KERNEELS BREYTENBACH | Dooslike Amerikaanse onnooslikheid: 'n bundel.
1. Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, sê hoewel die VSA nie die korrekte diplomatieke prosedure gevolg het om Suid-Afrika se ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, uit die land te skop nie, aanvaar Suid-Afrika die besluit en staan dit nie teen nie. Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, het op X aangekondig dat Rasool “nie meer welkom is in ons wonderlike land nie”. Lamola sê die fokus sal nou val op maatreëls om diplomatieke verhoudinge tussen die twee lande te herstel. ’n Kenner van konflikhantering, André Vlok, het aan The Citizen gesê hoewel dit in die eerste plek ’n fout was om Rasool aan te stel, was Amerika se hantering van die situasie, en die tydsberekening, “swak diplomasie”.
2. ’n Brand in ’n nagklub in Kocani, Noord-Masedonië, het Saterdagnag tot die dood van 59 mense gelei terwyl nog 155 beseer is. Tydens ’n popkonsert deur die hip hop-groep DNK is vuurwerk in die gebou afgevuur en het die dak aan die brand geraak. Die eerste minister van Noord-Masedonië, Hristijan Mickoski, het gesê dit was ’n “moeilike en baie hartseer dag” vir die klein Suidoos-Europese land. Verskeie mense is in hegtenis geneem, het die minister van binnelandse sake gesê.
3. Die lang verwagte eerste Formule Een-wedren van die jaar is gister op sensasionele wyse deur die Engelsman Lando Norris in ’n McLaren gewen, minder as ’n sekonde voor die wêreldkampioen, Max Verstappen. Hoewel Norris die gunsteling was het meeste kenners gereken sy kanse het verswak met swaar reën wat plek-plek uitgesak het omdat Verstappen dit beter sou kon hanteer. Lewis Hamilton, vir die eerste keer in ’n Ferrari, het in ’n teleurstellende tiende plek oor die wenstreep gejaag, 22 sekondes ná Norris.
4. ’n Student (22) is dood en tien ander beseer toe ’n taxi gister in die vroeë oggendure in ’n groep studente geploeg het op die Summerstrand-kampus van die Nelson Mandela Universiteit in Qgeberha. ’n Polisiewoordvoerder, kapt. André Beetge, het gesê die samekoms was glo ’n verwelkomingspartytjie vir eerstejaarstudente. Die bestuurder van die Toyota Quantum, ’n 24- jarige man, is op die toneel in hegtenis geneem en die voertuig geskut. Twee studente was in 'n kritieke en ses in 'n ernstige toestand in die Livingstone-hospitaal. Klagtes van strafbare manslag, roekelose bestuur en bestuur onder die invloed word ondersoek.
5. Agt noodlenigingswerkers is Saterdag dood in Israeliese lugaanvalle terwyl hulle ’n kamp opgeslaan het vir ontheemde inwoners van Gaza by Beit Lahia, volgens die Britse en Turkse Al-Khair Stigting. Owerhede in Gaza sê ten minste nege mense is dood tydens hernude Israeliese aanvalle in weerwil van ’n skietstilstand.
6. Te danke aan twee blitsdoele deur die doelskieter Relebohile Mofokeng in die eerste vyf minute, kon Orlando Pirates vir Mamelodi Sundowns met die stert tussen die bene terugstuur oor die Jukskeirivier in die Premier League. Die eindtelling was 2-1, en dit beteken die Buccaneers het nou die gaping met die Brasiliane tot net 15 punte verminder, met Pirates wat vier wedstryde meer oor het as Sundowns.
7. Safair, wat eens as die mees stiptelike lugdiens in die wêreld bekend was, het gister wydverspreide probleme met sy elektroniese inboekstelsel ervaar wat verskeie vlugte vertraag het. Teen gisteraand was daar nog ’n banier op sy X-rekening: “Die stelsel bly ondiensbaar maar tegnici werk aktief daaraan om die probleem op te los. Dit is egter nie moontlik om te skat teen watter tyd die probleem verby sal wees nie.” Die lugdiens raai passasiers aan om vroeg op te daag vir hulle vlugte. LIFT-lugdiens word ook deur die probleem geraak, aangesien dit dieselfde rekenaarstelsel gebruik.
Sindroom van selfopgelegde magteloosheid
Dagsê!
