DIS ANGELA TUCK! | Laureen Rossouw vra haar 15+ vrae aan VWB se kunshoof.
1. Ten spyte van wat Donald Trump oor Suid-Afrikaanse boere te sê het, het sakevertroue in die landbousektor in die eerste kwartaal van vanjaar met 11 punte tot 70 punte gestyg, soos gemeet deur Agbiz se Agribusiness Confidence Index. Dit is die derde opeenvolgende styging in dié indeks en die hoogste vlak sedert die vierde kwartaal van 2021. Die indeks meet faktore soos uitvoere, omset, kapitaalbeleggings, winste, finansieringskoste, indiensneming en slegte skuld.
2. Ebrahim Rasool werk blykbaar self daaraan om sy uitskop uit Amerika omgekeer te kry, blyk uit wat pres. Cyril Ramaphosa gister volgens News24 by 'n leierskapsberaad in Johannesburg gesê het. “We are continuing to engage with [the US] and as it is now, a great deal of progress had been made by our ambassador in straightening out the path to ensure that there is meaningful engagement at the diplomatic level, so this is a hiccup. It's a hiccup we are working on straightening out." Hy het ook ontken dat sy regering deur die Trump-administrasie geïgnoreer word. “So, we are not being blue-ticked. We cannot be blue-ticked because we are such an important player to the United States of America, as they are an important player to South Africa from a political point of view, from a trade point of view, and from a whole number of important points of view. So, we are not blue-tickable. We cannot be ignored and so we will send, and they have sent, a message."
3. Dit het gister steeds gegons oor die onverwagte bedanking Sondagaand van Kenny Fihla as adjunk-bedryfshoof van Standard Bank om in Junie Absa se nuwe bedryfshoof te word. Fihla was die gunsteling om by Sim Tshabalala oor te neem as bedryfshoof van Standard Bank.
4. Die Reserwebank het Ainsley, ’n onregstreekse filiaal van Ibex (die naam waaronder Steinhoff nou sake doen) in terme van valutabeheer-regulasies verbied om 506 miljoen Pepkor-aandele ter waarde van sowat R12,5 biljoen te verkoop. Dit is deel van die voortgaande ondersoek na Steinhoff, het News24 berig.
5. Donald Trump het sy Demokratiese voorganger gister daarvan beskuldig dat hy 'n meganiese toestel bekend as 'n “outo-pen" gebruik het om sekere dokumente te onderteken pleks van om dit met die hand te doen, en dat dit dus ongeldig is. Die betrokke dokumente sluit in die kwytskelding wat Joe Biden teen die einde van sy ampstermyn aan sy seun gegee het. Trump het geen stawing vir die bewering gegee nie, maar gesê dit sal “op die hoogste vlak” ondersoek word.
6. 'n Amerikaanse federale regter het 'n aantal regeringsamptenare vir 'n verhoor ontbied om te verduidelik waarom hulle in weerwil van sy hofbevel voortgegaan het om ongedokumenteerde immigrante te deporteer wat glo lede van 'n Venezolaanse bende is. Tom Homan, Trump se “border czar", het gister oor regter James Boasberg se bevel gesê: “The plane was already over international waters; with a plane full of terrorists and significant public safety threats … the president [Trump] did exactly the right thing.”
7. David Lammy, Britse minister van buitelandse sake, het in 'n waarskuwing in die Britse parlement aan pres. Vladimir Putin van Rusland gesê “Oekraïne is ernstig oor vrede" en 'n moontlike skietstilstand. “Now it is Putin who stands in the spotlight, Putin who must answer, Putin who must choose. Are you serious, Mr Putin, about peace? Will you stop the fighting? Or will you drag your feet and play games, pay lip service to a ceasefire while still pummeling your prey?" En ook: “If Putin does not deliver, and I must tell the house that I currently see no sign yet that he is, the G7 meeting helped us ready the tools to get Russia to negotiate seriously. We’re not waiting for the Kremlin. If they reject a ceasefire, we have more cards that we can play."
