Selfs die Illuminati is nie meer wat dit was nie

WOENSDAG MET WILLEM

Selfs die Illuminati is nie meer wat dit was nie

Op sosiale media loop die lafste gerugte sterk oor die ‘werklike’ rede agter Vrye Weekblad se sluiting, skryf WILLEM KEMPEN. Daar is ook weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

BLOU KOOS | Chris du Plessis onthou een van die vele eksentrieke en kleurvolle mense wat al by Vrye Weekblad gewerk het.

Kliek hier om te lees


1. Brent Bozell III is aangewys om Reuben Brigety as Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika te vervang. Bozel is bekend as 'n  konserwatiewe aktivis en skrywer en stigter van die Media Research Centre, 'n organisasie wie se doel dit is om liberale vooroordeel in die Amerikaanse media uit te wys.

2. Terwyl Demokrate eis dat koppe rol oor die sogenaamde Signal-sekerheidsbreuk, het pres. Donald Trump dit gister as 'n “glitch" probeer afmaak. Trump het aan NBC News gesê dit was “the only glitch in two months, and it turned out not to be a serious one”, en dat Mike Waltz, sy nasionale veiligheidsadviseur, “learned a lesson”. Die breuk het ontstaan toe Jeffrey Goldberg, hoofredakteur van The Atlantic, per abuis ingesluit is in 'n gesprek van senior lede van die Trump-administrasie oor 'n komende aanval op Houthi-rebelle in Jemen. Goldberg skryf daaroor: “I, however, knew two hours before the first bombs exploded that the attack might be coming. The reason I knew this is that Pete Hegseth, the secretary of defense, had texted me the war plan at 11:44 a.m. The plan included precise information about weapons packages, targets, and timing."

3. Kallie Kriel van AfriForum het in 'n onderhoud met News24 nogmaals die regters gekritiseer wat beslis het dat Julius Malema van die EFF se “Kill the Boer”-singery nie haatspraak is nie. Kriel het die hof daarvan beskuldig dat hulle ’n “radikale ideologiese interpretasie” van die grondwet huldig.

4. Die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange het “agterbaks" en “onregmatig" opgetree deur 'n nuwe gedragskode vir LP's sonder enige openbare deelname te aanvaar, het die aktivis Zackie Achmat van UniteBehind gesê.

5. Die twee grootste vakbonde by Prasa het ’n dispuut by die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA) verklaar en dreig met 'n staking nadat die treinpassasier-operateur “geweier” het om formeel te reageer op eise vir loonverhogings van vyf keer die inflasiekoers. ’n Staking by Prasa kan miljoene pendelaars gestrand laat en die ekonomie nog 'n knou toedien.

6. Amerika se FBI het 'n federale taakspan in die lewe geroep in reaksie op die vlaag vandalisme en ander aanvalle op Tesla-handelaars en -laaistasies. In een van die nuutste voorvalle is 'n man met 'n ploftoestel betrap by 'n Tesla-eiendom in Austin, Texas.

7. Die akteur Gérard Depardieu (76) het aan 'n hof in Parys, Frankryk gesê hy het die vrou wat hom van seksuele aanranding beskuldig, “aan die heupe gegryp om te keer dat hy gly". Depardieu staan ​​tereg vir die beweerde seksuele aanranding van 'n 54-jarige stel-ontwerper sowel as van 'n 34-jarige assistent-regisseur tydens die skiet van die fliek Les Volets Verts in Parys in 2021.


Oppas, die wekker kan op jou kop val

Goeiemôre!

My skoonma glo sterk aan voorbodes, al raai sy ook maar soos die res van ons wat hulle dalk beteken. Soos die keer in die 1990's toe sy 'n ou Kewpie-pop iewers bo in 'n kas in hulle huis in Ventersdorp ontdek het – wat ongesiens en ongevraag 'n rasse-herklassifikasie ondergaan het en met 'n blakende bruin plastiekvel haar verskyning in die nuwe Suid-Afrika gemaak het. (Ek lees hier dat die eerste swart Kewpies reeds in die 1950's vervaardig is, maar die een in my skoonma se kas was beslis wit-pienk voor sy uit berging te voorskyn gekom het om 'n bevryde lewe te lei.) 

Verlede week, vertel my skoonma, word sy die nag wakker van iets wat klink soos die gedempte getril van 'n wekker wat afgaan. By nadere ondersoek blyk dit die geluid kom bo uit 'n kas agter 'n toe deur. Sy maak die deur oop, en daar val toe einste 'n wekker uit, reg op haar kop. Darem nie seergekry nie, maar die ding is nou, die wekker was in daai kas omdat dit lankal nie meer werk nie. Daar was wel nog batterye in, maar ... En 'n rukkie later gaan die TV vanself aan, en toe begin 'n selfoon 'n deuntjie speel sonder dat iemand gebel het of daar 'n alarm gestel is.

Dit kan tog nét 'n poltergees wees, stel ek ewe behulpsaam voor met die aanhoor van die verhaal, maar my skoonma duld nie sulke familiariteit met die bonatuurlike nie: “Nee, moenie dit sê nie."

In die donker agterstrate van sosiale media is daar nie sulke inhibisies nie. Daar mág jy nie net sê wat jy wil nie, jy móét selfs die lafste verklarings suurstof gee as jy enigiets wil verduidelik wat jy nie self verstaan nie. En hier in die laaste week van Vrye Weekblad se bestaan in die ondermaanse realm duik 'n paar van hulle van voor af op.

