Onder ons ore het ’n Afrikaanse fenomeen vlamgevat

'HIP-HOP IS IN MY BLOED'

Onder ons ore het ’n Afrikaanse fenomeen vlamgevat

Die klanke klief deur die lug, hoor SYBRANDUS ADEMA se gespitste ore. Uit die bure se huis, oor die radio en by getypoele in die Kaapse Skiereiland hoor hy mense Engels praat, maar ook toenemend Afrikaanse/Kaapse* hip-hop en rap aanhang. Wat gaan aan?

Image: © NATHAN TRANTRAAL

DIS 'n diepduik in die kuberoseane van YouTube en Spotify waar een musiek-klik lei tot nog een en nog en nog, totdat jy moet opkom vir asem; onmoontlik om ’n oor...sig te vorm.

Wat wel opval, is byvoorbeeld Kaytlin Filander se “Al die dae” met 2,2 miljoen kyke, Niko10long se “Tot di eindstryd" (“Van kleinstyd is die klong gebless met wysheid”) en Bruinstormaz se “Die uitstiek" (“As ek kom, kom ek met ’n hand vol vuur.") Of van my gunstelinge, soos Rosey die Rapper se “Wanneer jy my naam hoor", Die Hooflig se A-plus" en Rimestein se “Alfabetiese rymklets"met “seun sê seun sal sewe sakke sielskos sleep saamsinnig sowaar sonder suurstof skryf skitterend straatsoldate staan sterk sodoende sal seremoniemeester sekerlik saamwerk”. Asook Luda G se “Kani wagi"met 1,8 miljoen kyke en Dookoom se “Larney jou poes" – nie vir sensitiewe siele nie.

Op Facebook is talle groepe en grepe terwyl die Showmax-reeks The sound of Spinners ’n klomp Afrikaanse/Kaapse hip-hop bevat. So gaan dit aan vir seker duisende songs; lewende gedenktekens geskep in die grootste stede en kleinste gehuggies waarop selfs Hitler reageer.

Die lirieke, verhoogname en kommentare onderaan die video’s is ’n paar tesisse werd. Talle is van mense wat nie ’n woord verstaan nie en reken Afrikaanse hip-hop is die beste ding sedert, wel ... hip-hop. Onderaan Cream se “Stamina": “Argentine in Germany, love Afrikaans hip hop because of people like you.”

Onder Kaytlin: “Ek besef laity ons taal was altyd onder gedruk /een kant gesit, maar baby girl ons druk hard om ’n vrou beter te verstaan en sam haar stan. salut.” Onder Ziggy X4 se “Slat los": “I'm Xhosa & not fluent in Afrikaans but yarrrre when music transcends language barriers it doesn't matter ...” En nog iemand: “As a Xhosa gent, it will be my first time buying an entire album of a language I don't know ... it has led me to explore more of Cape Town Afrikaans rap …”

In die begin was die woord

En die woord was hip-hop, aldus die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, “populêre musiek waarvan die genre sy beslag i.d. 1970’s in New York gekry het, en wat gekenmerk word deur sterk ritmiese musiek wat op rapmusiek gebaseer is en dikw. elemente van funk en rhythm en blues bevat, asook fragmente van melodieë en (of) ritmes wat ontleen is aan vooraf opgeneemde bronne”.

Dit het oorgewaai na Suid-Afrika waar nabootsers dit eers hoofsaaklik in Amerikaanse Engels aangepak het. Maar in die 1980’s het Prophets of da City die voortou geneem met Kaapse/Afrikaanse hip-hop, opgevolg deur Brasse Vannie Kaap, Mr Devious (RIP) en Emile Jansen se Black Noise – hy is pas deur die president met die Orde van Ikhamanga: silwer vereer vir sy bydrae tot hip-hop en Afrikaaps wat ’n kantelpunt vir die dekolonialisering van die taal was.

