‘Historiese ooreenkoms’ lui dalk die einde van die olie-era in

DONDERDAG MET MERCY

‘Historiese ooreenkoms’ lui dalk die einde van die olie-era in

MERCY KANNEMEYER bedank VWB-lesers dat hulle vir hulleself dink, WILLEM KEMPEN sien nog tekens dat die moord op Frans Mathipa van die Valke onder die mat gevee word, en soos gewoonlik is daar sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 14 Desember 2023
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Goeiemôre!

1. Verteenwoordigers van byna 200 lande het gister by die Cop28-klimaatberaad in Dubai 'n “historiese" ooreenkoms bereik om die wêreldwye verbruik van fossielbrandstowwe te verminder om die ergste klimaatsverandering te probeer voorkom. Sommige afgevaardigdes het gesê die ooreenkoms kan die uiteindelike einde van die olie-era inlui, terwyl ander gesê het dis steeds nie genoeg nie.

2. Die Gautengse hooggeregshof het die appèl van die hand gewys van twee ondernemings wat deur die Spesiale Tribunaal van hulle winste uit die mislukte Beitbrug-heiningprojek gestroop is. Hulle is Magwa Construction en Profteam.

3. Pres. Cyril Ramaphosa gaan appelleer teen die hofbevinding dat sy erkenning van Misuzulu kaZwelithini as koning van die Zoeloes ongeldig was omdat dit nie al die gepaste tradisionele wette en gebruike in ag geneem het nie.

4. Lede van die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings is woedend vir minister Pravin Gordhan omdat hy volgens hulle “nie wil saamwerk" met hulle ondersoek na die verkoop van die SAL aan die Takatso-konsortium nie. Gordhan het aan die komitee gesê hy mag vanweë bepalings oor vertroulikheid nie al die dokumente openbaar maak waarvoor die komitee gevra het nie.

5. Argentinië se regering het gister toegelaat dat die peso meer as 50% van sy waarde teenoor die dollar verloor as deel van pres. Javier Milei se skoktaktiek om Argentinië se beleërde ekonomie weer op koers te kry. Ander maatreëls wat Dinsdag aangekondig is, sluit in 'n besnoeiing van brandstofsubsidies, die afskaal van die regering en die staking van tenders vir openbare werke.

6. Tesla gaan programmatuur moet bywerk op byna al die meer as 2 miljoen voertuie wat die maatskappy al in die VSA verkoop het, het AP berig. Dit volg op 'n ondersoek deur die Amerikaanse National Highway Traffic Safety Administration'n reeks ongelukke wat plaasgevind het terwyl Tesla se Autopilot-stelsel aangeskakel was. Tesla se modelle Y, S, 3 en X wat tussen 5 Oktober 2012 en 7 Desember vanjaar vervaardig is, word geraak.

7. 'n Uiters skaars wit leusistiese alligator is in 'n reptielpark in Florida in die VSA gebore. Dié wyfie van 49 cm in lengte is een van slegs enkele leusistiese alligators in die wêreld, het Gatorland Orlando gister gesê.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie met skadelike wind en hael oor dele van Noordwes, die Vrystaat en die Oos-Kaap. Die res van die land kan ook buie en donderbuie verwag. Dis ook vandag baie warm in dele van die Noord-Kaap, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 30°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 32°C • Mbombela 26°C • Kaapstad 22°C • Durban 33°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 26°C • Upington 30°C • Gqeberha 23°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Die moord op Frans Mathipa is tog nie net nog ’n misdaad nie?

Dit was 'n onoortuigende klompie generaals wat verlede week op 'n nuuskonferensie gereageer het op beweringe van 'n wettelose “Death Squad" in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. (Lees in môre se uitgawe ons opsomming van die beweringe.)

Aan die spits was die hoof van die SANW, genl. Rudzani Maphwanya, wat niks gedoen het om die vermoede te besweer dat hy met 'n toesmeerdery besig is nie. Maphwanya het trouens die geleentheid gebruik om Open Secrets en die media wat oor die saak verslag gedoen het, daarvan te beskuldig dat hulle sodoende “die gereg dwarsboom". En hy “weet niks" van beweringe dat weermaglede steeds 'n fluitjieblaser probeer intimideer om nie met 'n skadevergoedingseis teen die SANW voort te gaan nie.

