VERSKEIE oënskynlik teenstrydige posisies en feitestellings kan tegelykertyd waar en geldig wees.
Soos: Die ANC het Suid-Afrika die afgelope twee dekades krimineel wanbestuur en skeefgetrekte swart bemagtiging tot die meeste se nadeel afgedwing; en: Die meeste Afrikaners en ander wit mense is vandag materieel beter daaraan toe as voor 1994, met meer persoonlike vryheid.
Die ANC volg steeds die sosialistiese droom van die nasionale demokratiese rewolusie, en: In die praktyk pas die ANC ’n beleid van markvriendelikheid en private ondernemingskap toe, met die sterk betrokkenheid van die sakesektor.
AfriForum en Solidariteit het merkwaardig aan onderwysinstellings en sosiale infrastruktuur gebou, en: Die beweging is ’n eng, etnies-nasionalistiese organisasie wat die impak van die era van kolonisering en apartheid ontken en wit vrese aanblaas om sy betalende ledetal te laat groei en in die proses rasseverhoudinge beduiwel.
Afrikaans is onder druk by tersiêre onderwysinstellings en selfs skole, en: Afrikaans blom soos nooit tevore nie met ’n groot teenwoordigheid in nuus- en elektroniese media, kunstefeeste en die boekebedryf, wat nie van ander inheemse tale gesê kan word nie.
Wat het ons in Suid-Afrika?
Uit konserwatiewe en Afrikaner-nasionalistiese kringe word die Donald Trump-beeld van Suid-Afrika as ’n “nasty” plek vol onreg, diskriminasie en wanfunksionaliteit verder aangeblaas, maar kom ons kyk wat ons wel hier aan die suidpunt het. Dis nou benewens korrupsie, vrotsige regering en kaderontplooiing.
Ons is ’n konstitusionele demokrasie wat die staat by die grondwet laat hou; die oppergesag van die reg geld en daar is ’n funksionerende en onafhanklike regbank; ons is een van die oopste gemeenskappe in die wêreld met ’n vryheid van spraak en media waarmee min lande kan spog; lyfstraf vir kinders asook die doodstraf is afgeskaf; ons was een van die heel eerste lande wat gay en lesbiese huwelike gewettig het; ons beskerm ons LGBTQ+-gemeenskappe en eis gelyke behandeling vir gestremdes.
Ons kiesstelsel van proporsionele verteenwoordiging verseker dat kleiner partye en minderheidsbelange ook verteenwoordiging op plaaslike, provinsiale en nasionale wetgewers het. Wit mense en Afrikaners speel ’n betekenisvolle rol in elkeen van dié liggame.
Van uitsluitlik of hoofsaaklik wit sportspanne het ons gevorder tot waar swart en bruin rugby- en krieketspelers uitblink en van die mees gewilde sportsterre onder alle bevolkingsgroepe is, onder andere Siya Kolisi, Cheslin Kolbe en KG Rabada, terwyl wit sportsterre soos Eben Etzebeth baie gewild onder swart rugbyliefhebbers is. En Rassie Erasmus is almal se liefling.
Ons katastrofiese hoofstuk van staatskaping is gestuit deur ’n Hoofstuk 9-instelling van ons grondwet, die openbare beskermer (Thuli Madonsela) wat die president in sterk taal verdoem het, en wat gevolg is deur ’n deeglike kommissie van ondersoek (regter Raymond Zondo) wat maghebbers gedwing het om te verduidelik en toe ’n verdoemende verslag uitgebring het. Dit is nie iets wat maklik in ander lande, selfs die voorste demokrasieë, gebeur nie.
En dít is die demokrasie teen wie Amerika nou sanksies wil inbring? Nie outoritêre lande met ’n minagting vir menseregte soos Saudi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en vele Asiatiese en Afrikastate nie?
Wie is die eintlike slagoffers?
Die meeste Afrikaners se kinders gaan na van die heel beste skole op die vasteland, terwyl die meeste oorwegend swart skole wanfunksioneel is. Die universiteite van Stellenbosch, Kaapstad, Pretoria, Wits, die Vrystaat en Noordwes staan steeds kop en skouers uit bo die tradisioneel swart universiteite.
Die meeste Afrikaners het mediese fondse en geniet wêreldklas mediese sorg in privaathospitale, terwyl die oorweldigende meerderheid swart burgers aan uiters swak staatshospitale uitgelewer is.
Die werkloosheidsyfer vir wittes is 7%, vir swart mense naby 40%.
Vier van die ses rykste mense in Suid-Afrika is Afrikaners: Johann Rupert, Michiel le Roux, Christo Wiese en Koos Bekker. (Die ander twee is Nicky Oppenheimer en Patrice Motsepe.)
Dit is veel gevaarliker om in buurte soos Mitchells Plain, Nyanga, Pietermaritzburg, die Johannesburgse middestad of Westbury te woon as op ’n plaas of, uiteraard, ’n oorwegend wit woonbuurt.
Maar ons Afrikaners is die slagoffers? Is Afrikaners dan ’n spesiale klas mense?
Want ál die burgers is die slagoffers van wanregering en verval, die meeste Afrikaners voel dit net nie so erg aan die lyf as die meerderheid swart mense nie.
