Die betekenis van Winnie Madikizela-Mandela

Essay: Madikizela-Mandela as metafoor vir die ANC - en Suid-Afrika

Die betekenis van Winnie Madikizela-Mandela

Die “Moeder van die Nasie” is vereer én verguis. Sy was ʼn vrou van staal, onwrikbaar en onintimideerbaar, maar sy was ook ʼn onbeheersde egoïs en aandadig aan kindermoord, skryf MAX DU PREEZ. Hoe moet ons haar voortgesette kultusstatus verstaan?


EK het seker in my agterkop geweet wie Winnie Mandela was, maar die eerste keer dat sy deel van my ervaringswêreld geword het, was toe ek as ʼn bloedjong verslaggewer oor die Soweto-opstande van 1976 verslag gedoen het. Die polisie het ons verseker Winnie was een van die hoof-opstokers en organiseerders van die jongmense. Die idee dat ’n swart vrou in ’n nederige township-huisie in 1976 so magtig en so gevrees kon wees, het my gefassineer.
Ek het haar doen en late daarna gevolg. Ek onthou hoe omgekrap ek was toe sy in Mei 1977 na Brandfort verban is nadat sy ʼn tyd lank sonder verhoor in die tronk was. Die apartheidstaat moet baie bang vir dié formidabele vrou wees, het ek gedink. Ek het in Kroonstad grootgeword en Brandfort geken, so ek het goed geweet hoe onaangenaam dit daar vir dié opgeleide en gesofistikeerde stadsvrou moes wees.
Die verstommendste deel was dat sy die keuse gegee is om in ballingskap te gaan, maar geweier het. Sy moes besef het dat sy ʼn lekker lewe as ʼn wêreldwye celebrity, die Koningin van die Revolusie, sou kon lei as sy padgegee het, maar sy het ballingskap in die stowwerige Brandfort verkies.
Dit was eers nadat sy in die middel-1980’s die polisie geïgnoreer het en terug Soweto toe is dat Winnie weer oor my pad gekom het. In April 1986 verklaar sy midde-in ʼn plaag van die verskriklike halssnoermoorde: “Together, hand in hand, with our matches and our necklaces, we shall liberate this country.” By Vrye Weekblad was ons na aan die leierskap van die UDF en uit dié bronne het ons begin hoor van die skrikbewind wat sy en haar sogenaamde Mandela United Football Club (eintlik ’n groep gewelddadige tsotsi’s wat as haar lyfwagte opgetree het) in Soweto gevoer het. Die gemeenskap het selfs haar huis afgebrand.
Die UDF kap Winnie
Op Nuwejaarsdag 1989 word die 15-jarige aktivis Stompie Moeketsi Seipei soos ʼn bok geslag en sy lyk op ʼn ashoop gestort. Hy was een van minstens vyf jongmense in Winnie se sorg wat in dié tyd aangerand en vermoor is. Ses weke later verklaar die leierskap van die UDF op ʼn opspraakwekkende perskonferensie: “Ons is woedend oor Mevrou Mandela se medepligtigheid aan Stompie se onlangse ontvoering. As Stompie en sy drie vriende nie deur Mevrou Mandela se ‘sokkerspan’ ontvoer is nie, sou hy vandag nog gelewe het. Die Breë Demokratiese Beweging distansieer onsself van Mevrou Mandela en haar optrede.” Dit was ongehoord.
Winnie se kop het duidelik heeltemal uitgehaak. Ek kon geen sin daarvan maak nie en het by my kollega Hennie Serfontein, veteraan-joernalis en persoonlike vriend van Winnie sedert die 1980’s, gaan kers opsteek. Die hele sage was vir Hennie erg pynlik – hy was nogal ʼn Winnie-groupie. Hy het gesê al wat hy verstaan, is dat Winnie blykbaar in Brandfort ʼn drankprobleem ontwikkel het en glo ook aan pille verslaaf was.
(Êrens in 1990 rond het ek en Hennie vir Winnie en Chris Hani in die Yard of Ale-restaurant om die hoek van Vrye Weekblad se ou kantoor vir ʼn drankie ontmoet; Hennie omdat hy hulle pel was, ek omdat ek nuuskierig was om haar van naby te bekyk. Laat ek maar erken, ek het gou enige idee van ʼn vyandiggesinde vraag laat vaar – ek was totaal deur haar beeldskoonheid en charisma gemesmeraais. Jammer om teleur te stel.)
