FEIT: die meeste praters van Afrikaans is nie wit nie, maar die stemme van die wit Afrikaanspraters is veelvoudiglik sterker as die ander. Hulle is ook die enigstes wat 'n etniese nasionalisme om die taal bou.
Die nuwe, lewendige debat oor Afrikaans wees en Afrikaner wees is laas maand deur 'n skrywe van die uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting, Christo van der Rheede, ontlok.
“My Afrikaans sê nee vir die verabsolutering van die begrip Afrikaner,” skryf hy.
“My Afrikaans vra tereg wat sit agter hierdie agenda om die begrip Afrikaners te suiwer van sy basterafkoms, dit eksklusief vir wit sprekers van Afrikaans te reserveer en daarmee saam 'n pyplyn bestaande uit 'n Afrikaner-verklaring, 'n Afrikaner-stigting en 'n Afrikaner-leiersnetwerk te skep wat nie eenheid bevorder nie, maar eerder verdeel en wantroue meebring.”
Die praatjies van selfbeskikking en afsonderlikheid is 'n hunkering na 'n beter verlede, sê Van der Rheede. “My Afrikaans sê hou verby, asseblief. Want dit vind eerder aanklank by 'n nierassige Afrikaanse smeltkroes wat eerder omarm as uitsluit, eerder verruim as wegstoot, eerder verenig as verdeel, eerder bevraagteken as slaafs navolg en wat sonder twyfeling voorspraak maak vir die waardes van die grondwet en skeppend daarmee omgaan om van Suid-Afrika 'n beter plek vir almal te maak. My Afrikaans kan!”
Vele meningsartikels en briewe het hierop gevolg, onder andere van Jan Bosman van die Afrikanerbond, Carel Boshoff van die FAK en Orania, en die historikus Lindie Koorts.
Maar dit was Theo de Jager, die leier van die landbouorganisasie in die Solidariteit-stal, Saai, wat die reguitste antwoord aan Van der Rheede gegee het: “ ’n Volk. Dit is wat agter die Afrikaner-agenda sit.”
Die V-woord
Daar het jy dit. Die V-woord.
Nie almal wat Afrikaans praat, is Afrikaners nie, sê De Jager. Volgens sy definisie van Afrikaner is hy seker reg, hoewel sy stawende getuienis oorvereenvoudig is: Nie almal wat Duits praat is Duitsers nie, en Amerikaners en Australiërs praat Engels maar wil nie Engelse wees nie, sê De Jager. Maar daar is darem 'n verskil tussen verskillende nasionaliteite wat 'n gedeelde wêreldtaal besig en verweefde gemeenskappe in een land wat 'n taal deel.
In sy geesdrif maak De Jager toe 'n foutjie. “Van der Rheede het herhaaldelik al gesê dat hy homself nie as 'n Afrikaner beskou nie,” skryf hy. En dan voeg hy by: “Max du Preez ook.”
Nee, ou Theo. Dis maar net jou vooroordeel omdat ek nie ook in die AfriForum/Solidariteit-dampkring is nie wat jou laat glo ek dink nie ek is 'n Afrikaner nie. Ek het dit nog nooit gesê nie; ek het nooit, soos Koos Kombuis, as Afrikaner bedank nie (ek dink Koos het intussen sy bedanking teruggetrek) en ek is nie van die detribalised ouens nie.
Die oorspronklike Vrye Weekblad het meer as 33 jaar gelede ook baie ruimte aan dieselfde debat gegee.
Ek het op 30 Mei 1991 geskryf dat “Afrikaner” nie vir my ’n politieke begrip is nie. My politieke bondgenote is dié Suid-Afrikaners wat vir vrede, regverdigheid en demokrasie veg, “nie die besnorde, korpulente patriarge of valsgat-ouderlinge van die Afrikaner-establishment nie”.
Ek bely ook dat ek soms 'n “Afrikaner-gevoel” het: “Ek kan lekker die donner in raak as die Afrikaners as groep met minagting bespot en gekarikaturiseer word. Dan voel ek Afrikaners is ‘my mense’,” het ek geskryf.