Van agter in die bus tot onder die bus
Ek groet julle vanoggend met 'n dankbare hart.
By die aanlyn vergadering waar Max ons moes meedeel dat dit die einde van die pad is, merk Angela Tuck, ons kunshoof, nonchalant op dis vir haar niks snaaks om by ’n plek te werk wat nie geld het nie, sy’t nog nooit vir iemand gewerk wat geld het nie. Ek ook nie, Angela. Almal in die media en kunste is gewoond daaraan. Ons werk meedoënloos voort. Dis hoekom ons sulke goeie werkers uitmaak. Ons weet nie van beter nie. En dis ook nie die eerste keer wat ek by 'n plek werk wat ondergaan nie.
Dis 2009. Suid-Afrika is fabulous. Zuma is pas aangestel as nuwe president, ons maak reg vir ons eerste Wêreldbeker-sokkertoernooi. Stadions van wêreldklas-statuur en -kapasiteit is in elke stad te sien. Ek is pas aangestel in my droom-job, as redakteur van Elle Decoration South Africa. Vir my finale onderhoud moes ek na Hachette, die houermaatskappy in Parys, gaan en by die ingang van die internasionale mediagebou hang daar ’n kamergroot poster van Oscar Pistorius wat oor die wenstreep duik om nog 'n wêreldrekord te breek. We have arrived.
My eerste kongres is in Italië. Die 26 lande van die Elle-netwerk ontmoet elke tweede jaar om bemarkingsidees, ensovoorts, uit te ruil terwyl ons rojaal deur die gasheerland “gewine en gedine" word.
Moenie ons vlak kyk nie
Elke land kry ’n spreekbeurt, maar dié wat die meeste aandag geniet, is natuurlik Amerika met sy 600 000+ lesers en die vooruitstrewende Britse en Franse publikasies, gevolg deur die ander Europese lande. Suid-Afrika is die nuutste toevoeging tot die Elle-familie en die enigste een uit Afrika. Daarom word ek saam met die Koreaanse en Taiwannese redakteurs agter in die bus geplaas.
Maar ek was reg vir hulle … moenie ons vlak kyk nie.
In Suid-Afrika het baie tydskrifte danksy Koos Bekker se visie en insig lankal die waarde van aanlyn platforms as bemarkingsinstrumente verstaan en gebruik. Elle Deco SA was die enigste tydskrif daar wat sy eie blog gehad het en ek moes praat oor hoe 'n mens bykomende inkomste deur brand extentions kon genereer. (Almal wat my ken en weet hoe 'n techno bimbo ek is, sal weet hoe vergesog hierdie opdrag was.)
Ek het weke lank aan ons blog gewerk en die heel beste van Suid-Afrikaanse ontwerp, argitektuur en produkte op daai PowerPoint gelaai. 'n Musiekboffin het my gehelp om lekker en oorspronklike musiek en Afrikaklanke vir die agtergrond te kies. Die aanbieding was 'n afshow-aangeleentheid en 'n visuele fees. Om die pap nog dikker aan te maak het ek twee Zoeloe-coasters (ja, gekleurde kraletjie-matjies vir glase) in dramatiese oorbelle vir die okkasie omskep en saam met 'n oranje-en-pienk rok gedra. Subtiel, maar ook glad nie.
My fifteen minutes of fame
Van die begin af het ek geweet dit werk. Dit was asof jy hulle op ’n ander planeet afgelaai het. Die groep redakteurs met hulle geoefende oë was permanent blootgestel aan die mees vernuwende idees ter wereld en het goed geweet hulle kyk na grensverskuiwende ontwerp en materiaal. Behalwe dat ek agterna moes bontstaan om bestellings vir my “oorbelle" te vat, wou almal met alle mag die volgende kongres in Suid-Afrika hou. (En dit was nie om wilde diere te kom kyk nie.) Vir my was dit ’n persoonlike hoogtepunt om te sien hoe die klomp Europeërs en Amerikaners hulle vooroordeel laat vaar en met nuwe oë na ons pragtige, trotse land kyk … ek wil net graag bysê, daarna het ek nooit weer agter in die bus gesit nie.