Dit is goed en reg dat Ebrahim Rasool, Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, summier uitgeskop is. Ek stem dalk plek-plek saam met sy tirade teen Donald Trump en sy MAGA-bende, maar dit was uiters onprofessioneel, verregaande, dat Rasool, as ons ambassadeur, 'n openbare platform gebruik het om dit te loods.
So wat het hom besiel, 'n gesofistikeerde man en ervare politikus wat al as ambassadeur diens gedoen het? Hoe het hy nie besef dat hy sy eie land skade berokken deur sy uitlatings nie? Dat dit presies die teenoorgestelde bereik as wat hy as Suid-Afrika se ambassadeur in Washington – nie die ANC s’n nie – getaak is om te bereik, naamlik om bande met die regering en mense van Amerika te smee, ons beste voet voor te sit en die mense van ons land se belange te bevorder.
Ek dink dit is dieselfde sindroom as wat ons die laaste weke gesien het met senior ANC-leiers wat openlik met Iran en dié se besoekende afgesante flankeer, wel wetende dat dit in Amerika en Europa soos 'n rooi vlag vir 'n verwoede bul is. En dit juis in 'n tyd dat Amerika met sanksies teen ons dreig, stappe wat ons – veral die arm swart meerderheid – baie seer kan maak.
Wat ís dié sindroom? Hier is 'n paar gedagtes.
Laat ek dit net eers duidelik maak: Dit is glad nie 'n ras-ding nie, dit gaan oor die kultuur en styl van die politieke elite van die ANC en dié van sy spruite. Oor leierskap.
Die ANC is in 1912 deur 'n groepie hoogs geleerde, belese en berese swart intellektuele gestig, 'n reaksie op Uniewording wat swart burgerregte in dié nuwe staat omtrent heeltemal ontken het. Dit het ná 1948 en amptelike apartheid nuwe stukrag gekry, en weer ná die Sharpeville-bloedbad tydens Afrika se Uhuru-jare, waarna 'n bevrydingsleër gestig is en baie leiers in ballingskap gegaan het.
Die Sowjet-Unie het die ANC se vaderfiguur geword. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty was in die hart van die Kremlin en het veral van die 1970’s af die rol van ideologiese hekwagters van die ANC geword (en is dit tot 'n groot mate steeds). As jy êrens in die ANC wou kom, moes jy 'n SAKP-lid wees en praat soos die SAKP praat, en andersdenkendheid is nie geduld nie.
Die internasionale anti-apartheidbeweging het die ANC uitsluitend as sy darling aanvaar en die VN se algemene vergadering het dit tot die “sole and authentic voice of the people of South Africa” verklaar.
Umkhonto we Sizwe was nooit 'n formidabele gevegsmag nie, inteendeel. Daar is boonop 'n ellelange gedokumenteerde rekord van erge menseregtevergrype in MK-kampe. (Daar was wel vele dapper, goeie mense in MK, en ek eer hulle.)
Die apartheidsregime is nie soseer deur die ANC en MK na die onderhandelingstafel gedwing nie, maar deur binnelandse druk van die UDF en Cosatu en deur internasionale isolasie en sanksies.
Die ANC-leierskap het nogtans dit as die ANC se “glorieryke oorwinning” en eie prestasie geloof, die UDF ingesluk en uitgespoeg en Cosatu gekoöpteer.
As ek vandag na die tydperk ná 1994 terugkyk, dink ek die meeste in die ANC-leierskap se benadering was: job done, nou is dit ons tyd om te eet, om te lewe soos die ryk witmense wat ons so lank onderdruk het en om dit in ons besittings en lewenstyl ten toon te stel. Ons is immers die sole and authentic leaders of the people.
Eerder as: Dit is die begin van 'n harde stryd om 'n nuwe, suksesvolle en regverdiger republiek op die as van apartheid te bou; 'n republiek wat armoede met 'n groeiende ekonomie en effektiewe staatsdiens moet uitwis, wat menswaardigheid moet herstel en seker maak almal het gelyke kanse.
Die Era van Onreg moet ongedaan gemaak word. (Ja, die hoofstuk in ons geskiedenis waarvan die impak nou so ywerig deur AfriForum en Solidariteit ontken word. )
Maar die benadering is: Kom ons gedra ons as ewige revolusionêres wat mekaar comrade noem, die Sowjet-styl na-aap, die Weste haat en die wittes al die skuld gee, dalk sal die arme massas nie agterkom dat ons net ons eie elite-belang dien nie. Perfekte kamoeflering.