In kort: Wanneer dit ter sprake is, identifiseer ek gemaklik as 'n Afrikaner, maar dit definieer nie wie en wat ek is nie en ek is beslis nie 'n lid van die “Afrikanervolk” nie. (Ek het al op universiteit een nag die destydse HNP se verkiesingsplakkate op Stellenbosch, Bly Blank My Volk, gekorrigeer deur die b's in Bly en in Blank en die l in Volk toe te plak: Ly lank my vok.)
Ek het in April vanjaar in my kommentaar oor die uitreik van die Afrikaner-verklaring weer geskryf: “Ek is 'n Afrikaner, so gebore en so gelaat staan. Ek is net nie 'n Afrikaner-nasionalis nie; ek is nie 'n ‘politieke Afrikaner’ nie. Ek is nie deel van ‘die volk' waarvan die verklaring praat nie. Ek is net 'n Afrikaner, en doodgelukkig daarmee, omdat my ouers en voorouers Afrikaners was en ek in dié kultuur en taal grootgeword het en gesosialiseer is. Ek is eers 'n Suid-Afrikaner en 'n demokraat voor ek 'n stam-Afrikaner is.”
Beyers Naudé en Frederik Van Zyl Slabbert was Afrikaners, Eugène Terre’Blanche en Andries Treurnicht ook. Maar Oom Bey en Van Zyl was die antitese van Afrikaner-nasionaliste; hulle was nie deel van die “volk" nie.
Ek vereenselwig my 'n duisend keer meer met Christo van der Rheede as met Ernst Roets, hoof van die Afrikaner-stigting. My lewens- en wêreldbeskouing is oneindig nader aan mense soos Dikgang Moseneke en Songezo Zibi as aan Flip Buys of Kallie Kriel.
Theo de Jager maak in sy artikel van 'n betekenisvolle konsep melding, en dit is waar die Solidariteit/AfriForum-dinamika as voorste beliggaming van Afrikaner-nasionalisme in die prentjie kom. Hy verwys na die beplande nasionale dialoog en sê dat stigtings in die name van mense soos Nelson Mandela, FW de Klerk en Thabo Mbeki dit wil kaap, maar hulle het geen “massasteun” of “implimenteringsvermoë” nie.
“Identiteitlose, kapasiteitslose en ankerlose stemme is meestal ook waardeloos,” skryf De Jager. En daarmee wil hy sê die Afrikaner-nasionalisme soos verteenwoordig deur die Solidariteit-beweging moet 'n groot rol speel, want hulle het steun, identiteit, kapasiteit en implimenteringsvermoë.
Dís Solidariteit se magic trick: bou 'n formidabele, kapitaalkragtige beweging met uitgespreide tentakels wat goed bou en regkry in 'n land waar daar nie veel gebou of reggekry word nie, en gebruik dit dan om Afrikaner-nasionalisme te bevorder en invloed op te bou.
Dit wérk vir hulle.
Die Solidariteit-beweging is die Afrikaner-nasionaliste se koningshuis met Flip Buys op die troon, in meer kontemporêre Afrika-terme die Boere se commander-in-chief. (Kommandant-generaal?)
Dís waar die Afrikanerkitaar geslaan word, nêrens anders nie. Bêre maar julle ukeleles, kêrels.
Daar sou nie 'n Afrikaner-verklaring of -stigting of -leierskapnetwerk of -Afrika-inisiatief sonder Solidariteit gewees het nie.
Ek het destyds die Afrikaner-verklaring verwelkom en die res van Suid-Afrika aangeraai om die hand wat uitgereik is, te vat. Ek het daarop gewys dat die ondertekenaars uit dieselfde dampkring kom as dié wat voor 1994 die demokrasie met geweld wou stuit of ontwrig, en dit is vordering.
Ek en mense soos ek, wit en bruin Afrikaanssprekendes, mag maar saam bly wees dat ons meer konserwatiewe en etnies-nasionalistiese taalgenote hulle trou aan ons republiek en ons nasie belowe, wat ook al die caveats. Ons is bly hulle het geweld afgesweer, het ek geskryf.
Die R-woord
Jy mag maar 'n Afrikaner- etniese nasionalis, of 'n Zoeloe- of Xhosa-nasionalis wees, dit is nie ongrondwetlik nie. Maar dan moet jy eerlik wees en dit nie in terme van taal en geskiedenis definieer nie; maak of dit iets anders as rasgebaseerde tribalism, stamgebondenheid, is nie.