Die probleem vir sulke ouens is dat ons ondergang nie lekker klop met van die souserigste teorieë daarbuite nie. Ek meen, hoe kan dit wees dat ons toemaak as George Soros en Die Geldmag nog al die jare agter ons staan?

Maar nee, die manne het 'n antwoord vir daai een ook. Dis nie toevallig nie, sê hulle, dat Vrye Weekblad se sluiting aangekondig word net toe Trump en Musk die geldkrane by die korrupte USAid toedraai.

So, as ek dié teorie reg verstaan, dan het Soros die geld via USAid na ons gekanaliseer, maar noudat dít nie meer moontlik is nie, kan hy ook nie 'n ander plan maak nie en moet Vrye Weekblad maar toemaak?

Ai, selfs die Illuminati is nie meer wat dit was nie.

Op 'n ernstiger noot: Ek lees die daaglikse kommentaar onderaan ons stories, en ek sien mense se teleurstelling en hartseer dat oormôre ons laaste uitgawe gaan wees. En ten spyte van wat 'n paar regse malletjies so graag wil glo, dink ek 'n onafhanklike Afrikaanse publikasie soos dié kan wel oorleef en floreer. Dis eenvoudig nie waar dat dit 'n binêre keuse tussen 'n kritiese ingesteldheid en kommersiële sukses is nie. Hulle is tegelyk moontlik.

Wat wel waar is, of so lyk dit vir my in elk geval, is dat dit nie werk om van betalende intekenare afhanklik te moet wees nie. Ook nie van die tradisionele soort adverteerders nie. En jy moet 'n manier vind om 'n massamark in die gees van ons grondwet van 'n gehalteproduk te bedien.

'n Massamark in Afrikaans, wat jy waar kry? Wel, om mee te begin: Die internet sê vir my elke jaar is daar soveel as 200 000 skoliere wat Afrikaans op eerstetaal-vlak as 'n vak het; nog soveel as 350 000 as eerste bykomende taal; nog 'n klompie as tweede bykomende taal. Bitter min van daardie kinders gaan bereid en in staat wees om vir 'n subskripsie op énige moontlike publikasie te betaal, maar moenie vir my sê daar is nie borge of adverteerders wat waarde sal sien in só 'n teikenmark nie. Hoe kry mens dan groot maatskappye en ander organisasies om daai kinders te borg sodat hulle meer en beter kan lees (en beter vaar in Afrikaans op skool) sonder om te hoef te betaal?

Verwante vraag: Wat is vandag die beste manier om 'n lewe te maak as jy in Afrikaans wil skryf? Gaan soek bietjie iets soos “Afrikaanse skoolopstelle vir redenaars" op Google. Jy sal 'n hele rits webwerwe kry wat produkte adverteer soos “Landwye Alleenreg Toesprake (sic), Hoërskool, vir R1 220". Sommige is sekerlik beter as ander, maar van wat ek al gesien het kry jy vir daai geld sulke teatrale klein junior-kweekskool-prekies wat met 'n gekantelde koppie en 'n gekultiveerde frons in vrome proto-Afrikaans aan 'n paneel van streng Ôh-Tie-Kô-Vee-beoordelaars voorgedra moet word, met sukses feitlik gewaarborg.

En terwyl ek nou vir oulaas kan rant, kyk weer na die syfer hierbo van kinders wat Afrikaans as eerste bykomende taal het. Dis nie kinders wie se moedertaal (noodwendig) Afrikaans is nie, maar wat nogtans hoop dat dié taal die beste manier is om uiteindelik die taalvereistes van die senior sertifikaat te kan nakom. Is dit nie juis die kinders wat na Afrikaans oorgehaal kan word as 'n manier om hulle akademies te bemagtig nie? Maar nee, ons andersins  bemoeisieke nasionale onderwysdepartement dink blykbaar dis beter om die arme bloedjies met argaïese taalkunde te kasty en hulle lang lyste clichés te laat memoriseer (wat hulle later weer moet afleer) as om hulle bloot te stel aan Afrikaans se ryk letterkunde gepleeg deur die soort dwarsneukende fok-jou-okkers met wie hulle kan identifiseer.

As ons van net 1% van daai kinders ook dwarsneukende fok-jou-okkers kan maak, dan het ons 'n goeie lesersbasis vir 'n moer lekker Afrikaanse koerant iewers in die toekoms.

Dalk kan ons volgende week verder hieroor praat ... of wag, never mind.

Mooi loop

Willem


Versekeringsbrief insake brandskade aan ’n huis

Ek verklaar dat ek onraad vermoed het
toe ek die braaivleisvuur
aan hom geruik het,
'n vlugtige vriendskaplike omhelsing
wat deur 'n kleinerige komplikasie langer as gepas sou duur:
sy regterhand-met-sigaret het in die net van my los hare homself sonder skade verstrik.

Die ontknoping
het 'n nadertrek van lyf vereis,
om stadige onttrekking van 'n kool
uit lokstemlokke te bewerk.

Hitte-te.

'n Nylonnet, wat muskiete moes uithou
en hartswater moes bekamp,
is nie bestand teen 'n herkenningsblits nie:
Klip, skêr en papier
word algar
verteer deur vuur.

– Emma Bekker 

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou asseblief by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.