'n Aptyt vir versoening

STANDPUNT

'n Aptyt vir versoening

Daar is een groot les wat ons by die mense van Rwanda kan leer, sê LESLIE VAN ROOI. In hierdie land aanvaar die mense dat hulle mekaar weer en weer in die oë moet kyk om doelbewus ’n ander toekoms in te gaan.


DIE wêreld is die afgelope naweek aangegryp deur verhale uit Rwanda. Vyf en twintig jaar gelede was hierdie land in die middel van ’n volksmoord wat, soos dit toe in sekere geledere gesien is, die finale antwoord vir die “Tutsi-probleem” moes bring.
Maar Rwanda se strate, 25 jaar na die volksmoord teen die Tutsi, vertel ’n ander storie. Behalwe vir die feit dat die strate opmerklik skoon is, is daar oral ’n gevoel van orde, van trots en van nuwe moontlikhede. Daar is veral ’n gevoel van vooruitgang en groei wat mens vertroos. En as mens dink aan waar die land 25 jaar gelede was, is dit merkwaardig om die minste te sê. Die einste strate waar lyke eens verstrooi gelê het, is nou simbolies die nuwe weg wat gebaan word vir 'n land waar die toekoms blink.
Rwanda is beslis nie 'n perfekte land nie. Daar is baie vrae oor die toepassing van die beginsels van demokrasie (en of dit werklik ’n demokrasie is), die president het 'n sterk stem, die teenwoordigheid van die polisie en ander veiligheidseenhede is opvallend. Maar die land se hedendaagse verhale vertel van 'n nuwe begin teen alle verwagtinge in. En dit kan mens eenvoudig nie mis nie.
Paralelle tussen Rwanda en Suid-Afrika
Daar is natuurlik parallelle tussen die Rwanda-verhaal en ons verhale in Suid-Afrika. Ons verwysings na byvoorbeeld voor en ná 1994 vertel van 'n land wat verstaan wat dit beteken om op die randjie van die afgrond te wees. Ons verhale vertel van 'n oorbeklemtoning van mensgemaakte verskille en die slegte gevolge daarvan. Ons het ervaring van erge geweld teen “die ander”, en ons ken 'n oorgangsperiode wat nuwe moontlikhede bring.
Maar daar is ook groot verskille. Suid-Afrika is aansienlik groter as Rwanda, op vele gebiede. Ons het ook nooit in ons geskiedenis 'n tydperk beleef waar byna 1 miljoen mense doelbewus in 100 dae vermoor is nie (dit beteken nie dat ons nie moord en doodslag goed verstaan nie). Ons verstaan van demokratiese leierskap is anders en ons historiese bewussyn en koloniale verlede het ander aksente.
Rwanda se versoeningsles
Daar is egter veral een groot les wat ons by die mense van Rwanda kan leer.
In hierdie land is versoening nie 'n opsie nie. Dit is iets wat eenvoudig moet gebeur. En dit is waar almal weer en weer moet leer om mekaar in die oë te kyk en om doelbewus ’n ander toekoms in te gaan.
Nog meer, die versoeningsproses is nie iets wat binne 'n paar jaar afgehandel is nie. Dit gaan aktief voort. Die Rwandese kommissie vir nasionale eenheid en versoening se verhore, aksies en werksessies gaan steeds aktief voort. Op 'n plaaslike vlak is dié aan alle kante van die historiese grenslyn in gesprek met mekaar, juis om mekaar te vind. Want in Rwanda kan dit wees dat jou buurman/-vrou elke ander lid van sy/haar familie verloor het. Maar hulle is steeds jou bure.
Op nasionale vlak is daar doelbewuste pogings van top regeringsstrukture om die waarheid te soek, reg te laat geskied en om nasionale dae te gebruik om diep, hard en eerlik te reflekteer.
In Suid-Afrika het ons 'n einddatum vir die werksaamhede van die Waarheids-en-versoeningskommissie gehad. Dit laat vandag baie vrae oor die waarde en geldigheid van ons proses ontstaan. Nasionale dae, wat bestem is om ons te laat nadink oor ons verlede en om mekaar te vind, speel hier byna terloops uit.
Versoening kan nie goedkoop wees nie
En natuurlik is daar ook vandag stemme wat sê dat die era van versoening in Suid-Afrika ons teruggehou het van die moontlikheid om hard te stoei juis om waarheid te vind en om reg te stel wat in die verlede verkeerd geloop het. In hierdie rasionaal sou ons versoening dus 'n goedkoop proses wees wat nie 'n behoorlike uitwerking kan hê nie.
Rwanda leer ons egter dat ware versoening net kan gebeur as dit 'n versoek van die mense is en as daar 'n werklike behoefte is om die waarheid te soek en dan ook te vergewe. Ware versoening in hierdie konteks verander jou.
Gegee die pyn van die verlede, kan versoening nie goedkoop wees nie – die pyn wat dit van die slagoffer ('n term wat anders in Rwanda gebruik word as hier) vra/oproep om weer oor uiters pynlike belewenisse te besin, is werklik. En dit vra ook van die oortreder om te waag – om te sê presies wat gebeur het en om dalk selfs nog uit te wys waar beendere begrawe lê. Die moontlikheid om straf en skande te beleef, lê dus vlak.
Hierdie versoeningsproses is dus iets aktief wat van onder na bo en van bo na onder moet geskied. Die vra vertroue en veral 'n gewilligheid om terug te gaan, juis om dan werklik vorentoe te kan beweeg.
Dit is juis 'n aptyt vir hierdie versoening wat skaars blyk te wees in Suid-Afrika. Die vraag, naamlik of ons steeds moet probeer versoen, vervaag dus nie omdat ons nie die behoefte aan versoening het nie, maar juis omdat dit ons behoefte vir die waarheid, vir regstelling, om mekaar te vind, en om dus uiteindelik vorentoe te beweeg, werklik laat word.
Want soos wat die mense van Rwanda my oor en oor tydens 'n onlangse besoek aan hierdie land laat verstaan het: Wat is ons alternatief?

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.