AS Donald Trump tog maar net in die geskiedenis belang gestel het, sou hy dalk die toekoms van Oekraïne veel anders benader het.
Soos die geskiedenis van Neville Chamberlain en Adolf Hitler, wie se onderhandelinge agt dekades gelede baie ooreenstem met wat nou aan die gebeur is.
Nadat Hitler Oostenryk in 1938 by Duitsland ingelyf het, het sy mond begin water vir Sudetenland, ’n deel van Tsjeggo-Slowakye waar heelwat Duitssprekendes gewoon het.
Chamberlain het op 28 April 1938 met die Franse president, Édouard Daladier, vergader en hom oortuig dat die enigste opsie was dat Praag grond aan Duitsland afstaan om oorlog te voorkom.
Hy het Hitler in Duitsland gaan ontmoet, maar toe het Hitler die hele Tsjeggo-Slowakye geëis. Chamberlain het ’n spitsberaad met Daladier, Hitler en Benito Mussolini gereël waar die Italiaanse diktator ’n plan wat stilletjies deur die Duitsers voorberei was, voorgelê het waarvolgens Sudetenland aan Duitsland oorhandig moes word – die München-ooreenkoms van 1938. (Tsjeggo-Slowakye was nie na die beraad genooi nie.)
Chamberlain en Hitler het toe ’n ooreenkoms onderteken dat verskille deur onderhandelinge opgelos moes word om oorlog te vermy.
Chamberlain het Hitler geglo en vertrou, soos Trump vandag vir Vladimir Putin vertrou.
Terug in Londen het Chamberlain trots aan sy burgers verklaar dat hy “peace with honour” bereik het: “I believe it is peace for our time.”
Winston Chuchill het dadelik gereageer: “You were given the choice between war and dishonour. You chose dishonour and you will have war.”
Hitler het toe die hele Tsjeggo-Slowakye en kort daarna Pole beset. Dit was die sneller vir die verwoestende Tweede Wêreldoorlog.
In die Koue Oorlog wat daarop gevolg het, het die eerste krakie ontstaan toe pres. Richard Nixon China in 1972 besoek en Mao Zedong ontmoet het. Die resultaat was die Shanghai Communiqué – Amerika het die Een China-doktrine (wat Taiwan as deel van China erken) aanvaar en die twee lande se bande en handel is genormaliseer.
Dié deurbraak was eintlik die werk van Nixon se veiligheidsadviseur, Henry Kissinger, wat China al in 1971 in die geheim besoek en maande lank agter die skerms onderhandel het.
Agter die skerms, Donald, nie op televisie of met luide retoriek nie, en met baie, baie vertroulike voetwerk en back channels vooraf.
China en die VSA het in 1979, toe Jimmy Carter president was, volle diplomatieke bande met China herstel. Die magsbalans van die Koue Oorlog het verskuif en die Sowjetunie se posisie is verswak.
Dieselfde Carter was president toe Egipte se Anwar Sadat en Israel se Menachem Begin in September 1978 die Camp David-akkoorde onderteken het. Die onderhandelinge het 13 dae geduur en herhaaldelik vasgeval, maar Carter het heen en weer tussen die twee kante beweeg, gesmeek, gedreig, belowe en aangeprys en uiteindelik het die twee leiers geteken.
Die akkoord het beteken dat Egipte vir Israel as ’n soewereine staat erken en dat Israel uit die Sinai-skiereiland onttrek. Die twee lande het ambassadeurs uitgeruil en handelsooreenkomste gesluit.
Maar dit is die Midde-Ooste, so die vrede het nie gehou nie. In 1993, toe Bill Clinton president was, het drie senior Noorweegse diplomate Israel en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO) in Oslo bymekaar gekry. Terje Rod-Larsen het die back channels tussen die twee kante bestuur, Johan Jurgen Holst, minister van buitelandse sake, het die amptelike onderhandelinge bestuur en Mona Juul het kommunikasie en vertroue tussen die opponente aan die gang gehou.
Die historiese kompromis, die Oslo-akkoord I, is op 13 September 1993 deur die PLO-leier, Yasser Arafat, en die Israelse eerste minister, Yitzhak Rabin, bygestaan deur Shimon Peres, onderteken.
’n Selfs meer suksesvolle diplomatieke oefening was die Good Friday Agreement van 1998 wat vrede in Noord-Ierland herstel het. Dit het ’n jarelange aanloop gehad. Bill Clinton asook sy gesant, senator George Mitchell, die Britse premiers John Major en Tony Blair, die leier van Sinn Féin, Gerry Adams, en die leier van die Social Democratic and Labour Party, John Hume, was die sleutelmense wat geslagte se vooroordeel en bitterheid moes ontlont.
