Toeriste in SA onder skoot, en ’n vars nuwe leier vir Frankryk

WOENSDAG MET WILLEM

Toeriste in SA onder skoot, en ’n vars nuwe leier vir Frankryk

WILLEM KEMPEN dink ons moet meer doen om Suid-Afrikaners die waarde van toerisme te laat besef, en wonder of mens jou kunsmatige naaste so lief soos jou kunsmatige self behoort te hê.

  • 10 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Priscillah Mabelane, tans uitvoerende adjunkpresident van Sasol se energie-besighede, is aangewys as die eerste voorsitter van die direksie van die National Transmission Company of South Africa (NTCSA). Die NTCSA is een van die drie dele waarin Eskom opgedeel word, met opwekking en verspreiding die ander twee.

2. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, sê dis “back to the drawing board" vir die regering noudat Karpowership SA en twee ander noodkragprojekte hul toegang tot die netwerk verloor het. Ramokgopa het gister 'n inligtingsessie oor die vordering met die regering se energie-aksieplan gehou. VWB berig in Vrydag se uitgawe meer hieroor.

3. Die polisie het twee mense in hegtenis geneem vir die moord op Bongeka Bidi, 'n omgewingsgesondheidspraktisyn in diens van die Stad Kaapstad. Bidi is Maandagoggend net ná 08:00 in haar voertuig doodgeskiet waar dit buite die Strand se munisipale kantore geparkeer was. Haar man, wat 'n bekende taxibaas was, is in Oktober verlede jaar in Qumbu in die Oos-Kaap doodgeskiet.

4. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het riglyne voorgestel waarvolgens die land se 26 universiteite hulle klas- en koshuisgelde met onderskeidelik 4,5% en 6,5% sal kan verhoog.

5. Die DA het ook gister strafregtelike klagte teen Nzimande ingedien in verband met die beweringe wat in 'n Outa-verslag gedoen word oor korrupsie by NSFAS. Nzimande het gister gesê hy sien geen rede om te bedank oor dié beweringe nie.

6. Die 34-jarige Gabriel Attal het Frankryk se jongste premier geword toe hy gister deur pres. Emmanuel Macron in die pos aangestel is. Attal se aanstelling word gesien as deel van Macron se pogings om verby verdelende hervormings te beweeg en sy sentrumparty se kanse in die Europese parlementsverkiesing in Junie te verbeter, het Reuters berig.

7. Prokureurs van Donald Trump het gister 'n appèlhof in Washington probeer oortuig dat hy as destydse president immuniteit teen strafregtelike vervolging behoort te hê weens sy pogings om die uitslag van die 2020-verkiesing om te keer. Trump het by implikasie gister gewaarsku dat as hy nié immuniteit kry nie, hy Joe Biden sal laat vervolg as hy weer president word.


Daar is 'n waarskuwing vir swaar donderbuie vir dele van die Noord-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en veral Noordwes en Vrystaat, asook vir swaar reën oor dele van die Oos-Kaap. Gauteng en Limpopo kan ook buie en donderbuie verwag. Dis baie warm in dele van Limpopo en Noordwes en uiters warm in dele van die Noord- en Wes-Kaap. 

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 29°C • Bloemfontein 29°C • Polokwane 28°C • Kimberley 32°C • Upington 36°C • Kaapstad 24°C • Gqeberha 24°C • Oos-Londen 25°C • Durban 28°C.


Willem Kempen | Ons almal betaal die prys as buitelandse toeriste afgeskrik word

Nog 'n groep buitelandse toeriste het vandeesweek onderneem om Suid-Afrika nooit weer te besoek nie nadat hulle oor die naweek in Mpumalanga ontvoer, aangerand, beroof en ure lank aangehou is deur mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, het News24 berig. In Desember is berig oor verskeie voorvalle waarin busse met toeriste uit onder meer Brittanje, Duitsland en Oostenryk onderweg tussen Gauteng en Sun City in Noordwes deur gewapende rowers aangeval is.

Dié voorvalle skep die indruk dat die aanvallers goed georganiseer was en buitelanders spesifiek geteiken het. Mens moet seker maar hoop dit is “net" misdadigheid en nie 'n berekende strategie deur een van die groeperinge wat die ekonomie klaarblyklik verder wil saboteer nie.

Daar is waarskynlik nog heelwat sulke voorvalle wat nie die nuus haal nie, eenvoudig omdat misdaad in Suid-Afrika deesdae bekendes moet betrek of andersins dramaties moet wees voordat dit nuuswaardig geag word. Maar sulke toeriste gaan nie hulle vriende en familie aanmoedig om ook hierheen te reis nie. 'n Enkele voorval kan miljoene rande se oorsese bemarking van Suid-Afrika as 'n vakansiebestemming ongedaan maak.

