Munisipaliteite melk gapings in die wet

In die loopgraaf

Munisipaliteite melk gapings in die wet

Die parlement faal grond- en eiendomsbesitters – en daarmee saam ons land – deur eerstens wetgewing voor te skryf wat ‘herverdeling' en ‘regstelling' bo basiese dienslewering stel, en tweedens deur plaaslike owerhede vrye teuels met tariefbepalings te gee. JURIE DE WET meen dis sy en ander prokureurs se plig om die wet tot voordeel van vooruitgang in ons land te gebruik.

Die burgemeester van ’n dorpie in Mpumalanga het my ’n ruk gelede genader om sy munisipaliteit te help om ’n groot mynmaatskappy se agterstallige tariewe in te vorder, en ek het ingestem om te help.
Uit die dokumentasie het dit geblyk dat die myn altesaam R9 miljoen geskuld het vir tariewe wat op sy eiendom gehef is – die munisipaliteit het dié eiendom vir R25 miljoen gewaardeer.
Munisipale tariewe is belasting wat op eiendom binne die munisipale gebied gehef word volgens ’n sent-in-die-rand-tarief wat deur die munisipale raad bepaal word. Verskillende tariewe geld verskillende tipes eiendom – handels- en kommersiële eiendomme word byvoorbeeld altyd teen hoër tariewe as residensiële eiendomme of skole en kerke belas.
Tot ’n paar jaar gelede is slegs eiendom wat binne die munisipale grense geval het, belas, maar ná 1994 is besluit om die grense geleidelik uit te brei totdat die hele land eindelik deur munisipaliteite gedek is.
Dié uitbreiding was in ooreenstemming met die visie van die opstellers van die Grondwet wat verwag het dat die plaaslike regering ’n kragtige instrument sou wees wat demokrasie, dienslewering en ontwikkeling betref.
Gevolglik kon munisipaliteite nou vir die eerste keer plase en ander eiendomme belas wat voorheen buite hulle grense geval het.
Die moontlikheid van strawwe munisipale tariewe vir dienslewering wat nie tot by hulle strek nie, het georganiseerde landbou genoodsaak om die regering se hulp in te roep. In 2009 het die kabinet gehoor gegee en is ’n regulasie goedgekeur wat munisipaliteite verbied om landbou-eiendomme met meer as ’n kwart van die vasgestelde tarief vir residensiële eiendomme te belas.
Dit het beteken dat plaaslike politici nie die tariewe op plaaseiendomme kon verhoog sonder om ook die tarief vir residensiële eiendomme te verhoog nie. Aangesien hulle self huiseienaars is, was die hoop dat hulle enige verhogings sou beperk.
Die nuwe beperking het egter nie wild- of ekotoerismeplase gegeld nie. Trouens, dié eiendomme is uitdruklik by die definisie van landbou uitgesluit. Dit het ook nie myn-, handel-, kommersiële of industriële eiendomme ingesluit nie. Munisipaliteite kon dié eiendomme vryelik belas – en hulle het.Die betrokke munisipaliteit in Mpumalanga het gemeen mynbase is ryk en moet meer tot die gemeenskap bydra. Daar is dus besluit om myneiendomme teen 20,9 sent in die rand te belas – hierteenoor is die Emalahleni-munisipaliteit (Witbank) se tarief byvoorbeeld 1,69 sent in die rand.Dit het beteken dat die myn jaarliks 20,9% van die markwaarde van sy eiendom in tariewe sou moes betaal – meer as dubbel as wat ’n bank sou vra op ’n lening om dié eiendom te koop.Dis daarom verstaanbaar waarom die myn geweier het om te betaal, en dit was ’n uitdaging vir my om te motiveer hoekom hulle móés betaal.Gelukkig vir die myn het die munisipaliteit nie die regte prosedure gevolg om die tariefbepaling te adverteer en te publiseer nie, en die bepaling was dus ongeldig. Die saak is beslis met die ooreenkoms dat die myn sy agterstallige en huidige tariewe teen 2,9 sent in die rand sou betaal, volgens wat Rustenburg se munisipaliteit vra.Nog ’n gelukskoot was dat die munisipale waardeerder nie die eiendom volgens die mynreg gewaardeer het nie, wat hy kragtens artikel 46(2)(a) van die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting (2004) geregtig was om te doen. As hy dit reg gewaardeer het, sou die belasbare waarde nader aan R500 miljoen gewees het. Ek het dit egter na goeddunke met niemand gedeel nie.Ander munisipaliteite in die nood het ook die geleentheid benut om hulle belastingbasis uit te brei en hulle inkomste te vermeerder.Die Bosbokrand-munisipaliteit (BBR) is een só ʼn voorbeeld.
Omdat dit in die destydse selfregerende Gazankulu-gebied geleë is en hoofsaaklik deur sogenaamde trustgebiede omring word waar titelaktes die uitsondering is, was dié munisipaliteit se tariefbasis nog altyd klein.
Min inwoners was in staat of bereid om vir dienste te betaal, wat die munisipaliteit verder geknou het. Hulle was dus nog altyd van staatstoelae afhanklik.
BBR het ’n begrote inkomste van sowat R1.6 miljard: R74 miljoen kom van dienste gelewer en R186 miljoen van eiendomstariewe van sowat 23,000 belasbare eiendomme. Die balans van ongeveer R1,36 miljard word deur staatstoelae en -toekennings gedek.
Van die tariefinkomste is 35% van tariewe wat op handels- en residensiële eiendomme gehef word en 2,5% van tariewe op landbou-eiendomme. Die grootste bydraers is egter die eienaars van private wildreservate teen die westelike grens van die Krugerwildtuin.
Sowat 96 eienaars van private wildlodges betaal 57% van BBR se totale tariefinkomste en die eienaars van private huise in dié reservate betaal ’n verdere 3.5%.
BBR belas kommersiële wildlodges teen 3.9 sent in die rand. Die eienaars van ’n paar van die toplodges wat hulle op internasionale gaste toespits moet dus R330,00 per maand vir munisipale tariewe opdok. Die kostes van minder luukse lodges wat meer op die plaaslike mark fokus, kan ongeveer R65,000 per maand beloop. Vir baie is dit eenvoudig onbekostigbaar.
Die tarief is boonop dieselfde as dié waarmee handels-, kommersiële en industriële eiendomme in BBR se sakekern belas word – dis eiendomme wat water, elektrisiteit, sanitasie, vullisverwydering, paaie en ander maatskaplike dienste van die raad ontvang, terwyl die wildlodges niks daarvan geniet nie. Hulle bou en onderhou selfs hulle eie paaie.
Dan is daar nog die moontlikheid van ekstra tariewe wat gehef kan word. Hoewel geproklameerde wildreservate “beskermde gebiede” is en daarom van munisipale tariewe vrygestel word, is daar baie eiendomme in die groter Krugerwildtuingebied wat nie verklaarde reservate is nie. Dié eiendomme kan ook belas word.
Die vrystelling van tariewe vir beskermde gebiede geld net eiendom wat nie vir kommersiële doeleindes gebruik word nie. Die dele wat deur besoekers deurkruis word, kan stellig ook belas word. Met grondwaardes van meer as R40,000 per hektaar kan die potensiële tariewe tot honderde miljoene beloop. Baie grondeienaars sal eenvoudig nie meer kan bekostig om hulle grond te besit nie.
Grond wat aan grondeisbegunstigdes teruggegee is, word vir die eerste 10 jaar ná die oordrag van munisipale tariewe vrygestel. Sonder hierdie vrystelling sou die grondeisers wat nou die Mala Mala-wildreservaat besit egter in groot moeilikheid gewees het, want hulle munisipale rekening is baie meer as die huur wat hulle van hulle kommersiële huurder kry.
My kliënte wil hierdie buitensporige tariewe betwis, maar dis ongelukkig makliker gesê as gedaan.
Wanneer ’n munisipaliteit sy begroting en tariefbeleid goedkeur, is hy besig om wetgewing neer te lê. Howe stel nie graag wetgewing tersyde behalwe wanneer daardie wet die Handves van Menseregte oortree nie. En dis nie hiér die geval nie. Dis dalk onregverdig, maar daar is geen voorwaarde in die handves wat die wetgewende liggaam se gesag beperk om swaar tariewe te hef nie – BTW staan immers op 15%.
Hofsake teen onredelike tariefbepalings was tot dusver meestal onsuksesvol. ’n Senior advokaat het my vertel dat die konstitusionele hof ’n groot aanhanger van die plaaslike regerings is; die regters pak hulle met sagte handskoentjies aan.
Die handjievol suksesvolle sake is op grond van prosedurekwessies gewen, nie weens die redelikheid of die tariefbepalings self nie. Wat is so onregverdig daaraan om die rykes ter wille van gelykheid en regstelling te belas, vra hulle.
Dit beteken die munisipaliteit (en parlement) het feitlik vrye mag om eiendomsbelasting te hef en kan dié tariewe oplê soos hulle goeddink. Die gevolge is skrikwekkend en so duidelik soos daglig.

