ÊRENS in die middel van die linkerkantse rakke in die skrikwekkende oorvol plek wat ek “my kantoor” noem, kry jy my versameling van Suid-Afrikaanse musiekboeke. Titels sluit in The Drum Decade, Voëlvry, In Township Tonight!, Music in the Mix deur die voormalige MK-bevelvoerder Muff Anderson, ’n dun bundel oor alternatiewe bands genaamd Stars, Bars & Guitars en die lywige versameling Beyond Memory, gegrond op die dagboek van DJ Max Mojapelo.
Dan is daar die jazz: Jazz, Blues & Swing, Cape Town Jazz 1959-1963, Chris McGregor and the Brotherhood of Breath, Marabi Nights, Soweto Blues, asook die pragtig vervaardigde hardeband Keeping Time. Langsaan sal jy Fokofpolisiekar- en Johannes Kerkorrel-biografieë kry, en van die meer literêre boeke oor die musiektoneel in vervloë dae, deur Koos Kombuis en Carsten Rasch geskryf.
En laat ons nie die weldeurdagte stukke in versamelings van Danie Marais vergeet nie (hy laat my Bruce Springsteen ’n bietjie meer waardeer) en Rian Malan, wat in Resident Alien die lang, droewige trajek van Solomon Linda se “Mbube” beskryf, een van die hoogtepunte van Suid-Afrikaanse musieknavorsing en skryfwerk. En elke keer as ek hierdie gekoesterde versameling sien, kan ek nie anders nie as om te wonder hoekom een van die bestes van almal, Richard Haslop, nog nooit ’n boek geskryf het nie.
Read this article in English:
Maar soos jy dalk opgemerk het: Nie een van bogenoemde werke bied ’n omvattende, insiggewende oorsig oor Suid-Afrikaanse popmusiek nie. Beyond Memory bied dit in ’n mate, maar die hooffokus is op swart klanke. En dan is daar History of Contemporary Music of South Africa, saamgestel deur Garth Chilvers en Tom Jasiukowicz en die eerste keer in 1994 gepubliseer, wat die tydperk 1957 tot 1992 dek. Dis ’n vreemde boek wat alles en almal van Bobby Angel, A-Cads en Dickie Loader tot Brenda Fassie, Lucky Dube en Asylum Kids insluit. Dis beslis die moeite werd om ’n kopie te besit, veral as jy ’n versamelaar is. Maar dit gaan nie verder as die gebied van klein biografieë en oorsigte oor die albums wat die verskillende kunstenaars vervaardig het nie.
Ek het dus opgewonde geraak toe ek lees dat die New Yorkse uitgewer Bloomsbury ’n boek genaamd South African Popular Music in sy 33⅓-genrereeks bekendgestel het. Ek is baie lief vir die 33⅓-reeks – kort, nuttige boeke wat in individuele albums delf. Ek besit sowat ’n dosyn, insluitend oor plate deur die Dead Kennedys, Black Sabbath, Sonic Youth, Talking Heads, The Kinks en Cat Power. Sommige is natuurlik beter as ander, maar oor die algemeen is dit ’n wonderlike reeks, die moeite werd om te lees. Plaaslik kan jy dit deur Loot.co.za in die hande kry. Dit is sedert 2003 aan die gang en het vir ons meer as 200 mini-boeke gegee, insluitend subreekse oor Japannese, Brasiliaanse en Europese musiek.
Die Suid-Afrikaanse een, geskryf deur Lior Phillips, val in die nuwe “genre”-kategorie, waar dit in dieselfde asem as “death metal”, “trip-hop” en “krautrock” genoem word. Kyk, ek kan trip-hop en krautrock as ’n genre sien, maar om Suid-Afrikaanse musiek só te etiketteer is amper soos om te sê Afrika is ’n land. Lior Phillips was ook vir my ’n onbekende naam en ek het haar toe gaan naslaan.
Volgens verskeie webwerwe is sy ’n musiek- en kultuurjoernalis en podcaster wat in die laat 1980’s in Kaapstad gebore is en nou in Chicago woon. Toe sy gevra is om haar boek in een sin te beskryf, het sy gesê: “A bold, stereotype-severing and historically immersive collection of scenes across the history of South Africa, exploring the sounds and impact of popular music in all its glorious, evolving genres."