Min of dalk geen ander tale nie as Afrikaans en Duits het 'n woord vir volk. Dit kan breedweg gedefinieer word as 'n groep mense met 'n uitsluitende samehorigheidsgevoel gebaseer or kultuur, geskiedenis, herkoms en taal, soms ook godsdiens.
Maar Theo de Jager deel tog al of amper al dié goed met Christo van der Rheede, insluitend 'n passie vir dieselfde taal?
Al rede waarom Christo nie as 'n Afrikaner gereken word nie, is dat sy vel 'n skakering of wat donkerder as dié van die meeste lede van die Afrikanervolk is. Hy word as komende uit 'n ander “ras” gereken. Afrikaners is mos wit, al is die idee van rassesuiwerheid lankal as mite uitgewys.
Oud-Matie Van der Rheede is hoof van die FW de Klerk-stigting, was voorheen die hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, hoofbestuurder van Agri SA, 'n professor aan die Universiteit van die Vrystaat en is 'n ywerige, effektiewe kampvegter vir Afrikaans en belydende Christen.
Beter getuigskrifte kan jy nie hê om 'n Afrikaner-leier te wees nie.
Jy sê dit was Van der Rheede se eie besluit om homself nie as 'n Afrikaner te beskou nie? Dit is tog absurd. Jy wil hê hy moet bakhand gaan staan en vra om tot 'n klub toegelaat te word wat hom nie regtig as lid wil hê nie? Van die mense wat hom tydens die grootste deel van sy lewe as 'n “Kleurling” geklassifiseer en van sy burgerregte ontneem het? Gaan lees self sy aanvanklike artikel wat die huidige debat begin het.
Die leiers van Afrikaner-nasionalisme voel geëerd as ANC-leiers met hulle beraadslaag. Hulle spog graag daarmee en stuur die foto’s op WhatsApp rond. Soos die klompie (onder andere Steve Hofmeyr) wat destyds deur Jacob Zuma na Nkandla genooi is en Thabo Mbeki wat Solidariteit en ander by die Afrikaner-Afrika-inisiatief betrek het.
Die manne verstaan nie dat die ANC dit nie uit wellewendheid en in 'n gees van nierassigheid doen nie, hulle verstaan nie dat dit deel van die “othering” van wit Afrikaners is nie. Hulle word heuning om die mond gesmeer omdat die ANC hulle wil paai en koöpteer. En as hulle wegstap en in hulle Fortuners klim, lag die maghebbers stilletjies agter hulle hande. En die president teken tóg die Bela-wet oor taal in skole.
Ek wil nie voorgee dat alle Afrikaanssprekers homogeen is nie. Apartheid het gesorg dat ons ander vormingsjare gehad het en dat ons steeds meestal in afsonderlike woonbuurte leef en afsonderlik aanbid. Bruin armoede sny steeds baie dieper as wit armoede.
Maar ons is een taalgemeenskap. Afrikaner-nasionaliste gee baie hoog op oor Afrikaans, maar die vermoede is sterk by my en vele ander dat dit vir die wit nasionaliste eerder oor stamsimbool as taal gaan.
Ek het onlangs hier oor sagte mag (soft power) en harde mag geskryf. Ek het die Harvard-professor wat dié term gepopulariseer het, Joseph Nye, hieroor aangehaal: “Power is the ability to affect others to get the outcomes one prefers, and that can be accomplished by coercion, payment, or attraction and persuasion. Soft power is the ability to obtain preferred outcomes by attraction rather than coercion or payment.”
As die Solidariteit-beweging as leiers van die “volk” Afrikaans se toekoms en dié van sy sprekers wil help verseker, moet hulle sagte mag gebruik eerder as om te dreig, bang te maak of geld rond te gooi.
En nou wil ek op my seepkissie klim en saam met Christo van der Rheede verklaar: “My Afrikaans sê hou verby, asseblief. Want dit vind eerder aanklank by 'n nierassige Afrikaanse smeltkroes wat eerder omarm as uitsluit, eerder verruim as wegstoot, eerder verenig as verdeel, eerder bevraagteken as slaafs navolg en wat sonder twyfeling voorspraak maak vir die waardes van die grondwet en skeppend daarmee omgaan om van Suid-Afrika 'n beter plek vir almal te maak.”
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.