Hoë tariewe ontmoedig grondbesitting. Hoekom sal jy grond wil besit as die tariewe jou tot armoede kan dryf? Dis beter om op informele eiendomsreg staat te maak wat nie gewoonlik belas word nie. En selfs al word dit belas, kan ’n krediteur nie teen informele grondregte eksekuteer soos wat hulle met private eiendom kan doen nie. Dis hoekom so baie bendelede en ander misdadigers sulke tamaai huise in stamdistrikte bou waar die lang arm van die gereg hulle nie kan bykom nie.
Hoë tariewe ontmoedig ook mense om in hulle eiendom te belê. Hoekom sal ’n grondbesitter R100 miljoen bestee om sy internasionale wildlogde op te knap as dit hom jaarliks nog R3.9 miljoen in tariewe gaan kos? Dis beter om nie verbeteringe aan te bring nie en die bestaande bate se waarde te laat afneem.
’n Boer wat ’n gastehuis of padstal op sy plaas wil bou, of ’n fabriek om sy melk of grane te verwerk, kan boonop deur nog swaar tariewe volgens die kommersiële of industriële skaal belas word.

Hoë munisipale tariewe het veroorsaak dat baie huiseienaars in plattelandse dorpe hulle eiendom moes prysgee omdat die agteruitgang van die plattelandse ekonomie hulle so verarm het dat hulle nie die munisipale tariewe en dienste kon bekostig nie. Dit lei tot ’n ineenstorting van eiendomspryse en dra tot die ekonomiese en maatskaplike agteruitgang by.
Hoë munisipale tariewe skep ’n kultuur van niebetaling omdat mense eenvoudig nie die regulasies na kom nie. Munisipaliteite se inkomste droog op ondanks die feit dat hulle die tariewe verhoog. Dis soortgelyk aan die situasie met Eskom se tariefverhogings wat veroorsaak dat dié kragvoorsiener se inkomste afneem, en aan die manier waarop hoë sondebelasting tot grootskaalse sigaretsmokkelary, belastingontduiking en toenemende verliese aan die staatskas gelei het.
In ’n rasverdeelde en ongelyke samelewing soos ons s’n word hoë munisipale tariewe en belasting oneweredig op die “ryk” minderheid gerig wat eiendomme met titelaktes en hulle eie ondernemings besit...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.