Liefste vriende
Ek het klaar geween oor Vrye Weekblad – ag, nou goed dan, ek bars nog soms in trane uit aan tafel. Maar vandag hou ek dit lig, dan maak ons asof ons nie afskeid neem nie.
Oor my motorradio hoor ek ’n aanbieder op 702, Relebogile Mabotja, entoesiasties uitwei oor ’n dokumentêr op Showmax: Tik Tok Boem, oor Afrikaners op Tik Tok. Sy lag uit haar maag en vertel dis ongelooflike pret en ek dink by myself: Is ons al weer uitskieters? Ek moet dit beslis kyk.
O, gedorie. Dis skaammakend, mense. Die Afrikaners op TikTok laat Ant Stienie van Agter elke man stylvol lyk. Hulle laat my dink aan T.T. Cloete se woorde: Kyk hoe loop hul / kyk hoe lyk hul / wat ek moet liefhê / die 99% lelike spul. Kyk, onooglik is nog een ding, jy is miskien so bebore. Maar platvloers, luid en dronk is keuses.
Daar is karakers soos Tannie Tess of Terrible Tess wat vertel dat sy vroeër heavy gedrink het. Miskien is sy soos Butley in Simon Gray se drama wat verklaar: I used to have a drinking problem. I’m used to it now. No problem. Sy kekkel en kraai en vertel dat sy haar foon oral saamneem en altyd live is op TikTok, “as ek gaan shop, as ek gaan kak.” Dit was in laasgenoemde situasie waar sy per ongeluk, glo, haar fynbos op TikTok gewys het. Sy noem dit poes.
Daar is karakters soos die melanien-gestremde Tippex, ’n bleek klong uit Limpopo. Hy het die gesig van ’n neo-Nazi, vertrek van haat. Of van die hiperaktiewe rooiblonde seuntjie wie se ouers nie Ritalin kon bekostig nie. Hy drink en vloek en deel klappe en skoppe uit.
Daar is ’n vrou wat sê sy is al 30 jaar ’n huisvrou en nou TikTok sy maar heeldag as haar man by die werk is, want wat moet sy nou anders doen?
Hulle maak glo geld uit TikTok. Ek verstaan dit nie so mooi nie, maar hoe meer mense jy na jou ruimte kan lok, hoe meer geld maak jy. Die aandag van mense se oë het die nuwe valuta geword, glo. Hoe trek jy views en likes? Deur almal onder hulle klere in te vloek, drama te pomp en straatgevegte lewendig uit te saai.
Hulle noem dit boxing, uitgespreek bôksieng. Jy en ’n ander berugte TikTokker het ’n live bekgeveg en julle volgelinge klim in die kryt en sê mekaar en jou opponent sleg.
Die aanbieder van die dokumentêr oor TikTok, klein wêreld, is ons gewese buurvrou, die eksjoernalis wat ’n verhouding met die seun in die Krugersdorpse moordbende aangeknoop het terwyl hy in die tjoekie sit. Sy wat eendag op haar balkon, wat aan ons s’n grens, gestaan en gil het sodat die hele kompleks kon hoor: “HOEKOM KAN EK NIE OOK ’n GOEIE SEX LIFE HÊ NIE? VERDIEN EK NIE OOK ’n GOEIE NAAI NIE?” Ook sy lyk positief stylvol en vol klas teen die TikTokkers.
Toe ek Relebogile se wenk volg en die dokumentêr gaan kyk, doodonskuldig en hoopvol, was ek soos my vriendin René. Sy het jare gelede vir die eerste keer van haar gedigte aan LitNet gestuur en het gewonder of hulle dit gaan plaas. Toe laat weet ’n vriend haar: Jy is op LitNet! Met ’n skakel. Met bewende vingers kliek sy op die skakel, en dit lei na ’n aantal roadtrip-foto’s wat Toast Coetzer geneem het en spesifiek een foto, van ’n ronde sement-piekniektafel langs die pad, waarop iemand in vet swart letters geskryf het: RENÉ BIG FAT HAIRY POES.
Ek het nie die hele program gekyk nie, maar halfpad deur besluit: Ek skaam my g’n niks nie. Dis nie my mense nie. Ek skaar my by die 702-omroeper en diegene wat kop skud oor die mentaliteit van die oorgrote meerderheid van “my” mense. Jy wat 'n VWB-intekenaar was, weet dis nie jy nie.
Dis mensies wat heeldag, terwyl die huishulp skrop, skermtyd op TikTok deurbring en aanlyn in lelike, ongepoetste onderonsies betrokke raak. Wat gesuip en vol haat post. Wat nooit in hulle lewe ’n boek lees nie en spoeg op Vrye Weekblad. Wat met ’n witbrood onder die arm gaan huil by die grootrumpokker, hom wat hulle as ’n man van God beskou. Tatta.
HIER KAN JY MY NOG STEEDS LEES:
Sommige van my kollegas, soos Herman Lategan, laat weet dat hulle klaar is met Afrikaans en voortaan net in Engels gaan skryf. Ek verstaan dit – die land wou ons nie hê nie. Maar ek gaan voort om in Afrikaans te skryf. My nuusbrief is van volgende Saterdag af hier, gratis. En my stories oor boeke - registreer asseblief. Ek gaan ook twee rubrieke per maand vir LitNet skryf, oor Afrikaanse en Suid-Afrikaanse boeke. Tot siens, maar nie vaarwel.
Gesondheid!
Deborah
Geen plan B nie
As jy gedigte of stories wil skryf –
die soort wat gate in mense oopraak –
vermy dan die oë van die verstandiges.
Verstandiges sien dinge soos dit is,
maar wanhoop nie daaroor nie –
bestuur dit bloot.
Om jou saaklik
deur húlle skerp oë te sien
is dodelik.
Jy sal nie hul afgemete medelye
kan verduur nie.
As jy verstandig wil wees,
vermy die biblioteek.
Netnou krap 'n storie of gedig jou oop
en jy soek rasend,
'n stomme lewe lank,
na die antwoord
op die bot punt
van jou verleppende tong.
- Danie Marais
Uit: Al is die maan 'n misverstand
Stievkind
Jy soek die naam van die vervaardiger van 'n TV-reeks wat hierbo genoem word. Een van die karakters daarin was “Bruce Beyers".
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.