Onmin tussen die samesweerders
Enige teken van kameraderie het soos mis voor die son verdwyn.
Calil se geldkrane het opgedroog.
Thatcher se ma het sy boete van R3 miljoen betaal en hy het 'n opgeskorte vonnis van vier jaar gekry. Hy is uit Suid-Afrika geskop.
Mann is ná vier jaar in die Chikurubi-tronk in Harare na die berugte Blackbeach-gevangenis in Ekwatoriaal-Guinee geskuif. Sy mede-aangehoudenes, veral Niek du Toit wat erg gemartel is, het later gekla dat Mann voorkeurbehandeling gekry en sy gemak “gekoop” het.
“Toe ek daar aankom en hulle skiet my nie, het ek gesê: reg, ons kan onderhandel. Julle vyande is ook myne. Ek sal enigiets doen om julle te help,” vertel Mann.
Dié hulp was glo om die baasbreine, onder wie Calil en Thatcher, aan die kaak te stel.
Drie maande later is hy terug na Ekwatoriaal-Guinee – op uitnodiging van die president.
“Ek was die BBP (baie belangrike persoon). Die president het my omhels. Hy het gesê hy het nog nooit soveel mense gehad wat hom gevra het om iemand vry te laat nie. Die Vatikaan wou jou vrylating hê, die rabbi’s wou jou vrylating hê, die Maleisiërs wou jou vrylating hê.”
Mann is terug in sy herehuis in Hampshire, maar werk steeds as konsultant in Afrika.
“Snaaks genoeg het ek fantastiese toegang in Afrika. Ek meen, hulle wil nie hul foto saam met my op die voorblad van die koerant hê nie, maar hulle wil vir Simon Mann ontmoet. Dit is veral omdat ek nou op baie goeie voet met die president van Ekwatoriaal-Guinee is.”
Planne om Thatcher en ander samesweerders in Londen te vervolg, het gesneuwel nadat Mann geweier het om as staatsgetuie teen hulle te getuig. Hy was bang hy sou in Spanje vervolg kon word.
Thatcher woon in Spanje maar bring tyd in Londen deur. Hy en Mann het geen kontak nie.
Calil is verlede jaar in Junie op 72 in bisarre omstandighede in sy luukse huis in Londen dood.
Hy het sy nek gebreek nadat hy glo op sy trappe gegly en geval het. Die polisie het dit as 'n ongeluk beskou.
Morgan het aan Adam Roberts, skrywer van The Wonga Coup, gesê Calil was 'n “bose aasvoël”.
Tot sy dood het Morgan volgehou dat hy nie die staatsgreep-samesweerders verraai het nie.
“Nigel het hulle lewens gered; hy het hulle nie verloën nie,” sê Rick Dillon.
“Hulle sou almal doodgeskiet gewees het. Ek sal vir Simon Mann sê om te voertsek as hy nou hier aankom. Hulle behoort Nigel eerder te bedank.”
Whisky, sigare en eskapades
Morgan het aangehou werk as politieke konsultant en steeds met al wat leef en beef – joernaliste inkluis – gepraat.
In nóg 'n sake-onderneming in die Kongo is hy in 'n stadium vergiftig. Dit was glo nadat hy gedreig het om grootskeepse diamantsmokkelary te ontbloot. Hy moes na Suid-Afrika gevlieg word vir mediese behandeling, waar bevind is dit was die uiters skaars en dodelike gif van 'n sekere padda se vel.
In Van Reenen het Morgan nog sy legendariese piekniekmandjies gepak vir skoolsportgeleenthede by Hilton en Michaelhouse, vertel Dillon. Daar het almal – onderwysers inkluis – in “Nigel’s corner” om hom saamgedrom.
Tot sy dood was die Ier nooit sonder 'n sigaar en 'n glas whisky nie – 'n gewoonte wat ontstaan het omdat hy so 'n groot aanhanger van Winston Churchill was.
Dillon sê hy was ook baie sensitief. Dít het daartoe gelei dat mense hom uitgebuit het.
Hy het groot geld gemaak in 'n mynbouprojek in Guinee, maar dit alles verloor deur 'n vriend blindelings te vertrou.
As voorsitter van die Focus Africa Foundation, wat gewerk het om renosters te red, het Morgan 'n hoë openbare profiel gekry. Die beweringe dat David Mahlobo, die Suid-Afrikaanse minister van staatsveiligheid, by renosterstropery betrokke kon wees, het gespruit uit 'n ondersoek waarby Focus Africa betrokke was. Dit het ook 'n Chinese sleutelspeler in die onwettige renosterbedryf ontbloot.
Maar Morgan het weer al sy geld verloor. Diep depressief, het hy al meer gedrink.
Morgan was in 'n voortdurende gestoei met al die euwel wat hy in sy loopbaan gesien het. In donker oomblikke het hy dikwels gesê: “Ek het my lewe lank in 'n boot met 'n glasbodem deur riool gevaar.”
Registreer gratis om hierdie artikel te lees.
Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.
Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.
Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.
Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.
Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.