Maphwanya skep ook nie die indruk dat hy juis besorg is oor beweringe dat weermaglede betrokke was by die moord op lt.kol. Frans Mathipa van die Valke in Augustus vanjaar nie. Maar dan weer, hy is nie alleen nie, want dit lyk ook nie of dit die kommissaris of die minister van polisie of die minister van verdediging of die president van die land pla dat lede van die land se weermag dalk 'n senior polisieman vermoor het omdat hy besig was om van hulle ander duistere bedrywighede te ondersoek nie.

Open Secrets het nou 'n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf om hom te vra – eintlik by hom te pleit – om dringend aandag aan die saak te gee. Maar as die president dit nie teen dié tyd as 'n nasionale prioriteit beskou dat vertakkinge van die staat dalk teen mekaar oorlog voer nie, waarom sou hy nou skielik omgee?


Image: ANGELA TUCK

Dankie dat julle vir julleself dink

Eers net ’n kort dankie aan die lesers:

Dankie vir 2023. Vir die saamlees. Vir die saamgesels. Vir die kritiek. Vir die vrae. Vir die eerlikheid wanneer ek of een van ons ander skrywers dalk die pot lelik misgesit het.

Vrye Weekblad se kommentaarafdeling is een van my gunstelinge – ons lesers skroom nie om vir ons te laat weet wat hulle dink nie. Ons lesers vergestalt ons leuse – dink vir jouself.

En vir my, Mercy Kannemeyer – 29-jarige, pas gegradueerde (ek het uiteindelik my meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch gevang!) van Mosselbaai; Mercy wat nooit gedink het dat sy eendag saam met groot honde soos Max du Preez-hulle sou blaf nie – is hierdie ’n enorme eer. Dankie. “Ek stap,” in die woorde van Jolyn Phillips, “in my dankbaarheid”. Ek dra dit oral saam met my rond.

Wat ’n jaar. Vroeër die week bestee ek en ’n vriendin hopeloos te veel tyd aan ’n metafoor waarin ek probeer verduidelik hoe die aarde soms van haar as af is, en hoe dieselfde met mense kan gebeur.

Nou kyk, ek was behoorlik van my as af hierdie jaar. En om my nie alleen te laat voel nie, hiermee ’n kort lys van mense wat ook van hulle fokken asse af was:

  • Matamela
  • Cyril
  • Ramaphosa
  • Die president van Suid-Afrika
  • Die leier van die regerende party in Suid-Afrika

Die kaptein aan die stuur van die skip het ons laat versuip, man! Kan ons ál die probleme van ons land voor sy deur lê? Die antwoord is heel waarskynlik nóg ja nóg nee. Tientalle gesprekke oor Cyril en leierskap en die krisis waarin die ANC hulle bevind, het deur die jaar plaasgevind.

Gesprekke in die rigting van hoe ons liefs nie al ons vertroue in partypolitiek en -leierskap moet plaas nie, het ook plaasgevind en was vir seker meer interessant, want dit voel soos ’n oproep tot aksie. Politici faal ons byna daagliks, so wat gaan ons doen om seker te maak ons land floreer. Dis laat! Kom ons hersien in die nuwe jaar.

Vir nou – indien jy hierdie vakansie reis, wees veilig. Indien jy tyd saam met familie deurbring, wees nog veiliger! Vir talle is die Kerstyd óf geweldig spaningsvol óf alleen óf bloot net overrated. Hoe ook al jy jou feesseisoen deurbring, kyk na jouself. Jy hoef nie die wêreld se probleme aan die etenstafel op te los nie. Eet jou trifle en loop lê.

Tot 2024! Dan pak ons die bul weer by die horings! Weereens, aan die lesers, my opregte dankie. Julle hou skrywers op hulle tone.


In the beginning

you made me yours
where the cypresses
of my forefathers
clamour for heaven
against slopes of copper grass
as blond as the dead child

dawn was a broken poppy
my hips a lamp of pleated silk
in the marriage of our breath
your hands marble doves

– Dominique Botha

Uit: Bloodwood

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.