Dit is al weer jare gelede toe die (nou eks-) glanspaar Yoma en Hemelbesem die vloer gevee het met hul musiek. Churchil Naudé, telkens in samewerking met Riku Lätti, stry steeds die goeie stryd om negatiewe persepsies oor Afrikaanse musiek te vermorsel. Jitsvinger en Chase Lutron het hul gevaarlike merke gemaak terwyl Gqeberha se Early B met miljoene der miljoene YouTube-kyke en feesoptredes seker “hoofstroomstatus” bereik het. Dis selfs woelig in Namibië met onder andere Rush, Ixa en ’n “Afrikaans Hip Hop Rap Battle" wat Rehoboth in 2023 getref het.

Aldus die net is Afrikaanse hip-hop circa 2024 “’n subgenre gekenmerk deur die gebruik van Afrika-ritmes en tradisionele instrumente, asook die insluiting van plaaslike sleng en kulturele verwysings”.

Dog dit bestaan nie

FRAZER BARRY

“Daar bestaan nie iets soos ’n Afrikaanse hip-hop-genre nie, maar wel Afrikaans rymklets of rap, as ’n genre,” sê Frazer Barry. As ’n bekroonde komponis, vervaardiger, voorsanger van Tribal Echo Band en musiekdokumenteerder van die gewilde RSG-program Rymklets Sonder Grense, het hy sy vinger op die pols én doen hy baanbrekerswerk met byvoorbeeld sy en Hartman se riel-rap.

 “Hip-hop per definisie is die kultuur wat soos ’n sambreel is, waaronder verskeie kunstenaars hulself uitdruk in verskeie vorms van kreatiwiteit,” verduidelik hy. Die elemente hiervan sluit kennis van die self, DJ, breakdancing (vanjaar die enigste nuwe sport by die Olimpiese Spele), graffiti en rap in.

Ter plaatse sonder Barry ook die baanbrekerswerk uit van Mr Fat en DJ Rozanno Davids as die plaaslike Godfathers van hip-hop wat dié genre as ’n vorm van protes en aktivisme uitgebasuin het. Asook Terry Boeta T Theron se rol in die skaduwees en Pierre Cloete vir sy skeppende dryfkrag agter ’n hele spul hip-hoppers. “Die tegnologie wat ontbreek het (ateljees is destyds duur), het veroorsaak dat baie ou Suid-Afrikaanse hip-hoppers vandag steeds smag na erkenning omdat hulle nie die bewyse het van hul aktiewe hip-hop-lewe nie,” sê Barry.

Die kultuur is ten nouste gekoppel aan die werkersklas en gemarginaliseerde mense, ook in Afrikaans. Dis in protes teen apartheid gebruik en godsdiens (van Jah tot Jesus tot Allah) asook identiteits-, omgewings- en sosio-ekonomiese kwessies word ingeweef, soms met Khoi- en San-elemente soos veral deur Hakkiesdraad Hartman.

Bruin werkersklasmense se politieke posisie word ook gereeld belig in byvoorbeeld Meneer Cee van Gauteng se “Moenie baiza [faal] nie" – “So is dit nou reg al die jare geveg? Al die bloed sweet en trane ons vaders is weg.”

MENEER CEE

Hip-hopper of rampokker?

Maar daar is ook baie, baie wat bloot seks(isme), liefde, dwelms, partie, gangsters en bling-besittings verheerlik, telkens ’n refleksie van ’n geleefde werklikheid.

“Ja,” sê Barry, “Die liriese ‘selfverheffing’ is tans die grootste fokus wat die Afrikaanse temas betref – dis asof Afrikaanse rymkletsers hul rigting verloor het met betrekking tot die tematiese inhoud van die kunswerke.” Die oppervlakkigheid gebeur byvoorbeeld tydens ’n battle rap (bekgeveg) waar teenstanders mekaar uit die vuis uit met Afrikaanse woordgewere aanvat. “Daarom is geleenthede soos KONFLIK geweldig spesiaal, want hier word die krygskuns van rymklets in gesonde ruimtes bevorder,” voeg Barry by. In hip-hop is die soeke na die self, (self)aanvaarding en identiteit baie belangrik, maar nie veronderstel om in egoïsme en kru materialisme te verval nie.

