Die babelas van die brouerye

“Laager”-mentaliteit

Die babelas van die brouerye

Die wêreld se grootste brouery het ʼn stamboom met wortels in onder meer Johannesburg in 1895, en ʼn trotse geskiedenis waarin hulle in goeie en slegte tye die beste uit onstuimige markte gehaal het. Maar verlede jaar het SA nogal AB InBev se internasionale prestasie in die voet geskiet. Die ekonomie en moeilike handelstoestande kan deels die skuld kry, maar die die brouery-reus het die lewe vir homself nie makliker gemaak deur met ʼn masjien te lol wat goed gewerk het nie, skryf TJ STRYDOM.


’n GROEP mans wat klaarblyklik deur ’n reklameagentskap gewerf is omdat hulle óf soos Eddie Murphy óf Patrick Swayze lyk, deel ’n grappie terwyl hulle blikkies, bottels en bekers vol Lion Lager geniet. In die winter van 1989 was dit voorbladnuus. Nelson Mandela was nog agter tralies en Suid-Afrika was ’n strydlustige, geïsoleerde plek toe die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) veelrassige advertensies begin maak het.
SAB het die “laager”-mentaliteit uitgedaag – met ’n lager. En hoe om daardie biere in die hande van potensiële kopers te kry, is iets wat die brouery goed onder die knie gehad het.
Die brouery is in 1895 gestig om in die aanvraag van Johannesburg se dorstige fortuinsoekers te voorsien en is twee jaar later as die eerste nywerheidsmaatskappy op die JSE genoteer. SAB het dus vir byna ’n dekade net een mark geken, maar hy het dit soos die palm van sy hand geken.
Hoewel apartheid se wiele in 1989 nog amptelik aan die rol was, was die beleid se dae getel. Binnekort sou die Berlynse muur val en die Ystergordyn oopgetrek word wat Suid-Afrikaners tot om die onderhandelingstafel sou dwing. ’n Terugkeer na die wêreldgemeenskap was ’n gulde geleentheid vir SAB. Dit het die maatskappy net meer as ’n dekade en ’n rits aanskaffings geneem om die tweede grootste brouery in die wêreld te word.
Nog ’n dekade en ’n half later – teen dié tyd dat was dit ’n gevestigde swaargewig genaamd SABMiller – was dit die grootste oornameteiken in korporatiewe geskiedenis toe Anheuser-Busch InBev (AB InBev) in 2016 met ’n oorname-aanbod van $106 biljoen by die brouery kom aanklop het. “Sinergieë” is nie verniet elke bestuurskonsultant se gunstelingwoord nie, en dié transaksie het sinergieë ter waarde van $3,2 biljoen beloof.
Beleggers was uit die veld geslaan oor die belofte van AB InBev se hoof, Carlos Brito, dat pleks van koste besnoei, hulle eerder die platform as ’n groeigeleentheid wou gebruik. “Ons hoef geen duplisering in Suid-Afrika te doen nie,” het Brito in 2016 aan Financial Mail gesê.
“Dis nie hier ’n kwessie nie. Die kwessie is eerder hoe ons die onderneming kan laat groei, en hoe ons die internasionale handelsname kan laat groei wat ons hierheen gaan bring.” Beleggers wat hulle aandele van SABMiller na AB InBev geskuif het, het toegang verkry tot ’n maatskappy met 175,000 werknemers en wat agt van die 10 topbiere – waaronder Budweiser, Brahma, Stella Artois en Corona – in meer as 150 lande verkoop het.
Dit was egter ’n tamaai teleurstelling. Sedert AB InBev op 11 Oktober 2016 op die JSE begin handel dryf het, het aandele met 36% geval tot R1,192 vandag – dis beter as die R930 waarop dit in Januarie gestaan het, maar nogtans treurig.
Hoewel $2,9 biljoen se “sinergieë” wel uit die transaksie gekom het sedert SABMiller by sy groter mededinger se kraal ingesluit is, het die brouery se 2018-jaaruitslag, wat verlede maand bekend gemaak is, iets vreemd opgelewer: Suid-Afrika, asook Brasilië en Argentinië, is uit die meer as 50 markte as een van die swakste presteerders in die portefeulje uitgewys.
Wat het gebeur? Hoe is dit moontlik dat die grootste oornametransaksie in brouerygeskiedenis AB InBev, en die formidabele Brito – wat nou ’n reputasie as ’n gewetenlose kostebesnoeier het – met so ’n hengse babelas kon laat?
* Uit die FINANCIAL MAIL.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Die meeste van ons artikels is slegs vir ons intekenaars, maar hierdie een is gratis solank jy registreer.

Reeds geregistreer? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vrae of probleme?
E-pos hulp@vryeweekblad.com of skakel 0860 52 52 00.

X