2023 was warmste in 174 jaar – en dit gaan erger word

WOENSDAG MET WILLEM

2023 was warmste in 174 jaar – en dit gaan erger word

WILLEM KEMPEN spekuleer oor die betekenis van Jay Powell se das vanaand, en wonder of ander reëls vir sommige ­“stamme" geld as vir die res. Daar is ook weer sewe dinge wat jy vandag wil weet.

  • 20 Maart 2024
  • Daagliks
  • 7 min om te lees

Goeiemôre!

1. Al die belangrikste globale klimaatrekords is verlede jaar gebreek, en vanjaar kan selfs erger wees, het die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) gister gesê. Die WMO is veral bekommerd oor stygende see-temperature en krimpende see-ys. Die organisasie sê in sy jaarlikse State of the Global Climate-verslag dat gemiddelde temperature die hoogste vlak in 174 jaar van rekordhouding bereik het, en nou staan op 1,45° C bo pre-industriële vlakke.

2. Die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat het 'n klopjag gedoen op die Johannesburgse woning van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement. Die DA het vroeër vandeesmaand 'n klag teen Mapisa-Nqakula by die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange ingedien nadat sy in 'n beëdigde verklaring deur Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu van die maatskappy Umkhombe Marine genoem is. In dié verklaring word beweer onregmatige betalings van tot R2,3 miljoen is aan Mapisa-Nqakula gedoen terwyl sy nog minister van verdediging was.

3. Regter Tshifhiwa Maumela van die Gautengse hooggeregshof in Pretoria is in die hospitaal opgeneem ná die eerste verhoor van die tribunaal van die Regterlike Dienskommissie oor bewerings van growwe wangedrag teen hom, het GroundUp via News24 berig.

4. Dit was gister 'n maand sedert die verdwyning van Joshlin Smith van Saldanhabaai, maar dis steeds onduidelik wat van haar geword het. Dit is ten spyte van minstens een bekentenis wat glo afgelê is, en vyf mense wat in hegtenis geneem is in verband met haar verdwyning. Vier van hulle is  steeds in aanhouding.

5. Die DA het met regstappe gedreig nadat die wetsontwerp oor grond-onteiening deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is. Al die provinsies behalwe die DA-beheerde Wes-Kaap het die wetsontwerp aanvaar. Die DA het dit as “archaic and ruinous" bestempel.

6. Hongkongse wetmakers het eenparig 'n nuwe wetsontwerp bekend as Article 23 oor nasionale veiligheid goedgekeur binne twee weke nadat dit voorgelê is. Kritici sê dit is 'n verdere bedreiging vir vryheid in Hongkong. Dit lys die strawwe vir oortredings wat hoogverraad, sabotasie, opruiende gedrag, die diefstal van staatsgeheime, eksterne inmenging en spioenasie insluit. 

7. Benjamin Netanyahu het 'n pleidooi van Joe Biden verwerp om 'n beplande grondaanval in Rafah in Gaza te laat vaar. Rafah is die laaste toevlugsoord in Gaza vir meer as 'n miljoen daklose mense, terwyl Israel volhou dat Hamas-ondersteuners steeds daar wegkruip.


Daar is 'n waarskuwing oor swaar reën met moontlike vloede en hael oor dele van Gauteng, Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga asook 'n hoë brandgevaar vir dele van die Noord-Kaap. Dis steeds baie warm oor meeste dele van die land met buie en donderbuie wat regoor Suid-Afrika verwag word, die Wes-Kaap uitgesluit.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 34°C • Johannesburg 32°C • Mahikeng 34°C • Mbombela 27°C • Bloemfontein 36°C • Polokwane 30°C • Kimberley 37°C • Upington 39°C • Kaapstad 33°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 26°C • Durban 25°C.


Willem Kempen | Jacob Zuma, Making Zululand Great Again? 

Die politieke waters in KwaZulu-Natal word elke dag 'n bietjie warmer, en daar is maar min tekens dat dinge teen stemdag gaan afkoel. Die groot Zoeloe-olifant in die vertrek is steeds die vrees dat 'n herhaling van Julie 2021 se oproer kan plaasvind. Dit pas Jacob Zuma en sy MK Party dat baie Suid-Afrikaners vermoed hy kan só iets weer laat gebeur, of minstens niks sal doen om ander mense te keer wat namens hom die vure wil stook nie.

Net soos dit Zuma pas wanneer die ANC se provinsiale voorsitter “disrespekvol" optree teenoor 'n tradisionele leier, wat toevallig ook 'n IVP-ampsdraer is, deur 'n mikrofoon uit sy hand te gryp in die teenwoordigheid van die president van die land.