PROF. ADAM HAUPT

Wat die temas betref, sê die hip-hop-fundi prof. Adam Haupt van die Universiteit van Kaapstad dat die volle spektrum teenwoordig is. “Party is net speels, soos Klein Fortuin wat werklik snaaks is; hy’s boonop ’n goeie freestyle rapper. Niko10Long van Wesbank is weer ’n goeie voorbeeld van iemand wat polities sterk betrokke is in sy gemeenskap. Die manier hoe hy homself linguïsties uitdruk, is beautiful.”

Haupt het nie net uitgebreide navorsing oor hip-hop-aktivisme – wat debatte oor taal, ras, geslag, verteenwoordiging, tegnologie en intellektuele eiendom insluit – gedoen nie, maar is koördinerende redakteur van Global Hip Hop Studies. Sy 2019-boek gebruik aspekte van outo-etnografie en hip-hopografie om die verhaal van hip-hop-aktivisme in Kaapstad te vertel – hoe die stryd teen apartheid en die genre mekaar wedersyds beïnvloed het.

Hip-hopografie

“Die idee van die hip-hop-kultuur is dat, voordat jy uitgaan en die wêreld verander, jy na jouself kyk, na hoe byvoorbeeld kolonialisme jou gevorm het,” sê Haupt. “ ’n Groot deel van hoe jy jouself validate, is om te erken dat dit is hoe jy praat,” beklemtoon hy oor die ontwikkeling van Afrikaapse hip-hop. “En dat jy identifiseer met swart bewussyn as ’n politieke begrip.”

Dit het gebeur terwyl wit norme globaal in die spervuur beland het, oor hoe tale  gepraat behoort te word, asook werkerklasidees dat jy veronderstel is om te streef na wit middelklasbegrippe “oor byvoorbeeld ordentlikheid”. Dit was onder meer danksy Public Enemy (VSA) se politieke boodskappe. “Plaaslik was Prophets of da City met ‘Dallah Flet' ’n voorloper, in wat toe as Gamtaal [Kaaps] bekend gestaan het.”

Daar is wel ’n prys te betaal as jy jouself wil wees en so wil uitdruk, en dit is toegang tot ekonomiese mag, spesifiek in ’n Afrikaanse konteks en veral dan in terme van toegang tot media en borge. “Ek was betrokke by Afrikaanse kunstefeeste,” verduidelik Haupt. “Die korporatiewe borge het uit daardie ideologiese erfenis gekom waarin hulle vasgevang was in wit Afrikaner-identiteit; hulle was nie in staat of bereid om verder aan te beweeg nie. Hulle was onwillig om hul verstaan van die begrip van ras en taal fundamenteel te verander op maniere wat meer inklusief is. Dit gaan uiteindelik oor (ekonomiese) mag en die swart deelnemers bly window dressing. En dis baie jammer.”

Geld is ’n taal

Dus, hoewel rap deel van daardie feeste was en is, is die kunstenaars wat deelneem grootliks “sexy en verteerbaar” vir oorwegend wit gehore. Boonop, “as ’n feesorganiseerder jou wil bespreek onder die genre ‘Afrikaanse rymklets’ [en nie byvoorbeeld Kaapse rap nie], gaan jy nie stry nie omdat jy daar wil wees”, voeg Haupt by.

Hy is ook bekommerd dat van die rappers wat by hoofstroom-geleenthede betrek word, dalk gebruik word omdat hulle aan die stereotipes van die “snaakse bruin man” voldoen. “Daar’s ’n Klopse-element in plaaslike hip-hop en daardie kunstenaars word soms gekoöpteer omdat hulle amusant is en niemand bedreig voel nie. En dis ’n dilemma vir die rappers, want hulle verstaan dit ook. Ek dink nie die paar Kaapse rappers by oorwegend wit feeste verteenwoordig al ware transformasie nie.”