Hier op eie bodem staan Pik Botha se diplomasie met betrekking tot die onafhanklikheid van Namibië uit. Die taaiste deel was dat Kuba moes onderneem om uit Angola te onttrek, ’n voorwaarde wat Pretoria gestel het.
Die joviale Botha, bygestaan deur ’n klein groep ervare diplomate, het ’n persoonlike verhouding met die Kubaanse hoofonderhandelaar, Jorge Risquet, en sy span aangekweek. Dit is geen geheim dat die alkohol vryelik tydens die ontmoetings in Genève, Brazzaville en New York gevloei het en persoonlike verhoudings en vertroue só gekweek is. Hulle was soos broers, het ’n Kubaanse diplomaat later gesê.
Die uiteinde was die New York-akkoord van 1988 waarin Kuba onderneem het om uit Angola te onttrek en Suid-Afrika uiteindelik tot die onafhanklikheidwording van Namibië ingestem het.
Maar die superdiplomaat van Afrika het meer as anderhalf eeu voor Botha geleef: koning Moshoeshoe van die Basotho.
Synde ’n leier wat vrede in die baie rowwe buurt van die Difaqane gekies het, het hy ’n diplomatieke benadering verfyn om met hoofmanne uit sy eie streek en dié van die Zoeloe, Xhosa en Tswana te deel.
Die lititimi se taak was om bande met klans in die omgewing van vandag se Vrystaat en Lesotho te bevorder. Hulle moes nie net boodskappe aflewer nie, hulle moes lithiko, prysgedigte, opstel en aan hoofmanne voordra.
Die magosa was volwaardige ambassadeurs van die koning wat met ander, en meestal vyandiggesinde, groepe gemoeid was en dié groepe se tale en kulture goed geken het.
Moshoeshoe het die beginsel van diplomatieke immuniteit in suider-Afrika gevestig ingevolge die beginsel Legosa la Morena ha le na molato, molato ke oa khaloli – die koning se gesant is nie te blameer nie, net die een wat hom gestuur het. Lees meer daaroor hier.
Moshoeshoe het ’n fyn spel van paai, komplimenteer en manipuleer gespeel. Byvoorbeeld, wanneer sy grootste teenstander in sy streek, Sekonyela, hom lastig geval het, het hy dié Batlokoa-hoofman gestraf en al sy beeste afgevat, net om dit agterna terug te gee en vir harmonie te vra.
Toe die magtige Mzilikazi van die Ndebele sy vesting, Thaba Bosiu, aanval en verslaan is, het hy ’n trop beeste vir padkos vir die vlugtende krygers agterna gestuur. Toe die Britte ná ’n mislukte aanval op Thaba Bosiu onttrek, het hy ’n persoonlike boodskap na die senior offisier gestuur en gevra dat hy tog die Basotho-koning se groete en goeie wense aan koningin Victoria moes oordra.
Moshoeshoe het geweet sy eie weermag was nie opgewasse teen dié van koning Shaka nie. Hy het Shaka van sy en sy mense se hoë agting vir die koning van die magtige Zoeloes ingelig en gesê Shaka moet net laat weet as hy hulp nodig het. (’n Bietjie soos Emmanuel Macron en Keir Starmer in Washington laas week.) Hy het gereeld geskenke by Shaka laat aflewer: bokvelle, rooikatvelle, sagte dassievelle waarvoor Shaka glo lief was en veral vere van die kraanvoël, waarvan Shaka nie genoeg kon kry nie.
Toe hoofman Matiwane van die Ngwane vir Moshoeshoe begin lastig val, het hy vir Shaka laat weet Matiwane keer dat hy nog geskenke Zoeloeland toe stuur. Shaka het sy krygers gestuur en korte mette van Matiwane gemaak, sonder dat die Basotho nodig gehad het om ’n perd op te saal. Moshoeshoe het ook vir Shaka en Mzilikazi teen mekaar afgespeel sonder dat hulle dit agtergekom het.
Die Franse staatshoof Napoleon III het in die 1850’s twee silwerpistole aan Moshoeshoe geskenk as erkenning van sy pionierswerk met diplomasie in Afrika.
Diplomasie, vrede maak, is ánders as realiteitstelevisie, meneer Trump, dit verg subtiliteit, diep nadenke, harde werk en fyn voetwerk.
♦VWB♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.