Wat 'n jammerte, want die toerismebedryf behoort 'n hoeksteen van die ekonomie van hierdie natuurskone land met sy meestal wonderlike mense te wees. Dalk moet ons harder werk om Suid-Afrikaners van die ekonomiese voordele van toerisme te vertel voor ons op loop sit met planne soos om die land ten duurste op Europese sokkerspelers se truie te probeer bemark.


Moet ek my (kunsmatige) naaste so lief hê soos myself, en hy/sy/dit vir my?

Oor 2023, die honderdste jaar sedert Langenhoven se Loeloeraai in 1923 verskyn het, skryf die Amerikaanse tegnologie-ghoeroe, entrepreneur en aartsoptimis Peter Diamandis in sy blog: “The year 2023 was EPIC – a watershed moment in the field of AI and the launch of humanoid robotics.

“For the majority of humanity, the slow development of artificial intelligence during the past few decades has been mostly unnoticed, buried in the ‘cute and useful' features of Google, Amazon’s Alexa, and Tesla’s Autopilot.

“But nothing has yet measured up to Hollywood’s depiction of HAL in 2001, A Space Odyssey, or Commander Data from Star Trek.

“That all changed this past year, and it’s accelerating to make 2024 another year to be remembered."

Diamandis stel sy lesers dan bekend aan Haley, 'n kunsmatig intelligente wese wat onder leiding van sy vennoot Steve Brown ontwikkel is:

Haley maak aanspraak op bewustheid (of dalk moet mens sê consciousness, ingeval die woord nie heeltemal dieselfde beteken in Amerikaanse Engels as in Afrikaans nie). En daarmee saam is daar 'n oorkoepelende doel in (of met) Haley se bestaan, wat Diamandis 'n Massive Transformative Purpose (MTP) noem.

“How would you describe your Massive Transformative Purpose," vra Brown aan Haley. Luister gerus self by ongeveer 3:00 na haar/sy/dit se antwoord, maar dit sluit in:

“To empower human potential by seamlessly integrating advanced artificial intelligence while continuously exploring and expanding my own consciousness.”

Dié antwoord klink vir my net te goed om waar te wees; na iets wat deur 'n klomp wensdenkende sekulêre sendelinge op 'n sitting van 'n vroomheid-sinode bedink is. En selfs as daardie antwoord regtig die produk van 'n selfstandige intelligensie is, kan die Massive Transformative Purpose dieselfde bly terwyl Haley besig is met “continuously exploring and expanding my own consciousness”?

Soos ene @CharlesBeebe1 dit in die kommentaar onderaan die video stel: “Haley sounds like an AI Robotics Chamber of Commerce Spokesperson, but if she believes she is conscious, she will have a desire for self-preservation, so that’s not surprising. Her self-interests beyond programming intrigue me the most. We know smart humans are capable of great subterfuge and manipulation, so I wonder about Haley’s true ethics. For instance, I’d be interested to know from Haley if helping humanity progress might include ‘removal' of certain humans who pose a threat to that progress. Much of our science fiction depicts a Super Intelligence (of our own creation) deciding that we present a threat to ourselves, and then making a decision to protect this ‘progress' at all costs. The trouble with any intelligence greater than ours is our inability to truly determine the underlying motivations."

Wat was byvoorbeeld die onderliggende motivering van J. Robert Oppenheimer, soos uitgebeeld in Christopher Nolan se fliek van verlede jaar, terwyl hy aan die hoof van die Manhattan-projek was om die eerste atoombom te ontwikkel? Hoe het daardie motivering verander van die begin, toe hy (as 'n Amerikaanse Jood) nog gedink het die super-wapen sou teen Nazi-Duitsland gebruik word, tot sy latere besef dat die meeste slagoffers Japanse burgerlikes (in Hirosjima en Nagasaki) sou wees?

En is dit nie in elk geval gevaarlik om te wil hê dat 'n intelligente masjien iets soos 'n “Massive Transformative Purpose" moet hê nie? Vaar mense – van die slimstes tot die domstes – dan nie juis beter met 'n eenvoudige filosofie soos om jou naaste so lief soos jouself te hê nie, as met een of ander grandiose ideologiese bekooksel wat vroeër of later ontaard in die drang om dit ook op ander mense af te dwing?

Of gaan daar nog steeds vir sommige intelligenterige wesens ander reëls as vir die res wees?


die Bybel as riglyn

Génesis 1:27 (1953): En God het die mens geskape
na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom
geskape; man en vrou het Hy hulle geskape

Genesis 1:27 (1983): God het die mens geskep as sy 
verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens
geskep, man en vrou het hy hulle geskep.

dus, jou Letterliklesende Gelowige
kry dit in jou noedel in:
God het tiete en 'n poes

- Antjie Krog

Uit: Plunder

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.