Volgens Barry is daar boonop hip-hop-praktisyne wat nie kommersiële rymklets noodwendig as deel van die hip-hop-kultuur beskou nie. “Die popmusiek-kultuur het intussen die vorm van rymklets in diens gestel van die kommersiële aspek. Iets wat verskriklik omstrede is en sal bly, en dis nie omdat die hip-hop-kultuur die skep van geld deur jou kuns teëstaan nie. Die rede is eenvoudig: Baie gebruik slegs hip-hop-musiek, maar het niks met die kultuur te doen nie.”

Adrian Louw is die program-integreerder van die geskiedkundige, drietalige Kaapse gemeenskapsradiostasie Bush Radio waar Afrikaanse hip-hop omtrent daagliks op die spyskaart is. Hy beaam wat Barry en Haupt sê. “Daar is drie goed wat grootliks teen hierdie hip-hoppers tel – ras, klas én taal.

ADRIAN LOUW

“Ons was eintlik baie jare lank die enigstes wat Afrikaanse hip-hop gespeel het, maar nou speel kommersiële radiostasies dit ook – dit nadat hulle hul neuse daarvoor opgetrek het. Sodra jy dit kan verpak en verkoop, staan jy ’n kans om geld te maak.” Aangesien misdaad baie hip-hoppers verhoed het om in persoon aan battle raps deel te neem, het die radiostasie destyds ’n ruimte geskep sodat hulle kon inbel en op die lug hul vaardighede kon vertoon. “Jitsvinger was een van hulle en kyk hoe beroemd is hy nou.”

Eter-skaamte

Deel van Bush Radio se ontstaansideale was dat almal gemaklik moes voel om hul weergawes van Xhosa, Afrikaans en Engels te gebruik. Maar sodra die aanbieders voor die mikrofoon ingeskuif het, was hulle huiwerig om Afrikaans/Kaaps te praat: “Almal praat toe net fokken Engels!” sê Louw. Hip-hop was deel van Bush se swart bewussyn- en identiteits-DNS met mense soos Shamiel X Adams, Prophets of da City en Black Noise (Emile Jansen) wat ’n groot rol gespeel het.

Van hul gereelde gaste was van die oorspronklike Afrikaapse hip-hoppers, en die eerste klagte teen die stasie was hoeka oor Mr Fat (aka Ashley Titus RIP) wat Kaaps gepraat het. “Die klagte was nie per se oor die vloekwoord ‘kak’ nie; dit was hoe hy Afrikaans gepraat het,” onthou Louw. Hip-hop is egter ’n medium waarmee mense hul Afrikaanse, Nama- en ander identiteite verken, voeg hy by. “Dis ’n bron van trots.” Mettertyd, soos mense bemagtig gevoel het, het die taalgebruik genormaliseer, “maar jy kry steeds jonges in 2024 wat Afrikaans en Kaaps vlot praat, maar net Engels wil praat as jy die mike oopmaak”.

Ek vra Barry oor baie van die rappers se unieke komvandaantale soos Khoi, Nama en San? “Die groei is daar, hoewel té stadig na my sin. Ek is juis betrokke in hierdie veld omdat dit só onontgin is en omdat dit ons wortels is wat vir ons ’n sterker identiteit in die wêreld van hip-hop sal gee.”

Toe Ralph Cyfers sy “Oorlog Verf" bekendgestel het, is hy soos volg aangehaal: “Ek het nooit ingepas in my omgewing nie, maar hip-hop het my aanvaar soos ek is.” Vir Afrikaanse hip-hoppers vind die proses veral plaas in terme van ’n herinbesitneming van die taal en ’n Afrika-identiteit. “Ek het nog ’n video van YoungstaCPT hier met ’n fake American aksent toe hy begin het,” sê Louw. “Nou embrace hy sy Afrikaans.”

