Waar Roets reg is, en waar verkeerd

JANEE

Waar Roets reg is, en waar verkeerd

MARIUS OOSTHUIZEN sê as Afrikaner sien hy dieselfde werklikheid as Ernst Roets, uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, maar hy kom tot gans ander gevolgtrekkings oor die ANC se bestuur, Afrikanervervolging en maatskaplike ineenstorting. Roets is deels korrek, maar fundamenteel verkeerd.

  • 07 Maart 2025
  • Vrye Denker
  • 9 min om te lees
  • artikel 7 van 23
  • Marius Oosthuizen
ANGELA TUCK
ANGELA TUCK

ERNST ROETS, uitvoerende direkteur van die Afrikanerstigting, het vandeesweek op The Tucker Carlson Show in die VSA verskyn en die kollig geplaas op wat hy beskou as die haglike lot van Afrikaners. Sy ondersteuners juig, sien 'n kampioen vir hul saak. Sy kritici is woedend, bestempel hom as 'n bevoorregte, verraderlike rassis en smous verkeerde inligting. 

Wie is reg? 

Roets het vier gewaagde bewerings gemaak – oor Suid-Afrika se ineenstorting, die ANC se bestuur, Afrikanervervolging en maatskaplike ineenstorting. As Afrikaner self, wat in dieselfde gemeenskap as Roets woon (ons kinders het selfs 'n tyd lank dieselfde skool bygewoon), sien ek dieselfde werklikheid as hy, maar maak heeltemal verskillende gevolgtrekkings. Roets is deels korrek, maar fundamenteel verkeerd. 

Roets se vier aansprake

  1. Stand van Suid-Afrika: Roets skilder die land as verbrokkelend onder 'n rassistiese regering, een wat teen minderhede diskrimineer, grondonteiening nastreef soos Zimbabwe gedoen het, en toekyk oor rampspoedige misdaad en gebrekkige infrastruktuur.
  2. ANC-bestuur: Hy beskou die ANC as 'n sosialistiese bevrydingsbeweging met 'n gewelddadige verlede, verbind tot swart nasionalisme en kommunistiese bondgenote, wat 'n tweefase- “nasionale demokratiese revolusie" dryf terwyl hy gruweldade soos plaasmoorde ontken.
  3. Afrikanergemeenskap: Roets beskryf Afrikaners as 'n veerkragtige, godsdienstige volk met diep wortels in Suid-Afrika, wat geteikende plaasaanvalle, verontmensliking en 'n dreigende volksmoordrisiko in die gesig staar, en voer die argument dat hul enigste toekoms in selfregering as 'n etniese enklave lê.
  4. Samelewingsdinamika: Hy sien Suid-Afrika as 'n kruitvat van rassespanning en gepeupelgeweld, wat gemeenskappe dwing om self te organiseer te midde van 'n mislukte staat.

Ek en Roets oorvleuel hier en daar, maar sy lens verdraai die groter prentjie. Hier is waar hy struikel:

Die stryd is struktureel, nie rasgebonde nie

Ja, die land worstel met hoë armoede, misdaad en 'n fiskale krisis, soos Roets opmerk – en ek stem saam dit spruit deels uit ANC-onbekwaamheid oor drie dekades. Maar die wortel lê dieper: 'n ekonomie wat deur apartheid gevorm is wat nie ons jong demokrasie se arbeidsmag kan absorbeer nie. 

Misdaadstatistieke toon dat moord en roof alle rasse teister, nie net minderhede nie. Infrastruktuur – soos blyk uit Eskom se stroom onderbrekings en slaggate – is besig om te verbrokkel, maar so ook dié van die VSA weens vasgeklemde politiek en eiebelang. Ons krisis is nie rasgebonde nie; dit is struktureel.

ANC is nie ’n sosialistiese tokkelossie

Die ANC het weliswaar sosialistiese wortels, versterk deur Sowjet-steun tydens die Koue Oorlog teen Westers-gesteunde apartheid. Sy verspreidingsbeleid – dink opgeblase openbare skuld en swart ekonomiese bemagtiging – het beleggers laat skrik. Maar kyk nader: oudpres. Thabo Mbeki het die 1990's se sosialistiese heropbou- en ontwikkelingsprogram (HOP) vir die markvriendelike versnelde en gedeelde groei-inisiatief vir Suid-Afrika (Asgi-SA) laat vaar. 

Weens hierdie verandering is hy in 'n staatsgreep in 2008 uitgewerk deur die vakbondgroepering Cosatu, Julius Malema en Jacob Zuma, wat toe vir staatskaping gekies het. Zuma se tegnokrate het die Nasionale Ontwikkelingsplan opgestel, maar Cosatu het die “neoliberale" aanslag in die ekonomiese hoofstuk daarvan verwerp, en korrupsie het vertroue geërodeer. 

