THEARTER-MAN | Breek weg vir suiwer lug én 'n vol KKNK-program
1. Die regering is besig met die mees omvattende hersiening van invoerheffings op staal in meer as 20 jaar, het Business Day berig. Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het die International Trade Administration Commission (Itac) gevra om Suid-Afrika se tariefraamwerk te herevalueer, wat kan lei tot 'n verhoging in doeaneregte en strenger invoerkontroles in 'n poging om die beleërde plaaslike staalbedryf te beskerm.
2. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het tans net twee vegvliegtuie, een helikopter en drie opleidingsvegvliegtuie wat operasioneel is. Die res, meer as 330 vliegtuie, wag op herstelwerk of onderdele, of is andersins nie diensbaar nie, het News24 berig. Dit beteken onder meer dat troepe in die DRK dikwels sonder enige lugsteun is.
3. Aspen Pharmacare, Suid-Afrika se grootste farmaseutiese maatskappy, het opgehou om oogdruppels na die VSA en Kanada uit te voer nadat sekere regulasies glo by Aspen SA Sterile Operations in Gqeberha oortree is. Inspekteurs van die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) het die oortredings bespeur tydens 'n besoek ter plaatse in September.
4. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het verlede week voorlopig in die guns beslis van die eienaars van twee boerderye buite George, Platinum Mile Investments en trustees van die Armstrong Flora Trust, waar Eskom grond wou onteien om transmissielyne op te rig. Die hof het Eskom beveel om onderhandelinge oor die onteiening van die grond te staak, onderworpe aan die hersiening van 'n vroeëre hofbevel. Die eienaars van die grond het aangevoer dat hulle nie tydens omgewingsimpakstudies oor die projek geraadpleeg is nie.
5. Groenland se eerste minister, Múte Egede, het 'n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om in te gryp in reaksie op die aankondiging dat 'n senior afvaardiging van die Amerikaanse regering vandeesweek in Groenland aankom. Dit sluit in Mike Waltz, pres. Donald Trump se nasionale veiligheidsadviseur, asook Usha Vance, vrou van visepresident JD Vance, en Chris Wright, minister van energie. Trump het onderneem om Groenland, 'n outonome gebied wat deel van die koninkryk van Denemarke is, “op die een of ander manier” deel van die VSA te maak, en weier om uit te sluit dat militêre of ekonomiese mag gebruik sal word om dit reg te kry.
6. Trump het gister gesê die VSA sal heffings van 25% instel op enige land wat olie of gas van Venezuela koop. Dié sogenaamde “sekondêre heffing” sal op 2 April in werking tree, het die president op Truth Social gesê.
7. Gesprekke oor 'n skietstilstand in Oekraïne is gister tussen Amerikaanse en Russiese onderhandelaars voortgesit in Riyadh in Saoedi-Arabië. Die fokus is nou op die veiligheid van skeepvaart in die Swart See, het AP berig.
’n Veiligheidsone wat wegval
Ek hou nie van mense gaan afsien op die lughawe nie; ek hou nie van koebaais nie, ek hou nie van die leë gevoel as mense weg is nie. Dis ook hoe ek voel oor die koebaai aan Vrye Weekblad. Wat gaan ek môre en volgende week en die week daarna doen as dié veiligheidsone ook wegval?
Rou is nie net 'n proses wat met die dood gepaard gaan nie. Dis eintlik die verlies van die knusse verhouding wat jy met iemand of iets gehad het. Die skeiding is nie onmiddellik tasbaar nie, maar dis wanneer die leemte so ooglopend daar is dat 'n mens dit voel.
So mymer ek toe weer hier oor die langnaweek oor die leemtes. Deesdae is daar so baie en dit voel of 'n mens net gate moet toestop om te keer dat nie alles leegloop nie. Beweeg ons te vinnig aan sodra ons iets verloor het? Soos vryheid. Die Amerikaners het hulle wenplek op die rostrum verloor nadat die wil van die mense in hulle verkiesing geseëvier het – dis nou eers dat hulle besef die leegte in Trump se kop is eintlik die leemtes in hulle demokratiese stelsel. Hoeveel hospitale en skole en lewens moet nog in Gaza die lug ingeblaas word voordat die leemtes in die vorm van geweerskootgate en soos warm kole in die mensdom se geheue vasgebrand word en niemand dit meer kan miskyk nie?
