Polisie bekyk MK se handtekeninge; Kristi se onNoembare daad

WOENSDAG MET WILLEM

Polisie bekyk MK se handtekeninge; Kristi se onNoembare daad

WILLEM KEMPEN sien uit na wat die Franse nog alles gaan aanvang voordat die Olimpiese Somerspele einde Julie in Parys begin. Die hartseer verhaal van Claude Samuels herinner ALI VAN WYK aan 'n tyd toe R14 miljoen se korrupsie nog nuuswaardig was, en daar is soos gewoonlik sewe goed wat jy vandag wil weet.

1. Amerikaners het iets ontdek waaroor hulle oor partygrense heen kan saamstem: hulle weersin in goewerneur Kristi Noem van Suid-Dakota, wat in 'n komende memoir vertel hoe sy jare gelede haar 18-maande-oue hondjie Cricket in die gesig doodgeskiet het omdat hy die bure se hoenders gejaag het. John Hendrickson skryf in The Atlantic: “American voters have never been more polarized – except, perhaps, when it comes to the shared belief that shooting a puppy is wrong. Has Kristi Noem’s admission of such an act doomed her political future?" Noem is voor #PuppyMurdergate beskou as 'n voorloper om as Donald Trump se kandidaat as vise-president aangewys te word.

2. So gepraat van: Die regter in Trump se Stormy Daniels-strafsaak het die voormalige president gister met $9 000 beboet weens minagting van die hof omdat hy aanhou om jurielede te kritiseer. Regter Juan Merchan het gesê dis die grootste boete wat hy by magte is om op te lê, maar dat dit dalk nie genoeg van 'n afskrikmiddel is nie.

3. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het bevestig dat die MK Party ondersoek word oor die beweerde vervalsing van handtekeninge wat by die OVK ingedien is om 'n plek op die stembrief vir die komende provinsiale en nasionale regeringsverkiesings te verseker.

4. Die sportskrywer Lungani Zama het op News24 hulde gebring aan die boksheld Dingaan “The Rose of Soweto" Thobela, wat in die ouderdom van 57 oorlede is: “Thobela's demise was another painful reminder of just how fickle the boxing world truly is. He died alone in his flat, it is reported. What a tragic thought." 

5. Adv. Lennit Max het uit die VF Plus bedank en die “Boereparty" van rassisme beskuldig. Corné Mulder, die VF Plus se Wes-Kaapse premierskandidaat, het die beskuldigings verwerp en gesê Max is altyd met respek behandel. Max was die party se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad in 2021 se plaaslike verkiesings.

6. Zimbabwe se nuwe geldeenheid, die Zimbabwe Gold (ZiG), is gister amptelik in algemene gebruik geneem. Dit word gerugsteun deur goud, ander edelmetale en die Amerikaanse dollar, en is Zimbabwe se sesde poging sedert 2008 om 'n stabiele geldeenheid te vestig. 

7. Pro-Palestynse aktiviste het gister die beroemde Hamilton Hall by Columbia-universiteit in New York beset in 'n botsing met die owerhede wat steeds eskaleer. Hamilton Hall was een van die fokuspunte van die 1960's se studentebetogings in die VSA.

 


Daar is 'n waarskuwing oor toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Oos-Kaap en Limpopo. Mooi weer kan meestal in die binneland verwag word waar dit ook warm tot baie warm sal word. Oggendmiskolle word oor dele van die Noord- en Wes-Kaap en KwaZulu-Natal verwag. Dit sal vandag deels bewolk tot bewolk oor dele van die Kaapprovinsies.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 31°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 30°C • Kimberley 29°C • Upington 33°C • Kaapstad 21°C • Gqeberha 22°C • Oos-Londen 23°C • Durban 25°C.


Ali van Wyk | Ons kan Claude Samuels se storie en sy magteloosheid verstaan

Tussen die skandale en prestasies van glanspersoonlikhede, die bedrog en grootskaalse korrupsie van politieke partye en sensasionele moorde en ander misdadigheid, lees ’n mens Antoinette Slabbert se berig in Rapport van ’n man in Pietermaritzburg, Claude Samuels, wat 38 jaar lank in die sanitasie-afdeling van die Msunduzi-munisipaliteit gewerk het – hy was later ’n bestuurder. Samuels het elke maand sy pensioengeld betaal, maar toe hy die dag aftree, sê sy werkgewers vir hom daar is geen uitbetaling vir hom nie. Sy bydraes is nooit aan die pensioenfonds oorbetaal nie. Ten minste R3 miljoen.