Teen die einde van daardie era het Cyril Ramaphosa 'n uitgeholde staat geërf.

Die ANC het wel een sosialistiese eksperiment uitgevoer: maatskaplike toelaes vir 27 miljoen arm Suid-Afrikaners, ’n universele basiese inkomste wat trouens deur Japan, die VSA, Brittanje en die EU almal tydens Covid-19 gekopieer is. 

Dit is sekerlik onvolhoubaar, maar dit het miljoene van hongersnood gered.

In wese was die ANC dus taamlik gematig, kapitalisties, pragmaties en rasioneel in sy beleidsbenadering. Maar die party het probeer regeer terwyl hy verswak was deur sy alliansievennote - die SAKP en Cosatu - wat albei ineengestort het namate wêreldwye kommunisme gekwyn en die meerderheid geaffilieerde vakbonde die sambreelliggaam verlaat het. 

Die ANC, nou in die regering van nasionale eenheid saam met die mark-fundamentalistiese DA, was onbevoeg, maar as 'n links-van-middel party was dit gedoem om te misluk deur die struktuur van die politieke landskap, nie op grond van sosialisme of rassehaat soos Roets hom voorstel nie. 

Afrikaners is bang en onveilig, maar floreer

Wat die Afrikaner betref, het die oorgrote meerderheid in dieselfde tydperk ryker, gesonder en meer kultureel ekspressief geword. Afrikanermusiek, -kuns en -feeste het 'n stapelvoedsel van die sosiale lewe geword, met buitelugkosmarkte, lewendige geleenthede en glimlaggende skoolkinders wat sing ter ondersteuning van 'n nou wêreldbekende en toenemend veelrassige Springbok-rugbyspan. 

Hoekom? Apartheid se beleggings in wit onderwys en infrastruktuur het ons 'n voorsprong gegee. Roets betreur agteruitgang vanuit 'n posisie van bevoorregting. 

Misdaad? Dit is wreed – die aantal verkragtings en moorde kan vergelyk word met oorlogsones – maar dit is 'n nasionale plaag, nie 'n Afrikaner-spesifieke een nie. 

Deel van die rede vir die Afrikaner se relatiewe sukses was ons oorheersing van die privaat sektor en sterk burgerlike instellings waarin ek en Roets ons bevind het. 

Om ’n voorbeeld te noem: as jy 'n nuwe swembadpomp of geiser by jou huis laat installeer, sal dit 'n wit entrepreneur in 'n bakkie wees wat opdaag met 'n span swart werkers wat meestal ongedokumenteerde Zimbabwiërs, Ghanese of Mosambiekers is, wat die werk doen. Die wit man kry die wins en die migrante kry die lone, en swart Suid-Afrikaners word agtergelaat. 

So, die verskil tussen Roets se persepsie en werklikheid, is dat onsekerheid 'n Suid-Afrikaanse werklikheid is wat deur alle rassegroepe ervaar word – terwyl vreesbevange en oënskynlik verswakte Afrikaners die risiko op hulself toespits, terwyl hulle geld maak in die privaat sektor en onder 'n vermeende ras-spesifieke bedreiging leef. 

Om dit te doen lyk eers irrasioneel totdat 'n mens in ag neem dat Afrikaners, ekself ingesluit, gesosialiseer is om die wêreld deur 'n prisma van “ras eerste" te sien. Dit het beteken dat mense in 'n openbare park eerstens “swart of wit” was. Dat die politikus wat in 'n luukse motor rondgery het, in die eerste plek 'n “swart of wit" persoon is - nie 'n blote persoon nie. 

Dit is die oorblyfsel van 'n apartheidsmentaliteit, en dit is geen verrassing dat wanneer individue in die Afrikanergemeenskap onder gewelddadige misdaad ly, soos hulle dikwels doen, hulle reaksie is om te dink “hoekom word ek, as 'n wit persoon, geteiken”.

Om regverdig te wees, Suid-Afrika het wel ook haatlike rasse-uitlokkers (race-baiters) wat verdelende retoriek kwytraak. Waar ek wel met Roets saamstem, is dat die ANC-regering en die staatsinstellings onder hul invloed, insluitend die howe, op 'n naïewe wyse onbehulpsame politieke uitdrukking soos die sing van die “Kill the Boer”-lied goedgepraat het. Hulle het dit as toelaatbaar beskryf teen die agtergrond van die historiese konteks. Maar die konteks het verander, en hierdie woorde is nie meer nuttig nie, en skadelik. 