Dit het my belangstelling geprikkel en ek het gevolglik die goeie mense van Bloomsbury om ’n resensie-kopie gevra, wat hulle die volgende dag gestuur het. Ek het dit ’n paar weke gelede klaargemaak en talle notas versamel. Is dit interessant? Dit is waarskynlik. Is dit goed? Hmmm, ek is nie heeltemal seker nie. Stilisties kan dit ’n bietjie uitputtend wees. Die gebruik van komplekse sinne wat met ’n bysin begin (soos in, “While the destruction of Sophiatown began the exodus of black artists from South Africa, the Sharpeville Massacre accelerated it”), lyk soos ’n gewoontetjie van die skrywer wat raakgesien en reggestel moes gewees het.
Afgesien hiervan is daar ’n paar foute, soos om die eDakeni-distrik in die Oos-Kaap pleks van KwaZulu-Natal te plaas en om Die Antwoord-sanger Watkin Tudor Jones soms Waddy (reg) en soms Watty (verkeerd) te noem. Maar ek is self sleg met name en vergewe Phillips en die redakteurs dus graag vir hierdie foute. Oor die algemeen is die boek ’n dapper poging om die ongelooflike kompleks geskiedenis van sowat agt dekades van Suid-Afrikaanse populêre musiek in ’n skamele 180 klein bladsye (hulle meet 12 cm x 16 cm) te probeer vasvang.
In haar inleiding beskryf Phillips in effens ingewikkelde, kronkelende prosa wat sy beoog: “Rather than any single ‘pop' formula, the line instead traces through the unifying power of musical diversity: from the first available recordings of vocal groups and jazz-adjacent subgenres, to the explosion of international acclaim in the ‘world music' movement, a generation of protest music, and through to postmodern electronic music, every step of the way somehow both influenced by political movements and influencing them."
Haar uitgangspunt is goed gekies: Ná ’n totaal onnodige mea culpa vir wit en bevoorreg wees, begin sy haar reis met “Mbube” – heel moontlik die Rosettasteen van Suid-Afrikaanse pop. Dis die song wat, nadat dit in 1939 deur Solomon Linda en die Evening Birds opgeneem is, oor die see na Amerika gereis het waar die folksanger Pete Seeger en sy sanggroep die Weavers dit in die hande gekry en die titel in die uitgedinkte woord “Wimaweh” omskep het. Volgende was ’n wit doo-wop-band, The Tokens, wat dit baie slim “The Lion Sleeps Tonight” genoem en ’n groot treffer daarvan gemaak het. Talle kunstenaars het die song deur die jare opgeneem; 160 opnames word genoem. Hulle wissel van sangers soos Miriam Makeba tot die Britse avant-garde-musikant Brian Eno. En dan is daar natuurlik die storie oor die geld, die reusagtige tantième van miljoene dollars waarvan Linda en sy gesin skaars ’n sent gesien het. Phillips som dit alles baie netjies op.
In daaropvolgende hoofstukke skryf sy onder meer oor Bantoe-radio en sjebeen-jazz, wat baie obskure name en besonderhede insluit, soos ’n vlugtige beskrywing van David de Lange en Chris Blignaut se musiek. Hier gesels sy met die musiek-obsessiewe treinspotter Rob Allingham wat van Amerika na Johannesburg verhuis en as argiefbestuurder vir Gallo Records gewerk het – iets wat hom ’n ensiklopediese kennis van Suid-Afrikaanse musiek besorg het. Elders kry jy die gevoel dat sy duidelik haar huiswerk gedoen het. Daar’s onderhoude met ’n wye reeks kundiges, insluitend DJ Max Mojapelo, die historikus Chris Ballantine en ’n lang lys musikante en kenners.
En so gaan dit aan. Ons lees breedvoerig oor die kwêlafluitjie, ’n bekostigbare instrument vir swart straatsangers. Dan draai die storie na Makeba, Hugh Masekela en Abdullah Ibrahim. Nuwe brokkies inligting (ten minste vir my) duik op, soos die feit dat Masekela trompet gespeel het op “So You Want To Be A Rock ‘n’ Roll Star” deur die Amerikaanse folkrockband The Byrds. Phillips wy heelwat welverdiende ruimte aan Durban se beste, The Flames, waarvan sommige lede ’n tyd lank saam met die Beach Boys opgetree het (hoewel sy vergeet om te noem dat hulle Blondie Chaplin ook 10 jaar lank saam met die Rolling Stones gespeel het). Dan kom ons by Stimela en Ray Phiri, wat ons onvermydelik na Paul Simon se Graceland-album lei. En dit word gevolg deur lewendige stukke oor Yvonne Chaka Chaka, Brenda Fassie en die bubblegum-ontploffing.