Ons weet dat nou sy Nelson Mandela se laaste maande in die tronk moedswillig moeilik gemaak het. Ons weet sy het ʼn openbare en stormagtige liefdesverhouding met die veel jonger Dali Mpofu, deesdae die EFF se voorsitter, gehad. Ons weet dat sy uiteindelik weens ontvoering tronk toe gestuur is, maar dat die vonnis waarskynlik weens politieke druk op appèl tot ʼn boete verminder is. Ons het haar op haar mees arrogante gesien waar sy voor die Waarheid-en-versoeningskommissie al die verdoemende getuienis teen haar as leuens afgemaak het. Ons weet sy was ook vir bedrog in die hof en dat sy ná 1994 baie jare lank ʼn salaris as parlementslid gekry het, maar byna nooit daar was nie.
Die sluipmoord op Abubaker Asvat
As enigiemand nog enige twyfel het oor Winnie se aandadigheid aan die aanranding van en moord op Stompie en die ander kinders, en oor die sluipmoord op dr. Abubaker Asvat, wat gedreig het om haar aanranding van Stompie openbaar te maak, moet hulle Fred Bridgland se onlangse boek Truth, Lies and Alibis: A Winnie Mandela Story gaan lees. Dit is ʼn noukeurige en onweerlegbare opstapeling van feite en klinkklare bewyse van Winnie se bloedspoor.
(Die alibi in die titel verwys na Winnie se verklaring dat sy geen aandeel aan die aanranding van en moord op Stompie kon gehad het nie, want sy was ten tyde daarvan in Brandfort. Mpofu en minstens een ander regsverteenwoordiger het gehelp om die “alibi” op te stel. Bridgland bewys dat dit geheel en vals was, onder meer omdat Albertina Sisulu, wat destyds as Asvat se ontvangsdame opgetree het, bewys gelewer het dat Winnie inderdaad dié dag by die spreekkamer was en nie in Brandfort ook kon wees nie.)
Bridgland se feite word gestaaf in ʼn roerende weergawe van die hele drama deur biskop Peter Storey van die Metodistekerk. Storey vertel ook die verhaal van hoe Winnie vir eerw. Paul Verryn, wat hom in Soweto oor kinders met probleme ontferm het, valslik van seksuele interaksies met die seuns beskuldig het.
En toe sterf Winnie Madikizela-Mandela in April verlede jaar en dompel die land in ʼn dolheid van heldeverering, byna aanbidding. Selfs vir andersins stoïese TV-nuuslesers en joernaliste het sy Mama Winnie pleks van Mevrou Winnie Madikizela-Mandela geword. Sy was weer Moeder van die Nasie.
Voor in die koor
Die dirigent van dié koor was Julius Malema, wat inderdaad sedert sy ANC-Jeugligajare ’n ma-seun-verhouding met haar gehad het, ook nadat hy by die ANC weg is. Die EFF het Winnie as hul eie opgeëis, en met veel sukses. Enigiemand wat na haar gewelddadige verlede verwys het, is summier as “Stratcom” afgemaak – ’n verwysing na die veiligheidspolisie se “strategiese kommunikasie”-veldtog van die Winnie-era om vals inligting te versprei en aktiviste te beswadder. (“Stratcom” het sedertdien die standaard-belediging vir joernaliste geword wat die EFF se sondes uitwys. Dit is selfs laas week deur die ANC gebruik om na Pieter-Louis Myburgh, skrywer van Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, te verwys.)
Die ANC self het aanvanklik nie aan die uitasem-ophemeling deelgeneem nie, maar is tog later deur die populistiese gedrang meegesleur. Selfs pres. Cyril Ramaphosa, wat as ’n senior UDF-figuur in Johannesburg eerstehandse kennis van Winnie se wandade gehad het en deel van haar onteiening was, het “Mama Winnie” as ’n heilige en ’n inspirasie en voorbeeld vir almal voorgehou. Die EFF se poging om Winnie as ikoon te kaap, word tans voortgesit deur ’n veldtog om die Kaapstadse Internasionale Lughawe na haar vernoem te kry.