Die geskiedenis sal leer, glo ek, dat die ANC veral in die laaste twee dekades swart Suid-Afrikaners deur hulle magsug en hebsug gruwelik verraai het. En dat die twee wegbreek-werpsels, die EFF en MK Party, met dieselfde kwas gesmeer kan word.
Wel, dalk is dit te hiperbolies. Die ANC het immers self die rug op Jacob Zuma en sy staatskapingsprojek gekeer, en die meeste van ons instellings en wetlike vryhede bly onaangetas. Dit kon inderdaad veel erger gewees het, en ek wil byvoeg dat die gewese onderdrukkers, dis nou ons, ons nie juis in glorie gehul het met ons pogings om aan die heropbou deel te neem nie. En nou speel ons self ook slagoffer.
Maar 30 jaar nadat die ANC die regering oorgeneem het, blameer die ANC-leiers steeds net apartheid en kolonialisme vir die patetiese toestand van die land. As jy hard genoeg teen die Weste en “witmonopoliekapitaal” skreeu en Iran, Rusland, China en Kuba omhels, dan is jou revolusionêre getuigskrifte goed genoeg. Welkom in die ANC-elite.
Amandla! Awethu! (power to the people) is steeds die hoofkreet op massavergaderings, so asof die ANC-leiers nie die laaste dekades self die massas van mag ontneem het nie.
Ons het hier met 'n diepgaande impotensie, 'n self-toegediende magteloosheid te make. Skaam-kwaad.
Ons doen omtrent niks om inheemse tale te bevorder nie, so kom ons takel eerder Afrikaans af.
Ons sorg nie dat swart skole plekke van leer en intellektuele prikkeling is nie, so kom ons teiken Afrikaanse skole. Ons verwaarloos die tradisioneel swart universiteite, so kom ons pas druk op dié toe wat wel suksesvol is.
Ons het gesondheidsdienste so krimineel verwaarloos dat vele hospitale plekke van lyding geword het, so kom ons dwing die nasionale gesondheidswet af en noem alle kritici van die roekelose plan rassiste.
Ons kan niks behoorlik regkry nie, maar ons kan wette maak want ons is in die meerderheid.
Ebrahim Rasool het net sy revolusionêre credentials probeer versterk toe hy sy gewraakte toespraak voor die voorste swart dinkskrum, die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection (Mistra), gelewer het. Te hel met die gevolge.
Daar is natuurlik vele lede van die swart intelligentsia en opkomende middelklas wat glad nie in dié koor sing nie. Mense soos die skrywer en oudredakteur van Sowetan, Mpumelelo Mkhabela, verskeie akademici soos Mcebisi Ndletyana van die Universiteit Johannesburg, die oudredakteur van die Financial Mail, Barney Mthombothi, die joernalis en kommentator Mondli Makhanya en die leier van Rise Mzansi, Songezo Zibi, wat snydende kritiek op die ANC se politieke kultuur lewer.
Hier is Wits-professor William Gumede in gister se Sunday Times:
“Is shouting slogans, singing ‘revolutionary' songs, blaming the past, conspiracies and other groups for all problems the criteria for political, traditional and religious leadership? Will continuously supporting violent, military, fake ‘revolutionaries’ and village-idiot leaders, who never managed anything in their lives, the type who have elsewhere plunged African countries into failed states, civil war and mass skills flight to Western countries, miraculously deliver nirvana?”
En: “Must incompetent, corrupt and violent leaders be supported just because they are black and share ethnicity or language, yet harm the interests and future of those black people who support them? Should we not like in Japan, South Korea and China, hero-worship entrepreneurs who produce new products and who do not sponge off the state and politics?”
Ja-nee, swaer.
Volgende Maandag is my laaste Maandag Met Max-brief. Ek gaan dit mis.
Gegroet
Max
Ondergang
Na Czselaw Milosz
Die dood van my pa is soos die val van apartheid
wat ’n magtige weermag, generaals, en sammajoors kommandeer
met kommando’s en Casspirs en Recces,
maar nou sal hy geen grens meer bewaak nie,
hom in geen doodsakker meer begeef nie,
omdat sy mag gebreek is, sy bevolking verstrooi,
sy grond wat eens ’n oes ingebring het, met distels oorgroei,
sy god is vergete, sy taal verlore,
die aksente van ’n nageslag op roetes van wêreldstede.
– Alwyn Roux
Uit: Versindaba
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.