- 07 Maart 2025
- Vrye Tyd
- 7 min om te lees
- artikel 17 van 23
-
Laureen RossouwRedakteur: Vrye Tydskrif
CHRIS DU PLESSIS is in New York gebore (sy pa was in die buitelandse diens), maar hy het in Mosambiek grootgeword. Op 14 jaar is sy ouers Duitsland toe verplaas en is hy koshuis toe, in Pretoria. Terwyl hy in die vroeë 1980's eers as verslaggewer by Die Burger en daarna by die Cape Times gewerk het, het hy en ’n paar ou Rhodes-varsitypelle Suid-Afrika se eerste onafhanklike, multikulturele desk top publishing-tydskrif, Vula!, begin.
Max du Preez het hom gevra om die eerste Vrye Weekblad in 1988 in Johannesburg op die been te help bring. Toe die eerste uitgawe begin sak en hulle agterkom daar's nie ’n spotprent nie, het Chris as spotprenttekenaar ingespring. In 2000 het hy 'n weeklikse kunsprogram vir die SAUK geproduseer en ook sy suksesvolle kroeg/eetplek, die Xai-Xai Lounge, in Johannesburg behartig.
In die Covid 19-inperkingstyd was hy redakteur van Knysna se gemeenskapskoerant, die Knysna-Plett Herald. Hy het ou Afrikaanse gedigte getoonset en toer tans, met net sy kitaar en mondfluitjie, met Moordballades – en ander minder vrolike versies uit die Groot Vreseboek deur die land.
1. Beskryf jouself in 'n hashtag?
Met graagte, sodra ek kan uitpluis wat ’n hashtag is ... Raait gottit, ek dink: #dazedandconfusedandincreasinglyirritable
2. Die app op jou foon wat jy die meeste gebruik?
Alles gebeur mos maar deesdae op WhatsApp.
3. Hoe lyk 'n normale dag in jou lewe?
Ek het nog nooit so iets ervaar nie. Dit is op my bucket list.
4. As jy een bron vir jou nuus moet kies, wat sal dit wees?
Al Jazeera.
5. Wat lees jy op die oomblik?
Ek werk altyd deur ’n klomp boeke op ’n slag: How to Steal A City deur Crispian Olver (oor die “val” van Port Elizabeth); Costanza Casati se historiese fiksieverhaal Clytemnestra (tweelingsuster van Helena van Troje en dogter van Zeus) en The History of Ideas deur David Runciman, wat afskop met Jean-Jacques Rousseau en eindig met Judith Shklar.
6. Joernaliste (plaaslik of internasionaal) wat jy volg?
Die lysie raak korter soos die tradisionele mediaplatforms kwyn, maar net off the cuff: Chris Hedges, George Monbiot, Heather Cox Richardson, Tom Eaton, Sam Sole en Stefaans Brümmer-hulle (amaBhungane), Stephen Grootes, Max du Preez, Marianne Thamm ...
7. Wat was die oomblik toe jy geweet het jou lewe het vir ewig verander?
Die oomblik wat ek gehoor my dogter is op pad.
8. Waarna luister jy in jou kar?
Meestal musiek uit Afrika.
9. Jou gunstelinggedigte waarna jy gereeld teruggaan?
Ek toer tans met ’n opvoering van ou Afrikaanse gedigte wat ek getoonset het. So, die Moordballades – en ander minder vrolike versies uit die Groot Vreseboek is tans almal my gunstelinge. Ek hou baie van C. Louis Leipoldt.
10. Watter song wens jy jy het geskryf?
Ek wens nog dat ek ’n ordentlike song van my eie kan skryf. (Ons eertydse groep, Die Radiators, was grotendeels ’n tong-in-die-kies-projek.)
11. Die grootste storie waaroor jy al berig het?
Eerstens ’n dokumentêr, 90 minute lank, oor die geboorte/herkoms, ontwikkeling van en invloede op pennywhistle jive (oftewel kwelamusiek) in die 1950's en vroeë 1960's in Suid-Afrika. En dan ’n feature vir Daily Maverick ná my terugkoms uit Kuba oor die “roots” en invloede van Afrikamusiek in die Kubaanse kultuur. Dit het organies ontwikkel tot die openbaring van ’n ondergrondse kultus van honderde jong punkrockers in Havana wat in die 1970's hulself aspris met die vigsvirus gekontamineer het uit protes teen Castro se totalitêre bewind.
12. En die moeilikste een?
My ervaring van die Knysna-brande vir Daily Maverick net nadat my huis afgebrand het.
13. Wat sou jy anders doen as jy weer 'n kans kry?
Ek sou eerstens smeek dat ek asseblief nie nog ’n kans moet kry nie. Maar as ek nou werklik alles moet oordoen, sou ek baie meer tuinwerk doen en kos maak, meer kitaar en ander instrumente oefen, meer tale vlot leer praat, die tyd wat ek gemors het met tersiêre opleiding beter benut en my ou skool opblaas.
14. Jou beste aksiefliek?
Born Free.
15. Watse series kyk jy?
Ek vermy soveel as moontlik Amerikaanse stront en kyk veral Noorse, Poolse, Koreaanse en Europese reekse. Ek geniet nogal my dogter se nuwe keuse uit 2016: die ietwat PC-precarious Kim’s Convenience – ’n Kanadese reeks oor ’n Suid-Koreaanse familie in Toronto, uitgereik voordat cancel-kultuur dit kon beetkry.