Maar dit was waar die Mzansi Magic vir my geëindig het. Kort ná my terugkeer het Avusa, ons Suid-Afrikaanse uitgewer, aangekondig dat hulle Elle en Elle Decoration gaan toemaak. Die voortgesette daling in advertensiebesteding en vinnige groei van die internet het dit vir hulle onmoontlik gemaak om die twee Franse nispublikasies met hulle addisionele lisensiegeld te dra.
Die idee van terugkeer na die donker tye van voorspelbare, voorskriftelike publikasies was vir my te neerdrukkend. Ek en die redakteur van Elle, Jackie Burger, het verbete geveg om die titels te red en kon saam met die Franse daarin geslaag om Avusa te oortuig om die tydskrifte nog 'n kans te gee. Maar met een tafel, een salaris, en min of meer een rekenaar en 'n personeel van drie, sonder ondersteuning, het dit later onmoontlik geraak vir Elle Deco om ordentlike en oorspronklike inhoud te genereer. Ons was eenvoudig te klein om die Sunday Times se groot, vraatsige Rolls Royce-enjin van petrol en olie te voorsien en in 2019 het die Elle-handelsmerk finaal uit Afrika onttrek.
En kyk waar land ek toe? Tussen hierdie klomp wildewragtigs – die beste been van my loopbaan en die lekkerste, snaaksste, slimste en die armste van almal.
Vrye Weekblad was vir my soos ’n tweede huwelik. Dis soos om iemand te ontmoet nadat jy gedink het jy sal nooit weer trou nie. Aanlyn nogal.
Maar so 'n kans kom net een keer verby, jy vat hom en jy klou enduit vas, want waar hy vandaan kom, is daar nie meer nie …
Dís hoe dit die laaste paar maande by Vrye Weekblad gegaan het. Wat my altyd sal bybly, is die lojaliteit wat al sewe die redaksielede teenoor die koerant, maar ook teenoor Max geopenbaar het, toe dit duidelik word dat die koerant nie kan oorleef nie. Dit beteken nie ons het nie gekla nie, maar niemand het die pad gevat nie.
Ja, en nou is dit weer sulke tyd. Van April woeker ek saam met Anneliese Burgess, Ali van Wyk en Piet Croucamp by Binne+Land. Jy kan hier gratis registreer.
Alles van die beste tot die sesde!
Groetnis
Laureen
wasdom
wat de fok, potplant!? genoeg van die gevrekkery. GROEI!
jy het grond. jy kry son. ek gee jou só versigtig water. wat?
méér water? minder son? of andersom? kort jy ruimte,
of lig, of die klam omhelsing van ’n kweekhuis? mens kan
seker een uit plastiek prakseer? kyk, blaartjies: ek sal watookal
probeer om jou nie so te sien nie. aard jy eenvoudig nie
in dié plek of dié pot nie? verkeerde biosfeer? ly jy
aan plantluis of is dit iets anders wat aan jou vreet?
weet jy ooit self wat jou terra cotta tantrum beteken, wat dit is
wat jou so moeg, verbruin en ongelukkig maak? voel jy iets
as ek aan jou verlepte stingel raak?
ek wil jou so graag help herstel, maar hoe? moet ek jou sagkens
met ’n seepoplossing afspons of liggies spuit, uitplant of jou
gewoon uit my skadukol van kommer skuif
en los?
ek lê die handskoffel, snoeiskêr en troffel neer en hoop
jy sal tot volle wasdom kom
in ’n ander kamer.
ek keer ’n gieter in my keelgat om.
– Bibi Slippers
Uit: Versindaba
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.