Ramaphosa vry na die Shembe-kerk vir stemme

MAANDAG MET MAX

Ramaphosa vry na die Shembe-kerk vir stemme

Suid-Afrika se geslaagde aansoek in die Wêreldhof kan ons land se status en invloed in die wêreld verhoog – mits ons voortaan ’n beter internasionale burger word, skryf MAX DU PREEZ.

  • 29 Januarie 2024
  • Daagliks
  • 11 min om te lees

Goeiedag!

1.  Die Sunday Times berig dat die ANC 'n plan het, as deel van sy verskiesingstrategie, om die vorige president, Jacob Zuma, en dié se MK-party in die komende verkiesing te neutraliseer. Dit sluit in om die registrasie van die MK-party in beide die hooggeregshof en die Verkiesingskommissie uit te daag, en ook om Zuma moontlik uit die ANC te skors. Die plan met die DA is om hulle daarvan te beskuldig dat hulle die land wil terugneem na apartheid.

2. Die Universiteit van Fort Hare het die kontrak van sy hoof van ondersoeke en klaringsdienste, Isaac Plaatjies, beëindig. Plaatjies word daarvan beskuldig dat hy betrokke was by die moord op ten minste een universiteitsampenaar en die lyfwag van die visekanselier, Sakhela Buhlungu. Maar die rede vir die beëindiging van sy kontrak is dat hy sou gelieg het oor sy kwalifikasies om die pos in 2019 by die universiteit te bekom.

3. Nicky Kinnear, die weduwee van die vermoorde Anti-Gang Unit-speurder Charl Kinnear, sê haar lyfwagte is sonder verduideliking onttrek 'n dag voor die begin van die verhoor van die vermeende moordenaars van haar man. Charl is vermoor nadat sy polisiebeskerming ook op 'n omstrede manier teruggetrek is.

4. Oekraïne se SBU-sekuriteitsdiens het Saterdag aangekondig dat hulle massiewe korrupsie in die aankoop van wapens deur die land se militêre magte oopgevlek het. Die $40 miljoen-korrupsie is deur die Oekraïniese verdedigingsministerie bevestig.

5. Die Shembe-kerk het miljoene lede regoor Suid-Afrika en die leiers het invloed op hul gemeentes. Dit is daarom 'n geliefkoosde verkiesingsbestemming vir politieke partye voor 'n verkiesing. Twee weke gelede was dit Jacob Zuma. Hierdie naweek was dit pres. Cyril Ramaphosa. Hy het 'n megafoon aan die kerk geskenk en ook aangekondig dat die ANC 'n gebou met 1 000 slaapplekke vir die kerk sal bou.

6. Donald Trump (77) het Saterdag gesê hy voel “nou skerper as 20 jaar gelede". Dit was in reaksie op onlangse aanvalle op sy ouderdom en verbale blapse deur sy Republikeinse mededinger Nikki Haley.

7. Die Franse regering oorweeg verdere hulp vir dié land se boere, het premier Gabriel Attal gister aangekondig. Dit volg op volgehoue landswye protesaksies wat die week gelei het tot padblokkades op hoofroetes in die land. Boere in Frankryk, die Europese Unie se grootste landbouprodusent, kla dat hulle onregverdige mededinging ondervind van minder gereguleerde lande.


Daar is 'n waarskuwing vir sterk wind in die Wes- en Noord-Kaap asook toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou in dele van die Kaap-provinsies. Buie en donderbuie word in dele van elke provinsie verwag. Dit word ook baie warm in Noordwes en veral die Oos-Kaap.

Kliek hier vir meer inligting.

Maksimum temperature: Pretoria 28°C • Johannesburg 26°C • Mahikeng 33°C • Mbombela 29°C • Kaapstad 24°C • Durban 32°C • Kimberley 36°C • Bloemfontein 35°C • Polokwane 33°C • Upington 39°C • Gqeberha 30°C • Oos-Londen 29°C.


Anneliese Burgess | Sluipmoorde en korrupsie hou hande vas by Fort Hare

Sluipmoorde en vervalste kwalifikasies, twee tendense wat nou min of meer alledaagse verskynsels in Suid-Afrika geword het, is nou ook weer aan die groot klok gehang by die Universiteit van Fort Hare (UFH).

'n Jaar gelede het ek geskryf oor die merkwaardige “ontkaping" van Fort Hare. Ek het vertel hoe die universiteit besig was om sy weg uit ’n moeras van bedrog, korrupsie en wanbestuur te baan.

En oor die verbete stryd deur die visekanselier, Sakhela Buhlungu, om dié universiteit van georganiseerde misdaad en ander misdadige belange te ontkaap.

Die eerste aanduiding aan die buitewêreld van hoe diep en boosaardig die terugvegpoging teen die hernuwingsprogram van UFH geword het, was toe Peet Roets, die universiteit se vloot-en-vervoerbestuurder, in spitsverkeer op pad huis toe van die Alice-kampus doodgeskiet is.