Die groei van hierdie musiek het Louw op ’n persoonlike vlak geraak: “Ek’s Engels grootgemaak en het eers laat in my lewe agtergekom dat beide my ouers Afrikaans van huis was.” Boonop, verduidelik hy, was daar ’n “Boere-antie-voorsaat in Woodstock, Kaapstad, wat verlief geraak het op ’n bruin man van die Cape Flats, dis my roots". Via hip-hop voel hy, as buitestander, weer ’n verbintenis met die verlede. “Dit (Afrikaans) is iets waarop ek uitgemis het. Daar is iets wat in my resoneer as ek daarna luister. Dis in my bloed.”

Wit hip-hop?

Soos baie, verwerp Haupt en Louw Die Antwoord as kulturele toe-eiening op sy kruste – Ninja deel nie die taal, klas of ras nie, maar het ’n klomp geld uit Afrikaanse rap gemaak. “Vir my is dit kulturele toe-eiening wanneer jy die mag het om van gekoloniseerde mense te leen en jy nie toestemming gevra het nie,” benadruk Haupt. “En jy gee nie om wat hulle van jou dink nie; jy kan dit doen, wánt jý kán.(Jack) Parow is trickier, want daar is 'n vlak van samewerkende betrokkenheid op lang termyn [met bruin werkersklaskunstenaars] en ’n deel van verhoë wat meer respekvol is as wat ek al elders gesien het.”

“As bruin mense het ons nog nie genoeg gedoen om rap te kommersialiseer nie,” meen Louw. “Neem byvoorbeeld Godessa, ’n amazing vroue-hip-hop-groep van die Kaapse Vlakte. Hulle het als gehad – die looks, die rou energie, oorspronklikheid, kwaliteit – maar daar was net nie ’n mark daarvoor nie.” Meeste van die band woon nou in die buiteland waar hulle heel suksesvolle lewens lei, maar dit was ’n verlies vir Suid-Afrikaanse hip-hop. 

Wat die genre self betref, reken Louw dit, soos die kunstenaars, ondergaan deurgaans 'n evolusie. “Dit dien nie rêrig die luisteraars as iemand sê: O, hierdie is nie regte rap of jazz of wat ook al nie. Dit dien die verkoopsmense wat speellyste soek met musiek wat in spesifieke kategorieë val sodat hulle maklik produkte kan verkoop. Maar die audience is nie dom nie, en die laaities wat die hip-hop maak, is nie stupid nie. Hulle maak dit vir hulle mense.”

Volgens Barry vergeet mense dat hip-hop die grootste kruisbestuiwing van alle musiekgenres is. “Die mees basiese skeppings het ontstaan toe DJ’s grepe (sampling) van verskeie genres gevat en gemeng het. Dit is die hartklop daarvan. In Suid-Afrika het Prophets of da City dit reeds in die 1990’s gedoen deur Afrika-riffs en rock en funk breaks te gebruik. In die laaste jare het skoollaaities gqom en house gebruik as hul basis. Daar word gereeld reggae, riel, klassieke musiek, opera, R&B en al wat genre is as basis gebruik.”

Die broeders is geKaap

Intussen is “die groot gelykmaker (en rede waarom daar nou so baie Afrikaanse hip-hop aanlyn is) tegnologie en sosiale media”, sê Louw. Slimfone, musiekplatforms en gratis kommunikasiekanale beteken enigiemand kan hulle hip-hop in die kuberruimte laat weergalm. Maar om geld daaruit te maak, bly bitter min beskore, veral as die kommersiële media langtand bly. “Die skep van musiek is vinnig en kunstenaars kom en gaan ook net so vinnig,” sê Barry.

Hy benadruk hoe plattelandse en stedelike rappers via georganiseerde bewegings al hoe meer saamgewerk het om Afrikaanse rymkletsers saam te snoer en die musiek toegankliker te maak, met Broederbond wat uitstaan. “Hulle was die afgelope sewe jaar van kardinale belang vir die hip-hop-kultuur. Honderde liedjies is geskep met kunstenaars wat landwyd onder dié vaandel die Broederbond-naam gekaap en dit in iets positiefs omskep het.

