IN hierdie lewe gaan vele dinge verlore. Dinge wat ons verloor het in die groot brand. Dinge wat ons verloor het in die egskeiding. Dinge wat ons verloor het toe koerante uitgesterf het. Ons lewe staan in die teken van verlies en soms wil ek gil: Hokaai! Red wat daar te redde is.
My hart is seer oor woorde wat verlore gaan. Uitsterf, in onbruik verval. Ons sit met al hoe minder segkrag. Die tuin van ons woordeskat word yl.
Soms wil ek op jag gaan na verlore woorde. Het jy die lieflike roman The Dictionary of Lost Words gelees? Dis oor ’n vrou wat in ’n outydse drukpers werk aan ’n woordeboek en die papiertjies met woorde wat weggelaat word, wat op die grond val, bymekaarmaak en haar eie woordeboek saamstel, soos woorde oor vroue wat nie belangrik genoeg geag word vir die groot woordeboek nie. Ek is soos sy.
Ek spits altoos my ore vir rare woorde wat selde gebruik word.
Ek onthou ook die biografie en fliek Iris, oor een van my gunstelingskrywers, Iris Murdoch. Sy was filosoof, skrywer en denker en woorde was haar werktuie. Tot sy op ’n dag, nogal tydens ’n radio-onderhoud, die een woord ná die ander begin verloor. Dis op die punt van haar tong, maar sy kan dit nie bykom nie. Ek onthou daardie uitdrukking van totale verwesenheid. Sy het aan Alzheimer se siekte gely.
Google kom tot my redding
Nou die dag in die motor praat my vriendin van ’n restaurant waarvan sy hou, Hussar Grill. En ek, want ek aard na my pa en verlekker my in simpel woordspeletjies, begin sing: Hussar ondankbaar is die wese, wat nie sy siel tot U verhef. Daarna begin ek wonder: Wat is die eenlettergreepwoord wat ná “hoe” kom nou weer? Dis skoonveld weg uit my kop, nadat ek dit soveel jare nie gebruik het nie. Daar is mos nou nuwe psalms en gesange wat vir my sleg afsteek by die oues wat my ouma daglank onder die asem gesing het. Ek kon die woordjie glad nie bykom nie en het dit uiteindelik gegoogle. Ja, die internet kan selfs help met uitgestorwe Afrikaanse woorde. Lesers, vir julle wat steeds nie onthou nie, gee ek dit present: Hoe SNOOD ondankbaar is die wese …
Wat my kop weer aan die wonder sit oor “snood”. Al waar ek dit anders herken, is in hongerSNOOD. Weer kom Google tot my redding:
Snood verwys na oorvloed, erge mate. So hongersnood verwys na erge honger, watersnood na oormaat water, snood ondankbaar = erg, baie ondankbaar. Die “s" in woorde soos hongerSnood, is 'n afkorting van die Duitse “des", wat weer “van" beteken. Die nood van die honger.
Ek was soos die herder in die Bybel: blyer oor die een verlore skapie wat ek kon opspoor en oor my skouers huis toe dra as die hele res van die trop wat veilig in die kraal is.
Treusssss ...
Ek wil ou woorde wat in onbruik verval het gaan soek en kraal toe dra. Ek wil die ou psalms en gesange sing, vol vertoef, dor, herwaarts, goedertierend, barmhartig, hert, snood, amegtig, beek, sluimer. En woorde wat my ouma gebruik het soos denk, es, iedereen, jongeling, keurslyf, kloekheid, knikkebol, kooi, kwerulant, matesis, mikstuur, negosie, noi, nurks, nylperd, omsons, oorlye, pantoen, penkop, poliets, rededeel, rep, robbies, sabander, siltig, skryn, spys, subiet, vanslewe, verkeke, volbrag, wis. Jy kan nog van hierdie woorde hier opspoor.
'n Vriendin wys my gister aan tafel op ’n woord wat ek nog nooit gehoor het nie: Beunhaas. Ken jy dit? Google was weer tot die redding: Dis, lyk dit my, ’n soort kwaksalwer, iemand wat werk doen waarvoor hy nie opgelei is nie en boonop nie belasting betaal nie.
My eie ma het ’n paar woorde gebesig wat ek nêrens anders ooit gehoor het nie. In die verkeer, wanneer iemand in die vinnige baan stadig ry voor haar, het sy geprewel: “Treusssss”. ’n Leser het my daarop gewys dat dit waarskynlik afkomstig is van die Nederlandse “treuzelaar” iemand wat stadig beweeg. Sy was ook lief vir “sloddervos” en “beskimmeld”.
Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra, wat beteken dan “beunhaas”, Suid-Afrika.
Pletterletters
Jy soek na 'n woord wat beteken om iets op te mors of te verknoei, soos in 'n bestelling verkeerd neem of 'n opdrag verkeerd uitvoer.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.