’n Leesliefde wat nooit gaan lê nie

DEEL EEN

’n Leesliefde wat nooit gaan lê nie

Ons boekeredakteur vra skrywers en lesers oor die rol wat boeke in hulle lewens speel. Dis uiters persoonlik.

Ek het 'n handvol skrywers en begeesterde lesers gevra wat boeke in hulle lewe beteken. Die reaksie was oorweldigend. 


Deon  Meyer

Boeke is my skoling, my ontsnapping, my steek-die-vuur-in-my-brein-aan-vlam, my inspirasie, die eksponensiële vermenigvuldiging van my lewenservarings. Boeke is my paspoort tot gratis reise na werklike en verbeelde wêrelde oor geografiese en chronologiese grense heen.

En bowenal stel boeke – die skryf en die lees – my in staat om deur ander se oë te sien. Daardeur kry ek insig, begrip en empatie vir ervarings, omstandighede, standpunte, sienings, perspektiewe, emosies, kulture en persoonlikhede wat hemelsbreed van myne verskil.


Diane de Beer

In ’n wêreld wat al hoe meer onderstebo voel, is boeke nou meer as ooit ’n ontsnapping, ’n droom-uitkoms en ’n plek waar ek my verbeelding vrye teuels gee. Boeke lei my tot nuwe insigte, laat my met verskeie kwessies worstel en verskuif grense.


Ilse Salzwedel

Totaal betower! Dis hoe ek daardie eerste selflees-ervaring op omtrent ses onthou. Dit was ’n Trompie-boek wat ek iewers gekry het, en al was daar sekerlik ook ’n paar kleuterboeke wat ek voor dit op my eie gelees het, kan ek nie een van hulle onthou nie. Ek onthou wel die wonderlike wêreld wat vir my oopgesluit is toe ek as grootoog vyf-jarige toegelaat is om Sub A te betree – weliswaar op ’n proefbasis, wat ek gelukkig “geslaag” het. Om te lees was my grootste begeerte, want my ma was moeg om vir die laatlammetjie te lees en die ouer kinders te besig met hul eie dinge, en dit het die wonderlike juffrou Spangenberg my heel gou geleer.

Van toe af was boeke die middelpunt van my bestaan. Ontspanning, geselskap, sielkundige, beste vriende en les bes, ook ’n manier om te ontsnap van die waansin van die regte lewe. Vandag is dit steeds so – al het boeke nou deel van my beroep geword. Om jouself te kan verloor in ’n fantastiese storie, in iemand anders se skoene te loop en deur iemand anders se oë die wêreld te beleef, is steeds vir my die grootste magic. Om te kan lees en vrye toegang te hê tot wat ek ook al wil lees, is en bly ’n ongelooflike voorreg. Hoe leeg moet ’n mens se bestaan net nie wees daarsonder nie.


Nadine Petrick

'n Paar jaar gelede staan ek en my ma in 'n boekwinkel in Hermanus. Toe sy omdraai om my iets te vra, skrik sy, want daar biggel 'n enkele traan oor my wang. Héél fokken melodramaties, maar let’s tell it like it is. My antwoord op haar vraag wat dan nou skielik fout is, was en is en sal, tot op die dag wat die jirre weer kom, die grootste enkele tragedie in my lewe wees: Ek sal nooit, voor ek die tydige met die ewige verwissel, al die boeke kan lees wat ek so vreeslik graag wil lees nie. Die ure in die dag en menslike biologie en die natuurlike stand van sake, werk doodeenvoudig teen my. Die tempo waarteen ek boeke in my klein huisie indra versus die tempo waarteen ek lees; al die werk wat ek moet doen; slaap; alle ander benullighede en dié van die onbenullige soort; is ongelukkig nie op enige manier versoenbaar nie.

Gister staan ek en twee vriende in 'n boekwinkel in Kleinmond. Dieselfde drama oorval my,maar ek hou die dreigende traan binne. Ek haal 'n Julian Barnes wat ek nie het nie, uit die rak, en dra dit saam met 'n eerste uitgawe van Isis Isis Isis en 'n pragtig opgepaste Heidi word groot na die betaalpunt. Die kind in my wat doeriejare gelede die ongelooflike voorreg van leesvreugde ontdek het, wil steeds dádelik op haar kamervloer met 'n pakkie tamatiesous chips en 'n Top Deck gaan sit en in 'n ander wêreld in verdwyn. Avonture gaan beleef; karaters leer ken en liefkry; moorde oplos; diertjies in die Alpe soek; epifanies beleef; waarhede bevraagteken en doodeenvoudig veilig voel. Maar ek kan nie. My vriende wag vir my buite by die kar.


Linza de Jager

Boeke en my ma gaan hand aan hand vir my. My ma het te midde van die eindelose droogte  wat Albertinia geteister het met haar neus in ’n biblioteekboek by die kombuistafel gesit. Daar was konsentrasiekamp-memoirs wat haar “laat beter voel” oor haar lewe, filmsterre se biografieë, wat seker die teenoorgestelde gedoen het, en familiedramas. Lateraan was daar boeke wat swaar dra aan hulle status en snob appeal. My ma het gelees met die bodemlose honger van iemand wat moes gaan studeer het, maar nie kon nie. Een boek was permanent aan haar sy. Dit was Kook & Geniet. ’n Barmhartige tannie het dit vir haar gegee toe sy as 19-jarige Engelse bruid wat nie kon kook nie op die plaas uitgespoel het. Dis ’n boek wat my steeds met gemengde gevoelens vervul.

Aan die een kant herinner dit my aan my ma. En dis goed. Aan die ander kant is die emosie byna te veel. Daar was opmerkings in haar netjiese handskrif, soos “Dis ’n goeie resep!” Daar was vet-merke op die bladsye. Daar was foto’s van ons kinders tussen die bladsye ingedruk. Deur die jare het die boek se bladsye geel geraak van ouderdom en dalk van skok oor wat dit alles moes aanhoor. Die boek was by wanneer my ma vir my keer op keer gepreek het: “Moet nooit trou nie. As jy trou, moenie met ’n boer trou nie. Moet nooit in ’n kombuis kom nie. As jy in ’n kombuis kom, moenie kook nie.”

Dié Kook & Geniet het ná my ma se dood verdwyn. Dit was asof dit verdamp het, of verbrand is, of gesteel is. Ek wonder steeds of ek dit saam met al haar ander goed wat te seer gemaak het om na te kyk, gaan skenk het aan die charity shop in Mosselbaai se industriële gebied. Ek sal my oogtande gee om dit terug te kry.


Phyllis Green

Daar is geen groter verleiding vir my as ’n boek nie. Nee wat, nie sjokolade nie, nie eers wyn het die bekoring van ’n boek nie. As ek daardie blaaie oopslaan en ek voel die papier, is dit verby met my. Om nie eers van die reuk van ’n nuwe boek te praat nie! Ek kan my nie ’n lewe sonder boeke voorstel nie.

Van kleintyd af was dit my troos en bemoediging as die lewe gedruk het. Op boeke kon ek nog altyd vertrou om vir my goeie raad te gee, om my te laat lag, en natuurlik om my te laat huil. Om my verbeelding aan te gryp en saam te reis in die blaaie, om te leer oor nuwe en opwindende onderwerpe. En net om my te betower. Dis die lojaalste vriend in my ganse lewe en een wat ek weet my nooit teleur gaan stel, en my nooit alleen gaan los nie.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.