Ek probeer al lank in my kop sin maak van Winnie, en van haar plek in die nasionale gemoed.
Sy het op ’n keer verklaar: “I am the product of the masses of my country and the product of my enemy.” Dit is sekerlik so. Sy is gevorm deur haar herkoms uit die koninklike huis van Pondoland, haar kultuur, haar omgewing in Soweto en swart Suid-Afrikaners se stryd teen ontheemding, vernedering en onderdrukking. Die apartheidstaat, die veiligheidspolisie, haar tyd in die tronk en op Brandfort het ook diep merke gemaak. Maar niemand is net ’n produk van jou omgewing nie. Vrye wil en persoonlike keuses is ewe belangrik.
Teësinnige respek
Maak geen fout nie, Winnie was ’n vrou van staal. Sy het die teësinnige respek van ministers, generaals en polisiemanne geniet – ek dink hulle was inderdaad bang vir haar. Sy was deurgaans ondermynend, onwrikbaar, vreesloos en onintimideerbaar. Sy het nooit enige respek vir iemand gewys net omdat hy/sy ’n wit vel het nie – sy het haar oortuiging uitgelewe dat daar niks minderwaardigs aan haar is omdat sy swart en ’n vrou is nie. Inteendeel. Sy het gewapende polisiemanne fisiek gekonfonteer en hel toe gestuur. Min ander swart leiers van die 1960’s, 1970’s en 1980’s (buiten miskien Steve Biko) het dit gedoen, en sekerlik geen ander vrou nie. Sy het nooit gedink sy hoef soos ’n man op te tree om ’n sterk leier te wees nie; sy was altyd trots op haar voorkoms en het haar skoonheid vir haar laat werk. Sy was ’n mooi vrou in ’n aaklige tyd.
Haar lewe het verander nadat sy in 1958 met die debonair Nelson Mandela, die jong prokureur oor wie die hele Soweto en Alexandra gaande was, getrou het. Hulle het twee kinders gehad, maar was eintlik net vier jaar lank ’n paartjie voor Nelson gevang is en sy hofsake begin het wat tot sy 27 jaar in die tronk gelei het. Nelson het van die toneel verdwyn; Winnie was nou dié Mandela. En sy was maar 26 jaar oud met twee babas. (Ek dink ’n mens kan met veiligheid vermoed dat sy nooit by enige ontvoerings, moorde of ernstige vergrype betrek sou gewees het as sy nooit met Mandela getrou het nie.)
Dit is aanvanklik nie deur die leierskap in Lusaka ontmoedig nie. Miskien het sy in grootheidswaan lankal gevoel sy behoort onder Nelson se skaduwee uit te beweeg en die nasionale leier in eie reg te word – swart Amerika sien haar lankal so, hoekom nie haar eie mense nie? Hoekom moet sy die daaglikse pyn en trauma ervaar en sy is net Mevrou Mandela, terwyl Meneer Mandela knus in ’n sel tussen sy kamerade sit?
Maar as individu was sy geïsoleer. So, begin jou eie militia, jou eie presidensiële mag van lojaliste wat jou kan bewonder en wat jy kan hiet en gebied: die sokkerklub. Gooi die afwesigheid van politieke beheer hierby, en die resultaat is plofbaar. In dié tyd was Winnie se gunstelingklere kamoefleerdrag.
Ek het die meeste, indien nie al die pogings nie, die laaste jaar gelees wat probeer om Winnie te dekodeer en in perspektief te stel. Te veel hiervan is binêr: Sy is ’n edele revolusionêr; nee, sy is ’n egoïstiese, onbeheersde kindermoordenaar. Die interessantste en deeglikste poging is die onlangse boek The Resurrection of Winnie Mandela, deur een van die prominentste jong openbare intellektuele in Suid-Afrika, Sisonke Msimang.
Die probleem met Msimang se boek is dat sy op twee stoele probeer sit. Die eerste en laaste hoofstukke is ’n ernstige poging om Winnie te verstaan en te kontekstualiseer, maar in die res van die boek praat sy met Winnie en ’n mens weet nooit mooi of sy skryf wat sy dink Winnie self sou gesê het, en of sy dit self dink nie. Soos die verontwaardiging dat emeritus aartsbiskop Desmond Tutu of die UDF-leiers gedink het hulle het enige reg om haar te kritiseer, of die negatiewe opmerkings oor Nelson. So ek sal my maar by die eerste en laaste hoofstukke hou.