“Kwaliteit is ook nie meer ’n kwessie nie; die jonges het die internet en kyk na selfhelpvideo’s.” Hy’s oortuig daarvan dat sodra die TV- en fliekbedrywe meer Afrikaanse hip-hop vir hul klankbane gebruik, dié rappers op die grootste internasionale verhoë verwelkom sal word “omdat hulle so uniek is”.

Wat ook al verder gebeur, weet net dit: Dié hip-hop is aan die beweeg met ’n taal in haar kielsog. En as jy die verlede, hede en toekoms wil sien, gaan dié sewe minute met “Vito" hopelik jou jaar maak.

Is ja!

* In Afrikaapse kringe word die argument gemaak dat moderne
Kaaps(-Afrikaans) nie bloot ’n variëteit van moderne Afrikaans is nie, maar die direkte afstammeling van die oorspronklike Afrikaans. Daai Afrikaans is destyds deur wit kulturele toe-eiening (lees die GRA) uiteindelik omskep in wat grootliks vandag Standaardafrikaans (Algemene Afrikaans) is, ’n ander taal by wyse van spreke. Vir die doeleindes van dié artikel verwys Afrikaans ook na Kaaps; die hip-hoppers gebruik albei begrippe, asook talle Afrikaanse variëteite, van Namibië tot die Oos-Kaap tot Namakwaland tot Gauteng. Jip, dis ingewikkeld ...

Meer om te lees:

Neva Again. Hip0 Hop Art, Activism and Education in Post-Apartheid South Africa deur Adam Haupt

Ons Perspektief, ’n samewerkingsprojek van die Nederlandse kuns/hip-hop-kollektief BrotherTill en Afrika-rymkletskunstenaars.

Prophets of da City: African Hip Hop Pioneers

For The Record: realROZZANO en The Rhythm In Me Conversations - DJ Real Rozzano

Hip-hop pioneer Emile Jansen awarded President's Order

Ixa’s Flavourful Afrikaans Hip-Hop

What is cultural appropriation and why is it so harmful?

Mr Devious, a short documentary film by John Fredericks 

Prophets of da City

The Hip Hop African

Afrikaanse rymklets is verstommend groot

En baie meer om te luister:

Daar’s verskeie groepe op Facebook, maar AfrikaansHipHop lyk tans die beste waar 'n mens meer oor byvoorbeeld Cypher en Vangie Peak te hore kan kom.

Brieke op Liriek

Cape Awake

DJ Gakkie

DJ KMA CPT Rap Mix 2024 “Jack Parow koop sy lyrics by Pep, hy’s ’n rooinek,” sing ’n kritikus.

Spotify, maar moenie verbaas wees as jy baie wit Afrikaanse “hip-hoppers” bespeur nie – oplaaiers bepaal hul eie kategorieë, dus hou die sout byderhand.

Kaapse/Afrikaanse hip-hop word ook met ander inheemse tale gemeng, soos byvoorbeeld Junant (RIP) wat gemaklik van Xhosa na Afrikaans vloei. Of met ander inheemse genres, soos gqom, wat deur byvoorbeeld Temple Boys beoefen word 

21 Promo & Pengii

Blaq Pearl

Cream Machine

Dr Kapnoudis (RIP) 

Hef the Chef

Hemelbesem “Die bebaarde pa wat stadig die ou landsvlag hys.”

Imie Vanie Delf

Isaac Mutant

Jaakspraak (RIP) 

Jah Logo

JBux

Jerome Rex

Kaista Black

Knoffelbruin en Paddastoel

Kro-Barz

Kulture Gang

Linkris

Masalla Deksildif

Mr Heinz

Queen Pin

Rashied Kamalie

Rimestein “As ek rymklets, is dit ’n heilige saak.”

Siep “Ledigheid is die duiwel se slaapsak.”

Siepsokkie

V.I.T.O

Wanie “Democracy is ’n illusion, want Suid-Afrika is wit en swart … Coloureds word ge-undermine.”

Weste

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.