Robert McBride, die onverwagse soldaat van waarheid

Die Zondo-kommissie

Robert McBride, die onverwagse soldaat van waarheid

Hy was eens die mees gehate man onder wit Suid-Afrikaners na 'n bomaanval op burgerlikes in 1986. Nie eens sy beste kamerade sou kon dink dat Robert McBride een van die laaste vestings teen staatskaping en korrupsie sou word nie, skryf PETA THORNYCROFT.


REGTER Raymond Zondo se kommissie van ondersoek na staatskaping sit in ‘n onmerkwaardige moderne kantoorgebou in Empireweg in Johannesburg. Dit is hier op die vierde vloer waar getuies die reputasies van gewese helde stukkie vir stukkie vernietig en Suid-Afrika se geskiedenis herskryf.
Die sinne is hoflik, die vrae en antwoorde is kalm, maar dit dwing diewe en bedrieërs om te bieg. Dit gaan, so hoop ‘n mens, van die grootste oortreders in die hande van die hervormde nasionale vervolgingsgesag laat beland – ‘n liggaam wat tot onlangs self deur skelms bedryf is.
Dié teater van aantygings en belydenisse wys hoe die drome en hoop van miljoene Suid-Afrikaners na 1994 deur skurke en swendelaars in die staatsdiens verwoes is. Baie van hulle het die groen en goud van die gewese bevrydingsbeweging gedra.
Talle vrot senior polisielede, insluitende kommissarisse en hul adjunkte sowel as gekompromiteerde intellgensie-offisiere het ‘n swaard wat oor hul koppe hang, veral nadat die uitgaande hoof van die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat, Robert McBride (56) begin getuig het.
Soos adv. Paul Pretorius, die getuienisleier, dit aan die kommissie gestel het: die veiligheidsdienste het genoeg geld en mannekrag; daar is bykans 200,000 in die polisie, die Valke en ander afdelings. [Daar is] 'n “reusagtige en komplekse landskap van Suid-Afrika se wetstoepassings- en vervolgingsdienste".
Hy het gesê McBride se getuienis sal toon dat “die kommissie nie nodig sou wees as hierdie agentskappe hul mandaat nagekom het nie".
'n Kalm en bedaarde McBride - wat vir baie mense 'n gehate figuur was nadat hy in 1986 'n motorbom geplant het wat drie wit vroue se dood veroorsaak het en ook ná 1994 nogal 'n enfant terrible van die ANC-regering was,  het min emosie getoon toe hy die eerste deel van sy verhaal vertel het.
Hy het van sy voormalige kollegas daarvan beskuldig dat hulle seker gemaak het dat nie hulle óf hul web van kontakte binne die polisie ondersoek word nadat hy hoof van die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat (Opod) geword het nie.
McBride is in 2014 in sy pos aangestel, vyf jaar nadat Jacob Zuma aan die bewind gekom het. Hy het die gesteun gehad van diegene in die regerende party wat hom en sy pa, Derrick, geken het sedert die onstuimige, gevaarlike dae van Umkhonto we Sizwe, veral in KwaZulu-Natal in die 1980s.
McBride se werk was om te verseker dat die polisie optree soos wat hulle behoort te doen: binne die wet. Maar hy kon nie sy werk doen nie. Van hulle het gedoen wat hulle wil. Hy het hulle probeer vastrap en hy kon nie.
Hulle het doodeenvoudig laer getrek en agter 'n “blou gordyn" van beskerming in die polisie-binnekringe beweeg. Hulle het dit selfs reggekry dat McBride en andere uit hul poste geskors is.Skaars 'n jaar nadat hy in Opod aangestel is, is McBride geskors. Dié besluit deur Nathi Nhleko, toe die minister van polisie, is kort daarna deur die konstitusionele hof tersyde gestel.En toe hy vroeër vanjaar heraangestel moes word by Opod, het ANC-lede van die parlementêre portefeuljekomitee dit nie gesteun nie. McBride se getuienis Donderdag voor die kommissie het uiteengesit presies hóé die veiligheidsdienste gekaap is.“Ek weet van drie of vier individue van misdaadintelligensie wat vir Opod kom werk het. Hulle het dadelik by ondersoeke betrokke geraak. Hulle is dan ná 'n ruk hersirkuleer na misdaadintelligensie en het juis die sake waaraan Opod gewerk het, probeer fnuik... “Mense wat byvoorbeeld spesialiste was in 'n spesifieke veld - soos ['n] finansiële hoofbeampte (HFB)  - sou verplaas word om aan die hoof te wees van ondersoeke in 'n provinsie.“ 'n HFB het statutêre magte en verpligtinge en in hierdie geval geen ondersoekende, kriminele of polisie-opleiding nie. [Só iemand] is nie reg ingestel nie. Die persoon is ingestel op finansiële aangeleenthede. Maar hy word dan die provinsiale ondersoekhoof."McBride het getuig hy het ook met mense met dieselfde ervaring in ander organisasies gepraat.“Ek het tot die slotsom gekom... dat daar 'n plan was om misdaad toe te smeer wat vantore gepleeg is, wat tans gepleeg word en misdaad wat in die toekoms gaan plaasvind."Só sou 'n hoof van regsdienste met juridiese kundigheid na 'n ander provinsie gestuur word as 'n provinsiale ondersoekhoof.Die gevolg van dié verplasings was dat Opod "disfunksioneel" geword het, het McBride getuig.
Nadat hy ander senior amptenare in 2016 by die Nelson Mandela-stigting ontmoet het, het hulle 'n gesamentlike verklaring uitgereik oor pogings om organisasies te verswak wat korrupsie en misdaad beveg.
“Om suksesvol te wees (met korrupsie), moet jy die staat en staatsinstellings kaap”, het McBride aan die kommissie gesê.
“Ons het daai tyd die term “stille staatsgreep" of “politieke boewery” gebruik."
McBride het soms ná 1994 amok gesaai: hy is onskuldig bevind op vroeëre aanklagte dat hy wapens in Mosambiek gesmokkel het asook van dronkbestuur in Gauteng. 
'n Mens kan net dink hoe verbaas - geskok selfs - sommige ANC-lede dus moes wees toe dit duidelik word McBride gaan met die hele sak patats vorendag kom oor kollegas in die polisie- en intelligensiedienste.
Op sy stil manier gaan McBride nog groot name in sy getuienis oor die volgende dae impliseer.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.