‘Suid-Afrika werk nie’, maar Ernst is optimisties

ANTI-VERSOENING NIE DIE OPLOSSING

‘Suid-Afrika werk nie’, maar Ernst is optimisties

Die Afrikaneraktivis, skrywer en dokumentêre filmmaker ERNST ROETS het onlangs sy bande met Soldariteit en AfriForum, die organisasies waar sy kulturele en politieke identiteit gesmee is, verbreek en 'n nuwe rigting ingeslaan. Hier verduidelik hy in breë trekke hoe hy nou oor Suid-Afrika dink en waarheen ons op pad is.

  • 07 Maart 2025
  • Vrye Denker
  • 5 min om te lees
  • artikel 6 van 23
  • Ernst Roets
ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

NÁ my onlangse gesprek met die Amerikaanse kommentator Tucker Carlson het ’n joernalis my geskakel vir kommentaar. “Het jy Suid-Afrika sleggesê?" was die vraag. Ek het gedink dit kan wys wees om sommer net ter wille van die skokeffek te antwoord met: “Ja, natuurlik!"

Die laaste tyd is baie gesê oor sogenaamde “misinformasie" met betrekking tot Suid-Afrika. In 2018, toe ek nog by AfriForum was, het ek en Kallie Kriel ’n skakeltoer na die VSA meegemaak waar ons met ’n aantal rolspelers gepraat het oor die situasie in Suid-Afrika. Dit was kort ná die parlementêre besluit hier in Suid-Afrika dat die grondwet gewysig moet word om die staat te bemagtig om eiendom sonder vergoeding te onteien (konfiskeer is ’n meer gepaste woord). Daarom was die fokus veral op onteiening en plaasmoorde.

Kort daarna het die Amerikaanse president, Donald Trump, ’n twiet oor Suid-Afrika gemaak waarin hy sy kommer uitgespreek het oor plaasmoorde en grondgrype. Die Suid-Afrikaanse regering het hierop gereageer deur aan te kondig dat hulle self ’n skakeltoer na die VSA sal onderneem om die “waarheid oor Suid-Afrika" te vertel. Tydens hierdie skakeltoer, wat in Augustus 2018 plaasgevind het, het president Cyril Ramaphosa by ’n geleentheid in New York gepraat. Daar het hy skaamteloos verklaar dat daar geen plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. “There are no killings of farmers, or white farmers in South Africa," was sy woorde.

By ’n ander geleentheid het ek ’n konferensie van die VN in Genève toegespreek oor die mate waarin minderhede in Suid-Afrika beskerm word. Daar het die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse regering ’n toespraak gelewer, beswaar gemaak teen my teenwoordigheid omdat ek ’n minderheid verteenwoordig (nogal koddig, aangesien dit juis ’n konferensie vir minderheidsgroepe was) en toe sommer bygevoeg dat diegene in Suid-Afrika wat beswaar maak teen plaasmoorde dit eintlik net doen omdat hulle terug hunker na apartheid. Anders gestel, dat dié wat vorentoe kyk, dié wat die nuwe Suid-Afrika omhels, dié wat werklik in nasiebou en versoening glo, ook dié is wat nie gepla is oor plaasmoorde nie.

President Ramaphosa het al verskeie pogings van AfriForum en die Solidariteit Beweging om met hom in gesprek te tree oor die krisisse in Suid-Afrika van die hand gewys. Maar wanneer die Solidariteit Beweging buitelandse skakeling doen, beskuldig hy hulle in die openbaar daarvan dat hulle nie daarin belangstel om probleme hier in Suid-Afrika met hom uit te praat nie.

SAS SA se SOS

Die voorbeelde van hierdie soort kwaadwillige oneerlikheid is legio, maar laat ek by hierdie drie volstaan.

Die feit is dus dat dié wat eerste spring om beskuldigings soos “leuens" en “misinformasie" rond te slinger ook dié is wat hulle die graagste besig hou met presies dié ding waarvan hulle ander beskuldig.