Minder as 'n jaar later was daar 'n poging om Buhlungu te vermoor. Hy het oorleef, maar sy lyfwag, Mboneli Vesele, is doodgeskiet.

Die laaste van die tien persone wat uiteindelik vir die moorde gearresteer is, was Isaac Plaatjies, die universiteit se hoof van ondersoeke en klaringsdienste. Sy werksomskrywing was om sekuriteitskwessies by die universiteit te bestuur en korrupsie oop te vlek. (Ander aangeklaagdes in die saak het die universiteit se hoof-vervoerbeampte ingesluit, asook 'n sakeman wat 'n voormalige SR-voorsitter was, polisiebeamptes, 'n prokureur en 'n taxibaas.)

Die staat beweer Plaatjies is die meesterbrein agter die sluipmoorde. Plaatjies sê hy is eintlik 'n slagoffer in die saak.

Dit het nou aan die lig gekom dat die “slagoffer" gelieg het oor sy kwalifikasies toe hy in 2019 aansoek gedoen het vir die pos van transformasiebestuurder (wat hy toe gekry het). Sy BA- en honneursgrade van UWK, asook 'n meestersgraad van die Universiteit van Natal, blyk almal vervalsings te wees.

Toe Plaatjies in Desember vir borg aansoek gedoen het, het landdros Zwelethu Ngethu hom as “'n oneerlike en gevaarlike persoon" beskryf. Iemand wat “ander mense se lewens in gevaar sou stel" sou borg aan hom toegestaan word.

Oor aantygings van moord teen hom sal die hof moet beslis. Maar oor die feit dat hy diep oneerlik was, bestaan daar nou min twyfel.

Die gelieg oor kwalifikasies is 'n Suid-Afrikaanse epidemie. (Geen wonder nie 'n vriendin wat al 30 jaar 'n bekende in haar veld is, moes onlangs tot haar matrieksertifikaat aanheg toe sy vir 'n job aansoek gedoen het.)


SA se kans om weer ’n internasionale rolspeler te word

Die Internasionale Geregshof, die hoogste regterlike gesag in die wêreld, het die internasionale regsorde 'n groot hupstoot gegee met sy bevindinge teen Israel se militêre vergrype in Gaza.

Dit is boonop 'n yslike veer in die hoed van Suid-Afrika, wat die saak aanhangig gemaak het.

Dit maak nie saak hoe suur van die groot Westerse moondhede is dat 'n agterlike klein upstart soos Suid-Afrika die saak voor die hof gebring het nie.

Vir die meeste van die res van die wêreld is Suid-Afrika 'n held. Niemand anders het opgestaan om die slagting van Palestyne te probeer stuit nie. Die Britse rubriekskrywer Owen Jones het selfs (ietwat hiperbolies) gesê Suid-Afrika is nou die leier van die vrye wêreld.

Maar Suid-Afrika se nuwe status bring groot verantwoordelikheid mee. Triomfantelikheid sal net die verkeerde reaksie wees. Ons kan en moet van nou af 'n beter internasionale burger wees wat eis dat die internasionale reg deur almal, ook ons onwelriekende “vriende” soos Rusland, China en Iran, toegepas word, of ons is terug waar ons was: net nog 'n landjie wat na ander se pype dans.

Suid-Afrika kan nou met groter legitimiteit en selfvertroue en minder vrees vir vergelding sy stem oor menseregtevergrype en militêre imperialisme laat hoor.

Dit sal ons internasionale status byvoorbeeld verder verhoog as ons nou eis dat Hamas die oorblywende burgerlike gyselaars vrylaat, 'n wenslikheid wat ook deur die Wêreldhof genoem is. Die minister van justisie, Ronald Lamola, het wel by 'n perskonferensie in Den Haag gesê hy is ten gunste daarvan, maar hy kan dit gerus herhaal en duideliker stel.

Dit kan natuurlik nie eensydig wees nie: Israel hou duisende Palestyne sonder verhoor in Israel aan en hulle status is nie juis anders as dié van Hamas se gyselaars nie.

Die internasionale magsbalanse is besig om onder ons voete te verskuif. As Donald Trump in November die Amerikaanse presidentsverkiesing wen, gaan dié verskuiwing waarskynlik 'n aardbewinkie word.

As Suid-Afrika op die rug van die Wêreldhof se uitsprake sy kaarte strategies slim en met integriteit speel, kan ons verklaarde beleid van “onverbondenheid” werklik gestalte kry.

(En hou dit in jou agterkop dat ons dalk in die tweede helfte van die jaar 'n nuwe regering gaan hê …)

Ek is van vele kante kwaai bygekom toe ek op 5 Januarie vanjaar geskryf het: “Suid-Afrika het met sy aansoek by die Internasionale Geregshof dat Israel se aanvalle op Gaza tot ’n volksmoord verklaar word, weer ’n stuk van die morele gesagsposisie van die Nelson Mandela-era teruggeëis. Die saak, wat volgende Donderdag in Den Haag aangehoor word, kan ’n betekenisvolle impak op Israel en sy Westerse bondgenote se benadering teenoor Palestina hê – en op die voortslepende volksmoord in Gaza.”