Als oukei tot sover. Maar die laaste derde, wat meer onlangse style insluit, is minder oortuigend. Kwaito is ’n moeilike een, maar sy kry dit reg om kop bo water te hou. Die hoofstuk oor house, gqom en amapiano is egter morsig. En so ook haar siening van Afrikaanse rock, waar sy dit regkry om in ’n enkele sin weg te doen met die noodsaaklike Voëlvry-beweging, voordat sy baie ruimte aan Fokofpolisiekar afstaan. ’n Mens kan maklik redeneer dat die songs en albums van Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Bernoldus Niemand baie belangriker en vernuwender was as enigiets wat Fokofpolisiekar of Springbok Nude Girls (hulle kry ook nogal ruimte) uitgereik het. Dieselfde is van toepassing op hip-hop, waar die fokus feitlik net op Die Antwoord is.
Die waarheid is dat die boek in die eerste plek op ’n Amerikaanse gehoor gemik is en vir hulle is Die Antwoord meer bekend (ek onthou duidelik dat ek groot advertensies van Waddy in sy onderklere in New York gesien het) as Brasse Vannie Kaap of Prophets of the City.
Die probleem, soos vroeër genoem, is natuurlik dat Suid-Afrikaanse populêre musiek nie ’n genre is nie; dit bestaan uit talle genres en vertakkings wat gelei het tot township-jazz, death metal, weird elektronika, bubblegum, reggae, house, boeremusiek, folk en psigedelia en vele meer. En laat ons nie die musiek vergeet wat van die oorspronklike inwoners gekom het nie: ghoema, aan die lewe gehou deur mense soos “Mr Mac” Mackenzie, wie se musiek deur Shifty Records uitgereik is. Hulle kry nie ’n enkele vermelding nie, ondanks die enorme werk wat Lloyd Ross en Warrick Sony in die 1980’s en vroeë 1990’s vir swart en wit musiek buite die hoofstroom gedoen het.
Dit bring my by my belangrikste punt van kritiek: Phillips het belangrike stukke musiek geïgnoreer. Aangesien die fokus op die Amerikaanse mark is, kry ons baie Makeba en Masekela en Johnny Clegg en Die Antwoord. Maar geen melding word gemaak van die ewe belangrike en moedige jazz-manne wat in die 1960’s in ballingskap in Europa was nie, spesifiek die lede van die Blue Notes, insluitend Chris McGregor, Mongezi Feza, Dudu Pukwana, Johnny Dyani en Louis Moholo. In Londen het hulle die formidabele Brotherhood of Breath gevorm en saam met die beste op die Britse (en later Amerikaanse en Europese) jazz-toneel gespeel. Daarna het sommige van hulle Assegai gevorm, net tweede ná Osibisa wanneer dit by die definiëring van Afro-rock kom.
’n Mens verstaan dat Phillips moeilike keuses moes maak, en dit het hoofsaaklik op swart musiek gefokus – in daardie opsig dek sy in groot mate dieselfde terrein as wat Mojapelo in Beyond Memory gedoen het. Dit beteken dat daar geen melding van die Suid-Afrikaanse beat- en folkbeweging is nie, hoewel laasgenoemde ’n wesenlike rol gespeel het om universiteitstudente in ’n anti-apartheidsbeweging te laat saamtrek. Die progressiewe en psigedeliese era van die vroeë 1970’s word heeltemal geïgnoreer – nie ’n woord oor musikale en liriese baanbrekerbands soos Freedom’s Children, Abstract Truth, McCully’s Workshop, Suck en Hawk nie, al was laasgenoemde een van die eerste rockbands wat swart lede gehad het, amper 10 jaar voordat Clegg dié idee aangegryp het.
En tog, ondanks al sy (onvermydelike) gebreke, is hierdie dapper boekie ’n welkome toevoeging tot die geskrewe kanon van Suid-Afrikaanse musiek. Heelwat ywerige navorsing is vir hierdie bladsye gedoen en die bonus van ’n Spotify-speellys teen die einde van elke hoofstuk word opreg waardeer. Kom ons hoop iemand aanvaar die uitdaging en wend ’n groter, sterker poging aan om al daardie bands en musikante die plek in die geskiedenis te gee wat hulle verdien.
Ek het dié week na die omstrede Ierse hip-hop-band Kneecap geluister; meer oor hulle in die volgende rubriek. Hier’s ’n voorsmakie van wat kom:
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.