Terug by die opmerking oor Suid-Afrika. Dit raak al hoe meer duidelik dat die huidige Suid-Afrikaanse bedeling nie gaan werk nie. Die regerende party vertel graag hoe toegewyd hulle tot die bevordering van die kombinasie van swart nasionalisme en sosialisme is. Hierdie strewe behels klaarblyklik dat minderhede – maar veral die Afrikaners – voortdurend blameer moet word vir alles wat skeefloop in die land, en ook dat enige kritiek met leuenagtige beskuldigings beantwoord moet word. Dit is duidelik dat die skip in die verkeerde rigting gestuur word.

Tog het die feit dat die skip in die verkeerde rigting vaar minder belangrik geword as die feit dat die skip in elk geval besig is om te sink. Met die uitsondering van die invordering van belasting is daar bykans nie meer ’n enkele staatsfunksie wat eers naby aan aanvaarbaar uitgevoer word nie.

Die oplossing vir hierdie soort krisis kan tog nie wees dat ons net harder moet probeer om versoening en nasiebou te bevorder nie. Dit is nou al vir 30 jaar as die oplossing voorgehou, sonder enige sukses. ’n Sinkende skip is nie ’n oplossing nie.

Die oplossing hoef egter nie te wees dat ons anti-versoening moet wees nie. Ons sal wel moet herbesin oor waarheen Suid-Afrika op pad is. Dinge kan baie erger word as wat dit tans is. Ons sal moet vasstel wat hierdie gevaarlike uitkomste is en hoe ons ons daarvoor kan voorberei, of wat ons kan doen om te verhoed dat dit gebeur. Terselfdertyd sal ons moet vasstel hoe die Suid-Afrikaanse bedeling verbeter kan word. Met verbeter bedoel ek nie bloot dat iemand anders die president moet wees, of dat ’n ander party die mag moet oorneem nie. Verbeter beteken dat ons weer sal moet dink oor die struktuur van die politieke bedeling.

Hande, moue en beitels

Daar kan baie potensiële uitkomste wees. Tog wil ek glo dat die oplossing op een of ander manier op die beginsels van desentralisering en selfregering gebaseer moet wees. Dus, dat politieke mag minder gesentraliseer moet wees en dat mense en gemeenskappe veel meer seggenskap moet hê in die manier hoe hulle regeer word.

Dit kan verskeie vorme aanneem. Een voorbeeld is ’n federasie. Dan is daar ook opsies soos territoriale outonomie en kulturele outonomie. Daar is die moontlikheid om meer omvattende minderheids- en groepsregte by die grondwet in te skryf. Dan is daar natuurlik ook daai woord wat ’n vloekwoord geword het: sesessie.

Al hierdie oplossings is nie ewe haalbaar nie. Ek het egter oortuig geword dat elkeen van hierdie oplossings meer realisties is as om te glo dat dinge in Suid-Afrika sommer net vanself gaan regkom.

Ons hoef nie eers te sê dat ons sal moet ingryp wat die politieke onderbou van die land betref nie. Alles dui daarop dat dinge in elk geval gaan verander. Die vraag waarop ons ’n antwoord moet vind, is wat ons kan doen om seker te maak dat dinge beter word wanneer dit verander.

Dit wil voorkom asof 2024 die laaste bladsy van die vorige hoofstuk van Suid-Afrika se geskiedenis was, en dat 2025 die eerste bladsy van ’n nuwe hoofstuk is. As ons eenvoudig glo dat ons ons oë moet toeknyp en hoop dat dinge beter word, kan die toekoms angswekkend wees. As ons egter besef dat daar hande aan die einde van ons arms is, dat daar moue is wat opgerol kan word, en beitels waarmee rotse oopgekap kan word, is die toekoms opwindend.

Daarom is ek nou veel meer optimisties oor die toekoms as pessimisties.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.