Dis 'n leë strook. Vryheid is 'n leë strook. Die duisende Suid-Afrikaners wat asiel wil gaan soek in Amerika beleef 'n leegheid omdat hulle voel dat hulle volksvryheid bedreig word in 'n land wat steierend voortbeur in 'n nuutgevonde vryheid en nie juis weet wat om daarmee te maak nie. Na 'n land waarvan die demokrasie in skerwe op die Potomac afdryf. Leë beloftes. Die hunkering na wat was, het groter geword as die hersenskim van 'n gedeelde, vrye toekoms. Die wêreld is in pyn en niemand weet eintlik hoe om die dood van “life as we knew it” te hanteer of te bestuur nie. Ons voel leeg.
Ons beweeg te gou aan
Ek luister verslae na die ontbondeling van wat met Joshlin Smith gebeur het en die koue, leë hart van haar ma, Kelly Smith. 'n Gemeenskap wat steier onder armoede, dwelms, wellus en die dolosse van 'n sangoma vir wie blou oë en 'n wit vel 'n geraamde R20 000 werd is. Mense se oë is leeg. Kelly s’n ook. “Life as we knew it” is net 'n leë dop. Woede word nie verwerk nie. Nie in Saldanha nie, ook nie by die Waarheidskommissie nie. Ons beweeg te gou aan, verpak ons gevoelens in klankdigte kamers en verstaan dan glad nie dat rou 'n eie rivier is wat as dit woede reën, uit sy walle gaan bars en alles in sy pad gaan tsunami nie.
“Die einde van die tye, my kind,” het my oorle ouma gemaan. Maar staan ons nie maar met elke nuwe generasie op die rand van die afgrond nie? Wag ons nie maar heeltyd op die kaptein nie? Op 'n beloofde hemel of nirvana of 1 000 maagde nie? Wie of wat moet ons bekers vul? Ek weet nie.
En nou is daar nie eens meer 'n uitlaatklep soos Vrye Weekblad om al die kwessies uit te pluis, te bekyk en orde in ons koppe te bewerkstellig nie. Vrye Weekblad was soos die dik weeklikse Sondagkoerant waar ons alles wat ons wou weet in een verpakking kon kry. En wanneer ons dit uiteindelik opgefrommel het om die vensters mee blink te vryf nadat dit gewas is, het ons wêrelde verbreed in die verstaan van wat om ons aangaan.
Ek gaan rou, Vrye Weekblad. Oor die leemtes wat julle gevul het. Die vryheid van denke waaraan julle gestalte gegee het, in 'n weekblad wat 'n dagblad geword het. Vir 'n lang tyd. Maar môre gaan die son weer skyn, soos daai koortjie ons gerusstel.
Ek hou nie van koebaais nie
Ingrid
Valsbaai, nasomer
Vir MM Walters, 23 Januarie 2020
die digter sit op sy klip hoog oor die baai
daar onder bewonder toeriste pikkewyne se waggel en duik
golwe wat kopspeel, Suidooster wat waai
die Hollanders het Duiwelspiek hoeka Windberg genoem
op 'n rots vol eeue van meeue se mis
sit 'n duiker met vlerke gesprei in die suider
son‘n seiljag gly oor die loodblou waters wat skitter en blink
hier het ou Simon glo destyds 'n hawe gesoek om te land
die digter tuur verby Muizenberg se strand
tot waar Hottentots-Holland dynserig verdwyn
wat is dit wat hy doer by Hangklip gewaar?
twee reuse wit seile maak bol in die wind:
die Vlieënde Hollander, verdoem om vir ewig oor die aardbol te vaar?
maar: 'n tweemaster versier met kruis en met kroon,
karaveel uit die Noorde wat ons uithoek bespied?
tog nie Da Gama nie, die ou bokker, met sy brandsiek bemanning!
wie dit ook is, as hy gekom het om ons nasie te red
moet hy weet hy’s vyf eeue te laat!
die digter skink nog 'n glas van sy verwaterde wyn
– Gunther Pakendorf
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.