Ek staan daarby, en ek dink die hof se uitspraak onderstreep dit.

Die hof, met regters uit 15 lande (insluitende Amerika, Australië, Duitsland, België, Frankryk en Japan, almal lande wat Israel ondersteun) het al die slim redenasies van apologete van Israel se militêre optrede van die tafel gevee.

Suid-Afrika het toe nié onprosedureel opgetree nie en ons regspan se voorlegging was toe nie “emosioneel”, “sonder enige gronde” of “onprofessioneel” nie. Die storie dat net lande met “skoon hande” die hof mag nader en dat dit Suid-Afrika diskwalifiseer, het ook natuurlik nie ter sprake gekom nie.

Die hof het bevind dat die aanklagte van volksmoord “plausible” is en Israel gelas om die dood van burgerlikes in Gaza te voorkom, om die mense van Gaza se lewensomstandighede te normaliseer en om uitsprake wat volksmoord bevorder, te straf. (Die beslissing of Israel wel regstegnies aan volksmoord skuldig is, gaan nog maande of meer as 'n jaar neem.)

Suid-Afrika het wel vir 'n algehele skietstaking in Gaza gevra, maar ons regspan het goed geweet dat dit nie toegestaan kon word nie. Só 'n bevel sou Israel verbied om teen Hamas op te tree, en dit sou onhoudbaar gewees het ná die aanval van 7 Oktober verlede jaar.

Israel mág natuurlik die politieke en gevegsmagte van Hamas met geweld teiken; hulle mag net nie kollektiewe bestraffing toepas en gewone Palestyne in die proses doodmaak nie. Sowat 26 000 Palestyne, die meeste van hulle vroue en kinders, is al deur Israelse magte doodgemaak.

Die argument dat Suid-Afrika eintlik sy saak verloor het omdat 'n skietstakingbevel nie uitgereik is nie, is myns insiens vals.

Die doel van die hele saak was om lewens en menswaardigheid te red; om te keer dat die slagting van burgerlikes voortgaan.

As Israel die voorskrifte van die Wêreldhof toepas, is dit wat gaan gebeur. Hulle mag Gaza nie langer blindelings bombardeer nie en moet boonop sorg dat die Palestyne genoeg mediese sorg, water, kos en huisvesting het. Hoe doen jy dit terwyl jy 'n hewige militêre aanslag op die digbevolkte, klein landstrook voer?

Israel moet boonop nou voor 26 Februarie aan die hof bewyse aanbied van hoe die hof se aanbevelings toegepas is. Suid-Afrika sal die reg hê om dié verslag aan die feite op die grond te toets.

Terloops, die storie dat die ANC die hofsaak aanhangig gemaak het in ruil vir miljoene dollars van Iran, of dat dit gedoen is as 'n verkiesingsfoefie, is duidelik loutere onsin.

Dit was nie die inisiatief van Fikile Mbalula of Luthulihuis (of die mullahs van Teheran) nie, dit het gekom van die direkteur-generaal van internasionale betrekkinge, Zane Dangor, en sy minister, Naledi Pandor, ná interaksies met senior regslui en internasionale kenners soos prof. John Dugard.

Ek kan nie sien hoe die hof se uitspraak enige impak op kiesers gaan hê nie. Mense wat vir die ANC kwaad is oor korrupsie, vrot regering, armoede en swak dienste gaan nie hulle stem verander oor die oorwinning wat 'n span advokate in Den Haag behaal het nie.

Daar was gistermiddag aanduidings dat die hofuitspraak dalk reeds 'n impak het. Aljazeera berig dat die hoof van die Amerikaanse CIA afgevaardigdes van Israel, Qatar en Egipte in Frankryk ontmoet om 'n ooreenkoms te beding wat die geweld kan laat afneem en die uitruil van gevangenes kan moontlik maak.

Dit begin ook lyk asof die groot Westerse media meer krities na die Israelse weermag se optrede begin kyk. CNN het die naweek gefokus op nege gevalle waar die Israelse weermag Palestynse burgerlikes wat wit vlae omhoog gehou het, sonder waarskuwing doodgeskiet het.


Swing Low

Ek sit somtyds en kyk dai ou vroue an
was as kinnes swaagekry et wie se kinnes
se kinnes se kinnes swaakry
Dai ou mans en vrouens wie hulle kinnes
jonk begrawe, wie honge en moeg deerie liewe kryp
Wie wêk tot hulle rugte byg soes hassies
Ek wonne somtyds hoekom hulle soe lank moet suffer
Hoekom hulle altyd ie dood vryspring
En dan vestaan ek ees “Swing Low, Sweet Chariot"
Swing low, swing lower, en nog lower
Hoe baie gebeeritie dattie engele gryp vi ôs
en wegvlieg met nette handvol stof ie

 

- Nathan Trantraal

Uit: Oolog

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.