Gewone Suid-Afrikaners is lankal by die punt waar die groot skelms hulle wil hê – vuisvoos van al die korrupsie en die doodgewone diefstal van die staat se geld en bates. Destyds, in 1996, was een van die eerste korrupsieskandale ’n bewering dat die minister van gesondheid, Nkosazana Dlamini-Zuma, R14 miljoen onder die tafel deur geblaas het op ’n musiekblyspel, Sarafina 2, wat jongmense van Vigs bewus moes maak. R3 miljoen hiervan het reguit in die sak van haar vriend die komponis Mbongeni Ngema beland.

Toe Dlamini-Zuma in die parlement hieroor gekonfronteer is, het sy gelieg en gesê die geld is deur ’n anonieme wit sakeman geskenk. Nadat sy oor dié leuen uitgevang is, het senior ANC-staatsamptenare en politici, insluitend Nelson Mandela, haar steeds driftig verdedig. Niks het verder gebeur nie.

Sy het 25 jaar later baie naby daaraan gekom om die president van die land te word. Gewone kiesers het destyds na hulle asem gesnak oor die skaal van hierdie korrupsie. R14 miljoen!

Die afgelope dekade al blaai mense verby berigte oor korrupsie wat letterlik 100 maal groter as die Sarafina 2-skandaal is. Dit het betekenisloos geword. Dit is vervelig. Dit laat ’n mens magteloos voel, want jy ís magteloos.

In regter Raymond Zondo se verslag ná die staatskaping-kommissie is aangedui dat die Guptas, Salim Essa, en trawante, onreëlmatige kontrakte van R41 biljoen by Transnet gekry het. André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het voor die staande komitee vir openbare rekeninge getuig dat meer as R1,4 biljoen per maand by Eskom verlore gaan as gevolg van diefstal en korrupsie by kragstasies.

Tog word ’n mens harder geslaan deur die storie van Claude Samuels. Hy is nou in sy sestigs en kan nog 30 jaar leef, selfs 40, en hy’t niks. Hy steun op sy kinders. Hy kan nie reis nie, hy kan nie met vakansie gaan nie, hy kan nie houtwerkmasjiene koop om ’n stokperdjie te beoefen nie. Hy moet waarskynlik geld vra om klere te koop. ’n Gewetenlose amptenaar het sy pensioen gesteel en daar is nie veel wat hy kan doen nie.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor sê 4 200 werkgewers in Suid-Afrika is ten minste vyf maande agter met pensioenbetalings van werknemers. Dit sluit 148 munisipaliteite in, ook Samuels se werkgewer.



Neau wat maak die Franse daar?

Oor minder as drie maande begin die Olimpiese Spele, die Jeux de la XXXIIIe Olympiade, in Parys. Ek sien vreeslik uit daarna, ook omdat die Franse reeds aan die opleef is aan hulle reputasie as skuinsneukers en dwarstrekkers. So byvoorbeeld het van die werkers by die nasionale munt, waar die medaljes vir die Spele vervaardig word, 'n paar weke gelede 'n staking uitgeroep, soos die Franse nou maar doen.

Die rede? Hulle wil ook die spesiale Olimpiese bonusse betaal word wat die regering aan die polisie en ander werkers in die staatsdiens gee – om te probeer keer dat hulle tydens die Spele staak.

Lees die volle brief hier.


Dislojale verset

Jou oë kaats
die onvermoë om vrees
in myne raak te lees.
Jy ruik nie die asem
wat honger
deur gebarste lippe wasem.
Jy bly doof
vir my storie wat vertel
van daklek en winterhel.
My koker met die Quink trek leeg,
ek vul dit aan by Total in ’n steeg.
Ek pen sò my verhaal
in die ontvlambare
twaalfde taal.

- Gerhard Barkhuizen

Uit: AVBOB Poësiebiblioteek

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.