Die bobbejaan agter die bult
Dit is opvallend dat omtrent elke klagte wat AfriForum, Solidariteit en die lede van die Afrikaanse kommentariaat in hul dampkring ophaal, nie te make het met die werklikheid van vandag nie, maar eerder met die vrese vir wat dalk voorlê. Niemand se plase is nog afgevat nie, maar dis waarheen ons op pad is. Ons Afrikaanse skole is nog onaangeraak, maar vir hoe lank? Die ATKV en die FAK is nog lewenskragtig, maar eendag is eendag dan gaan ons nie meer ons kultuur mag beoefen nie. Wanneer sloop hulle die Voortrekkermonument?
(Terloops, as AfriForum kla dat die Afrikaners se “kultuur” bedreig word, waarvan praat hulle? Kerke en klubs is onaangeraak en volgens die grondwet onaantasbaar. Braai is nie juis kultuur nie en ewe gewild onder ander groepe. Hoe verbied jy mense in elk geval om te braai? Die Kaapse Moslems maak lekkerder koesisters en melktert as ons. Volkspele is nie juis meer ’n ding nie. Afrikaanse musiek verkoop beter as enige ander inheemse musiek. Niemand kan jou ooit verbied om two-tone hemde te dra nie. So praat ons eintlik net van die Afrikaanse taal? Die taal waarvan die meeste sprekers nie wit is nie?)
Ons is álmal paddas in dié pot
Ek vind dit uiters teleurstellend dat soveel van die voorste Afrikaner-meningsvormers bloot die slagoffersindroom verder aanblaas en nie ’n bietjie dieper nadink en meer op die breë Suid-Afrikaanse landskap en die geskiedenis fokus en hul lesers en luisteraars laat nadink nie.
En nou praat ek nie eens van verstarde intellektuele randfigure soos die oudakademikus Koos Malan of Dan Roodt, of die breins van Solidariteit, AfriForum, Sakeliga of Saai nie. Ek dink byvoorbeeld aan my gewaardeerde ou vriend van baie jare, Theuns Eloff.
In sy jongste stuk op Netwerk24 gebruik Theuns die ou gelykenis van paddas in ’n pot water wat stadigaan al warmer gemaak word.
“Ná dertig jaar van demokrasie,” skryf hy, “is die ANC-laboratorium steeds besig om minderheidspaddas te kook. ’n Groot deel van die minderheidsgroepe besef nie dat hulle paddas in die warmwordende ANC-water is nie. Hulle raak gewoond aan hul omstandighede. Raswette moet nou maar aanvaar word, swart ekonomiese bemagtiging moet nou maar toegelaat word – al kos dit die land miljarde en baat slegs ’n klein (ANC) minderheid daarby.
“Hulle besef ook nie dat dit in die aard van die ANC is om sy eie selfsugtige en dodelike ideologie met mooi beloftes en woorde te verbloem nie. Uiteindelik kan weggedoen word met minderhede wat nie swart is nie. Of hulle moet in die groot ANC-nasie opgeneem word, minus taal, kultuur en besittings.”
Jô, Theuns? Minus taal, kultuur en besittings? 'n Effe hiperbolies, of hoe? Cyril as Antjie Somers?
Theuns het seker mense soos ek in gedagte gehad toe hy skryf dat “sommige minderheidspaddas nie besef dat hulle besig is om gekook te word nie. Hulle blameer die toestand van die land op ander minderheidspaddas of die hoofpadda van die VSA – en die ANC-laboratorium kom skotvry daarvan af.”
Theuns het Woensdag verder op sy tirade teen die ANC op RSG voortgebou. Toe ek na hom luister, wonder ek of hy verstaan dat die MK Party, die EFF, ATM en ander kleiner swart partye dieselfde of selfs meer radikale houding teenoor transformasie en bemagtiging as die ANC het – dus so tweederdes van die kiesers, die oorgrote meerderheid swart Suid-Afrikaners.
Ek het ook gewonder of Theuns dink Cyril Ramaphosa se besluit om die MK Party en die EFF oor te slaan en ’n regering van nasionale eenheid te vorm met die DA en ander as vennote, ministers Pieter Groenewald en Leon Schreiber ingesluit, inpas by sy Armageddon-scenario vir minderheidsgroepe.
Praat van haat? Hiér kry jy dit
Ek wens ek kon mense soos Theuns saam met my geneem het toe ek in 2007 en 2008 ’n reeks post-konfliklande besoek en intense gesprekke met mense aan alle kante gevoer het.
Soos Rwanda, waar die diepliggende wrewel tussen die Hutu’s en Tutsi’s steeds vlak onder die oppervlak is – en vandag in naburige Demokratiese Republiek van die Kongo as militêre konflik manifesteer.
Ek wens hy kon saam met my die spanning tussen die Moslems (of Bosniaks, soos hulle nou genoem word) en die Serwiese nasionaliste in Sarajevo aanvoel. Saam met my in ’n straatkafee in Banja Luka in die Serwiese enklave Republika Srpska in Bosnië-Herzegovina sit en voel hoe die haat in die lug jou nekhare laat rys. Die pro-Russiese leier van Srpska, Milorad Dodik, het juis pas weer die jurisdiksie van Bosnië se howe en polisie ontken en dreig nou met ’n gewelddadige afskeiding.
