’n Durende liefdesverhouding met boeke

LEESLUS

’n Durende liefdesverhouding met boeke

DEBORAH STEINMAIR het nog 'n paar verbete lesers gevra wat boeke in hulle lewe beteken.

ALBERTO Manguel het in A History of Reading geskryf:

At one magical instant in your early childhood, the page of a book – that string of confused, alien ciphers – shivered into meaning. Words spoke to you, gave up their secrets; at that moment, whole universes opened. You became, irrevocably, a reader.

Ek het ’n handvol skrywers gevra wat boeke in hulle lewe beteken. Die reaksie was so oorweldigend dat ek dit in twee aflewerings aanbied. 


Ingrid Winterbach

Ek het nie genoeg afstand van boeke om te sê wat hulle vir my beteken nie. Ek het my (boek)verstand op 11 gekry met die lees van Môre is dit nuwemaan (Mikro, 1959). Sonskyn Wendra het dit vir my gedoen soos geen karakter tot in daardie stadium nie. Soveel van wat ek as jong en ouer kind en jong volwassene gelees het, het ek nie verstaan nie. Dit het my nie ontmoedig nie. Wat ek half-begryp het, moes ek uit my beperkte lewenservaring self invul. Wat ek gelees het, het my soms mateloos ontstel, of onverklaarbaar geraak. (In 'n veel groter mate as die oorgrote meerderheid van die boeke wat ek later, en veral nou, lees.)

Meer as 60 jaar lank al, boek ná boek ná boek, wat laag op sedimentêre laag in my psaaikie neergelê is. Kompos. Wat sou ek gedoen het as ek nie gelees het nie?

Welsynswerk?


Kerneels Breytenbach

Verstaan mooi. Dit gaan nie oor boeke nie. Dit gaan oor watter vorm van nuuskierigheid jy onder lede het. Aanvanklik het dit vir my oor stories gegaan. Fritz Deelman, Leslie Charteris, Lourens Stopforth, Dorothy L. Sayers. Soos 'n mens ouer word, raak jy meer behendig met omskakeling van woorde op papier in wilde verbeeldingsvlugte. Jy hang 10 op die golwe van uitspattige denke. Jy reis sonder die sleur van cattle class.

Die krag van skrywerlike verbeelding het vir my vyf baie spesifieke keerpunte in my tantriese verhouding met boeke gebring: W.F. Hermans se Herinneringen van een engelbewaarder, Thomas Pynchon se Gravity’s Rainbow, John Irving se The World According to Garp, James Salter se A Sport and a Pastime, en Claire Keegan se Foster. Daar was ontelbaar ander ook, maar daardie vyf het op presies die regte oomblik gekom. 

Mettertyd betree ’n ander dors mens se nuuskierigheid. Die afgelope dekade neig myne na niefiksie se kant. Ek haal in aan boeke wat ek eens te saai sou geag het. Eweneens ’n paar keerpunte, sekere boeke: Gerrit Komrij se Het boze oog, Jacques Barzun se From Dawn to Decadence en John Berger se Understanding A Photograph. Ek raak verseil in biografieë en metageskiedenis. Ek snap, ná soveel jare, die opvatting dat ’n onverkende verstand ’n ongebruikte verstand is.

Boeke is bedrukte papier. Hulle het net waarde as die woorde daarin die vonk van jou verbeelding word en jy die ruimgeestigheid van die woordkunstenaars na jou skedel oorhewel.

Ek kan jou ’n brief gee. 


Joan Hambidge

Wat beteken boeke nie alles in my lewe nie. Op reis na Colombië (op die spoor van Marquez) bly my reistas vir ’n paar dae agter op die lughawe in Parys weens ’n staking. Sonder klere kan ek (immers altyd ’n handbagasie met ’n paar skoon hemde en onderklere), maar my ontsteltenis was die boeke in my tas. Roland Barthes se The Grain of the Voice en Umberto Eco se The Role of the Reader met annotasies gemaak in ’n reis deur Egipte. (In ’n koevertjie voor in die boek).