Myns insiens was dit 'n groot fout deur die regerende swart meerderheid vanuit die perspektief van nasiebou, en het dit die sensitiwiteit en vrese van baie Suid-Afrikaners, veral die Afrikaners, vererger. In daardie sin is Roets nou 'n simptoom van 'n mislukking om verdeeldheid stop te sit. 

In die lig van al hierdie nasionale uitdagings is Roets reg om te vra: “Wanneer sal die groot swart gepeupel vir my kom?” 

Maar waar Roets verkeerd is, is dat die gepeupel nie sit en komplotte smee oor hom as Afrikaner in die besonder nie. Inteendeel, die vorme van massa- sosiale onrus, vernietiging van eiendom en anargistiese plundering wat ons soms in Suid-Afrika sien, teiken vragmotorbestuurders van Afrika-afkoms, sowel openbare as private infrastruktuur. Hulle vind hul wortels in ongelykheid, en 'n verbrokkeling van die maatskaplike weefsel – 'n ineenstorting van wet en orde. 

In daardie opsig is Afrikaners vandag ongelukkige omstanders, dog histories die nie-so-onskuldige argitekte

Grondhervorming nog nie Zimbabwe 2.0

Wat betref Roets se belangrikste bewerings oor grond- en eiendomsreg wat in gevaar is: die feite is dat die ANC-regering daartoe verbind is om die rassesamestelling van grondbesit te verander, net soos die Afrikaner-apartheidsregering. 

Verre van arbitrêr “beslag lê op grond” soos in Zimbabwe, het die ANC aanvanklik begin om 'n stelsel van vergoeding van eienaars - teen wie se eiendom grondeise ingestel is - te gebruik, en later deur 'n proses van grondwetlike hersiening en wetgewing probeer om die staat in staat te stel om grond te onteien. 

Enige eerlike ontleder sal erken dat die ANC gevaarlik na aan populisme gedryf het in hul hantering van grondhervorming, weereens daartoe gedwing deur hul eie onbeholpenheid met die uitvoering van hul vroeëre beginselvaste beleidstandpunt.

Maar die magte wat die grootskaalse onteiening eis van grond wat deur wit mense gehou word, het toenemend van buite en nie binne die ANC gekom nie, soos van die EFF en die MK Party van Zuma. Kritiek op die ANC vanuit hierdie meer radikale kantlyne van die ANC se eie historiese kiesafdeling is dat dit te pragmaties en wetties was, en nie radikaal genoeg nie. 

Deur so te sê, deel ek Roets se siening oor die risiko wat die ANC se populistiese skuif meebring. Maar ek weet ook dat die onderliggende dryfvere, soos in Zimbabwe, die onvermoë is om die ekonomie op 'n inklusiewe manier te regeer tot voordeel van die swart meerderheid - nie rassehaat nie. Dit was 'n kwessie van politieke oorlewing vir Robert Mugabe in Zimbabwe, en eweneens is dit 'n kwessie van politieke oorlewing vir die ANC ná Ramaphosa. 

Die tragedie van Roets se narratief

Die tragedie van Roets se bevoorregte onkunde is dat dit die een monument vernietig waar 99,99% van Suid-Afrikaners saamgetrek het – 'n nie-rassige demokrasie, verenig in diversiteit. 

Roets sê hy “respekteer" Mandela en die rede hiervoor is dit: Mandela se nalatenskap van versoening was eg en die enigste rede waarom die besonder gelade sosiale kontrak in Suid-Afrika so lank al bestaan. 

Was dit nie vir die menslikheid van die swart meerderheid nie, en hulle geduld in die aangesig van volgehoue ​​wit welvaart, selfs al ly hulle, sou ek en mnr. Roets nie vandag die vryheid gehad het om hierdie debat te voer nie. 

Sy enklavedroom en lang verhale van “swart gevaar" eggo apartheid se swart gevaar-paranoia. In plaas daarvan moet hy sy sterre dank vir hierdie verstommende land en sy vredesmagtende mense, desperaat vir 'n beter toekoms. Hy is gelukkig om deel te wees van 'n samelewing waarin vergifnis eerder as vergelding die organiserende beginsel is. 

Daar moet ons begin, en daarvandaan het ons baie werk om te doen om 'n beter Suid-Afrika te bou. In daardie opsig verskil ons nie van die res van die wêreld nie.

  • Kyk hier na die volle onderhoud deur Tucker Carlson.
  • Hierdie artikel het eers in Daily Maverick verskyn.

VWB ♦ 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.