“The need to explain Winnie’s violence in personal rather than political terms struck me as strange,” skryf Msimang. “Winnie was not the only ANC leader who traded in reckless and fiery rhetoric. But she was the only woman to do so.” Sy verwys dan na die ANC se berugte KwaZulu-Natalse krygsheer Harry Gwala en sê hy is nooit so swartgesmeer nie.
Dit was kinders, nie soldate nie
Twee opmerkings. Winnie het veel, veel verder as vurige retoriek gegaan. Sy was aandadig aan die brutale moord op verskeie swart kinders. Nie agente van die staat nie, kinders. En Gwala word regtig nie goed deur die geskiedenis onthou nie.
Maar die punt dat ander ANC-leiers ook immoreel opgetree het en Winnie dus nie sommerso verdoem moet word nie, is ook deur Malema gemaak. Op 24 Desember verlede jaar het ek hom op eNCA hoor sê waar hy langs Dali Mpofu gestaan het: “Let’s say for a moment Mama killed Stompie, right, and park that aside and say, how many people were killed in the camps during MK? And they were being accused of being sellouts. They were killed under the leadership of president Tambo, they were killed under commanders like Chris Hani, Joe Modise and others. Today we are not told that these people are murderers because this was what they had to do to save the revolution. Why with her, with one incident, we need to be told forever?”
Weereens, dit was kinders wat vermoor is, nie soldate in ’n guerrillakamp in ’n buurstaat nie. En Tambo, Hani en Modise het ondersoeke na die voorvalle gelas en herhaaldelik om vergifnis daarvoor gevra.
Maar Malema se uitlating is nie onverwags nie. Geweld is onderliggend aan alles wat hy sê en doen. Hy is suur dat hy nie deel van ’n guerrillamag was wat wit mense kon doodskiet nie.
En hier is Msimang in die kol. Verwysende na die Malema-generasie, skryf sy: “Tired of forgiveness espoused by their parents, this generation put Winnie on a pedestal. Paradoxically, they praised her for precisely the reasons she had been ostracised twenty years earlier: her stubbornness, her embrace of violent tactics and her refusal to legitimise the pact that had disallowed retribution against whites.”
Dit is dalk deels hoe ons Winnie se voortgesette kultusstatus moet verstaan. Sy verwoord die renons wat soveel, veral jonger, swart mense in hul wit landgenote het. Sy het ’n middelvinger aan die wit establishment gewys en hulle wil dit graag ook doen. Winnie het mense lisensie gegee om radikale oplossings sonder enige kompromis te bepleit en eerder as om introspeksie te hou, die wit minderheid vir alles te blameer. Militansie is salf vir frustrasie.
Simbool van swart trots
Maar ek vermoed daar is ’n ander element ter sprake. Baie jonger swart mense in die middelklas of aspirant-middelklas is steeds onseker van hulself, sukkel finansieel en het nie ’n oorvloed selfvertroue nie. Die stylvolle, mooie Ma Winnie, die vurige, dapper en revolusionêre Ma Winnie, het vir sulke mense ’n simbool van swart trots en waardigheid geword. Om haar te eien, eien hulle ’n bietjie van haar roem en selfvertroue.
En dan moet ons doodgewoon ook in gedagte hou dat Malema die meester van simboliek en ’n fyn strateeg is. Ek is seker hy was baie lief vir Winnie, maar die EFF se blinde heldeverering ná haar dood is sekerlik ook deels siniese opportunisme. Die EFF het nie ’n Nelson Mandela, Oliver Tambo of Chris Hani nie, hulle behoort aan die ANC. Winnie Mandela is die EFF s’n, en gee die EFF ’n verlede om mee te spog.
Winnie se storie is ’n epiese menslike tragedie. As sy in die middel-1980’s ander besluite geneem het, kon sy inderdaad later ’n belangrike leierskapsrol gespeel het, selfs president geword het.
Sy is slagoffer én pleger; ’n metafoor vir die bevrydingsbeweging aan wie sy haar lewe gewy het. En dalk van Suid-Afrika.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos [email protected] of skakel 0860 52 52 00.

X