Nou orden ek my studeerkamer en stof af. Kom op belangrike boeke af. Vergete, maar nooit verlore nie. Toe die reistas aankom, is die hele hotel in Bogota dankbaar saam met my. Boeke vir my is ’n rigtingwyser. Ek skryf in my boeke. Voorin staan ’n datum – en dan skryf ek weer met verskillende penne in die kantlyn. En só sien ek hoe ’n boek my lewe verander en selfs bestendig het. Hoe ek telkens terugkeer na dieselfde boek en anders lees of reageer.

Ek gee eerder ’n boek as geskenk as om dit uit te leen. ’n Lewe in woorde, woorde wat lewe.


Gerda Taljaard

Boeke lei my na waters waar rus is, laat my ontvlug van tirannie en despotiese varklikheid. Dit red my van kleinsieligheid en benouende dorpe soos Stellenbosch. Dit verbreed my leefwêreld, laat my gelyktydig diep én wyd kyk, noop my tot selfondersoek, maar ook om die wêreld deur ander se oë te sien. Dit laat my lag, huil, sidder, kwaad word en maak my soms skaam vir my eie vooroordele. As dit nie vir boeke, honde, vriende en wyn was nie, was ek al lankal ’n vervalle murasie.


Eunice Basson

Daardie pakkie met twee, drie boeke wat ek uit die boekwinkel dra, wat meer as 'n maand al op 'n kooplys neergepen is; die opwinding om in 'n holrugstoel te gaan sit met die houterige reuk van vars gedrukte papier, proe-proe deur te blaai, terug te blaai, na die rugkant en omslae te kyk, die betaalstrokie te ignoreer en dan die besluit: Watter een eerste.

Soos wat die woorde mens uitlok en inkatrol, só verdwyn ek telkens met oorgawe na 'n ander wêreld waar hoor en sien vergaan, waar enigiets en alles moontlik is in 'n wonderbaarlik geskepte tafereel. Daar waar mens ver weg heen kan vlieg en wegraak.


Gielie Hoffmann

Elke keer as ek huis opgepak het, was die grootste werk my boekrak. Hoekom trek 'n mens iets saam wat jy reeds gelees het? Hoekom trek jy iets saam wat jy al lank het en nóg nie gelees het nie? Hoe rangskik 'n mens boeke? Stelselmatig, soos ’n biblioteektannie of mediaprefek? Of lukraak, soos die lewe? Dis die vrae waartoe boeke my dwing.

Want boeke is waar ek myself raakgelees het. Maar ook ander wêrelde ontdek het. Die wete dat van die mees persoonlike ervarings van my lewe opgesluit was in boeke, is hoekom ek hulle saamtrek. En dit is hoekom ek keer op keer weer die kans vat en ’n nuwe boek optel. Dit hou belofte in. Al loop my rakke oor.


P.P. Fourie

Daar is so min wat ons as individue werklik van onsself met ander kan deel. Die taal wat ons gebruik in alledaagse omgang is so karig in vergelyking met die enormiteit van ons binnelewens – daardie ware “ek” wat alles van agter ons oë in alleenheid en eensaamheid betrag. Boeke is uniek in die skaal waarmee hulle die binnelewens van mense met mekaar kan deel. En wat dit so misterieus maak, is dat boeke ons toelaat om hierdie insig, hierdie radikale empatie, te ontwikkel sonder dat ander mense ooit lyflik teenwoordig hoef te wees. Ons weet ongelooflike dinge van Jane Austen en haar karakters, en van Leo Tolstoy, van Hemingway, van Alice Munro, van Marcel Proust ten spyte daarvan dat hulle lánkal dood is, ten spyte daarvan dat ons bykans nooit in die teenwoordigheid van skrywers en hul geskryfdes is nie.

Boeke is riviere van lig in die donkerte van isolasie. Daarom is dit so hartseer wanneer ’n publikasie soos VWB saliger word. Die boekeblad, die boekrubrieke … al daardie gesels en gemeenskap met mekaar word nou stil. Ons verloor vriende; ons verloor ’n deel van onsself. En die donkerte word groter. 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.