Theuns en ek kon saam deur die strate van die antieke stad Mostar geloop het, waar Kroate en Moslems in streng afsonderlike buurte woon en nie maklik die grens tussen die buurte oorsteek nie. Hulle lyk dieselfde en praat presies dieselfde taal, maar die agterdog is oorweldigend. Die hoërskoolkinders van Mostar leer opponerende geskiedenisse waar die ander kant as boos uitgebeeld word.
Ek sou Theuns na Kosovo saamgeneem het, na die stad Mitrovica. Die stad is in twee verdeel: die Albaneessprekendes woon in die suide, die Serwiessprekendes in die noorde, met die Ibërrivier wat die twee dele skei. Die twee groepe haat mekaar só dat ’n VN-vredesmag die brug moet patrolleer.
En wanneer ons terug op OR Tambo geland het, sou Theuns saam met my die afwesigheid van haat en onverdraagsaamheid al sommer by die doeanehekke aanvoel.
Ten spyte van die aaklighede van kolonisering en apartheid, en ten spyte van die ontsaglike ongelykheid in welvaart en lewenstyl tussen wit en swart, het die meeste Suid-Afrikaners vrede met mekaar. My geleefde ervaring is dat die oorweldigende meerderheid swart landgenote my as ’n inheemse en mede-eersteklasburger aanvaar, al sê ’n klompie heethoofde ook wat op sosiale media.
Theuns behoort dit ook te weet, hy het immers vele persoonlike interaksies met ANC en ander swart leiers gehad, voor en ná 1994, en het meer onlangs met die Afrikaner-Afrika Inisiatief heelwat met oudpres. Thabo Mbeki te make gehad.
Ek was teleurgesteld dat iemand soos Theuns nêrens die wysheid of werklike binnelandse impak van Solidariteit en AfriForum se aggressiewe aktivisme in Washington en Europa bevraagteken het nie.
Ek dink die menseregtekommissie en die hooggeregshof het ’n lelike fout gemaak toe hulle besluit het Julius Malema se singery van “Kill the Boer” is nie haatspraak nie. Maar watter sin maak dit om ’n paar populiste van ’n 10%-partytjie toe te laat om jou as Afrikaner te definieer en intimideer? Ons Boere is mos nie snowflakes nie?
DEI en die ‘horde raswette’
Solidariteit se frase wat Trump en kie tot aksie laat oorgaan het, was Suid-Afrika se “horde raswette”. Dit sluit aan by Trump se obsessie teen DEI – diversity, equity and inclusion.
Ek het net Woensdagaand weer ’n SMS van Solidariteit ontvang (nugter weet hoe my nommer op hul databasis beland het): “SA is een van die mees rasgereguleerde lande ter wêreld. Solidariteit veg vir ’n ekonomie vry van rasreëls! Veg saam.”
Ja, daar is vele wette wat na ras verwys. ’n Mens kan maklik ’n saak daarvoor uitmaak dat dit misbruik word en ’n meer negatiewe as positiewe impak op die gemeenskap en die ekonomie het.
Maar dit is ondenkbaar met ons geskiedenis dat daar geen maatreëls sal wees wat regstellende aksie en swart bemagtiging bevorder nie. Die “markte” alleen kan nie vertrou word om sosiale en ekonomiese verandering te dryf nie.
Ons Afrikaners behoort dit te kan verstaan: dit was voorkeurbehandeling vir Afrikaners wat ons oumas en oupas rondom die middel van die vorige eeu in die middelklas ingehelp het toe die ekonomie nog meestal in Engelssprekendes se hande was.
Eerder as om elke wet wat ras noem, te wil afskaf, moes Solidariteit en sy geesgenote eerder ’n diepgaande, geloofwaardige oudit gedoen het van wat sulke wette en regulasies al bereik het en wat nie, waar dit misbruik word of teenproduktief is, en dít aan die regering en die publiek voorlê.
Om net te skreeu ons wil “vry van rasreëls” wees, is selfsugtig en ontken die verlede en die huidige gapende ongelykhede.
Heelwat ontleders sê die eintlike sneller vir Trump se strafmaatreëls is Suid-Afrika se saak teen Israel in die internasionale geregshof en ons bande met van Amerika se vyande.
Die ANC se flikflooiery met diktators en diktature is inderdaad in stryd met die gees van ons grondwet, verstommend onnosel en bedreig die nasionale belang, veral die voortdurende skakeling met Iran.
Maar die enigste geldige argument, na my beskeie mening, teen die saak teen Israel se volksmoord in Gaza is dat dit Israel en Amerika sou irriteer. Met ons resente verlede was ons die mees geskikte land om Israel tot verantwoording te roep.
Die Afrikaans vir “thinking out of the box” is in ons geval “dink buite die braailapa”. Dit is wat ons by Vrye Weekblad probeer doen het.
Ons kon net sowel ’n wind in ’n tierende Suidooster gelaat het.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.