HALLO!
Hierdie is die Fomolistas se laaste aflewering vir Vrye Weekblad. Dankie vir die heerlike praatjies; ons gaan julle mis. (Ons hoop om in die toekoms verder te gesels oor al die goed op ons radar. Hou Anneliese se Sondagbrief dop vir meer inligting hieroor.)
Laureen wil net vir oulaas preek ter ondersteuning van plaaslike vervaardigers, eg Suid-Afrikaanse produkte en tweedehandse ware, klere en meubels. Plaaslik is meer opwindend en dan dra jy nie by tot die krisis waarin die wêreld hom tans bevind nie. Moenie by Temu en Shein koop nie. Behalwe vir die kinderarbeid en al die ander gruwelikhede en besoedeling waaraan hulle skuldig is, verwoes hulle ons eie besighede wat nie by hulle pryse kan kers vashou en met hulle kompeteer nie.
#1 Weg met fast fashion
Modebesoedeling is nie net 'n neiging nie – dit is 'n krisis. Oorproduksie laat die planeet verstik, wat ons almal direk raak. Ons het tans genoeg klere om die volgende ses generasies mense aan te trek, en wêreldwye klereverbruik sal volgens UniformMarket na verwagting teen 2030 met 63% toeneem. Die ergste modebesoedelaars is kettingwinkels soos Zara, H&M, Forever215 en Shein.
Ondersteun plaaslike vervaardigers. Koop Suid-Afrikaans. Spandeer meer, koop minder, koop kwaliteit of ondersteun tweedehandse winkels.
#2 Dis nou maar wors
Toe die Fomolistas hierdie week saamkuier, was daar oudergewoonte wyn ter sprake. En Joey's Vleisprodukte se wors, sommer so op die vuur, en met die vingers van die rooster afgeëet.
Sadly is dit net in die Kaap beskikbaar. Die besigheid is in 1994 deur Fanie Liebenberg en sy suster, Joey, begin; hulle het besluit om boerewors vir Kaapstad se noordelike voorstede te maak. Binne twee jaar het hulle boerewors so gewild geword dat hulle hul besigheid na 'n industriële gebied in Brackenfell verskuif het.
Die wors proe ongetwyfeld so lekker omdat dit net met vleis gemaak word. Hulle gebruik hoofsaaklik borsstuk (brisket) en 'n bietjie varkrugvet. Die vleis kom van beeste wat onbelemmerd op die grasvelde van Botswana en Namibië wei. Dit word in 'n (natuurlike) skaapderm gestop. Daar is geen vleisafsnysels in die wors nie en hulle gebruik ook geen vullers nie.
#3 Nuwe ontwerpwinkel
Moenie hierdie een misloop nie! DEFT Studios maak oop by Strandstraat 155, Kaapstad. DEFT is in die Oos-Kaap begin as 'n klein, ontwerp-maker-ateljee wat op kontemporêre, handgemaakte meubels fokus. Martin (Tallie) en Zani (Alberts) het dit in 2020 op die been gebring, nadat hulle saam gegradueer het. Ná hulle argitekstudies was hulle goed toegerus vir produkontwerp.
DEFT doen nie vinnige meubels nie. Hulle bepleit die stadige vervaardigingsprosesse wat verseker dat meubelstukke 'n leeftyd hou. Meubels word persoonlik vervaardig deur die stigters, met toewyding aan hulle ontwerpvernuf en kunsvlyt. Die stukke word met integriteit, detail en uiterste sorg gemaak.
Tjek hulle hier uit. Of volg hulle op Insta.
#4 Pissaladière
Stanley Tucci se eenvoudige pissaladière is 'n onthulling. Net vyf bestanddele: Olywe, uie, preie, ansjovis, sommer op winkelgekoopte skilferdeeg. Ons het dit hierdie week aanmekaargeslaan vir mense wat oorgekom het vir 'n drink, en hulle het dit verslind.
#5 Essens wat jou vel voed
Ons hou baie van The Ordinary se hidrerende Multi-Active Delivery Essence. Dit is 'n ligte vel-essens wat die vel voed en versterk. Ons weet nie of ons al die wetenskaplike beloftes glo nie, maar vir seker laat dit ons vel gesond en gemaklik voel. Dit is maklik om aan te wend en kos nie 'n plaas se geld nie. Lekker vir voor jy gaan slaap.
#6 ’n Poetry-aand
Poetry open hulle grootste en mooiste konsepwinkel tot dusver – in 'n ikoniese nuwe ruimte by Hoofstraat 295, Seepunt. Die Fomolistas is baie bly om te sien dat die Kloofstraat-restaurant Our Local deel van die winkel is, want dit sluit aan by ons liefde-vir-local-tema.
#7 Sewe anties tree saam af
Ons is mal oor die idee van hierdie sewe Britse vroue wat besluit het om 'n groot huis saam te koop, dit smaakvol te omskep en in te rig met gedeelde ruimtes om saam in te kuier, maar met aparte kamers vir privaatheid. Met elkeen se verskillende en unieke vaardighede en spesialiteite, dink ons dis 'n baie lekker moderne en interessante idee. En nog 'n unieke oplossing om 'n avontuurlustige, vol lewe in jou derde hoofstuk te lei.
#8 Floating highway
Ons sien op Instagram 'n praktiese oplossing is op pad vir die onvoltooide padbrug wat al van die 1970’s af oor Kaapstad hang en die Moederstad in die verleentheid stel. 'n Treinverbinding tussen Seepunt en die middestad word beplan. Kyk na hierdie skakel vir meer inligting.
#9 Oor die lewe
Ons het hierdie week gesels oor die sentiment in hierdie twiet van Doug Murano:
#10 En hierdie een ook ...
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.