Om klungeltong verbeeldingryk te praat

DIE LAASTE WOORD

Om klungeltong verbeeldingryk te praat

Ons boekeredakteur wonder waarom ons spreektaal so arm en saai geword het, soos semels in ons mond.

HOEKOM praat ons so vaal en voorspelbaar? Daar is natuurlik 'n fyn lyn tussen afshow met 'n enorme woordeskat en slim metafore, en verbeeldingryk gesels. Ek lees nou 'n boek waarin die een antiheld 'n veteraansoldaat, patriotiese cowboy, wapenverslaafde en aan die verkeerde kant van die gereg is. Sy dialoog is deurspek met metafore wat hy self uitgedink het, soos “booger hooker" vir vinger, “dickskinner" vir hand. 

My oupa, wat ek nooit geken het nie, was glo so. Hy wat by geleentheid vir 'n skelm winkelier met 'n stink asem gesê het: Jou probleem is dat jou neus te na aan jou towerkol sit.

'n Ding kan iets anders genoem word, maar die hoorder snap onmiddellik waarna verwys word en wat die ooreenkoms tussen die twee dinge is. Byvoorbeeld:

  • Hart van klip.
  • Die oseaan van die lewe.
  • 'n Wil van staal.
  • Die skip van die woestyn (kameel).
  • Vlagskip – grootste, beste, duurste of vinnigste produk in 'n reeks verbruikersgoed.

Baie daarvan het clichés geword en geyk, soos “dapper en stapper” vir voete, of voetslaan. 


Was ons maar digters ...

Maar wanneer het mense ophou skep aan taal en emoji's omhels? Ons almal weet hoeveel woorde en uitdrukkings deur een man, William Shakespeare, geskep is. Woorde en uitdrukkings wat tot vandag oorleef het.

Dit is wat digters doen: Hulle snap verbande en ooreenkomste en stel een ding gelyk aan 'n ander op grond van 'n sekere prominente ooreenkoms. Was ons maar digters.

In die reël “Die jaar word ryp in goue akkerblare" is die jaar iets lewend, organies, soos 'n boom. Soms stort die oggend oor die rand van die glas soos 'n drankie. Liefde was vol goue room, maar het nou tot haat geskif. Jou ma se moesie-oor was jou enigste telefoon. Engele hengel vir sterre. Dís die soort taal waarna ek smag, elke dag. 


Ek’s ’n eenspaaier soos ’n losholvurk

Ek het weer die afgelope week 'n paar veelseggende woorde raakgeloop, soos:

  • Eremitisme: Om geleidelik uit ander mense se lewe te verdwyn, nie vyandig nie, maar uit 'n begeerte vir stilte en herlaai. Eremitisme is eie aan introverte.
  • Boketto (Japannees, natuurlik): Om uit te zonk, niks te doen of stilte te kultiveer deur in die niet te staar. 
  • Fiool: Flessie/botteltjie met 'n lang nek en 'n ronde buik; aptekersflessie.
  • Eenspaaier: Alleenloper, kluisenaar.
  • Ronkedoor: Alleenloper, kluisenaar, eenspaaier. 
  • Losholvurk: 'n Vurk waarvan die steel afgebreek het. 
  • Knuffel: Troetel, liefdevol omhels, liefkoos.

Die laaste vyf woorde is uit VivA Afrikaans, wat ook gratis taaladvies gee. 

Ek gaan boketto (doelloos voor my uitstaar), ek gaan 'n eremitus wees (stadig uit jou lewe verdwyn), sonder geknuffel. Ek gaan 'n ronkedoor wees, 'n eenspaaier soos 'n losholvurk, met my fiool onder my ken. 🎻

Want Prediker het dit gesê: 

En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak, kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.

As ek reg onthou, het my ouma se vertaling gesê baie woorde is 'n vermoeienis van die vlees. 

Want die intekenare het gespreek: Mense wil nie meer woorde lees nie, hulle wil podcasts luister en TikToks kyk. Dan pak ek maar my letters terug in die bo- en onderkas. Ek sal my metafore vat en fokof.

Ek het uit 'n video 'n nuwe uitdrukking in Nederlands geleer: Lik mijn reet. Ek het vermoed wat dit beteken, maar het dit gegoogle en die betekenis is inderdaad: Kiss my ass. Lek my gat. Kyk hier.


Hier is 'n gedig van Elisabeth Eybers:

     Woorde

Op vyftien maande kon ek praat,
so het my ouers vertel,
lang sinne selfs. Vir woorde laat
ek alles op die spel

Woorde – 'n goedkoop grabbelsak
of diamantbedryf,
Alladinslamp om met gemak
ontbering weg te vryf.

Woorde verbeur hul oggendblos
ook in my moedertaal,
laat staan die star sintaksisbos
waar ek nog voel-voel dwaal.

En op my klungeltong verkleur
woordtinte in gesprek,
alleen alléén kan ek hulle weer
met potloodhale wek.

Elisabeth Eybers
Elisabeth Eybers

Agter elke man

Shakespeare het dié Engelse frase uitgedink vir Lady Macbeth, wat bang was haar man het te veel daarvan.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.