16. Podcasts?
Het dit nog nooit eintlik ordentlik ondersoek nie, maar my veel-beter-helfte, Miriam, het my voorgestel aan Ezra Klein en Empire.
17. Jou lekkerste werk tot dusver?
Een van my grootse lewensprestasies en iets waarop ek werklik trots is, is dat ek my hele lewe lank konvensionele werk vir ’n groot baas of maatskappy in groot mate suksesvol kon vermy. Maar my lekkerste daaglikse taak was die skryf en regie van my TV-program Not Quite Friday Night wat tydens die politieke oorgangstydperk in die vroeë negentigerjare lekker deur die SAUK se vloerkrake kon glip. Ons is basies vrye teuels gegee om so belaglik te wees as wat ons wou. En die sewe jaar wat ek my kroeg in Melville gehad het. Dit het my die vryheid gegun om dokumentêre projekte van my eie keuse te vervaardig en befonds.
18. Waarvoor is jy bang?
Is daar genoeg plek hiervoor? Soos almal met ’n halwe brein seker maar ... Eerstens, die moontlike Derde Wêreldoorlog wat nou ontwikkel. En meer spesifiek: elektrisiteit (en die tekort daaraan), godsdienstige fanatisme, waansinnige en egoïstiese wêreldleiers (hulle steek nou weer oral kop uit), om binnekort dood te gaan, dat ek nog verder sal agterraak met die dolle gevoortneuk van nuwe tegnologie, dat die gek anti-vaxxers die nuwe kanker-entstof gaan blokkeer, die ontkenning van klimaatsverandering, die wye oseaan (veral in die donker), hoogtes, belasting-en-bank-admin, gesiglose dienste (hackers het pas weer biljoene in crypto-currency gesteel), en ironies genoeg, al hoe meer: mense in die algemeen.
19. Lekkerste aftershave?
Net gou check wat dit is …
20. Beste takeaway?
Ek en my dogter doen vandat sy baie klein is een keer ’n week Steers- of Spur-burgers wat beter proe met die wye uitsig oor Knysna vanaf die parkeerplek by die watertoring.
21. Wat is jou pet hate?
O hel, weer te min plek: Die aanhoudende, diepgesetelde korrupsie in ons nasionale en plaaslike regerings en die feit dat skurke soos Jacob Zuma nog nie in die tronk sit nie, rou en onbeteuelde ambisie, georganiseerde godsdiens en veral Christelike dwepers, geldsug en hoe kapitalisme so liederlik ontaard het om net daai 1% te dien, mense wat te stadig of te vinnig ry, ekstreme linkse of regse fanatisisme, oorlog, arrogansie of “self-importance”, humorlose mense, conspiracy theorists en beterweters. Ek haat veral rapmusiek en sogenaamde “defensive” rugby, maar het gelukkig ’n paar vriende wat my probeer help om daai deel van my haatsiek te oorkom.
22. Wie is jou celebrity crush?
Seker maar Tsafendas. Ek verafsku van kleins af die ophemeling van bekendes wat die Amerikaners so opgeblaas en op die wêreld afgesmeer het. Hoe veral filmakteurs verafgod word.
23. As jy drie mense vir ete kon nooi, wie sou dit wees?
My dogter (eindelose vermaak en nuwe insigte), en miskien Kurt Vonnegut jr. en Frank Zappa.
24. Wat sal jy vir Elon sê as jy hom kan ontmoet?
Niks, die mal doos luister in elk geval nie na wat enigiemand anders te sê het nie.
25. Hoe sou jy jou styl beskryf?
Uiters swak. Ek dra nou nog dieselfde uniform as wat ek sedert my geboorte dra: hemp oor T-hemp, jeans en tekkies.
26. Met wie sou jy lewens wou omruil?
Is daar nie iemand in die argaïese geskiedenis wat so ’n paar dae ná sy dood sommer weer opgestaan het nie? Ek onthou so iets. Dis net hy daai.
27. Bob Dylan vra jou om een song saam met hom te sing, watter een kies jy?
“Masters of War”.
Lees
28. As jy 'n supergroup van lewende of ontslape SA musici kan bymekaar maak, wie sal almal saam met jou speel?
Maggies: Kippie Moeketsi, Willard Cele, Jonas Gwangwa, Mackay Davashe, Bheki Mseleka en Ezra Ngcukana (brass en woodwinds) Ray Phiri, Ali Farka Toure (en sy protégé, Afel Bocoum) op kitaar, Letta Mbulu en Mariam (van Amadou en Mariam-faam), Coyote en Miriam Makeba (vocals) Bakithi Kumalo en/of Gito Baloi op baskitaar, Louis Mhlanga en/of Mamadou Diop (ritmekitaar), Ian Herman en/of Early Mabuza agter die tromstel.
29. Waarna sien jy uit?
Brekfis môreoggend. Hierdie intermittent fasting kan jou woes laat smag daarna. Ek het dit nogal reggekry om die meeste goed te doen wat ek ooit wou doen en het my aanvanklike verwagtinge van myself, hoe laag ook al, verreweg oorskry.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.