Waar laat dit ons demokrasie as Sipho Mhlongo, “sameroeper van die Zoeloe-regimente", oor dié voorval kan sê: “I want us to emphasise that politicians, it does not matter at which level, any male in KwaZulu-Natal is part of the king's regiments. The king is above the government. The government is under the monarch?"

Watter ander “stam" in die land kom daarmee weg om sulke dinge te sê sonder dat daar 'n nasionale bohaai daaroor is? Of moet ons maar aanhou saamleef met die idee dat 'n “spesiale bedeling" vir die Zoeloes die prys is wat ons betaal om die skyn van 'n demokratiese eenheidstaat te bewaar?


Die wins en verlies van Das-Kapitaal

Vanaand om agtuur Suid-Afrikaanse tyd is dit weer die maandelikse hoogtepunt van die wêreld se aanskoulikste woordspeletjie. Beter as Wordle of Scrabble of die New York Times se blokkiesraaisel. 

Dis wanneer Jay Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, aankondig wat sy beleidskomitee tydens hulle afgelope vergadering gister en vandag oor rentekoerse besluit het. Oral op die planeet sal staatshoofde en ministers van finansies en die hoofde van sentrale banke en die base van besighede en handelaars op die geldmarkte aan elke woord hang wat hy sê vir tekens dat iets in dié of daai rigting kan skuif, al is dit net effentjies.

Die aankondigings is gewoonlik op die oog af saai affêres, en uiteindelik is daar 'n bra eenvoudige syfer wat bekendgemaak word: rentekoerse styg of daal met soveel en soveel, of bly dieselfde. Dis die vervelige deel.

Die interessante deel is hoe die voorsitter van die Fed kies om daai syfers in te kleur en te verduidelik; en ook wat hy of sy kies om nié te sê nie. Elke deel van die amptelike verklaring word versigtig vergelyk met vorige maande se verklarings om te kyk wat verander het, en dan word gespekuleer oor hoekom dit sus of so sou wees. 'n Spekulant wat sulke leidrade korrek interpreteer (of dit net gouer as die res doen), kan dan 'n posisie iewers in die markte inneem wat vet winste kan oplewer.

Dié speletjie is so oud soos die finansiële markte self, maar die algemene beskikbaarheid van kragtige rekenaars en hoëspoed-internetverbindings beteken dis al lank nie meer net mense van vlees en bloed wat saamspeel nie. Deesdae is daar boonop ook kunsmatige intelligensie (Yuval Harari sê ons moet eintlik praat van alien intelligence) en masjiene wat hulleself kan leer om vinniger te leer, sodat hulle vinniger kan leer, sodat hulle vinniger kan leer...

Die gevolg is dat wanneer Powell vanaand begin praat, daar 'n magdom rekenaars oral ter wêreld sal wees wat in breukdele van 'n sekonde alles ontleed, van die woordkeuses in die verklaring tot by die kleur van sy das (en wat dit beteken) tot by watter woorde hy dalk anders as die vorige keer uitspreek of beklemtoon. Algoritmes sal meet hoe lank hy aarsel wanneer hy 'n vraag beantwoord wat sekere sleutelwoorde bevat. Dit sal die sentiment op sosiale media soos Facebook en X en Instagram meet en kwantifiseer. Dit sal probeer meet hoeveel eenstemmigheid daar onder die beleidskomitee se lede was, en wie dalk anders gedink het as die res. 

Terwyl Powell nog aan die praat is, sal komplekse algoritmes reeds op grond van hierdie ontledings op elke denkbare elektroniese mark doenig wees om finansiële instrumente te koop en te verkoop. Vir elkeen van hierdie transaksies sal daar 'n ontleding van die waarskynlikste uitkomste wees, en 'n meting van die presiese risiko dat die transaksie nie winsgewend sal wees nie, en 'n bepaling van hoe groot die verlies in só 'n geval mag wees. Die algoritmes sal dalk selfs weet hoeveel ánder algoritmes in die betrokke mark geaktiveer is, en op grond waarvan hulle húl besluite neem.

Terloops, dié speletjie word elke dag gespeel, min of meer 24 uur per dag vir ses dae van die week. Dit word maar net by geleenthede soos vanaand s'n selfs harder as gewoonlik gespeel.

Ek wonder hoeveel mense verstaan regtig wat alles kan gebeur as dié hele spul op 'n dag heeltemal skeefloop op 'n manier wat geen algoritme voorspel het nie. Ek is beslis nie een van hulle nie.


Old Song

Take off your clothes, love, 
And come to me.

Soon will the sun be breaking 
Over yon sea.

And all of our hairs be white, love, 
For aught we do

And all our nights be one, love, 
For all we knew. 

- Robert Creeley, Collected Poems, 1945-1975

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.